Bloujare se stories is goeie ontsnappingsleesstof in die kontreiverhaal-tradisie

  • 0

Bloujare se stories
George Weideman
Uitgewers: LAPA
ISBN: 9780799339222
Formaat: sagteband
112 pp
Kategorie: Kortverhale
Handelsprys: R85

Die omslagfoto van George Weideman se Bloujare se stories gee ’n goeie aanduiding van waarmee die leser te make het in hierdie bundel verhale: die wêreld van die Noord-Kaap en die skepsels wat daar gevind word. Skepsels, want dit gaan nie net oor mense nie, maar ook oor diere en plante. En in meer as een verhaal tree die landskap self as byspeler op.

Weideman span verskillende vertellers in – vir die twintig verhale in die bundel gebruik hy ’n stuk of agt vertellers. Sommige vertellers word in die erkennings genoem en mens vermoed dus dat die vertelinstansie in sekere verhale gebaseer is op werklike persone. Ander vertellers, soos oom Diekie Dixon, is die tipe spekskietverteller wat mens in elke letterkunde ter wêreld teëkom. Hy word dikwels “aan die woord” (25) gestel deur Jopie Kotzé. Sodoende word die indruk geskep dat die leser, saam met die “ek”-karakter Jors (wat mens aflei ’n fiksionalisering van Weideman self is), na hierdie oorvertelling luister en deel is van die gesprek. Dié gevoel word verder versterk deurdat die leser reeds vanuit die staanspoor as “jy” (7) aangespreek word.

Daar word ook ’n poging aangewend om die stories op dieselfde trant oor te dra as wat ’n gesprek sou plaasvind. Dit is miskien minder opsigtelik wanneer die “ek”-karakter aan die woord is, maar oor die algemeen skep die gebruik van korter sinne, stopwoorde en herhaling die indruk dat die leser met ’n effe gesuiwerde transkripsie te make het. Weideman sluit nie alleen woorde in die teks in waarmee die gemiddelde (stedelike) Afrikaanssprekende waarskynlik nie vertroud is nie (byvoorbeeld “tkoei-kind” (64) en “gabba” as werkwoord (64)), maar gebruik ook – veral deur middel van Diekie Dixon – niestandaard uitspraakvorme. So sê Diekie Dixon byvoorbeeld “kleinkjend”, “Sprimmok” en “ik”. Daar sou ook geargumenteer kon word dat Weideman sodoende aandui nie alleen uit watter streek die spreker kom nie, maar ook uit watter generasie.

Benewens Weideman se verknogtheid aan die streek, word dit ook duidelik dat daar terug gehunker word na ’n tyd – ’n wyse van omgaan met ander mense – wat dalk nie meer bestaan nie. Indien die titel dit nie duidelik genoeg aangedui het nie, het die omslag die leser ook hierop voorberei – die titel van die bundel en die outeur se naam verskyn in ’n lettertipe wat mens met tikmasjiene assosieer; die letters wat nie almal ewe duidelik is nie, versterk hierdie idee.

Twee dinge het hierdie leser opgeval. Die eerste was dat die ruimte in hierdie verhale ooglopend manlik is: daar is rugbyvelde en plase en stoepe waar manne gesels. Daar is manne wat smokkel, manne wat bokke koop en wildsbokke skiet, manne wat bergpasse en lang paaie met ’n verskeidenheid voertuie aandurf. Daar is ook manne wat probleme ervaar met vroue – vroue wat hulle belet om in die huis te rook en vroue wat hulle jags maak.

Tweedens (en dit hang miskien met die manlike ruimte saam) is daar in feitlik al die verhale ’n gevoel van mededinging. En waar dit slegs die verteller is, dan is daar gewoonlik ’n stryd teen die natuur of teen ’n voertuig om te kyk wie die oorhand gaan kry. Daar is nie in al die verhale sprake van doelbewuste pogings om iemand die loef af te steek nie, maar die stories eindig gewoonlik met iemand wat óf op ’n ongewone manier ’n probleem te bowe kom, óf deur ander karakters (of omstandighede) in die verleentheid gestel word.

En hier kom mens dan by die groot probleem wat sekere lesers ontevrede met die bundel sou kon laat: diegene wat soek na ’n angel aan die einde van die verhaal of na stof tot verdere nadenke, gaan teleurgesteld wees. Hierdie is goedgeskrewe verhale in die tradisie van Spies en Plessis wat ’n mens soms met ’n glimlag om die mondhoeke laat, maar van meer as ’n gemaklike leeservaring is daar nie werklik sprake nie. Veral die laaste verhaal, “Hoe verdwaal jy met ’n padskraper?” is in hierdie opsig teleurstellend – mens sou graag ’n effense kinkel in die kabel wou hê, of ten minste iets om oor te dink nadat jy die bundel neergesit het. Sonder daardie kinkel is Bloujare se stories goeie ontsnappingsleesstof in die kontreiverhaal-tradisie.


Ondersteun deur Grapetown Capital (Pty) Ltd.


Skrywers en digters is welkom om repliek op hierdie resensies te lewer. Oop gesprek tussen resensente, skrywers, digters en lesers word aangemoedig. Stuur jou kommentaar aan melt@litnet.co.za.
Kommentaar sal op LitNet gepubliseer word.

 
 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top