'n Nekslag vir Afrikaans

  • 0

Hermann Giliomee is in Februarie 2006 deur die konvokasie van alumni tot lid van die Universiteit van Stellenbosch se Raad verkies. Hy sal in Maart 2010 uittree en is nie herkiesbaar nie.  


 

Die US raak te wit en te Engels.
         -Jannie Mouton, US-raadslid

Die US is in ’n vryval na Engels.
         -Jacko Maree, US-raadslid

 

Inleiding

Op 30 November 2009 het die Raad van die Universiteit van Stellenbosch (US) besluit om vir die volgende drie jaar ’n minimum aanbod van 60 persent in Afrikaans in voorgraadse klasse te handhaaf. Dit beteken egter nie dat 60 persent van die klasse in Afrikaansmedium sal wees nie. ’n Hele 51 persent van die modules wat vanjaar voorgraads aangebied sal word, sal in dubbelmedium wees. Die variasie van dubbelmedium wat aan die US gebruik word, staan bekend as die Tweetalige Opsie (T-opsie). Hiervolgens moet Afrikaans vir minstens 50 persent van die tyd gebruik word, maar omdat daar geen doeltreffende monitering is nie, is dit net ’n papierwaarborg. Die opsie van Afrikaansmedium, wat volgens die amptelike Taalbeleid en Taalplan die “outomatiese opsie” is, het in 2009 tot 38 persent gedaal. Afrikaans is met hierdie Raadsbesluit een van sy grootste terugslae sedert 1994 toegedien.

Volgens Jean Laponce is Afrikaans een van maar net vier tale (die ander is Hindi, Hebreeus en Maleis-Indonesies) wat in die twintigste eeu van ’n spreektaal of patois ontwikkel het tot ’n taal wat as skryf- en spreektaal op alle vlakke van die samelewing, ook in hoogs tegniese en tegnologiese vakrigtings, gebruik word. Die US het ’n sleutelrol in hierdie ontwikkeling gespeel. Dit is verstommend hoe Afrikaans gekwyn het tussen 1992, toe die US wetgewing laat aanneem het om Afrikaans as sy voertaal te bevestig, en 2009, toe Afrikaans in minder as vyftig persent van sy voor- en nagraadse klasse as voertaal aangewend is. Van die vier gevestigde Afrikaanse kampusse wat teen 2009 nog bestaan het, was die US die ywerigste om sy Afrikaanse erfenis te verkwansel.

Die bevordering van Afrikaans as akademiese taal is een van die vyf missiestellings van die US. Dit laat drie vrae ontstaan:

  • Hoe het dit gebeur dat die US die T-opsie al hoe groter afmetings laat aanneem het?
  • Hoe is die toenemende verengelsing gelegitimeer?
  • Wat het die Afrikaanssprekende studente gedoen?

Hierdie artikel vertel hoe lede van die US-Raad wat deur die konvokasie van alumni en die donateurs verkies is, sonder veel sukses die golf van verengelsing probeer stuit het. Hulle het spoedig as die "taalstryders" bekend geraak. Hulle het hulself die taalblyers genoem en hul opponente die taalglyers. Met die uittrede in 2009-10 van ses van hulle is ’n bepaalde fase in die taalstryd afgesluit. Die stryd gaan egter gewis voort.

 

Die Taalbeleid en Taalplan van 2002

Aan die einde van die 1990’s het die US-Raad besluit dat die onderrigtaal Afrikaans moes wees, behalwe waar dit na die oordeel van die Senaat noodsaaklik was dat daar onderrig in ’n ander taal gegee word.

Daar was twee probleme met hierdie besluit. Ten eerste ken die wet die funksie van die formulering van ’n taalbeleid aan die Raad toe. Om die Senaat toe te laat om oor afwykings te besluit, was om die deur vir grootskaalse afwykings oop te maak.

Daar kon verwag word dat sekere professore en dekane die geleentheid sou aangryp om Engels in te voer, óf omdat hulle oortuig was dat in die nuwe Suid-Afrika Engels Afrikaans al hoe meer sal vervang óf omdat hulle goeie studente of dosente wou trek wat andersins nie na die US sou gekom het nie.

In 1999 het ek en Lawrence Schlemmer op versoek van prof AH van Wyk, die destydse rektor, ’n verslag oor die taalprofiel van die US geskryf. Die bedoeling was om dit aan die destydse minister van onderwys, prof Kader Asmal, te stuur. Ons het verklaar:

The present ambiguities tempt lecturers to adopt the language policy that suits their or their department’s needs even if such action conflicts with the university’s language policy ... If the language policy is not firmly regulated there is a real possibility of serious conflicts erupting over the issue between staff and the university administration and between student groups. It is imperative that an unambiguous language policy towards tertiary education be formulated that will eliminate uncertainties.[1]

Volgens Francois Grin, een van die voorste kenners van die ekonomie van veeltaligheid aan Europese universiteite, is dit ’n grondbeginsel dat universiteite nie besluite oor voertaal na die verskillende fakulteite afwentel nie. Tot 2002 was daar nog sprake van een taalbeleid aan die US en was die bestuur gereed om enige afwykings wat onder sy aandag gebring word, hok te slaan. Vanaf 2002 het elke fakulteit egter sy eie koers ingeslaan met sy voertaalbeleid en was daar al hoe minder tekens van ’n sterk sentrale hand wat sorg dat die een sentrale taalbeleid toegepas word. Die bepaling dat die universiteit voorgraads nie buitelandse studente kan akkommodeer wat nie Afrikaans magtig is nie, het ’n dooie letter geword.

Teen 2002 was die nagraadse klasse (hoofsaaklik honneurs) reeds vinnig besig om oorwegend in Engelsmedium aangebied te word en tussen ’n vyfde en ’n kwart van die voorgraadse modules was nie meer in Afrikaansmedium nie.[2] Onsekerheid het bestaan oor wanneer en hoe Engels aangewend kon word. Daar was egter min of geen sprake van formele aanbiedings in dubbelmedium nie en die term T-opsie (Tweetalige Opsie) het nie bestaan nie.

Vroeg in 2002 het ’n nuwe rektor, prof Chris Brink, aangekondig dat dit een van sy prioriteite is om teen die einde van die jaar ’n vaste taalbeleid aan te kondig. Op 2 Oktober 2002 het prof Leon de Stadler, sameroeper van die destydse Taaltaakspan, wat die konsep-Taalbeleid en Taalplan moes opstel, die span meegedeel dat die rektor die volgende opdrag gegee het:

Die Taalplan moet ’n "harde" formulering hê waarin ons selfs syfers moet gee wat inhoud gee aan verskillende aspekte ... Kortom: Ons wil ’n oorwegend Afrikaanse universiteit wees.[3]

In sy bestuursverslag aan die US-senaat kom prof Brink deeglik ten gunste van ’n sterk posisie vir Afrikaans voor – hy verwys na “’n Top Universiteit waar Afrikaans die norm is”. Hy vra byvoorbeeld dat honneursklasse eerder saam met voorgraadse klasse as "onderrigklasse" gekategoriseer word, met die implikasie dat dit minder ruimte vir Engels moet laat. Hy beklemtoon dat sentrale bestuursmeganismes nodig is, want “anders is ons onderworpe aan die tirannie van klein besluite”.[4] Met verloop van tyd sou Afrikaanse onderrig onder sy rektorskap juis in die afwesigheid van effektiewe sentrale bestuursmeganismes die kreeftegang gaan en Afrikaans nie meer die norm wees nie. Die Afrikaanse aanbod sou tragies tot ’n halwe porsie gereduseer word.

’n Taalbeleid en Taalplan is aan die einde van 2002 deur die Senaat en Raad aanvaar. Die kern is die volgende:

  • Verskillende voertaalmodusse word toegelaat: die opsie van Afrikaansmedium (die A-opsie), die Tweetalige of T-opsie met ’n minimum van 50 persent Afrikaans as voorwaarde; parallelmedium en, in uitsonderlike gevalle, Engelsmedium.
  • Onderrig in Afrikaansmedium word aangedui as die “verstek-” of “outomatiese opsie”. Dit word ook as die eerste in die “hiërargie van voertaalopsies” bestempel.
  • Die T-opsie kan net in die volgende gevalle gebruik kan word:
    (i) om studente met Engels as voorkeurtaal in die eerste jaar blootstelling aan die Afrikaanse vaktaal te gee as oorbruggingsmeganisme sodat hulle op tweedejaarsvlak optimaal doeltreffend kan studeer in modules met die A-opsie spesifikasie; en
    (ii) om“spesifieke strategiese doelwitte” te bereik. Onder strategiese doelwitte is algemeen die bevordering van rassetransformasie verstaan, en nie die “ transformasie” van die taalbeleid om wit Engelssprekendes te lok nie.

Daar is spesifiek bepaal dat daar nie minder as 50 persent van die tyd Afrikaans in ’n T-opsie-klas gepraat mag word nie, maar daar is geen meganisme daargestel om dit te verseker nie. Alhoewel die beleid van monitering melding maak, het verskeie fakulteite dit nie ingestel nie, buiten enkele vae, indirekte vrae in kursus-evaluasies.

In die openbare bespreking van die beleid wat in 2002 gevoer is, het verskeie persone op ander gebreke van die beleid gewys.

Die beleid het die verkeerde indruk by Engelstalige studente gewek dat hulle Afrikaans sou kan bemeester deur gewoon klas in die T-opsie te loop. In ’n opname van 2004 het net 3,3 persent van die studente aangetoon dat hulle die Taalsentrum gebruik om hul taalvaardigheid op te skerp.[5] Die beleid het egter nie voorsiening gemaak vir verpligte taalvaardigheid nie. Die vraag het ontstaan of studente nie daarop sou aandring om ook in die senior jare in die T-opsie klas te kan loop nie. Die T-opsie kon maklik ’n Trojaanse perd word.

Dubbelmedium word algemeen beskou as ’n voertaalmodus wat onafwendbaar tot die verplasing van ’n nasionale of regionale taal lei indien dit met ’n wêreldtaal moet meeding. JA Laponce het geskryf: “Bilingualism in education is generally a bilingualism of transition, which in the long run facilitates linguistic assimilation.” Hy het sy teenstand teen toegewings oor taalbeleid so geformuleer (in die vakgebied staan dit bekend as Laponce se Wet): “The nicer people are to each other the more savage the fight between languages.”

Oor die US se taalbeleid, en die T-opsie in die besonder, sou hy in 2006 skryf: “The system is absurd and to the eventual advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.”[6]

Die volgende afdeling beskryf hoe die US die T-opsie gebruik het om die universiteit om te skakel van ’n oorwegend Afrikaanse universiteit na een wat oorwegend in Engels doseer.

 

Die T-opsie en die Taalkomitee

In die proses van oorskakeling van ’n universiteit wat oorwegend in Afrikaans doseer na een wat oorwegend in Engels klas gee, het die Taalkomitee ’n sentrale rol gespeel. Dit is ’n Raadskomitee, maar tot 2008, toe ek aangewys is, was al die lede óf dosente óf amptenare, en normaalweg een student.

Die aanvanklike besluit om die universiteit se taalbeleid radikaal te verander, het egter nie van die Taalkomitee gekom nie, maar wel van senior lede van die Uitvoerende Komitee van die Raad. Prof Chris Brink, rektor, dr Edwin Hertzog, voorsitter van die Raad, en dr Gerhard van Niekerk, ondervoorsitter, was op hierdie stadium sleutelfigure in die Uitvoerende Komitee. Een van hulle het later aan my die verhaal so vertel. “Vroeg in 2005 het ’n paar van ons die vraag gestel: ‘Moet die hekkie vir Engels as voertaal effens of wyd oopgemaak word?’ Ons besluit was om dit wyd oop te maak.”[7]

Die eerste stap was om die Taalkomitee te oorreed om sy vertolking van die Taalbeleid en -plan te wysig. Op ’n vergadering van die Taalkomitee van 26 April 2005 het die Taalkomitee aanbeveel het dat “die Taalbeleid en -plan van die Universiteit van Stellenbosch in hierdie stadium nie drasties verander word nie”. Die voorsitter van die komitee het egter bekend gemaak dat die Raad se Uitvoerende Komitee juis versoek het dat die Taalbeleid in die nabye toekoms hersien moet word en dat "buigsaamheid" beklemtoon word.

Die aandrang op buigsaamheid het dus nie van studente of dosente gekom nie, maar van ’n klein groepie senior Raadslede en van die rektor. Dit is nooit in die Raad of Senaat geopper nie. Die term buigsaam of buigsaamheid verskyn nie in die dokument wat die taalbeleid uiteensit nie.

Die Taalkomitee het hierby ingeval. Die notule van 19 Mei 2005 lui:

In lyn met die aanbevelings van die Taalplan blyk dit dat die buigsaamheid van die T-opsie toegepas word in so ’n mate dat dit geposisioneer word as ’n verstekopsie in die keuse van die taalspesifikasies vir die verskillende modules.

Die Taalbeleid maak nie vir so ’n “posisionering” voorsiening nie en daar kan per definisie nie meer as een verstekopsie wees nie. Dit is merkwaardig hoe min die wense van studente of dosente in ag geneem is. ’n Meningsopname wat die bestuur in 2004 onder dosente en studente laat doen het, het nie die vraag gestel watter voertaal hulle verkies en of hulle groter buigsaamheid in die taalbeleid verlang nie.

In Junie 2005 het die besluit van die Raad se Uitvoerende Komitee om “buigsaamheid” voorop te stel, neerslag gevind in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte se formele voorstel vir die voertaal waarin sy modules in 2006 aangebied sou word. Dit het elke dosent verplig om voorgraads die T-opsie in alle modules te gebruik. Die formele Taalbeleid en -plan maak nie voorsiening vir so ’n opsie nie.

Die Raad is die liggaam wat die laaste sê het en dit moet alle voorgestelde voertaalspesifikasies goedkeur. Die Raadslede se aandag is egter nie op die voorstel gevestig nie, en daar was geen bespreking voor dit deur die Raad goedgekeur is nie.

Toe ’n polemiek oor die besluit kort daarna in Die Burger uitbars, het die bestuur geveinsde verbasing getoon: “Dit staan dan in die Raadstukke,” was die reaksie. In November 2005 het die Raad ’n informele vergadering gehou om te besin oor die wyse waarop die besluit geneem is en die skade wat dit aan die US se beeld gedoen het.

Op 25 November 2005 het die Fakulteitsraad van die Fakulteit Lettere die voorgestelde taalspesifikasies herbevestig, maar bygevoeg “dat die inbring van die T-opsie tot op derdejaarsvlak slegs as eksperimenteel beskou moet word en dat dit na drie jaar heroorweeg sal word”. Die Senaat het dit op 30 November goedgekeur, maar om een of ander duistere rede is die besluit nie voor die Raad gelê vir bekragtiging soos wat die prosedure vereis nie.

Dit lyk of sekere lede van die bestuur gevoel het dat daar te ver gegaan word in die afwyking van die Taalbeleid en -plan. Prof Russel Botman, viserektor Onderrig, het die volgende mosie voorgestel:

[dat, v]ir soverre daar onsekerheid bestaan oor sekere prosedures en riglyne wat geld vir taalspesifikasies, soos in die Taalplan neergelê, die Raad versoek word om moontlike wysigings van die Taalplan in oorweging te neem met die uitsluitlike doel om die aanbevelings van die Senaat vir 2006 te akkommodeer.

Die Senaat het die mosie afgestem. Klaarblyklik was die gevoel dat ’n wysiging van die beleid te veel hase sou opjaag en dat die Taalkomitee vertrou kon word om die knoop deur te haak om die onderskeie fakulteite se wil te laat geskied.[8]

Ek kon in die dokumente net een geval vind waar ’n voorstander van die T-opsie waarsku dat dit ’n gevaar vir die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal inhou. Dit was ’n opmerking van prof Leon de Stadler, direkteur van die Taalsentrum, wat op 30 November die volgende in die Senaat gesê het:

In die keuse van die T-opsie lê wel ’n gevaar opgesluit, nl dat die mindere taal kan seerkry of selfs uitgedwing kan word – dit is ’n toegewing wat die Universiteit wel kan maak. Om dit te voorkom, moet die Taalbeleid ’n bestuurde beleid wees, dws die Universiteit en afsonderlike fakulteite en administratiewe afdelings moet die moed aan die dag lê om die beleid en besluite na aanleiding van die beleid op behoorlike wyse toe te pas en te monitor.[9]

Daar was egter min tekens van ’n sentraal-bestuurde beleid. Die dekane het besluit of hulle van die A-opsie wou afwyk of nie, en hulle was seker daarvan dat die Taalkomitee hulle sou ondersteun. Daar was geen sprake van “moed” om die beleid “op behoorlike wyse toe te pas en te monitor” nie; soos reeds vermeld, het verskeie fakulteite geen monitering ingestel nie, buiten enkele vae, indirekte vrae in kursus-evaluasies. Daar is ook geen druk op studente of dosente geplaas om taalvaardig te word nie.

Daar is geen aanduidings dat departemente indringend oor die metodiek van die T-opsie besin het nie. Die enigste manier waarop dit kan werk, is wanneer daar formeel en ruim vakkundige ondersteuning in albei tale buite die gewone klastyd aangebied word, en dan is dit nie meer koste- of tyd-effektief as parallelmedium nie.

 

“Akademiese gronde” vir die T-opsie

In sy laaste vergadering van 2005 het die Raad die voorstelle van die Senaat goedgekeur. Prof Anton van Niekerk, voorsitter van die Taalkomitee en ’n lid van die Raad, het aan Die Burger gesê: “Die Raad sou uiters onverstandig gewees het om die Senaat se aanbeveling geneem op akademiese gronde te weerlê.”

In ’n e-pos het ek aan prof Van Niekerk gevra op watter akademiese gronde die stelling berus. Sy antwoord was dat van sy taalkundekollegas die volgende aanvoer:

Die belang van moedertaalonderrig word dikwels en in baie opsigte oordryf. Daar is ’n beweging in die taalonderrigteorie wat in die onlangse tyd baie veld gewen het, wat beweer dat, vanweë globalisering en die belang van alle mense om in die groter wêreld reg te kom, dit al hoe belangriker en beter word om mense tweetalig op te voed.

Prof Van Niekerk het aan my ’n lys van ses bronne gegee wat hierdie stelling staaf. ’n Studie van die bronne bied egter geen wetenskaplike stawing vir die gebruik van dubbelmedium (of die T-opsie) op universiteitsvlak nie. Al die boeke handel oor skoolonderwys en spesifiek oor die eerste stadium van die verwerwing van ’n tweede taal. Verder val die klem van die bronne op gestigmatiseerde etniese groepe in Europa soos die Gastarbeiter of die kinders van onlangse immigrante wat sukkel om ’n nuwe taal aan te leer.[10]

In kontras met Van Niekerk se stelling het Kathleen Heugh, een van die voorste kenners van voertaalbeleid, onlangs geskryf dat geen greintjie geloofwaardige wetenskaplike navorsing tot op datum die flou redes onderskryf wat aangevoer word vir ’n gebrek aan voorsiening van behoorlike moedertaalonderrig tot op tersiêre vlak nie. Daarteenoor bestaan daar robuuste navorsing wat die belangrikheid van moedertaalonderrig beklemtoon.[11]

Alle aanduidings is dat die Fakulteit Lettere vergeet het dat dit veronderstel is om ’n eksperiment met die T-opsie uit te voer totdat sommige nuwe lede van Raad in 2008 die aandag daarop gevestig het. Daar was geen duidelik geformuleerde doelstellings, kontrolegroepe of monitering vir ’n eksperiment nie. Geen kenners van buite is uitgenooi om die pedagogiese doeltreffendheid van die T-opsie te ondersoek nie.

 

’n Nuwe Raad en ’n “buigsame” taalbeleid

In Februarie 2006 het alumni van die universiteit in ’n verkiesing vir my, Christo Viljoen en Lina Spies vir ’n periode van vier jaar as lede van die Raad van die US aangewys. In dieselfde verkiesing het die donateurs Jacko Maree as lid verkies. Hulle het hulle aangesluit by Koos Bekker en Paul Cluver, wat twee jaar tevore deur die alumni en donateurs onderskeidelik aangewys is. Na 2008 se verkiesing het Jannie Mouton (verkies deur die donateurs) en Marié Heese en Adelbert Scholtz (verkies deur die alumni) lede geword. Die Raad bestaan uit ongeveer dertig lede.

Een van die eerste stappe van die nuwe lede was om die rektor, prof. Brink, verlof te vra om van die T-opsie-klasse in die Fakulteit Lettere by te woon en self ’n oordeel oor die pedagogiese waarde te vel. Dit is geweier omdat dit die vertrouensverhouding tussen dosent en studente sou skaad.

Die Universiteit se buigsame beleid het beteken dat die onderskeie fakulteite al meer hul eie rigting ingeslaan het. Sekere fakulteite, soos Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regte (tot 2009), Ingenieurswese en Opvoedkunde, het die opsie van Afrikaansmedium as die vernaamste of enigste opsie bly gebruik, maar ander fakulteite sou die hek van “buigsaamheid” al hoe meer gebruik om die T-opsie in te voer. Die “ongeskrewe beleid” (toenemende afwykings van die beleid) het al hoe meer die formele beleid vervang. Die Taalkomitee, wat as ’n subkomitee van die Raad beleid moet uitvoer, het in feite die beleidmakende instansie geword wat deur inkrementele aanpassings nuwe taalrealiteite geskep het.

Soos die onderstaande tabel aantoon, was daar ná die omstrede Senaats- en Raadsbesluit van 2005 ’n groot toename in die T-opsie. In 2006 het die T-opsie-modules met meer as die helfte toegeneem en die A-opsie het met meer as 20 persent gedaal. Wat veronderstel was om die “outomatiese” opsie en die eerste in die “hiërargie” van opsies was van 2007 die minderheidsopsie, en die T-opsie, wat veronderstel was om bloot as oorbruggingsmeganisme te dien, het die meerderheidsopsie geword.

 

Tabel 1

Taalspesifikasies van voorgraadse modules (Krygskunde uitgesluit) in %

Taalindikator

2004[12]

2005

2006

2007

2008

2009

A-modules

70

55

44

40

38

38

T-opsie

24

27

40

43

41

45

A/E-modules

6

4

5

5

4

8

E-modules

5

11

9

9

15

9

 

 

 

 

 

 

 

Totale Afrikaanse aanbod in A, A/E en T

88

74

69

67

64

69

 

Gewigte

Afrikaansmedium = 1
A/E (Parallel) = 1
T-opsie (Afrikaans en Engels 50/50 in een klas) = 0,5
E (Engelsmedium) = 0

Die besluit van Lettere om die T-opsie in alle voorgraadse modules te gebruik, het baie aandag getrek, maar sowel die Fakulteit Gesondheidswetenskappe as die Fakulteit Teologie het stilweg dieselfde besluit ten opsigte van hul onderskeie voorgraadse aanbiedings geneem. In die Taalkomitee se notules kan daar geen rekord van ’n aansoek of goedkeuring vir die Fakulteit Teologie gevind word nie. Dit wil voorkom of Teologie die hekkie oopgekry het nadat die bestuur in 2001 of 2002 verlof gegee het dat, met die oog op die opname van studente van die Verenigde Gereformeerde Kerk, sekere klasse in Afrikaans en in Engels gegee kon word. Alhoewel ongeveer 90 persent van die voorgraadse studente Afrikaans as huistaal het, was daar teen 2009 geen voorgraadse A-opsie-module nie. Die Afrikaanse aanbod was minder as 50 persent.

Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe se T-opsie-uitbreiding word slegs in ’n voetnota tot ’n notulebylaag deur die Taalkomitee genoem. Uit die voetnota blyk dit dat die Taalkomitee besluit het om alle modules in Gesondheidswetenskappe se wysigings na T-opsie goed te keur, met die motivering dat Gesondheidswetenskappe se Fakulteitsraad dit so besluit het en nie op grond van of dit met die Taalbeleid en -plan ooreenstem nie. Gesondheidswetenskappe se Fakulteitsraadsnotule, wat die basis vir die Taalkomitee se besluit vorm, word sonder verduideliking aangehaal: “Dat die uitgangspunt van die Komitee is dat alle voorgraadse programme na ’n T-taalspesifikasie moet wysig op grond van die vorige Fakulteitsraadbesluit.” Die besluite vir die T-opsie-uitbreidings by Lettere en Gesondheidswetenskappe is by dieselfde vergadering geneem – dieselfde vergadering waar slegs 7 uit die 15 lede aanwesig was en dus sonder kworum.[13]

In Maart 2006 skryf prof Russel Botman,[14] toe nog die US se viserektor Onderrig en taalwoordvoerder, in ’n advertensie in Die Burger:

Verlede jaar het die Universiteit Stellenbosch ná behoorlike oorweging besluit om die T-opsie in een van haar tien fakulteite, die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, uit te brei na die derde jaar ...[15]

Die stelling is, soos blyk uit die notulering van die Taalkomitee in 2005, nie korrek nie. Die US het in daardie selfde jaar, en by dieselfde vergadering, besluit om minstens die Fakulteit Gesondheidswetenskappe ook na die T-opsie oor te skakel en dit is onduidelik wie almal buite die Taalkomitee daarvan geweet het.

Die Taalkomitee is volgens die formele taalplan veronderstel om die Raad en die Universiteit as geheel te adviseer oor die “aard, die uitvoering, die effek en die moontlike hersiening” van die Taalbeleid en -plan. Die Raad is nooit op hoogte gebring van die sterk uitbreiding van die T-opsie nie. Waar die uitbreidings by die Fakulteit Lettere nog ter sprake gekom het nadat lede van die publiek dit in die media bekend gemaak het, was die Taalkomitee wel deeglik bewus[16] van die gelyktydige instelling daarvan as verstekopsie by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en het hulle steeds versuim om dit onder die US-raad se aandag te bring.

Tabel 1, wat die tendense duidelik aandui, het eers in 2009 beskikbaar gekom nadat ’n senior amptenaar dit aan my gelek het.

 

Die T-opsie, die A-opsie en transformasie

Die onmiddellike gevolg van die buigsame beleid was dat groeiende getalle wit Engelssprekendes gelok is. Hul getalle het tussen 2005 en 2008 met 37 persent toegeneem. Die proporsie van alle Engelssprekendes onder die ingeskrewe voorgraadse studente het van 28 tot 36 persent gestyg.

Aanvanklik het die Fakulteit Lettere en die bestuur geargumenteer dat die T-opsie swart studente sal lok, maar tussen 2004 tot 2008 het hul aandeel van voorgraadse studente van 3 tot 2 persent gedaal. Daar was teen 2009 minder swart studente by Lettere ingeskryf as in 2005.

Akademici wat die T-opsie voorstaan, het onder meer aangevoer dat die beleid nodig is omdat baie Afrikaanse studente nie Engels goed magtig is nie. Dit was eers toe die Schlemmer-verslag verskyn het dat empiriese getuienis oor belangrike sake na vore gekom het. In opdrag van die Raad het prof Schlemmer in 2007 ’n uitgebreide meningsopname oor houdings van studente ten opsigte van die voorgraadse taalbeleid gedoen. Hy het sy verslag in 2008 ingedien en dit het ook op die webwerf van die Universiteit verskyn.

Een van die bevindings is dat 80 tot 90 persent van die Afrikaanse studente hul Engels as goed of baie goed beskou. Die verslag maak ’n aantal ander belangrike punte: Meer as ’n derde van die studente beskou die T-opsie as irriterend en frustrerend omdat dit hul konsentrasie verbreek. Dit is veral studente wat verwag om swak te vaar wat die meeste oor die T-opsie kla.

Onder Afrikaanse studente was die A-opsie die gewildste: meer as 80 persent van die Afrikaans studente wil “hoofsaaklik en konsekwent Afrikaans” hê of sal daarby inval. As hierby die feit gevoeg word dat 60 persent van die Engelse studente aandui dat hulle in Afrikaans vaardig is, lyk dit of daar geen werklike rede is waarom klasse nie oorwegend in Afrikaans gegee kon word nie.

 

Akkommodasie van ’n minderheid

Tussen 2004 en 2008 het die getalle van wit Afrikaanssprekendes voorgraads nie gegroei nie. Die besluit om nie verder voorgraads uit te brei nie, het die Universiteitsraad reeds tien jaar terug geneem en die omvang van bemarking aan voornemende Afrikaanse voorgraadse studente was in die lig hiervan waarskynlik klein.

Die instroming van wit Engelssprekendes nadat die hekkie in 2005 oopgemaak is, het vinnig die taalprofiel van die Universiteit verander. Die universiteit wou nie van hierdie segment van die mark afstand doen nie en die Raadsbesluit om voorgraadse studentegetalle te stabiliseer is geïgnoreer. Sonder ’n verdere uitbreiding van Afrikaanse studentegetalle het die groei en werwing (deur ’n veranderde taalbeleid) van wit Engelssprekendes gelei tot ’n stewige toename in die verhouding van Engelse tot Afrikaanse studente. Dit het ’n selfversterkende effek op die verplasing van Afrikaans gehad.

Die Universiteit wou ook nie aanvaar dat die enigste werklik verantwoordelike keuse die een tussen parallelmedium en Afrikaans-enkelmedium is nie. Dosente was egter bang vir ’n stelsel van parallelmedium-onderrig waarvoor hulle nie ekstra vergoed sou word nie. Baie van hulle was bereid om vir die T-opsie as ’n kompromis te skik. Dit is die opsie wat vir die minste moeite en konflik op klasvlak sorg in die afwesigheid van daadwerklike implementering.

Die prys wat betaal word, is ondoeltreffende onderrig. In ’n opname wat die bestuur in 2004 laat onderneem het, was net ’n kwart van die dosente oortuig dat studente nie belangstelling verloor as hulle in die T-opsie van een taal na die ander een oorskakel nie. Met ’n aansienlike proporsie studente wat nie vaardig in Afrikaans is nie, is dit onvermydelik dat van die stof herhaal moet word en kosbare doseertyd vermors word.[17] Dikwels sou dosente die hele klas lank sinne in Afrikaans of Engels sê en dan in die ander taal herhaal.[18]

Die T-opsie is veral gedryf deur ’n poging om minderhede onder minderhede op die kampus te akkommodeer. Van Afrikaanssprekendes is opofferings verwag. Ten eerste was daar die minderheid van die Engelssprekende studente. In die Schlemmer-opname het 38 persent aangedui dat hul Afrikaans taamlik of baie swak is.[19] Dit is hoofsaaklik wit Engelssprekendes wat kla dat hulle die lesing in Afrikaans nie verstaan nie en wat vra dat die dosent van die stof in Engels herhaal. Aan die ander kant het meer as 40 persent van die Engelssprekende studente in die opname aangedui dat hulle geen probleem in die algemeen met ’n oorwegend Afrikaanse universiteit het nie.

’n Ander minderheid onder minderhede wat die bestuur wou akkommodeer, is die bruin Engelssprekendes. Tussen 2004 en 2008 het bruin Engelssprekendes effens vinniger toegeneem as bruin Afrikaanssprekendes – van 613 tot 927 in eersgenoemde geval en van 1 369 tot 1 514 in laasgenoemde geval. Daar is egter geen noodsaak om na die T-opsie oor te skakel om nog meer bruin Engelssprekendes te trek nie. Uitslae van die gesaghebbende AMPS-opnames (All Media and Products Surveys) van die Suid-Afrikaanse Advertensie Navorsingstigting wys dat bruin Engelssprekendes amper twee keer meer Afrikaanse boeke of tydskrifte by die huis lees as wit Engelssprekendes.

Volgens die universiteitsbestuur self verkies bruin studente om dieselfde voertaal te hê as die een waarin hulle op hoërskool onderrig gehad het. Dit is klaarblyklik in die belang van die meeste bruin studente om in Afrikaans te studeer. Met ’n deelnamekoers van 4,5 per duisend staan die bruin Afrikaanssprekendes tans heel onder op die lys van die gemeenskappe se deelname aan universiteitsonderrig (dié van swartes staan op 10 per duisend en dié van wit Afrikaanssprekendes net onder 50). Die T-opsie bewys aan bruin studente geen guns nie.

Prof Vic Webb argumenteer dat universiteite in die algemeen oorwegend op die markaanbod ingestel is. Die US het inderdaad nie ’n plan vir die dinamiese ontwikkeling van die bruin Afrikaanssprekende mark nie. Die stand van onderwys onder Afrikaanssprekendes wat voorheen benadeel is, is nie onder die projekte wat opgeneem is in die Universiteit se oorhoofse strategiese plan waarvoor die Raad meer as R300 miljoen bewillig het nie. Dit wil voorkom of die US eerder op die lok van meer bruin Engelssprekendes ingestel is (wat in Engels wil studeer) as om die bruin Afrikaanssprekendes se deelname betekenisvol op te stoot.

Afrikaans kan daarin slaag om studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe te trek. Dit blyk uit die groei van fakulteite wat tot vanjaar net die A-opsie of oorwegend die A-opsie gebruik het.

 

 
Bruin Afr
Bruin Eng
Swart
Ekonomiese en Best.wet (100% A-aanbod)
2%
31%
40%
Regte (100% A-aanbod)
15%
33%
-25%
Ingenieurswese (75% A-aanbod)
-15%
89%
-33%
Opvoedkunde (80% A-aanbod)
118%
58%
0%

 

 In 2009 het die getal swart ("African") studente in vier fakulteite afgeneem. By die Fakulteit Lettere het die totaal aantal swart studente die afgelope drie jaar op onder 80 gestagneer.

 

Afrikaanse studente en die taalbeleid[20]

Baie keer hoor mens die kritiek: “Hoekom sê die Afrikaanse studente niks nie?” Tog is dit juis hulle wat dikwels skerp en indringend verskil van die wyse waarop taalbeleid toegepas word. Die studente-insette is welwillend, moeitevol en deeglik gelewer. Die onderstaande getuig van sterk gevoel oor Afrikaans onder studente:

  • Twee petisies: In 2002 onderteken 3 100 studente ’n petisie vir Afrikaans, geloods deur student Christa van Zyl. In 2005 is Piet Le Roux betrokke by nog een wat binne agt dae 3 500 studente en personeel laat standpunt inneem teen die onbehoorlike uitbreiding van die T-opsie, vír taalvaardigheidsklasse en vir meer taaldienste. Meer Maties het dus openlik hul name aan Afrikaanse onderrig verbind as wat in die 2007-Studenteraad (SR) se vertroulike verkiesing gestem het, naamlik 2 560.
  • ’n Studente-opname: In 2006 vind Piet le Roux en medestudent Henry Cloete in ’n opname oor 81 modules waaraan meer as 100 studente meewerk, ernstige wantoepassing van hoe T-opsie-modules oorbeweeg na Engels. Hulle rapporteer die data en gevolgtrekkings in ’n 27-bladsy-voorlegging aan ’n Taaltaakspan van die bestuur.
  • Adam Tas: In Februarie 2007 word dié vereniging vir Afrikaans by Stellenbosch gebore uit lojale protes, met die fokus op transformasie in Afrikaans. Sedertdien het gassprekers soos Breyten Breytenbach, Christo van der Rheede en Helen Zille kom help met hierdie missie van Adam Tas.
  • Die Black Students’ Association(BSA) steun Adam Tas: die BSA spreek hulle onder andere uit ten gunste van die voorkeurposisie van Afrikaans by Stellenbosch, met behoorlike steunmeganismes vir nie-Afrikaanse studente, wat toeganklike taalverwerwingsklasse insluit. Die BSA-voorsitter sluit as lid by Adam Tas aan.
  • ’n SR-mosie: Op 8 Mei 2007 word ’n mosie aanvaar, sonder teenstem, wat vra vir beter taaldienste en behoorlike kennisgewing aan voornemende studente oor “die noodsaaklikheid om ’n basiese Afrikaans en Engels vaardig te wees of te raak”. Die mosie lui verder:

    Dit is vir billikheid noodsaaklik dat studente vooraf verstaan dat die meeste lesings in die praktyk grotendeels of heeltemal in Afrikaans gaan wees.

    Die hersiene taalbeleid moet deurgaans poog om verwarring in sy toekomstige interpretasie noukeurig te verhoed. Ons versoek die universiteitsowerhede om in die hersiene taalbeleid duidelike reëls en regulasies oor taalgebruik deur studente en dosente neer te lê en doeltreffende implementerings- en moniteringsmeganismes daar te stel.

Die bestuur het grootliks die proteste geïgnoreer. Dit is moeilik vir studente om ’n beleid teen te staan waarvan die inkrementele effek van die stukkie-vir-stukkie-verengelsing, soos deur die T-opsie, relatief klein is en boonop nog so tersluiks plaasvind.

Prof Theuns Erasmus, voormalige viserektor van die UP, wys op ’n ander rede waarom studente nie kla nie: “Daar is te veel risiko’s vir hulle, onder andere om as moeilikheidmakers deur medestudente, dosente en die bestuur gebrandmerk te word.”[21]

Die kenmerk van dubbelmedium is dat dit ongerief is waaraan mense al hoe meer gewoond raak en dit aanvaar soos hulle aanvaar dat daar reën in die winter is en dat sommige dosente swak is. Tussen 2005 en 2009 het die openlike ongemak met en verset teen die T-opsie afgeneem. Dit kan gesien word uit ’n vergelyking van ’n studie van Van der Walt en Steyn in 2004 en die response op die Schlemmer-verslag van 2008 wat aandui dat 73 persent ’n “eweredige” T-opsie aanvaar. Net soos die studente oor tyd al meer die T-opsie aanvaar, sal hulle ook geleidelik aanvaar dat klasse oorwegend in Engels gegee word.

Sommige dosente beweer soms dat die Afrikaanse studente en hul ouers al hoe meer Engels verkies. Daar is egter geen empiriese getuienis hiervoor nie. In die geval van die UP verkies 17 persent van die Afrikaanse studente om in Engels te studeer. Die rektor van die US het verklaar dat bruin studente verkies om in die voertaal te studeer wat hulle op hoërskool gebruik het.

Die belangrikste rede waarom Afrikaanssprekendes nie sterker oor die afskaling van Afrikaans staan nie, is die vrees dat die aandrang op Afrikaans as ’n vorm van uitsluiting gesien sal word. In die Schlemmer-verslag word dit so gestel:

Daar is toewyding aan die oorlewing van Afrikaans, verkieslik in een of ander verwantskap met Engels maar dan in ʼn beheerde konteks. Hierdie waardering van Engels is nie soseer op enige gebrek aan vertroue in die mededingendheid van Afrikaans gegrond nie, maar eerder op ’n reeks subtiele faktore wat op hulle in die huidige situasie inwerk. Hierdie faktore sluit ’n respek vir die beginsel van versoening van taalbelange en vir die behoeftes van nie-Afrikaanssprekende medestudente in.[22]

Langenhoven het in 1915 die probleem van “versoening” op taalgebied verduidelik met ’n eenvoudige gelykenis van die leeu (Engels) en die lam (Afrikaans) wat gevra word om saam te wei:

Vriende, laat ons vrede maak en vrede hou. Laat die leeu en lam saam wei; die lam op die gras en die leeu op die lam. Die lam sal weldra deel van die leeu wees. Dit sal die lam tot eer strek en die leeu tot genot.[23]

Die US-Raad is die liggaam wat in die laaste instansie verantwoordelikheid vir die taalbeleid dra. Dit is egter ’n logge liggaam waarin deurtastende debatte oor taalbeleid onmoontlik is. Oor die algemeen is raadslede traag om teen die bestuur of die Taalkomitee standpunt in te neem. Aan die ander kant het proteste in die menings- en brieweblaaie van Die Burger en Rapport teen verengelsing raadslede genoop om versigtig te trap.

 

’n Skynvrede

Tot 2007 was die taalstryd aan die US so nou gekoppel aan die persoon van prof Chris Brink dat daar sterk hoop was dat sy bedanking ’n nuwe era sou inlui. Dit het gelyk of sy opvolger, prof Russel Botman, baie geskik is om ’n versoenende rol te speel. Die probleem was egter dat die krisis nie opgelos was nie en dat prof Botman ’n taalpraktyk geërf het wat sonder sterk leiding haas onoplosbaar is.

In November 2007 het die Raad op aanbeveling van die Bestuur besluit om die A/E-opsie (parallelmedium) saam met die A-opsie aan te beveel. Dit het ook aanbeveel dat ’n studie van tolkdienste gemaak word. Geen melding is van die T-opsie gemaak nie, wat deur sommige raadslede as ’n vorm van afkeuring beskou is. Niemand het egter op daardie stadium besef dat die T-opsie reeds die meerderheidsopsie is nie en dit is ook nie so deur die Bestuur, of die Raad se Taalkomitee, aan die Raad verduidelik nie.

Die skynvrede was gou verby. Vroeg in 2008 het die Uitvoerende Komitee van die Raad besluit dat die status quo van die voertaal in die onderskeie modules gehandhaaf word. Dit het beteken dat daar geen grondige herbesinning sou wees van die wyse waarop die Taalkomitee toegelaat het dat die T-opsie heeltemal teen die gees en letter van die beleid uitgebrei word nie. Dit het ook gou geblyk dat die bestuur nie werklik erns wou maak met die besluit om tolkdienste as ’n opsie te ondersoek nie.

In die verkiesing van 2008 van Raadslede uit die geledere van die alumni en donateurs het die kiesers onomwonde hul voorkeur uitgespreek vir kandidate wat die A-opsie voorgestaan en die T-opsie afgewys het. Veral Jannie Mouton en Marié Heese het belangrike standpunte en benaderings verteenwoordig. Mouton as sakeleier het sterk daarop gestaan dat die US sy Afrikaanse nis moet bedien en dat die golf van verengelsing teruggerol moet word. Heese, met groot ervaring van taalnavorsing by Unisa, het veral die pedagogiese waarde van Afrikaanse onderrig vir Afrikaanssprekendes en die akademiese onhoudbaarheid van die T-opsie beklemtoon.

Net soos diegene wat in 2006 as pro-Afrikaansmedium kandidate verkies is deur die alumni en donateurs, het die nuwe lede gou oor die werkwyse van die Raad gefrustreer geraak. Onder opeenvolgende voorsitters het die prosedure veel te wense oorgelaat. Klaarblyklik was sommige Raadslede meer gelyk as ander en het die Bestuur se woord oor die kwessie van taalbeleid veel meer as dié van ander lede getel. Daar was ook weinig poging om daarop aan te dring dat die Raadsbesluite of aanbevelings oor taal uitgevoer word nie. Op 30 Julie 2009 sou ek in ’n memorandum aan die Taalkomitee skryf:

Die Raad besluit in 2008 om parallelmedium (naas Afrikaans-enkelmedium en tolking) aan te beveel. Wat gebeur toe? Daar is ’n groot sprong na die T-opsie en ’n verdere daling van die A-opsie, miskien juis om parallelmedium te vermy. Wat is die status van die Raad se aanbevelings na uitgerekte debatte? ’n Blote gemompel in die wind?[24]

In die loop van 2008 het Heese, Viljoen en ek self almal mosies oor die taalkwessie ingedien net om te hoor dat enige taalmosie eers na die Taalkomitee verwys moet word voor die Raad enige besluit neem. Ek is teen die middel van 2008 in die Taalkomitee aangewys, maar het ek gou gevind dat daar geen steun vir my standpunte was nie. Die houding was dat die taalbeleid iets is waaroor Bestuurslede en dosente in die komitee moet besluit.

 

’n Simboliese offer

In die loop van 2008 is enkele wysigings in die Taalbeleid en –plan aangebring, maar die essensie, en spesifiek die A-opsie as die outomatiese opsie en die eerste in die “hiërargie van opsies”, is behou. Skielik was daar ’n eskalasie van die krisis. Aangevuur deur ’n voordrag van Clem Sunter het die Bestuur vroeg in 2009 die visie ontwikkel van Afrikaans en Engels wat voorgraads aan die US in balans en harmonie met mekaar bestaan.

Die voorstelling word gemaak dat ’n student “in sy eie taal kan studeer en met blootstelling aan ’n ander taal”. Wat nie gesê word nie, is dat vanaf 2010, in 51 persent van die klasse, Afrikaans reeds saam met Engels in een klas gebruik gaan word. Afrikaans sal nie kan reken op veel meer as die helfte van die tyd nie. In die res van die klas is die studente verplig om te luister na dosente wat ’n groot deel van daardie stof in Engels gaan herhaal. En weer eens is die voorsiening vir Afrikaans slegs in teorie, terwyl daar al vroeër uitgewys is dat die versekering van ’n Afrikaanse-onderrighandhawing onder sulke omstandighede nie geloofwaardig is nie.

Dit is inderdaad ’n halwe porsie wat vir Afrikaans toegedeel word en saam daarmee die vooruitsig dat daardie porsie al kleiner sal word. Toekomstige geslagte sal die geleentheid ontneem word om in Afrikaans te studeer ter wille van die gerief en ideologiese voorkeur van diegene wat tans aan die US die hef in die hande het.

Alhoewel die Raad die reël neergelê het dat geen taalmosie of -voorstel na die Raad gebring kan word sonder dat die Taalkomitee eers daaroor besin het, het die Bestuur vroeg in 2009 op ’n spesiale Raadsvergadering by die Arabella Hotel ’n verreikende voorstel ingedien: in die eerste jaar sou parallelmedium in die vyf grootste fakulteite ingevoer word, gevolg deur “dubbelmedium” in die daaropvolgende jare. Hoe dit van die T-opsie verskil, is by daardie vergadering nooit goed duidelik gemaak nie en dit is aangebied asof die T-opsie een moontlikheid onder ’n dubbelmediumstelsel is. Die verduideliking het toe ingesluit dat, onder dubbelmedium, modules in ’n program afwisselend in Afrikaans en Engels aangebied kan word.

Maar dié nuwe beskouing van die verhouding tussen dubbelmedium en die T-opsie is presies die omgekeerde van wat prof Russel Botman, as US-taalwoordvoerder, twee jaar tevore in gekoopte spasie in Die Burger beskryf het: "Die T-opsie is ’n reeks opsies waarin Afrikaans en Engels saam gebruik kan word, en waarvan die dubbelmedium-opsie ... maar een opsie is.”[25] Ter verdediging van die T-opsie het prof Leon de Stadler,[26] toe projekleier van die Taaltaakgroep (wat die taalbeleid moes hersien), ook in gekoopte advertensiespasie Botman se standpunt herhaal en verder geskryf: “[Uit] beriggewing en briefwisseling oor die T-opsie blyk heel gou dat daar onsekerheid en selfs onkundigheid bestaan oor wat die opsie inhou.”[27]

Dit is egter juis opvallend dat die US-woordvoerders se eie definisie van T-opsie/dubbelmedium nie konstant bly nie. So onlangs as Oktober 2009 skryf prof Magda Fourie, viserektor Onderrig, nog weer, in teenstelling met hoe die beleid aan die US-raad by Arabella verduidelik is: “[Dubbelmediumonderrig] beteken dat twee tale (Afrikaans en Engels) beurtelings in dieselfde onderrigsituasie gebruik word.”[28]

Dit wil lyk of die Bestuur in hul Arabella-voorstel hoofsaaklik deur simbolies eerder as pedagogiese redes gedryf is. Afrikaans mag nie toegelaat word om ’n dominante posisie in te neem soos wat die Taalbeleid vereis nie. Hierdie houding word aangevuur deur ’n visie van versoening en ’n bereidwilligheid om van die kant van Afrikaans offers te bring. Indien die dominante posisie van Afrikaans opgeoffer word, sal die skuldlas van apartheid finaal afgelê word.

Soos in die geval van die vorige afwykings word lippediens aan Afrikaans bewys en word daar volgehou dat geen afwyking van Taalbeleid en –plan plaasvind nie. Die werklikheid is egter dat die Bestuur, met die goedkeuring van die Raad, die beleid op sy kop gekeer het. Die A-opsie, wat veronderstel was om die hoeksteen van die beleid te wees, het skielik die struikelblok in die beleid geword. Prof Fourie beskryf hierdie opsie nou in negatiewe terme: “Hierdie opsie sluit nie-Afrikaanssprekers en diegene wat nie Afrikaans as skooltaal gehad het nie, uit.”[29]

In ’n memorandum wat US Raadslid JW Maree op 20 Mei 2009 beskikbaar gestel het, maak hy die volgende bevinding:

Die US is bo alle twyfel besig om hals oor kop te verengels en die feite hierin vermeld staaf dit ... Die US staan by ’n kruispad en daar moet nou ’n definitiewe keuse gemaak word, wat duidelik uitgespel moet word.

Maree bevind dat as bestaande tendense gehandhaaf word, die meerderheid voorgraadse studente teen 2016 Engelssprekend sal wees. Van ’n universiteit wat Afrikaans is en doeltreffende transformasie in Afrikaans bevorder, sal daar min sprake wees. Daar sal eerder onder die dekmantel van transformasie toenemend van Engels gebruik gemaak word.

Die middelklas in voorheen benadeelde gemeenskappe stuur hul kinders na Engelse skole en universiteite om hulle voor ter berei vir ’n mark wat die beste werksgeleenthede reserveer vir diegene wat goed Engels praat. Die US word nou geposisioneer om so ’n universiteit te word – ’n twyfelagtige besluit wat sy lojale ondersteunersbasis sal vervreem, die aanbod van moedertaalonderrig sal verskraal en die kwaliteit van sy onderrigaanbodsal ondergrawe.

 

Die Fakulteit Regte swaai om

In Junie 2009 het die Taalkomitee die aansoek van die Fakulteit Regte goedgekeur om sy hele voorgraadse aanbieding van die A-opsie na die T-opsie om te skakel. Die fakulteit se versoek het gekom ten spyte van die mislukking van die Fakulteit Lettere se poging om swart studente deur middel van die T-opsie te trek en swart studente se aandrang op parallelmedium.

Die vermoede bestaan dat die Fakulteit Regte se oorskakeling na die T-opsie in die eerste plek te doen het met die groei van wit Engelssprekendes met 40 persent tussen 2005 en 2009. Sommige van hulle oefen druk uit dat dosente meer Engels gebruik. Dan is daar ook die Raad se besluit vroeër vanjaar om parallelmedium in die vyf groot fakulteite in te stel. Regte word as ’n kleiner fakulteit beskou, maar het minstens 25 modules waar maklik parallelmedium ingestel kan word. Die indruk bestaan dat Regte besluit om vroegtydig na die T-opsie te vlug.

As motivering vir sy stap het die fakulteit geargumenteer dat die A-opsie nie voldoen aan die behoeftes van die beduidende getal huidige studente wat onderrig in Engels verkies nie. Die fakulteit se Taalplan, 2009 lui voorts:

As sulks word hierdie studente relatief tot hul Afrikaanssprekende genote aan ongelyke behandeling blootgestel. Die Fakulteit is besorg oor dat dit moontlik strydig met die Grondwet en wetgewing rakende universiteite toeganklikheid vir alle groepe en te meer so aangesien die Taalbeleid van die Departement van Onderwys inderwaarheid nie voorsiening maak vir uitsluitlik Afrikaanse universiteite nie.[30]

Dit is vreemd dat die fakulteit nie reeds in 2001 sy besorgdheid uitspreek het toe die bepaalde wetgewing in 2001 aanvaar is nie. Drie van die opposisiepartye, die Demokratiese Alliansie, Inkatha en die Vryheidsfront, het hulle in die verkiesingsveldtog van 2009 onomwonde uitgespreek vir die US as Afrikaanse universiteit.

Die Fakulteit Regte van US se besluit staan in skep kontras met die beleid van die Regsfakulteit van UP. Dit hou al vir etlike jare sonder ekstra befondsing ’n stelsel van parallelmedium onderrig in stand met die gewone personeeltoedelingsmodel wat in ander fakulteite geld. Hul navorsingsuitsette is goed en hulle het goeie verhoudinge opgebou met regsfakulteite in Afrika. In ’n sekere sin word die fakulteit die poort na Afrika vir enige persoon wat navorsing oor Afrika-regstelsels wil doen. Hulle het die Law of Africa-versameling opgebou met die hulp van skenkers, ens.

Die betrokke fakulteit kan as voorbeeld dien vir baie andere, nie net wat die saak van Afrikaans betref nie, maar ook wat kwaliteit en navorsing betref. Die Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Teologie aan UP het op dieselfde manier gesorg dat doeltreffende onderrig in Afrikaans en Engels in ’n parallelmedium-stelsel aangebied word.[31]

Ek het dit in die Taalkomitee se notule laat notuleer dat die besluit van Regte om na dubbelmedium oor te skakel ’n daad van “taalverraad” is. Kort daarna het die komitee die Raad versoek om my as lid te vervang. Vroeër het Jannie Mouton en Marié Heese as lede bedank omdat hulle, in Mouton se woorde, gevoel het dat die US “te wit en te Engels” is.[32]

In ’n artikel het Heese die Bestuur se hantering van die taalbeleid skerp gekritiseer. Die Bestuur is volgens sy eie erkenning nie in staat om te sê hoeveel dosente nie in Afrikaans kan klasgee nie, “omdat dit nie op sy databank” is nie. Nadat Regte sy besluit geneem het om sy klasse in Afrikaans en Engels te gee, “verklaar die rektor verlig dat die bestuur nou hul integriteit herwin het, want hy moet erken dat klasse reeds tweetalig aangebied word”. Heese voeg by: "Helaas, ’n mens kan nie maagdelikheid terugwerkend herwin nie.”[33]

Heese stel die belangrike vraag: “Die bestuur kon nie verhoed dat die klasse tweetalig aangebied word toe dit nog nie goedgekeur is nie. Hoe sal dit dan in die toekoms verhoed dat Engels oorneem?”[34] Sy wys daarop dat die Bestuur en die Raad toegelaat het dat die Universiteit wat taalbeleid betref, deur sy dosente se voorkeur bepaal word en dat die Universiteit inderdaad van onder af boontoe bestuur word.

Alhoewel die Bestuur graag studente wil trek wat Afrikaans is, het dit gelyk of dit nie die besondere verhouding tussen die Universiteit en sy steungemeenskap waardevol ag nie. Die Bestuur het negatief gereageer op ’n aanbod van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie om ’n “sosiale kontrak” te sluit met die voormalige Afrikaanse universiteite. In ’n skrywe het die Unie met sy 29 000 lede onderneem om daardie universiteite by sy skoliere aan te beveel wat erns maak met Afrikaanse onderrig (wat dubbelmedium uitsluit) en met die ernstige tekort aan onderwysers wat in Afrikaans kan klas gee.

In ’n verklaring aan die pers het die US-Bestuur gesê dat die US nie van plan is om onder “druk en afdreiging” op te tree nie en hom nie “van buite te laat bestuur nie”. Dit het bygevoeg dat dit “veral belangstel in organisasies wat ’n beduidende invloed kan hê op bruin en swart Afrikaanstalige se inskrywingsgetalle aan die US”.[35] Hierdie reaksie jeens ’n organisasie wat primêr belangstel in die opleiding van Afrikaanssprekende onderwysers vir Afrikaanssprekende kinders is as’t ware ontwerp om Afrikaanssprekende gemeenskappe van die US te vervreem.

 

Die besluit van 30 November 2009

In Junie 2008 het dit vir ’n oomblik gelyk of die twee partye in die taalstryd nader aan mekaar beweeg. ’n Informele vergadering van die Raad saam met al die dekane is in die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes gehou. Prof Christo Viljoen, ’n Raadslid wat ook in die Konvokasie-bestuur dien, het ’n voorstel van die Konvokasie-bestuur wat al van 2006 op die tafel is, herhaal. Daarvolgens moet die US waarborg om minstens 75 persent van sy voorgraadse aanbiedinge in Afrikaans te maak en dit moet verpligtend vir alle fakulteite wees.

Dit beteken nie dat 75 persent van al die klasse in Afrikaans (en 25 persent in Engels) gegee sal word nie, maar wel dat die totaal van drie verskillende modusse van aanbieding ’n Afrikaanse aanbod van minstens 75 persent moet verteenwoordig. Die drie modusse is T-opsie of dubbelmedium met Afrikaans en Engels in een klas (gewig 0,50), parallelmedium met aparte strome Engels en Afrikaans van dieselfde klas (gewig 1,0), en Afrikaansmedium (gewig 1,0). Indien die voorstel aanvaar word, sal dit beslis T-opsie-klasse ontmoedig, omdat hulle slegs ’n gewig van 0,5 het.

Die Lord Charles-vergadering het op die beginsel van ’n minimum aanbod ooreengekom, maar onderliggende verskille is nie uitgestryk nie. Daardie fakulteite wat die T-opsie in al die voorgraadse jare wil gebruik (dit beteken ’n minimum aanbod van 50 persent), is nie daarvoor te vinde nie. Op die oomblik is die helfte van al die voorgraadse klasse in die Universiteite in die T-opsie. ’n Minimum aanbod van gemiddeld 60 persent vir die hele Universiteit is net moontlik omdat sommige groot fakulteite ’n sterk Afrikaanse aanbod maak. In die Fakulteit Ingenieurswese is dit 80 persent en in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe meer as 90 persent. Dit laat die ruimte vir kleiner fakulteite, soos Teologie, om slegs Engels te wees en te skuil agter die groter fakulteite se aanbod van 70 of 80 persent Afrikaans.

Die Bestuur het op die Raadsvergadering van 30 November voorgestel om na ’n minimum aanbod van 55 persent te “streef”. Na bespreking het die Raad besluit dat die Universiteit vir die volgende vier jaar ’n aanbod van minstens 60 persent sal “handhaaf”.

Dit beteken nie dat alle studente kan reken op ’n 60 persent-aanbieding in Afrikaans nie. Die aanbod is ’n gemiddeld van 60 persent vir al die voorgraadse vakke. By die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is Afrikaansmedium beskikbaar in feitlik al die modules solank die huidige dekaan daar is, maar in die Fakulteit Lettere is die Afrikaanse aanbod net 45 persent, en alle voorgraadse modules is in die sogenaamde T-opsie . Die veronderstelling hier is dat die studente daarop reken dat hulle vir minstens die helfte van die klas Afrikaans sal kan hoor, maar omdat daar geen doeltreffende monitering is nie, mag dit in sommige gevalle heelwat minder wees. Die getuienis dui daarop die US nie daarin slaag om die 50 persent-minimum onder die T-opsie te handhaaf nie.

Die bestuur het geen planne vir verpligte taalvaardigheid voorgelê nie en het laat blyk dat die instel van die vereiste dalk te duur kan wees. Hierdie faktor het nie ander kampusse soos die een op Potchefstroom verhinder om bepaalde vereistes vir taalvaardigheid af te dwing nie. Moontlik is daar ander redes. Verpligte vaardigheid in Afrikaans kan dalk swart proteste uitlok. Verder kom nog die feit dat Engelssprekendes nou al 36 persent van die voorgraadse totaal verteenwoordig. Met 40 persent van hulle wat nie vaardig in Afrikaans is nie, is daar dalk te veel studente met gebrekkige Afrikaans om vaardig te kry.

Die Rektor beweer in ’n boodskap van 17 Desember dat 64 persent van die voorgraadse modules in Afrikaans aangebied word. Dit is misleidend. Dit is wel so dat in 64 persent van die klasse, in teorie, Afrikaans gepraat word, maar die proporsie A-opsie-modules is net 40 persent. In die res van die modules word dit verwag dat Afrikaans saam met Engels moet wei. Die Bestuur weet nie wat in hierdie T-opsie-klasse aangaan nie en doeltreffende monitering is vir alle prakties doeleindes onmoontlik.

 

Die president van die Konvokasie reageer

Op die jaarvergadering van die Konvokasie op 11 Desember 2009 het die president, prof Pieter Kapp, gesê dat die Konvokasie-bestuur en die ses Raadslede wat deur die Konvokasie verkies is die afgelope vier jaar, die standpunt konsekwent gestel het dat Stellenbosch ’n Afrikaanse universiteit wat meertaligheid bevorder, moet bly en dat Afrikaans ’n langtermyn vaste en volhoubare plek moet hê. 

Prof Kapp verklaar by hierdie vergadering:

Dit spyt my dat ek vanaand aan u moet rapporteer dat ons nie daarin kon slaag om hierdie vaste plek te verseker nie. As ek uitsprake van mense in sleutelposisies op sigwaarde aanvaar, het US vanjaar inderdaad gekies om eerder ’n meertalige universiteit te wees wat sal streef daarna om Afrikaans te bevorder.

Hy het daarop gewys dat die “waarborg” waarop die Raad op 30 November besluit het, net vir vier jaar geld.

As die tendens van die afgelope sewe jaar met studente-inskrywings en die aanstelling van dosente wat nie in Afrikaans kan klas gee nie, onbeheersd voortgaan, sal daardie persentasie in 2013 nie opwaarts nie maar afwaarts aangepas word. Tweedens, geld hierdie 60% vereiste nie per fakulteit nie. Derdens moet in aanmerking geneem word dat minder as 20% van nagraadse onderrig en navorsing - daar waar die werklike ontwikkeling van ’n wetenskapstaal plaasvind - in Afrikaans geskied. Dit werp ’n ander lig op die 60% Afrikaanse aanbod.

Prof Kapp het gesê dat die plek vir Afrikaans voor- en nagraads tans waarskynlik ongeveer 40 persent is. “Stellenbosch het dus gekies vir ’n minimale posisie vir Afrikaans en ’n maksimale posisie vir Engels.”

 

Slot

Gerrit Komrij, ’n Nederlandse literator, het sy vinger op die belangrikste probleem rondom die verengelsing van die US gelê: Afrikaans word deur Afrikaanssprekendes self magteloos gemaak. Komrij het gesê Afrikaans is “lewend-dood”. Dit is soos ’n “gesonde, spartelende liggaam waarvan mense besig is om ledemate af te sny”. Die US het oor die afgelope vyf jaar ’n ledemaat of twee van Afrikaans afgesny sonder dat dit nodig was. Die Raadslede wat geveg het vir die A-opsie as die toonaangewende opsie, het in 2009 hul stryd verloor. Afrikaans het verloor. Die US het verloor. Engels, die T-opsie en die “reg” van dosente om te besluit om in die T-opsie klas te gee, het gewen.

Die stryd gaan voort. Soos Winston Churchill gesê het: "Success is not final, failure is not fatal: it is the courage to continue that counts." Moed, vernuf en uithouvermoë sal deurslaggewend wees om ’n eerbare vaste en volhoubare plek vir Afrikaans aan die US te wen.

 

Eindnotas 

[1] Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, “A Proposed Future Profile of the University of Stellenbosch”, Voorbrand Report, 1999.

[2] Prof Anton van Niekerk, voorsitter van die Taalkomitee, word 1 Augustus 2003 in Die Burger aangehaal dat 70 persent van die modules waarvoor taalspesifikasies bepaal is, hoofsaaklik in Afrikaans aangebied word.

[3] Aangehaal deur Piet le Roux, Rapport, 17 November 2007.

[4] Chris Brink, Bestuursverslag van die Rektor. Senaatsvergadering, 18 Oktober 2002.

[5] Universiteit van Stellenbosch, “Opname oor die ervaring van die implementering van die taalbeleid en taalplan aan die US, 2004", pp 17-19.

[6] JA Laponce, Languages and their Territories (Toronto: University of Toronto, 1987), p 170; Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, ’n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus (Stellenbosch: Sunmedia, 2006), pp 217, 254.

[7] Mondelinge kommunikasie van ’n lid van die Uitvoerende Komitee, 29 September 2007.

[8] Senaatsvergadering, 30 November 2005, Besluiteregister, pp 1-3.

[9] Senaatsvergadering. Besluiteregister, 30 November 2005.

[10] Vir ’n verdere bespreking, sien Giliomee en Schlemmer, 'n Vaste plek vir Afrikaans, pp 129-33.

[11] Kathleen Heugh, Linguistic diversity and the resources versus human rights conundrum, in JB du Toit en HC Viljoen (reds), Proceedings of the Symposium of Multi-lingualism in South Africa,Stellenbosch: Mag & Tabema, 2007, pp 22-9.

[12] Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, ’n Vaste Plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus, Stellenbosch: Sunmedia, 2006, p 120.

[13] Notule van die vergadering van die Taalkomitee gehou in die Lettere en Wysbegeerte-gebou, 19 Mei 2005.

[14] Prof Botman het nie in 2005 in die Taalkomitee gedien nie.

[15] Botman, R, “Wat is die akademiese gronde vir die US-taalbesluite?”, Die Burger, 11 April 2006

[16] Sien voetnota 13.

[17] Universiteit van Stellenbosch, Opname oor die ervaring van die implementering van die taalbeleid en –plan aan US, 2004, p 30.

[18] P le Roux en H Cloete, “Die US se taalpraktyk: ’n opname oor Engels in klasse”, 30 April 2006.

[19] Lawrence Schlemmer, Voorgraadse studente op die US en die Taalbeleid: ’n Strategiese meningsopname uitgevoer in opdrag van die US-Raad. Ongepubliseerde verslag, April 2008, p 17.

[20] Die eerste aantal paragrawe van die afdeling is gebaseer op ’n artikel van Piet le Roux: "Die US vir Afrikaans: Uit die mond van ’n student”, Rapport, 11 November 2007.

[21] Giliomee en Schlemmer, ’n Vaste plek vir Afrikaans, p 139.

[22] Lawrence Schlemmer, Voorgraadse studente op die US en die Taalbeleid: `n Stategiese opname, April 2008, pp 53-4.

[23] JC Kannemeyer, Langenhoven: ’n Lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 303.

[24] Insake die Meerderheidskommunikasie uit die Taalkomitee aan die Raad oor Raadslid, H Giliomee: ’n Persoonlike reaksie.

[25] Russel Botman, “Wat is die akademiese gronde vir die US-taalbesluite?”, Die Burger, 11 April 2006.

[26] Terselfdertyd ook hoof van die Taalsentrum en lid van die Taalkomitee.

[27] Die Burger/Rapport, "T-opsie net ’n onderdeel van US-taalbeleid", circa Mei 2006 [beskikbaar by  http://www.sun.ac.za/university/Taal/Hersiening/docs/rapport.pdf]. Die US se poging in 2006 om die T-opsie by wyse van gekoopte advertensiespasie te bemark het R250 000 gekos.

[28] Die Burger, 10 Oktober 2009, artikel in BY.

[29] Die Burger, 10 Oktober 2009, artikel in BY.

[30] US Fakulteit Regsgeleerdheid, Taalplan, 2009, pp 4–5.

[31] E-pos-kommunikasie aan H Giliomee van senior bestuurder aan UP, 28 Julie 2009.

[32] Rapport, 17 Oktober 2009. Jannie Mouton sê hoekom hy loop by US.

[33] Beeld, 18 September 2009. “Deur ’n spieël in ’n raaisel.”

[34] Die Burger, 19 Julie 2009, artikel in By.

[35] Brief van JC Klopper, HUB van die SAOU, aan Paul Cluver, 28 Oktober 2009 en Beeld, 3 November 2009.

[36] Le Roux en Cloete, “Die US se taalpraktyk: ’n opname oor Engels in klasse,” 30 April 2006.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top