Droomdelwers
Esta Steyn
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624051459
Prys: R175.95
Klik hier en koop Droomdelwers nou van Kalahari.net!
Esta Steyn, bekend vir Weskus-verhale soos die TV-reeks Meeulanders en die roman Kinders van die Sabbatsee, se Droomdelwers speel af in twee wisselwerkende klein Weskus-gemeenskappe: Soutmansdal (die wit gemeenskap) en Vlaktevlei (die bruin gemeenskap). Dit word redelik idillies uitgebeeld: wit huisies teen die see, min winkels, straatjies waarin kinders speel, mense wat op die strand gaan stap, visvang, klipvissies in poele soek, op rotse sit en droom. Daar is armoede, maar mense help mekaar.
In elke Paradys is daar egter ’n slang, en hier is meer as een.
Die verteller/kommentator van die verhaal is ene Kêppies Killian, wat in Weskus-streekstaal praat en kort-kort vir ons die agtergrond van die gebeure uitspel. Dit is duidelik dat die skrywer vertroud is met hoe die mense van haar kontrei hulle kleurryk uitdruk. Mense kry byname of liefdesnaampies: Kêppies se regte naam is byvoorbeeld Kirstoof Jakobus Killian, Leendra word dikwels Leentjies genoem, en Cecile heet meesal Sielie.
Kêppies voel genoop om die storie “soesie see self” te vertel, al is dit moeilik om vas te vat en te orden, maar “dit skrou om gevertel te word” (5). Hy is die boesemvriend van Koster, wat vir die kerk en vir Miss Sweetie Bonthuys (vrou van oom Bontie en ma van Boeta) van die winkel werk. Kêppies is ook die pa van goeie pastoor Gerald.
Dié gemeenskappe leef van die see en die soutpanne. Daar is egter ook ontginbare graniet, en dit is wat doktor Samuel van der Sandt, die aantreklike geoloog, na Soutmansdal en liefdesintrige bring. Hier ontmoet hy Leendra van Hellberg, ’n groenoog rooikop wat hy Juffrou Van Helleveeg doop. Sy is iemand met ’n tragiese verlede en veral hoogs ontvlambare humeur wat – natuurlik – as ’n “rissiepit” bekend staan. Wanneer Samuel sy kamp opslaan in die Kleinkloof waar haar ouers voorheen gewoon het, skroom sy nie om hom te probeer verwilder nie. Die leser moet weet hierdie liefdespaadjie gaan kronkel.
Leendra is pas na sewe jaar in die Silwerkruis-gevangenis in die Vrystaat vrygelaat. Sy het haar minnaar, Ferdinand, doodgeskiet toe sy nog in die Redelinghuyse se spoghotel gewerk het. Vreemde, bykans onoortuigende omstandighede word hier voorgestel. Ferdinand die juweelsmous en Gilbert Redelinghuys, eienaar van die hotel, pierewaaier en een van die skurke in die verhaal, was albei op haar verlief. Leendra word as slagoffer uitgebeeld, die een wat onverdiende skuld moet dra. Die onregverdigheid van haar gevangenisstraf word onderstreep. Hier en daar praat sy van haar wroegings in sel 1288.
Die Redelinghuyse se bose plan is om die mense van die nederige (dog gelukkige) gemeenskap van Vlaktevlei te ontwortel en na Dwarsmansdal te laat verskuif. Gilbert en sy ma Minette wil die “lokasie” verwyder van grond wat aan hulle behoort om daar The West Coast Holiday Resort te vestig. (“Hulle het nou lank genoeg so ’n prime spot by die see opgefok met hulle krotte” – 27). Dit veroorsaak konflik en opstand in dié geweste.
Gilbert se suster Patricia (Patty) is ’n cliché-karakter: die mooi, bedorwe, wulpse kind van kleindorpse elite, wat haar flikkers vir Samuel gooi.
Leendra is gedrewe om die waarheid omtrent die gebeure van die dag waarop sy Ferdinand geskiet het, uit te vind, anders sal sy nooit werklik vry wees nie. Daar is vele geheime om uit te pluis. Op die dag wat Leendra vir Ferdinand geskiet het, is haar pa, Hennerik Rooihel (soos Kêppies na hom verwys), en haar ma boonop in ’n verdagte ontploffing by hulle steengroef dood.
Wat en wie het Sielie, Leendra se sussie wat hakkelend vasgesteek het in die verlede, daar by die steengroef gesien wat haar geestelik vertraag of geknak het? Siela speel steeds met poppe en haar gesprekke met dié poppe is ’n middel waardeur geheime maklik ontrafel kan word. Dié karakter is duidelik ook bedoel om trane te trek en om mense wat hulle oor haar ontferm, in ’n goeie lig te stel.
Oom Phil van Tonder en sy vrou Lucia ontferm hulle oor Leendra en Sielie, aangesien hulle pa glo bankrot gesterf het nadat die steengroef al sy geld “opgevreet het”. Phil en oom Bontie ontgin sout en Leendra kan in die soutmyn se kantoor gaan werk. Van die begin af word gesuggereer dat iets hier nie pluis is nie.
Pastoor Gerald word as vroom en mensliewend voorgestel. Sy vrou Jamaina, hoof van die laerskool, soek meer verhewe weiveld as Vlaktevlei terwyl hy sy tweestryde voer. Die huwelik is gelukkig, maar hy word aan ernstige versoeking blootgestel wanneer hy op die engelagtige inkommer, Rebekka Cupido, verlief raak.
’n Karakter wat veronderstel is om vermaaklik te wees, is Mara, Lucia se sewentigjarige ma, wat gewoonlik “opgetooi (is) soos ’n eertydse aktrise” (16). Haar verspotte kleredrag word telkens beskryf, asook haar skinderneigings. Oordrewe, maar daar sal mense wees wat haar geniet.
Nog ’n karakter wat amper te goed is om waar te wees, is Minette Redelinghuys se suster, die kunstenares Gretel Grossman. Gretel protesteer ook teen die gedwonge verskuiwing. Sy groet mense met “Guten Tag” en woon in haar huisie cum ateljee Der Schutz (Die skuiling). Onpretensieus, bevriend met almal, veral die onderdruktes en minderbevoorregtes, en natuurlik ook met Leendra.
’n Sjarmante en ryk “Italjaner”, Mario, duik ook op as Samuel se vennoot. Wat het dié man by Leendra se pa net voor sy dood gaan soek?
Die “groot branner” van die wegraping van Vlaktevlei bou al meer op om die gemeenskap met mense, skool, kerk en al uit te wis, en dit hou mens aan die lees.
Verskeie karakters uit die twee gemeenskappe, plus die inkommers, fokaliseer. Daar is moorde, dreigende onteiening en ontwrigting, die skelmstreke van vele. Geloof en versoeking, die krag om op te staan na die val, is temas in die roman. Meer as een liefdesverhaal is ingeweef.
Dit is ’n kontreiverhaal wat maklik lees. Al weet die leser dat die goeie karakters gaan triomfeer en die skurke sal boet vir hulle dade, hou die spanningslyn jou aan die raai en wonder, tot aan die einde. Dan word die laaste geheime uiteindelik oopgevlek.


Kommentaar
Goeie dag, wil net weet of daar 'n dvd van Droomdelwers is?
Dankie, Groete
Die boek is ’n verskriklike oulike boek. Ons doen dit vir graad elf! Eerstens het ek gedink dit gaan vaal wees maar na die eerste hoofstuk het dit my nuuskierigheid geprikkel. Baie dankie Estan Steyn vir die asemrowende boek!
Bestaan daar enige materiaal oor droomdelwers? Aantekeninge, studiegids, ens. (Onnie, gr. 11) Soek dringend die leerderweergawe. Hoof probeer bestel, maar geen voorraad. Help asb.(Arm, Afrikaanse Privaatskool, 10 leerders in gr, 11)
LitNet plaas hierdie kommentaar en versoek enige leser wat kan help om asseblief die LitNet-redaksie te kontak sodat hulp aan dié leser verskaf kan word. Baie dankie, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder
Goeie dag! Wat is die fliek se naam wat soortgelyk is aan die leesboek?
Die sepie op KykNet, Soutmansdal is blykbaar soortgelyk aan die boek. Ek het dit nog nie self gekyk om te kan evalueer nie, maar gedink dit mag dalk help.
Hoe kry 'n mens die dvd van die boek?
My kind het dit vir skool graad 11 maar hulle het nie genoeg boeke vir al die kinders nie. Waar kan ek dit tekoop kry asb
Hallo Marius, hier is nog inligting oor Droomdelwers: http://www.nb.co.za/Books/19082. Dalk kan jy NB-Uitgewers kontak en uitvind waar jy die boek kan aanskaf. Groete, Naomi Meyer, LitNet: inhoudsbestuurder
Weet iemand dalk waar ek 'n refleksie van die boek kan kry?
Wat is die betekenis van die title "Droomdelwers"?
Die boek is baie boeiend. Die leerlinge sukkel bietjie met die verskeidenheid karakters.
Om akkuraat aan te bied, wil ek net weet of die Killians n wit of bruin familie is.
Baie dankie.
Eks op soek na die fliek van Droomdelwers!
Bestel dit by SABC – dit het my so 4 jaar gelede R250 gekos.
Help my asseblief met my navorsingsprojek.Ek moet navorsing oor die ALGEMENE SIMBOLIEK van die volgende aspekte in Droomdelwers doen:
1. Sout
2. Ibisse
3. Die kleur wit
4. Die getal 7
Ek moet 'n opstel skryf na al die navorsing. Baie dankie.
Help my asseblief ek doen 'n navorsingstaak oor Droomdwelwers.
Hallo! Ons beskik oor die volgende blokraai wat toegespits is op Droomdelwers: https://www.litnet.co.za/litnet-blokraai-droomdelwers-deur-esta-steyn/. Dit kan jou help om jou kennis te toets. Groete, die LitNet-redaksie
Kan ons asb 'n opsomming kry van die karakter Leendra van Helberg se konflik deur die loop van die roman.
Hallo! Hier is 'n indeks van die vraestelle en memo's wat op LitNet beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Dit is ingedeel volgens graad en vakgebied. Ons voeg so gereeld moontlik nuwe inhoud by. Blaai gerus daardeur om te sien wat inderdaad beskikbaar is. Klik op die skakels om die inhoud gratis in PDF-formaat af te laai. As die materiaal waarna jy op soek is nie hier is nie, kan jy kyk of daar nie nog ander inhoud is wat jou in ander vakke kan help nie. Groete, die LitNet-redaksie
Weet enigiemand waar ek die sepies Soutmansland kan kry of koop? Het dit baie dringend nodig 😅 Is bereid om te betaal 😁
Will net weet of daar 'n oudioboek of 'n dvd is oor Droomdelwers?
Daar is nie 'n oudioboek of DVD oor Droomdelwers hier beskikbaar nie, maar lees gerus meer oor die skrywer van die boek in haar LitNet | ATKV-skrywersalbum. Dit kan ook met die voorbereiding help: https://www.litnet.co.za/esta-steyn-1945/. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder
Dit is 'n baie moeilike boek, maar daar is 'n dvd. Kyk net op YouTube: Droomdelwers, die Soutmans se land.
Ek nodig help by die simboliek van die onderstaande motiewe:
Sewe
Wit
Ibisse
Sout
Dankie vir jou navraag! My voorstel sou wees om die boek te lees, hierdie resensie waarby jy kommentaar gelewer het en ook die woorde wat die motiewe omskryf. Oordink die woorde en skryf neer wat elkeen vir jou beteken: is die woorde sewe, wit, ibisse en sout woorde wat meer as een ding kan beteken? Is daar simboliek ter sprake by getalle en kleure, byvoorbeeld? Beteken die woorde dalk meer as een ding? As daar ander lesers of leerders is wat hieroor wil saamgesels, is julle welkom om ook hier kommentaar te lewer. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder