Wildepruim deur Elmaré Lombard: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Wildepruim
Elmaré Lombard

Naledi
ISBN 9781067234102

’n Boek se titel is dikwels ’n goeie sleutel tot die inhoud. In dié geval is dit ’n besonder nuttige motief wat die leser gerus regdeur die boek kan volg. Ek gaan later effens meer oor die plant self gesels, maar kom ons begin by die storie.

Kort sketse wat stelselmatig ’n verhaalgegewe bou

Wildepruim bestaan uit talle kort sketse. Aanvanklik is daar nie eens duidelikheid waarheen die narratiewe struktuur lei nie. Die tekeninge is kort en hier en daar selfs stomp. Die kindervertellers in die eerste twee dele van die boek se onskuld is oulik, maar by tye voel dit effens té oulik.

Tog, toe ek die geheel begin raaksien, het die spel duideliker geword.

Wildepruim is soos een van daardie kunswerke waar ’n kyker van naby honderde klein sketsies sal sien. Elkeen verskaf ’n baie klein bietjie detail, maar nie ’n geheelbeeld nie. Dit is met sommige stukke visuele kuns nodig om weg te stap, om nie meer na die besonderhede te kyk nie – dán skielik sien ’n mens ’n totaal nuwe stuk kuns raak.

Ek het presies daardie indruk gehad tydens die lees van Wildepruim. Elke sketsie is oulik. Afgehandel. Klaar. Maar hulle vertel nie die geheel nie. Dis eers nadat jy ophou kyk na die individuele stukkies, maar wegstap, dán sien jy as leser ’n ander klomp elemente raak.

Twee onskuldige vertellers in ’n onstuimige wêreld

Die ontsettende onskuld van die kindervertellers maak die aanvanklike lees van Wildepruim erg nostalgies. En, ja. ’n Enorme aantal van die sketse is kort stukkies onthou van dae wat was, dae wat baie mooi was ten spyte van armoede en swaarkry.

Deel I se fokus is op ’n jong bruin meisie. Kleur word nooit genoem nie. Dis nie nodig nie. Haar lewe is skynbaar vol en bykans volmaak, al pas sy haar ouers op, wat maak dat sy nie skool toe gaan nie.

Tog is dit nie al nie.

In deel I word die verteller bewus van mense wat in opstand kom teen die regering. “Hulle” – die oproermakers – bly ’n verre bedreiging, maar hulle is daar.

In deel II, waar ’n jong wit verteller aan die woord is, is die strukturele kwessie van “ons” en “hulle” telkens deel van die verhale.

“Hulle” is in deel II die plaaswerkers en hul kinders. “Hulle” is vriendelik en lieftallig; “hulle” speel dikwels saam met die wit kinders – maar “hulle” is nie altyd welkom nie.

Dit word skynbaar – let wel ek sê skynbaar – nie ook juis ondersoek nie, maar word wel gereeld en voortdurend genoem. Die idilliese vertellings bly oulik, maar die bewussyn van iets groter as die mooi prentjies klop die hele tyd, klop-klop – soos die toktokkie wat ons in die eerste deel van die boek ontmoet.

In deel III kruis hierdie twee vertellers se paaie weer. Albei is meer volwasse, albei het hul heimat in die Karoo verloor. Die derde deel val ook saam met FW de Klerk se seminale parlementsopening in 1990 en Nelson Mandela se vrylating.

Sonder om dit uit te spel, kom die strukturele ongelykhede tussen die twee vroue weer ter sprake.

Die klomp klein sketsies in die boek is dus elkeen belangrik, skynbaar onskuldig en grootliks sentimenteel. Die leser wat die leidrade wil raaklees, begin egter al hoe meer besef dat hierdie spul los drade eintlik ’n hegte narratiewe element vorm – een wat hoegenaamd nie die onskuld en die idille van die individuele sketse ondersteun nie.

Ek sou Wildepruim nie as subversief of negatief beskryf nie, maar dis slegs ’n moedswillige leser wat nie sal wil raaksien dat hier op meer as een vlak betekenis geskep word nie.

In deel I ontdek die kinderlike verteller ’n argeologies belangrike ruimte. Die stukkies en brokkies wat daar rondlê, beteken op hul eie nie veel nie, maar wanneer ’n kenner hulle kom ondersoek en die brokkies met die nodige kennis lees, kom ’n heel ander storie na vore.

Ditto met Wildepruim.

Twee mense se verhale vervleg

Ek sou nie graag dat mense die indruk kry hier word bloot politiek gepraat nie. Glad nie. Die boek handel eintlik oor twee meisies wat naby mekaar grootword en dan as volwassenes mekaar weer ontmoet.

Deel I is Katrina se verhaal. Deel II is Ella, of dan Emmertjie, s’n. In deel III loop hulle paadjies saam.

Albei ervaar liefde, albei ervaar hartseer. Albei se onskuld word by tye geskud.

Die verhaal, wat so in brokkies en stukkies vertel word, is aanvanklik snoep met die losmaak van die twee se gedeelde komvandaan, maar nog eens lê die leidrade oral rond. Die nuuskierige leser begin taamlik gou die kodes raaksien.

Terug na die boom wat in die titel genoem word

Ná ek Elmaré Lombard se Wildepruim deurgelees het, is ek bewustelik weer deur die teks om te gaan soek na al die plekke waar die boom genoem word. Iets het my vertel dat die titel nie sonder rede gekies is nie.

Op bladsy 22 “ontmoet” ons die boom:

So halfpad teen die koppie uit, naby ’n pragtige Karoo-wildepruim, sien Katrina die rankie raak van ’n kambro wat sy takkies en vet blaartjies tussen die karoobossies sprei. Sy is altyd opgewonde wanneer sy ’n kambro teëkom, want daar is nie meer baie van dié wonderlike knolplante in die veld nie.

Die kambro is ’n belangrike plant, en in tye van droogte het die Khoi dié plante geoes om te oorleef. Die boom is dus ’n belangrike baken vir Katrina.

Ook op bladsy 22 lees ons:

Die wildepruim staan soos altyd getrou daar op sy plek. Dit is hy wat help dat sy nie verdwaal nie. Hy wys haar waar sy is, sodat sy altyd die pad huis toe kan vind, en vandag punt sy takke na die plek van die kambro.

Ook Ella het ’n besonderse boom in haar lewe. Op bladsy 98 staan:

Die allermooiste wildepruimboom groei net buite die heining. Ella gaan altyd eerste na dié boompie wanneer sy op die plaas aankom. Sy verwonder haar aan sy stam vol letsels. “Dis van jare se droogtes,” het oom Soois gesê toe sy daarna vra. Dan kyk sy hoeveel pruimpies daar aan die takke is en of sy dit kan bykom. Selfs in droogtetye is die fyn blaartjies altyd groen en sy skadu bied lekker speelplek vir die kinders – ’n plek waar hulle veilig en beskerm voel.

In Ella se geval is die wilderpruim dus ook ’n plek van geborgenheid.

Dan, in deel III, waar Katrina en Ella as volwasse mense mekaar weer ontmoet, kom hulle agter dat die bome in die Boland ’n ander soort bekoring dra. Op bladsy 192 en 193 lees ons:

“Fynbosveld en karooveld is twee totaal verskillende plantwêrelde,” merk sy eendag teenoor Katrina op. In die Harold Porter botaniese tuin op Bettiesbaai staan ’n groot wildepruimboom met rooi vruggies. “Dié wildepruim is darem ’n totaal ander boom as ons Karoo-wildepruim,” sê Ella.

“Die pruimboom van die karooveld wys ons wat die droë wêreld aan ’n mens doen, Katrina. Hy vertel eintlik vir ons ’n Karooverhaal en wys vir ons die krag van leef deur baie droogtes. Sy storie is vir ons ’n les: Die Karoo leer jou om die swaar van die lewe te hanteer. Om aan te hou en uit te hou, want op die ou end word jy sterk!”

“Dit is ’n mooi verhaal, Mevrou,” sê Katrina. “Dit is waar vir ons almal.”

“Presies,” sê Ella. “Dit is ook waar van ons voorsate – joune en myne. Ons moet dankbaar wees vir die swaarkry en die harde werk wat húlle ingesit het om dit vir ons mense moontlik te maak om daar in die Kamdeboo ’n goeie bestaan te voer.”

Dit is betekenisvol dat die leser hierdie groter bome “ontmoet” wanneer die nuwe Suid-Afrika aanbreek.

Gaan dit ’n land van melk en heuning word?

Ek wil nie te veel verklap nie, maar ook in die paradys is daar slange. Ook in die nuwe Suid-Afrika is daar verraad. ’n Groter, mooier boom is nie noodwendig beter as die kleiner, taaier bome nie. En tog, juis omdat albei vroue nou die vermoë het om hulself én mekaar ter wille te wees, vind groei in albei plaas.

Lees maar self. Daar is heelwat meer plekke waar die boom voorkom, en elke keer is daar ’n rede voor.

Pappea capensis, die boom met baie name

In ’n voorwoord deur Wilhelm van Deventer, op bladsy 9, staan: “Wildepruim is nie maar net ’n titel of boom nie, maar is in sigself ’n storie vol simboliek.” Effens verder, op dieselfde bladsy, word nog ’n leidraad verskaf: “Die wildepruim is ’n struikboom en ’n mutasie van die inheemse Pappea capensis (doppruim), in die volksmond bekend as wildepruim.”

Van Deventer is reg. Die boom is in sigself ’n storie, en die name waarmee dit benoem word, ook.

Sanbi se webruimte verskaf wonderlike inligting oor die boom, ook die talle name wat dit in die inheemse tale het. Dít het my nuuskierig gemaak.

In Engels staan die wildepruim soms bekend as die indaba tree, wat direk afkomstig is van Zoeloe. Die Zoeloes verwys ook na die Pappea capensis as indaba. En wat beteken indaba? Dit beteken “storie”. In Zoeloe en in Engels is dit dus ’n storieboom.

Dit word egter beter. In Zoeloe is dit ook bekend as umqhokwane. En wat beteken dit? Die Afrikaanse vertaling sou slotmaker kon wees.

In Engels sou ek nou kon sê: “I rest my case.”   

In Afrikaans gaan ek egter sê: “Fluit fluit, my storie oor die wildepruim is uit.”

Lees ook:

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé: ’n resensie

Bloujare se stories is goeie ontsnappingsleesstof in die kontreiverhaal-tradisie

Droomdelwers: ’n Kontreiverhaal wat maklik lees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top