Foto: LitNet-argief |
|
Sêgoed van Esta Steyn “My skrywery was maar net ’n spontane uitvloeisel van stories wat al lankal in my kop gekom het.” (Volksblad, 3 November 2008) Wat maak die Weskus so spesiaal? “Die klimaat, die kos, die kuier. Die skielike mis oor die baai. Die meeue. Die blomme in Augustus.” (Keur, 5 Julie 1996) As sy ’n dag lank iemand anders kan wees: “Een van die skoonmakers in die Louvre in Parys. Dan kan ek met ’n lappie op ’n leer staan en al die beroemde beelde behoorlik bekyk. En ek kan Venus se armpie afstof en miskien glimlag Mona vir my.” (Keur, 5 Julie 1996) “Waar kom stories vandaan, wonder ek? En waar gaan soek jy die begin en die einde? Ek weet regtig nie. Ek weet net dat daar partymaal ’n fontein van vreugde uit die hemel oor mens oopgaan. En dan word die druppels woorde op papier. So was dit met die skryf van Meeulanders, die draaiboek.” (Kaapse Bibliotekaris, Maart 1996) “As ek ’n storie skryf, moet ek ’n sterk milieu hê, iets wat die storie voed. Hier aan die Weskus het ek dit al gekry. Met Meeulanders was dit die eiland en sy gegewe. En met Soutmansland was dit die sout en graniet.” (Sarie, 31 Mei 2000) “Mense dink daar is iets mistieks aan skryf. Dis nie so nie. Dis gewone harde werk. Skryf is ook ’n proses. Jy moet woorde en idees en gedagtes ordentlik kan liasseer!” (Sarie, 31 Mei 2000) Wat wil sy nog doen? “Niks spesifiek nie. Net elke dag my deeltjie doen om iemand se dag ’n bietjie beter te maak.” (Volksblad, 3 November 2008) Wat het die lewe haar geleer? “Om vir die regte oomblik te wag wanneer ek iets wil vra; om ’n natlappie saam te neem; om nie te staan en eet nie, anders vergeet jy dat jy geëet het. Moenie met ’n man se hout peuter wanneer hy vuurmaak nie. Dat aanpashokkies in winkels my selfbeeld knak.” (Sarie, datum onbekend) Oor Valentynsdag: “Al weet ek dat Valentynsdag net nóg ’n manier van geldmaak geword het, is dit nogtans lekker dat ’n bloedrooi dag iewers op die kalender vir die liefde opsygesit word! Dit is ’n dag van onbeskaamde liefdeswoorde en almal tussen 9 en 99 kan in dié vreugde deel. As jy 9 is, steek jy jou briefie tussen jou skoolbrood weg. As jy 99 is, soek jy jou tande om daardie liefdeslekkers mee te kou of om die rooi rose mee vas te byt!” (Taalgenoot, Februarie 1997) Oor die skryf van die kortverhale in Biegbrief: “Die skryfproses was vir my ’n ongelooflik heerlike ervaring. Die stories het hier by my voordeur ingewals. En wanneer ek gedink het dis die laaste een, was daar die volgende dag nog een. Dit voel ook nou of ek ’n sirkel voltooi het. Met die lees van die verhale in matriek het ek heeltyd gewonder waar die skrywer aan al die stories gekom het. Ek weet nog nie waar dit vandaan kom nie. Maar ek weet net ek het uitgekom op die plek waar ek begin het.” (Die Burger, 30 Junie 2014) “As ek sou gedwing word om net in een medium te skryf, sal dit kinderverhale en -verse wees … en dan is dit ook my groot ideaal om huisvrou-lof-psalms te skryf. Jy weet, dis daardie dankie-sê vir die klein dingetjies wat ’n huisvrou daagliks doen.” (Keur, 12 April 1996) Verwerk ’n mens ooit die dood van ’n kind? “’n Mens verlang altyd. Ek het wonderlike kinders gehad. Jy mis hulle, maar jy aanvaar ook hulle is nie hier nie. Maar ek het nie opgehou om hul ma te wees nie. Dis ook vir my ’n soort troos.” (Sarie, 31 Mei 2000) Die see loop deur die titels en inhoud van haar werke. Is dit bedoel, wou Danila Liebenberg weet: “Dat die see deur baie van my stories vloei, is seker maar omdat ons hier aan die Weskus woon waar die see bewustelik of onbewustelik tog ’n deel vorm van ’n mens se ervaringsveld. ’n Mens voel soort van veilig as jy oor iets skryf wat jy ken.” (Volksblad, 3 November 2008) |
Gebore en getoë
Hester Aletta (Esta) Ellis is op 23 Julie 1945 op Struisbaai gebore. Sy is die derde en jongste dogter van Hennie en Hettie Ellis. Struisbaai het oor die jare baie verander. Esta vertel aan NALN dat in die 1940’s was daar op hierdie vissersdorpie ’n ou wit losieshuis met bloekombome aan die voorkant, die poskantoortjie, kafee, petrolpomp en ’n paar vissersmanhuisies. Sy was die eerste wit kind wat op Struisbaai gebore is en vir baie jare daarna nog, ook die enigste. Haar pa en sy swaer het destyds die losieshuis besit.
In 1948 verhuis die gesin na Montagu, waar Esta se pa ’n meubelfabriek begin. Sy begin haar skoolloopbaan daar en sy onthou dat haar eerste juffrou in sub A Lydia Muller was, die suster van die bekende skrywer Elise Muller. Dit het Esta geweldig beïndruk en sy het dadelik daarvan begin droom om eendag te skryf.
Sy vertel aan Suzette Truter (Sarie, 31 Mei 2000): “My pa, Hennie Ellis, vertel toe ek baie klein was, het ek sulke lang stories vertel van feetjies en kabouters en dinge wat ek in watervalle gesien het. My pa het ook vir ons baie stories gelees, veral van Langenhoven. My ma is in 1990 oorlede. Sy was sag, dierbaar. Ek het vir haar ’n toneelstuk geskryf, Die hemel het ’n nommer, wat al dwarsdeur die land gereis het.”
Esta het in 2014 aan Elmari Rautenbach vertel dat die stories wat haar ouers aan hulle vertel het, nogal ’n groot invloed gehad het. Dit was stories soos Brolloks en Bittergal. “Ek onthou ook skrywers soos Dot Serfontein en Kas van den Bergh en natuurlik daardie onvergeetlike radiostories soos Die Du Plooys van Soetmelksvlei en Seepkisbataljon. Dit het my al bewus gemaak van titels.”
In 1954 toe Esta in standerd twee (graad vier) was, trek die gesin na Worcester, waar Hennie Elda Meubels, sy meubelbedryf, groter maak. Esta sit haar skoolloopbaan hier voort en matrikuleer in 1963 aan die Hoër Meisieskool Worcester.
Verdere studie en werk
Elda Meubels brei intussen só uit dat dit ook ’n saagmeule inkorporeer. Maar ’n sekere soort houtstof maak Hennie Ellis baie siek en ná matriek besluit Esta om nie universiteit toe te gaan nie (soos haar plan was), maar om eerder haar pa in die saagmeule te gaan help en boekhouer te word. Sy het vir vyf jaar hom gehelp en dit was in daardie “stowwerige kantoor” van Elda Meubels waar Esta haar eerste kortverhaal geskryf het.
Op Worcester ontmoet Esta vir Le Roux Steyn, ’n apteker, en in 1969 tree hulle in die huwelik. Hulle verhuis na Saldanha, waar hulle die Saldanha Apteek begin en later ook ’n geskenkwinkel. Drie seuns word vir hulle gebore: Daniël (1971), Hein (1972) en Le Roux, die laatlammetjie, in 1984. Die gesin word twee keer in rou gedompel – in Desember 1988 sterf Daniël op 17-jarige ouderdom in ’n frats-motorfietsongeluk en in 1996 verdrink Hein aan die Weskus nadat hy gaan seilplank ry het en vermis geraak het. Sy liggaam het sewe kilometer noord van Donkinbaai aan die Weskus uitgespoel.
Esta het vir 16 jaar tot hulle laatlammetjie se geboorte in die apteek gewerk. Sy skilder ook graag en hou haar verder besig met die gemeente se werksaamhede. Skryf bly egter haar groot passie en haar lekkerste stokperdjie. Esta is ook baie lief vir haar musiek en sy het haarself geleer klavier speel – hoewel sy net die D-sleutel ken. Sy kan nie musiek lees nie en neem haar komposisies op band (dit was in 1996) op sodat die plaaslike musiekonderwyseres dit vir haar kan neerskryf, vertel sy aan Romi van der Merwe.
Met die publikasie van haar eerste kortverhaal, "Fiasko vir vier", in Sarie Marais op negentienjarige ouderdom word die droom wat sy in sub A gehad het, waar. Vele ander kortverhale en sketse volg mekaar op, veral in Sarie en Huisgenoot.
In 1979 is Esta se eerste boek, Plek van die boskolos, deur Human & Rousseau gepubliseer. Dit het vroeër in Sarie as vervolgverhaal verskyn. Sy vertel aan Kittie Vermaak (Rapport, 8 Maart 1981) dat sy onder die geraas en skree van masjiene in die saagmeule die inspirasie vir die agtergrond van Plek van die boskolos gekry het.
Plek van die boskolos vertel die verhaal van ’n meisie wat vir niks stuit nie wat besluit om ná haar pa se dood die saagmeule te bestuur. Die bure speel ook ’n rol en dis veral die twee broers wat ’n groot rol in haar lewe gaan speel. Die drama bly ook nie uit nie – in die vorm van ’n brand in die bos. “Maar bowenal is dit ’n verhaal wat jou van begin tot einde boei.” (Sarie, 9 Januarie 1980)
Waar wenners woon word in 1980 deur Tafelberg uitgegee en dit het ook eers as vervolgverhaal in Huisgenoot verskyn. “Gedurende die skryf van Waar wenners woon (1980) was Montagu en sy mense weer die heel tyd in my gedagtes,” vertel sy aan Kittie Vermaak. “Ek het dit hier en daar verander om by my storie aan te pas, maar die Heuwelstraat in my storie was Piet Retiefstraat (in Montagu) en my ouma Ellis se huisie was die huis van ouma Zelodia Smallberg in my storie.”
Volgens WM (Die Transvaler, 9 April 1980) draal die verhaal aanvanklik, maar later “vat dit vlam en raak mens al hoe meer verweef in die eienaardige karakters van die familie, waarin almal ‘wenners’ moet wees, of anders is die lewe nie die moeite werd nie”.
Ook Anna van Zyl (Volksblad, 5 November 1980) is van mening dat Waar wenners woon “te uitgesponne is. Té veel woordelikse weergawes van irrelevante gesprekke, té veel nadruklike uitbeelding van karakters, veral met klem op die uiterlike en rokke wat hulle dra en die emosionele wat grens aan sentimentaliteit, bring mee dat ’n mens maklik paragrawe kan oorslaan sonder om enigiets mis te loop.”
In 1981 verskyn Kus vir die kluisenaars by Tafelberg. Dit word ook uitgegee in sakformaat, asook in grootdruk, met ’n heruitgawe in 2009.
Esta se huiswerk vir die skryf van Kus vir die kluisenaars was Jacobsbaai wat die agtergrond vir die dorpie Dorkasbaai verskaf het, vertel sy aan Kittie Vermaak: “Daar is die Yskorwerf en ’n klipgroef en ek het eers die wêreld daar goed gaan deurkyk, foto’s geneem en ’n goeie studie van die mense daar gemaak. Ek kyk dan nog dikwels na die verskillende foto’s. Dit help my om die plek in my verhaal goed te kan beskryf.”
Die verhaal het as agtergrond ’n klein dorpie Dorkasbaai by Kluisenaarskus. En dit is hierheen waar Francisca van Zyl, die hoofkarakter, gaan as boekhoudster by die steengroewe van die Van Egeren-familie. Die impetus agter hierdie besluit van Fransie, soos sy genoem word, is haar stiefma, Melissa, se selfmoord en die briewe wat sy nagelaat het. Sy het hierdie briewe in Dorkasbaai geskryf. Fransie se koms na die dorpie verander almal se lewens.
Oor die 2009-uitgawe skryf Jaybee Roux (Die Burger, 20 Julie 2009) as volg: “Dis nie almal beskore om die Weskus en sy mense oortuigend onder woorde te kan bring nie, maar Esta Steyn is een van die uitverkorenes. (…)
“Die intrige boei enduit, met dramatiese wendings, geheime wat tydsaam ontrafel word en geraamtes wat meteens ratelend uit die kaste tuimel. Steyn is ’n fyn waarnemer van mense en hul verwondings, en daar is meer aan dié verhaal as wat ’n mens met die eerste lees vermoed.
“Die universele waarheid wat bevestig word, is dat mense nie sonder mekaar kan nie en dat versoening en deernis altyd die moeite loon. En natuurlik seëvier die liefde: Dié stukkie voorspelbaarheid is noodwendig. (…) Liefhebbers van ’n goeie storie sal verheug wees dat Kus vir die kluisenaars ná bykans 30 jaar nuwe bene gekry het. Esta Steyn se roman het die toets van die tyd deurstaan.”
Die verhaal het vroeër in Huisgenoot as vervolgverhaal verskyn en Gerda Ahlers (Beeld, 8 Februarie 1982) beskou dit as ’n pluspunt vir Esta en haar soort ontspanningsverhaal wat lekker ontspanning bied. In Die Republikein (19 Maart 1982) word dit beskryf as ’n “eg-menslike verhaal met eg-menslike karakters wat weer eens bewys dat Esta Steyn een van die knapste skrywers van ontspanningsverhale in Afrikaans is”.
Ook in 1981 word Somer van die silwerskuim by Human & Rousseau gepubliseer. Dit het ook vroeër as vervolgverhaal in Sarieverskyn. Esta vertel aan Sarie (30 April 1980) dat sy baie lekker aan die verhaal geskryf het, maar “ek het self nie geweet wie die moordenaar gaan wees nie. Tot ek op ’n dag besef het, maar hier is my moordenaar mos.”
Die verhaal begin met die besoek van Blackie Beyers aan Kransbaai, ’n klein en rustige vissersdorpie aan die Weskus. Daarna word twee vooraanstaande inwoners van die dorp dood langs die see aangetref. Jarien, een van die oorledenes se dogter, besluit om self ondersoek in te stel.
Esta toon dat sy ’n baie veelsydige skrywer is deur in 1985 en in 1989 twee verhale vir die jeug - Projek Maanblom en Vlindervlug – te publiseer. Brakjan en mev Bam, ’n storie vir kinders, verskyn in 1994 by Daan Retief/Kennis Onbeperk en word deur Madeleine van Biljon in Engels vertaal en deur dieselfde uitgewers uitgegee.
In 1980 skryf Esta die toneelstuk Graf vir ’n graaf (Coffin for a count) en dit word deur etlike amateur-dramaverenigings opgevoer, onder andere deur die Bellville Afrikaanse Toneelvereniging (BAT), Citrusdal Toneelvereniging en Die Kamer in Kaapstad. Dit word opgevolg deur Die lawwe lyk in 1983, wat ook deur BAT en die Antonio Saldanha Dramatic Society opgevoer word.
Dit is egter met Kinders van die Sabbatsee (1985) dat Esta ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika word. Dit het eers in Sarie as vervolgverhaal verskyn en word in 1984 bekroon met die eerste prys in Sarie/ATKV se vervolgverhaalwedstryd. Cor Nortjé skryf later die draaiboek, Elmo de Witt Films doen die verfilming en dit word in 1988 op TV1 in ses episodes uitgesaai.
Die verhaal speel af op ’n klein dorpie wat aan die lewe gehou word deur ’n visfabriek. Dit sentreer rondom Lyla wat saam met haar sterwende stiefpa op die Sabbatstrand woon. Jack Swiegelaar, die ryk eienaar van die visfabriek, wil ’n gedeelte van Sabbatstrand koop om sy fabriek uit te brei, maar Stefus Serdyn weier. Hy vra gedurig na Hawert, sy stiefseun uit ’n vorige huwelik in die dae voordat hy Lyla “ingeneem” het. Lyla stuur ’n boodskap Johannesburg toe om Hawert te laat weet dat sy pa siek is.
In die televisiereeks het Joanie Combrink die hoofrol van Lyla Serdyn vertolk en Ryno Hattingh was Hawert. Volgens Jaybee Roux (Die Burger, 8 Oktober 2007) is die karakters “kleurryk en word die Weskus-idioom knap hanteer, maar hoewel die boek lekker lees, is die storie dalk net te voorspelbaar”.
Jacomien van Niekerk is die resensent vir Tydskrif vir Letterkunde (Herfs 2008) en sy skryf as volg oor die 2007-heruitgawe van Kinders van die Sabbatsee: “Die leser raak kort voor lank meegesleur in die innerlike gevoel sowel as die uiterlike intrige van die verhaal. In die gestroopte omgewing van Nonniesbaai raak die karakters gaandeweg eerlik met mekaar. Die ander karakters op die dorp bespoedig hierdie proses en die konsep van eenvoudige goedheid blyk ’n deurlopende tema te wees. Wanneer die verhaalgebeure uitloop op ’n spannende reddingspoging op die Sabbatsee word dié gebeure eweneens ’n demonstrasie van basiese medemenslikheid in uiterste en minder uiterste omstandighede.
“Esta Steyn is onder andere die skryfster van die bekende Meeulanders (1996) en was in Kinders van die Sabbatsee ewe vernuftig met die uitbeelding van ’n besonderse soort lewe langs die see. Die wêreld van haar roman is een wat tot ’n groot mate nie meer bestaan nie – in ieder geval nie die opvallende onskuld (al is daar ook ongure elemente) en eenvoud daarvan nie. Dalk is dit juis om hierdie rede dat ’n mens jouself vir die duur van hierdie knapgeskrewe verhaal in dié begrenste wêreld kan verloor.”
Mysi Louw van Afrikaans Drama by die SAUK nader Esta in 1992 met die opdrag om ’n Weskus-reeks vir televisie te bedink. Sy moes binne drie weke ’n voorlegging maak. ’n Paar weke voor dit het lede van die Vriende van Jesus-beweging in Esta se gastehuise op Saldanha oorgebly en met hulle vertrek het een van die lede vir Esta gesê om die Bybelteks Jeremia 33:3 toe te eien en daaraan vas te hou. Dit lui: “Roep my aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy weet nie.” Esta vertel aan Kaapse Bibliotekaris (Maart 1996) dat die woorde ’n gevoel van opwinding in haar wakker gemaak het.
Sy het Mysi Louw gevra om haar kans te gee om daaroor te dink, want sy het nie eens geweet hoe skryf ’n mens ’n draaiboek vir ’n televisiereeks nie. Sy het besluit om haar tot bogenoemde Bybelvers te wend en algaande het dinge vir haar duideliker geword. Sy het Mysi laat weet dat sy die reeks sal doen.
Maar waar om te begin? Esta het besluit dat as sy dan die geleentheid kry om die Weskus te wys, moet dit agtergrond wees wat relatief onbekend is. “Dus: die soutbedryf, die mosselkwekery en die ghwano-eilande. Met drie idilliese ghwano-eilande, Jutten, Malgas en Marcus so digby Saldanha, het dié gedagte al sterker geraak,” vertel Esta aan die Kaapse Bibliotekaris (Maart 1996). “Parkeraad het ingewillig om my met ’n boot Malgas-eiland toe te neem. Toe ek my voete op die godverlate pragplek sit, was ek verstom. Daar was ’n ou hoofmanshuis, enkele buitegeboue, ’n groot ghwanoskuur en ’n paar sementtenks. En teen die wit barheid van ’n ghwano-deurtrapte stukkie aarde het sewentigduisend malgasse mekaar met groot geraas die hof gemaak, terwyl sierlike nekke inmekaar vleg. Terwyl ek staan en kyk na die aanloopbane wat hulle maak om met lomp lywe op te styg, was die woorde van Jeremia meteens oor my en oor die hele eiland: Here! Wat ’n plek!”
Esta vertel aan Lukas van Vuuren (Keur, 12 April 1996) dat toe sy op die Malgas-eiland aangeland het, sy oorweldig was deur die duisende seemeeue en malgasse. “Dadelik het die musiek in my ore begin opklink. My verhale en gedigte begin in my kop as musiek. Ek het myself leer klavier speel en ken ongelukkig net die D-sleutel ... Hoe ook al, wanneer ek ’n stuk gekomponeer het, neem ek dit op band op sodat ’n musiekonderwyseres dit vir my kan neerskryf. Met Meeulanders het dit ook so gegaan. Toe ek eers die reeks se musiek in my kop het, het die karakters en stories, al die prentjies, vorm aangeneem. Terwyl ek met gewone huistakies of inkopies besig was, het ek heeltyd na die musiek van die reeks geluister.”
Esta ontmoet toe vir Debora Carstens, wat voorheen vir drie jaar op Malgas gewoon het terwyl haar man hoofman daar was. Esta brei verder uit teenoor Kaapse Bibliotekaris: “Ek het dadelik aanklank met haar gevind en ’n lewenslange vriendskap met haar ontwikkel. Debora het haar dagboeke tot my beskikking gestel en daaruit kon ek baie leer, byvoorbeeld die daaglikse roetine van die lewe op die eiland, die werksaamhede, die algehele afhanklikheid van die patrollieboot wat weekliks eiland toe geloop het met voorrade voedsel en water, asook die gedurige gekom en gaan van navorsers.”
Esta vertel verder: “Die karakters het vorm in my kop begin aanneem. Ek het besef dat ek my storie-eiland geheel en al fiktief sou moes maak, sodat dit ’n geïsoleerde navorsingstasie is, waar die hoofkarakter self navorsing op die voëls doen. Ek het by die Navorsinginstituut vir Seevisserye in die Kaap gaan kers opsteek. Die mense was wonderlik behulpsaam. Leisha Upfold wat gereeld op Malgas kom, het al my vrae geduldig beantwoord. Op ’n Sondagaand het ek onverwags die naam, Meeuland, in my kop hoor klop. Ek hou van titels wat ’n nuwe woord in Afrikaans vorm, Meeulanders het my dus gepas. Maar behalwe die eilandmense was daar ook ’n klomp karakters aan wal. Dus Velddrif toe, na Sonskyn Visserye, waar die bokkoms in ritse in die son hang en Atlas Sea Farms waar mossels gekweek word. Weer terug eiland toe vir nog foto’s.”
Esta beskryf die skryf van ’n televisiereeks as ’n uitmergelende proses van skryf en oorskryf. “Halfpad in episode ses het die SAUK my laat weet dat hulle nuwe beleid vereis dat vyftig persent bruin mense in hoofrolle ingeskryf moet word. Ek was redelik moedeloos, maar die belofte uit Jeremia was te sterk en ek het omgedraai om weer van voor af te begin.
“Met hierdie omdraaislag het ek ’n geweldige ontdekking gemaak. Ek het ontdek dat ek in der waarheid besig was met die einde van Meeulanders, terwyl die hele storie eintlik in die voortyd van die verhaal lê. Toe ’n nuwe huishulp een môre voor my voordeur staan en haar as Doreen bekendstel, het ek haar lank aangestaar en toe kliphard gegil: ‘Doreen! Ek soek al ’n week lank hierdie naam. Waar was jy al die tyd!’ Die bruin Bindeman-gesin is op daardie oomblik op my voorstoep gebore en ek kan my vandag beswaarlik die verhaal sonder hulle voorstel. Hulle het net perfek ingepas, elkeen van hulle.”
Met al die oponthoude het die ware skryfwerk eers in Mei 1993 begin. Rosa Keet was Esta se draaiboekredakteur en sy het op Port Alfred gewoon. Vir Esta was Rosa die lig aan die einde van die tonnel en sy sal nooit Rosa se begrip en meelewing vergeet nie. “Sy het koelkop gebly wanneer ek rasend geword het. Sy het ’n manier om manuskripte baie sagkens met haar potlood by te kom. Wanneer daar so ’n dowwerige ‘nice’ aan die einde van ’n toneel aangebring is, het ek ’n dag lank loop en juig. Wanneer swaar gekraamde dialoog met een potloodstreep tot niet gemaak is, het ek ’n dag lank loop en tob. Maar my leuse was: ‘I thrive on rewriting’ en ek kan prontuit vandag sê dat ek regtig beter oorskryf as wat ek skryf.”
Esta is weer en weer Malgas-eiland toe. Elke keer was dieselfde Jeremia-ontroering in haar. Ook die akteurs het onder “betowering” van Malgas-eiland gekom en het dit ook aan Esta gesê, vertel sy: “Die feit dat hulle fisies die eiland beleef het, het ’n nuwe dimensie aan die vertolking van hulle rolle gegee. Gerrit Schoonhoven, die regisseur, se onomwonde mening was: ‘Hier leer mens om nederig te wees, want hier staan mens voor God se natuur.’”
Álles wat sy nog ooit geskryf het, het in Meeulanders bymekaargekom, verduidelik Esta aan Romi van der Merwe (Rooi Rose, 20 Maart 1996): “Ek het van die begin af geweet ek sou eendag ’n draaiboek skryf, want ek dink in prentjies. Daar was ’n ander draaiboek, Meulmense, met ’n bosboutema, wat op die nippertjie nooit gemaak is nie, maar dit was ’n waardevolle oefenlopie. Dit het my nie net tegniese vaardighede geleer nie, maar my ook gehelp om Daniël se dood te verwerk.”
Esta wou ook ’n Weskus-storie met ’n verskil skryf, sê sy aan Richard van Rensburg. (Keur, 2 Februarie 1996) “Ek hoop om vir kykers ’n Weskus te bring wat aan hulle onbekend is. Ek wou wys dié wêreld het veel meer as bloot vis en bote. Wat van die mense wat sy ghwano-eiland en mosselplase bedryf (…) interessante mense? Dit was lekker materiaal vir Meeulanders.”
Michele Burgers het die rol van Ryna vertolk in die televisiereeks van dertien episodes wat in Februarie 1996 op SAUK2 gebeeldsend is.
In 1995 het Esta die draaiboek van Meeulanders verwerk tot ’n roman. Sy het geglo dat sy nog nie klaar met die karakters was nie en dit is dus nie ’n opvolg op die reeks nie, maar eerder ’n verwerking. Meeulanders is in 1996 by Queillerie gepubliseer.
Meeulanders vertel die verhaal van Ryna van Rensburg, wat as navorser na ’n ghwano-eiland aan die Weskus gaan, waar sy wil ontsnap aan ’n grillige verlede. Maar hier raak sy egter betrokke by Jacob, die norse voorman van die eiland, en sy innemender broer, by ’n buite-egtelike baba en die geheim van haar herkoms, by die kleurvolle mense van die vasteland wat almal een of ander inspraak in haar gesondwordproses het.
Gretel Wybenga (Beeld, 7 September 1996) skryf dat alles in die storie daar is – moord, bedrog, buite-egtelike en onbeantwoorde liefde – en dat jy die boek nie kan neersit nie. Sy meen ook dat aspirantskrywers by Esta Steyn kan leer skryf oor wat jy ken. “Die Weskus word lewend in dié roman.” Meeulanders word in 2008 in ’n skooluitgawe gepubliseer nadat dit vir skole voorgeskryf is.
In Insig van Julie 1996 het Emile Joubert egter sekere voorbehoude gehad oor Meeulanders (die boek): “Diegene wat met die kykslag gedink het Meeulanders lyk soos ses maande se vroue-tydskrifvervolgverhale, sou nie teleurgestel wees met hul vermoë om te voorspel nie. Dis ligte leesstof, met ’n verhaal wat veral vir die eerste 120 bladsye uit die boek uit wip.
“Waar dit egter op teleurstellende wyse platval, is die gebrek aan karakterisering en die plasing van die verhaal binne-in ’n geloofwaardige kleindorpse gemeenskap. Daar’s geen ware mense, of kleure of geure tussen die lyne nie. (…)
“Behalwe vir die deurgaanse gebruik van slengwoorde, is daar geen daadwerklike karakterisering van die plaaslike mense nie, en dít is Meeulanders se grootste gebrek. Omdat die verhaal aan die einde se kant onlogies en baie onwaarskynlik raak, het dit warm, sterk en tasbare mense nodig om hom te ondersteun. Daarsonder ly die boek skipbreuk, en strand op ’n plek waar niemand wil wees nie.”
Nadat Esta Meeulanders die eerste keer as kyker gesien het, was sy oorweldig en dankbaar, vertel sy aan André van der Merwe. (Keur, 5 Julie 1996) “Want wanneer ’n kamera die asem van lewe oor dooie manuskripblaaie blaas en daar kom meteens uit die geskrewe woord ’n totale nuwe dimensie van klank en kleur en lewende beelde, dan word dit vir die skrywer ’n verstommende wonderwerk.”
In 1996 word Esta weer deur die SAUK gekontrakteer om ’n televisiereeks te skryf en begin sy met Soutmansland, wat ook aan die Weskus afspeel. Sy vertel aan Danila Liebenberg (Volksblad, 3 November 2008) hoe sy dink wanneer sy skryf – in beeld en kleur: “Met die skryf van ’n draaiboek probeer ’n mens om filmies te dink en ’n beeld te probeer vorm van hoe die tonele uiteindelik vir die kyker sal lyk. Met die skryf van Soutmansland en Meeulanders is die navorsing aan die Weskus gedoen en was dit dus makliker om reeds voor die rekenaar duidelik te ‘sien’ hoe die gegewe beelde lyk.”
Esta was by episode drie van Soutmansland toe Hein vermis geraak het. Sy beskou die draaiboek as ’n stuk genade, want sy was onder kontrak en sy moes eenvoudig voortgaan, sê sy aan Suzette Truter. “Dit was ’n soort terapie. Ek het in sy kamer gaan sit en skryf. Ironies genoeg, met my eerste seun, Daniël, se dood was ek ook by episode drie van ’n draaiboek waarvoor ek betaal is, maar wat nooit vervaardig is nie. Die Here het my elke keer gedwing om klaar te maak. Die geheim van pyn is: kry jou kop op ’n ander plek. Moenie dink daaraan nie. Daar moet tyd verloop, natuurlik, jy kan nie dadelik reg voel nie, maar bly besig.”
Soutmansland was bestem om in 1999 gebeeldsend te word, maar in 1998 het die SABC se topbestuur dit afgekeur saam met twee ander reekse. Dit is egter in 2000 in tien episodes uitgesaai met Gerrit Schoonhoven as regisseur.
Soutmansland handel oor ’n bruin gemeenskap, Vlaktevlei, wat ontruim moet word omdat ’n nuwe vakansieoord daar gebou moet word. Die storie begin waar Leendra van Hellberg (gespeel deur Deirdre Wolhuter) na sewe jaar uit die tronk gelaat word nadat sy aangekla is van moord op haar minnaar. Sy keer terug na haar familie in Soutmanspan, ’n dorpie aan die Weskus, waar haar ouers ’n steengroef besit het en in ’n ontploffing dood is. Leendra glo egter dat die ontploffing nie ’n ongeluk was nie en sy wil uitvind wie haar ouers vermoor het. Ander spelers is André Odendaal, Kevin Smith, Vinette Ebrahim, Ivan Lucas, Joanie Combrink, Dawid Minnaar, Susanne Beyers, Marius Weyers, Trix Pienaar en nog vele ander.
In 2000 publiseer Lux Verbi Die grafte jubel: kroniek van pyn en genesing ná die dood van ’n kind. Dit is ’n aangrypende verhaal van ’n ma se verlies, van selfverwyt soos oor haar oudste se gunsteling-sjokoladekoek wat sy te min vir hom gebak het, maar ook van berusting en dankbaarheid vir haar laaste oorlewende kind. Reeds met die dood van haar eerste seun het die vraag by die skrywer opgekom: Hoekom, Here, was dit nie een van ons nie? Hoekom hy? Min wetende dat haar tweede oudste seun later sou verdrink. Die boek spreek nie net tot mense wat al geliefdes aan die dood afgestaan het nie, maar tot almal wat by sulke geleenthede vergeefs na die regte woorde soek, sê Elretha Louw. (Huisgenoot, 24 Februarie 2005)
In 2014 is die vertalingsregte van Die grafte jubel aan die Nederlandse uitgewer, Vuurbaak Uitgevers, verkoop en was dit onder die 10 topverkopers van Christelike niefiksie. Adee van der Lugt het die Nederlandse vertaling gedoen. Dit was vir Esta ’n groot stuk genade dat haar boek ook in ander plekke in die wêreld troos aan hartseer ouers kan bring.
Esta vertel aan Danila Liebenberg dat dit glad nie maklik was om die boek te skryf nie en dat sy nooit gedink het sy sou so iets aanpak nie. “Tog, ná die verloop van ’n paar jaar, was daar ’n dringende behoefte in my om die gebeure met ander te deel. In die hoop dat dit miskien vir iemand wat ook soortgelyke verliese gely het, iets sou kon beteken. Ek glo die liewe Vader het my met die skryf van elke woord gehelp, want ek het die manuskrip binne tien dae voltooi en daarna het ek dit nooit weer gelees nie. Dit was ongetwyfeld terapeuties en het op vele maniere gehelp om vrede in my hart te vind.”
Hetta van Niekerk is die resensent van Die grafte jubel in Kerkbode van 3 Augustus 2012: “Esta Steyn sou met die deel van haar ervarings ander ouers bystaan in die aanpassing ná die dood van ’n kind. Die chronologiese verloop van bepaalde gebeure en die moeder se gesprekke met God daaroor, vorm die storielyn. Die kalendertyd word egter uitgedaag met die gedig ‘Die kerkhoftraan’ reeds in hoofstuk 10 – die seun met die ‘ondeunde oë en die wit glimlag’ lewe in werklikheid nog. Hieruit kom die titel van die boek, Die grafte jubel, want Jesus hét opgestaan.
“Ryk simboliek en treffende beelde wat netjies tematies ingevleg is, asook ses (religieuse) gedigte, aanhalings, humor en karakterisering, maak die lees ’n diep emosionele en geestelike ervaring. (…)
“Elke gelowige behoort stof tot nadenke te kry met die lees van Die grafte jubel. Elkeen word immers een of ander tyd met die dood gekonfronteer. Hierdie boek word egter spesifiek aanbeveel as ’n hulpmiddel wanneer ’n gelowige ouer die verlies van ’n kind moet verwerk.”
Oor die boodskap wat Die grafte jubel moet oordra, het Esta as volg aan Suzette Truter gesê: “Ek het maar net al my baie vrae geneem en die gebeure weer deurgegaan om antwoorde te vind. Ek het dit binne ’n week gedoen. Dit was vir my so pynlik, ek moes eenvoudig net daardeur. Ek het nie probeer teksverse opsoek nie; ek het neergeskryf wat in my hart was. Miskien het die boek tog ’n doel omdat ek die gevoel gehad het die Here het my hand gevat.
“Ek het Hom nooit verwyt nie, ek was nooit kwaad of depressief nie, ek het net probeer oorleef deur die genade van God. Mense moenie dink ek het dit swaarder omdat ek twee seuns verloor het nie. Ons het almal ons pyn. Hoe groter die pyn, hoe groter word Sy genade.”
In 2007 word die televisiereeks Geraldina die tweede op kykNET gebeeldsend. Esta is weer die skrywer en Sandra Prinsloo die regisseur van hierdie komedie-drama. Die verhaal speel grotendeels af in ’n ouetehuis, Huis Stille Waters, maar dit is nie jou gewone ouetehuis nie – die oues gedra hulle hier soos tieners. Die verhaal begin met een van die inwoners, Katy Tredoux (Margot Luyt), wie se stiefsuster Dina de Jongh, ook bekend as Geraldina, onverwags oorlede is. Sy sit af Johannesburg toe na die verassing in die hoop dat sy iets sal erf. Maar ongelukkig nie – net ’n tas ontwerpersklere – wat sy vir een van haar mede-inwoners, Greta (Antoinette Kellerman), gee. Sy besluit om Geraldina se eksman, Claudius van Straaten (Nic de Jager), te laat weet van die nuus van haar afsterwe. Toe sy egter vir Greta in Geraldina se klere sien en hoe baie Greta na Geraldina lyk, beplan sy iets anders. Die reeks het ’n veel ligter aanslag gehad as baie ander dramas wat gedurende daardie tyd op televisie uitgesaai is.
Esta het al skoolliedere vir sewe skole geskryf – nie net die lirieke nie, maar ook die musiek. Sy vertel in 2014 aan Elmari Rautenbach as volg oor hierdie deel van haar skryfwerk: “As ’n mens die ‘skrywer op die dorp’ is, dan skryf jy van skoolliedere tot Kersspele en konserte vir die kerk – selfs begrafnisgedigte.
“Skole waar my lied vandag nog gesing word, is Strandlopertjie Pre-primêr op Saldanha en die Topolino-privaatskool op Langebaan. Ek het steeds die programme van toneelstukke wat hier op die dorp opgevoer is.”
Benewens die twee toneelstukke hier bo genoem, het sy ook vyf ander toneelstukke geskryf.
Esta is ’n gereelde gesig by die aanbied van skryfskole en feeste, en tydens die Woordfees in 2008 was sy en E Kotzé in gesprek met Amanda Botha oor die Weskus.
In 2011 word Droomdelwers, Esta Steyn se eerste boek sedert die publikasie van Die grafte jubel, deur Tafelberg uitgegee. Dit is ’n verwerking van die gewilde televisiereeks Soutmansland wat in 2000 deur die SAUK uitgesaai is. Droomdelwers is ook in 2020 voorgelees op RSG. Die leser was Elize Cawood. (Vir ’n kort opsomming van die verhaal sien die bespreking van Soutmansland vroeër in die Skrywersalbum oor die televisiereeks.)
Moira Richards skryf in Rapport van 30 Julie 2011 as volg: “Droomdelwers word ’n pakkende spanningsverhaal soos Leendra stuk vir stuk ou geheime uitsnuffel. Dit word ’n warboel liefdesverhale wanneer die meeste van die karakters uitvind hoe skeef die pad van ware liefde kan loop, veral as die paaie met ander s’n kruis.
“Maar dis ook ’n storie van geloof en versoeking; van val, vergifnis en verlossing. ’n Lekker ‘goed voel-roman’ om op ’n wintersdag mee op te krul.”
En op LitNet (24 Oktober 2011) eindig Malene Breytenbach haar resensie só: “Dit is ’n kontreiverhaal wat maklik lees, al weet die leser die goeie karakters gaan triomfeer en die skurke sal boet vir hulle dade, hou die spanningslyn jou aan die raai en wonder, tot aan die einde.”
Amanda de Lange vertel in Rapport Boeke (1 Julie 2012) meer oor Esta Steyn se volgende boek wat in 2012 onder die titel die skrywer by Tafelberg verskyn het. In 2013 was die skrywer op die kortlys vir ’n ATKV-Woordveertjie in die liefdesroman-kategorie.
In die skrywer word die storie vertel van Anabella Bennett. Sy is ’n joernalis by ’n dagblad in Johannesburg en sy besluit om in haar verloftyd as ’n huishoudster by Arthur Addington te gaan werk. Addington is ’n baie bekende draaiboekskrywer van Amerika wat al bekroon is met ’n Oscar.
De Lange vertel verder: “Anabella, wat by haar aankoms op sy plaas ‘Ben’ gedoop word, het as 16-jarige meisie halsoorkop verlief geraak op Arthur toe hy saam met ’n rolprentspan een van sy flieks in ‘donker Afrika’ kom skiet het.
“Ben, wat toe as ‘Ana’ bekend was, se pa was die hoof van ’n sendingstasie in die omgewing. Sy het Arthur vlugtig ontmoet en sterre in haar oë gehad. Nou, 11 jaar later en sy ’n rype 27 jaar, is Ana/Ben steeds hopeloos verlief op die man.”
Vir De Lange is hierdie punt een van die dinge in die boek waaroor sy skepties is, aangesien dit moeilik is om te dink dat so ’n tienerverliefdheid kon groei tot die huidige innige liefde: “Dit laat die hoofkarakter net te naïef voorkom. Dit het veroorsaak dat die ontvouing van die verhaal en die sinspeling op ’n romanse tussen Ben en Arthur ook nogal naïef is.
“As joernalis oortuig Ben ook nie werklik nie. Vir die doel van die verhaal kon sy netsowel enige ander beroep beoefen het, maar ’n mens kry die gevoel die joernalistiek is gekies om gewig te verleen aan die ‘geheim’ waarmee Ben op die plaas aankom. Arthur haat die media en dit sou katastrofies wees as hy moes uitvind die vrou onder sy dak is ’n joernalis.”
Maar, skryf De Lange verder, ten spyte van bogenoemde voorbehoude is dit ’n lekkerleesboek, “ondanks Steyn se wisseling tussen Afrikaanse en Engelse dialoog en die naïewe storielyn. ’n Interessante, onverwagse kinkel aan die einde wys wel dat Steyn as skrywer weet wat sy doen. die skrywer is springmielies op ’n koue wintersdag wanneer jy opgekrul onder ’n kombers voor die kaggel sit en jou brein ligweg wil besig hou.”
Op LitNet (2 September 2012) is Danila Liebenberg die resensent: “Skrywerskap is die spilpunt waarom hierdie boek wentel. Dit vorm wye rimpels om die storie waar Anabella en Arthur se lewens paaie kruis en vervleg raak. Verwysings na skrywerskap kom met tussenposes voor. Dit word egter só aangebied dat die leser nie hierdie tema uit die oog verloor nie. (…)
“Die titel se bepaalde lidwoord en gebrek aan hoofletters roep die assosiasie van ’n versamelterm op wat skrywers en skrywerskap impliseer. As dit op die individuele storiekarakters ingespeel het, sou Esta Steyn heel waarskynlik ’n onbepaalde lidwoord gebruik het. Daarom die aanspraak op die interpretasie van die titel as ’n versamelterm.
“Op lekkerleesvlak sal die romantiese leser in die skrywer ’n besliste heenkome vind. Want Anabella Bennett, met die noemnaam Ben, ontmoet reeds vir Arthur Addington, bekende Amerikaanse skrywer met ’n aangetroude liefde vir Afrika, in haar jeugjare op Bulungwi in die hart van hierdie vasteland. Op daardie stadium was sy onder die voogdyskap van ’n sendeling en hy op ’n rolprentskiet-ekspedisie. Die woorde wat hy aan haar gegee het in daardie tyd het in haar tienerhart agtergebly: ‘Your berries are very sweet, my princess’ (94) en ‘You look stunning, my princess’ (32). (…)
“Onder die vaandel van ’n welkome misverstand en die noodlot van die natuur kry sy die geleentheid om as sjef vir Addington te begin werk. Die geleentheid is ’n verdigsel wat geleef moet word terwyl sy geen kennis van fynproewergeregte opdis het nie. Trouens, pool speel en ’n bier op sy goeie tyd is veel meer haar forté. Eers was die ooreenkoms net dat sy vir een naweek as sjef sou instaan. Toe word die periode langer … en natuurlik die opbouende spanning van twee skrywers wat erken en ontken, sien en stilbly, onthou en verskeie verliese het om op hul eie te verwerk.
“Die roman verkeer in metagesprek oor skrywerskap, wat vernuwend is in die genre. Heelwat kan ook ontgin word in verdere navorsing oor die allitererende a se aanwesigheid in die boek, asook die verwerking van lewensverlies en moontlike lewensverlies.”
Danie Botha het ’n in diepte bespreking van die skrywer gedoen by die De Tyger-leeskring in Parow-Noord op 15 Oktober 2013. Hy was ook die redigeerder van die skrywer – ’n taak wat hy geniet het omdat hy van die storie gehou het.
Botha deel sy bespreking op in afdelings: “Die titel”, “Gedeeltes oor die skryfkuns”, “Ander temas”, “Tegniese sake” en “Goeie stelwyses en waarneming”.
Botha skryf verder: “Esta Steyn pas ’n goeie tegniek toe. As Anabella haar lewensverhaal alles aaneen en in die verledetydsvorm sou opgeteken het, sou dit dalk nie so spanningsvol en helder dramaties gewees het nie. Dit word egter nou aangebied as kort grepe vol handeling, wat dan soms oorgaan in ’n terugflits wat nie meer in haar eie woorde is nie. Die onderbroke en verspreide gedeeltes is een van Esta se geslaagde maniere om spanning te skep. Jy wonder wat verder gebeur het en dan kom daar eers ander gebeure tussenin.
“Esta skep verder spanning deur ook die verloop van Anabella se siekte verspreid oor die intrige heen aan te bied. Eers net die sprake van ’n ongedefinieerde ondier; dan die gevalle van haar naarhede in die hede. Eers op bl 128 raak dit sterk duidelik watter siekte sy het (dié en volgende kursiverings soos in die teks): ‘Sê nou dis die ondier wat besig is om uit sy skuilplek op te staan? Die vampier wat my bloedselle opvreet en op my teer?’ Dan volg die ondersoeke, die chemobehandeling, voorbeelde van hoe sy vir laas die lewe wil geniet, en daarna die reëling van haar sake, die afskeid neem en dan haar dood ná die lieflike visioen.”
Met die publikasie van Biegbrief en ander verhale in 2014 begeef Esta haar op die terrein van kortverhaalskryf – dít waarmee sy in die 1970’s haar debuut as skrywer gemaak het. In Die Burger (30 Junie 2014) vra Elmari Rautenbach vir Esta uit oor hierdie nuwe/ou wending in haar skryfwerk.
Rautenbach wil weet waar het die skielike lus vir kortverhale sy oorsprong gehad: “Biegbrief en ander verhale het by my tydskrifstories begin toe ek gedink het dit sou lekker wees om ’n bundel saam te stel rondom vroue, en met van my vroegste kortverhale daarin.
“Ek het ou Saries uit kaste gaan uitgrawe, maar met die lees daarvan wou ek summier alles edit! Ek het egter gou besef ek kan dit nie doen aan daardie jong meisie wat dit geskryf het nie. Want dit was sy wat my gehelp het om te kom waar ek is. Sy was die begin van my reis. Ek het met ’n soort respek die ou tydskrifte weer gaan bêre en besluit om liewer nuwe verhale te skep.”
“Esta Steyn se reputasie as skrywer lê so wyd soos die Heer se genade,” begin JB Roux sy resensie van Biegbrief in Rapport (3 Augustus 2014). “Nie net is sy al lank doenig in die skryfwêreld nie, sy is ook produktief en veelsydig. (…)
“Steyn het ook heelwat tydskrifverhale vir onder meer Sarie geskryf. Baie van die verhale in Biegbrief is juis ‘herwin’ uit tydskrifte soos Huisgenoot, Lig en bloemlesings soos Vrou:Mens. Dit gee ’n goeie aanduiding van wat om van dié bundel te verwag en inderdaad: hierdie stories herinner sterk aan die soort verhale wat tot so 20 jaar gelede in gewilde tydskrifte verskyn het. (…) Die temas is universeel, maar die skrywer bied nie nuwe insigte nie en het duidelik geen grootse letterkundige ambisies nie.
“Dié soort verhale gaan nie puntenerige lesers beïndruk nie, maar lesers wat meer as ’n smeerseltjie appelkooskonfyt op hulle boekebroodjies wil hê, is nie noodwendig die teikenmark nie.
“Clichés is nie altyd van die bose nie en alles wat hierbo oor Biegbrief gesê word, is nie ’n waarskuwing aan lesers om die boek teen alle koste te vermy nie. (…) Die verhale is oortuigend, lees vlot en is struktureel geslaag: dis kórtverhale hierdie, nie romans-in-die-kleine nie. Die karakters wek deernis: die titelverhaal is byvoorbeeld baie roerend; die dialoog is eenvoudig, maar treffend. (…)
“Veeleisende lesers kan nie verkwalik word as hulle Biegbrief en ander verhale as onoorspronklik en gemoedelik afmaak nie, maar trek dié bundel gerus nader as jy sommer net wil lees omdat lees lees is.”
Op LitNet is Deborah Steinmair die resensent en sy som haar opinie oor Biegbrief en ander verhale só op: “Biegbrief en ander verhale is stories sonder fieterjasies, fensie truuks en foefies. Jans Rautenbach het per geleentheid gesê flieks is deesdae propvol spesiale effekte; daar is geluide en ontploffings en goeters wat vlieg, maar wat hy wil weet is: Waar is die storie? Hier is ’n dosyn stories om jou kop besig te hou en jou in jou etensuur op ’n towertapyt weg te voer na die towerwêreld wat agter die alledaagse skuil hou. Want op die ou einde is niemand gewoon nie.”
Oor die eienskap van ’n goeie kortverhaal het Edgar Allan Poe gesê: “’n Kortverhaal moet ’n enkele stemming hê en elke sin in die verhaal moet help om daardie stemming op te bou.” Só begin Ilza Roggeband haar resensie van die skrywer in Volksblad (23 Junie 2014). Sy gaan dan voort: “Dit sit nie in elke skrywer se broek om ’n goeie kortverhaal te skryf nie. ’n Kortverhaal is meer as net ’n begin, ’n middel en ’n einde. ’n Kortverhaal moet jou van die begin intrek en wanneer jy klaar gelees is, moet dit voel of jy ’n hele roman gelees het.
“Met hierdie bundel van 12 verhale, vyf daarvan is al voorheen gepubliseer, wys Steyn dat sy weet hoe om die leser in te trek en daar te hou. Sy weet hoe om ’n storie te vertel en geloofwaardige karakters te skep.
“Die temas van die verhale wissel. (…) Daar is ook heelwat humor in die verhale, maar daar is ook baie deernis en selfs hartseer. Op die agterblad staan daar dat hierdie stories oor vroue en hul planne is. Dit is dan ook veral ’n bundel vir vroue, een wat jy sal lees en dan vir jou ma, ouma, of vriendin sal gee om te lees.
“Biegbrief en ander verhale is ’n boek vir daardie winternaweek wanneer jy onder ’n kombers wil lê, iets soek om te lees met ’n bietjie lyf, maar nie noodwendig ’n lywige roman nie.”
Esta ervaar haarself nie as gedissiplineerd wanneer sy skryf nie. “Wanneer ek met ’n projek besig is, skryf ek maar wanneer daar ’n kansie is. Wat eintlik meer belangrik is in sulke tye, is juis die tyd wat jy weg is van die rekenaar af. Dis dan wanneer jy die storie en karakters bedink en jou kop is eintlik met niks anders besig nie; of jy nou besig is om kos te maak, of skottelgoed te was of kruideniersware te koop – jy spook maar net die hele tyd met die storie. Saans laat, wanneer die huis stil geword het, is eintlik my beste skryftyd. Gewoonlik luister ek na musiek terwyl ek skryf, want elke bepaalde storie het sy eie ritme. En ek sal so ’n CD tot vervelens toe oor en oor speel, want dit word deel van die proses,” vertel sy aan Danila Liebenberg.
Esta Steyn het haar later ook onderskei as die skrywer van radiodramas. In 2017 word haar eerste radiodrama, Die herbergier, op RSG uitgesaai. Dit is 22 jaar ná die geboorte van Jesus en die herbergier wat vir Josef en Maria herberg gegee het, word gekonfronteer met Jesus se kruisiging.
In 2018 verower haar radiodrama Ontruim die derde plek in die RSG Sanlam-radiodrama-skryfkompetisie. Dit is ’n komiese liefdesdrama oor twee getroudes wat ná 37 jaar hul huis moet oppak. Die beoordelaars was vol lof vir die “knap manier waarop dit die humor en oppe en affe van ’n verhouding uitbeeld, asook vir die roerende slottoneel”. (Volksblad, 4 Desember 2018)
Publikasies:
|
Publikasie |
Plek van die boskolos |
|
Publikasiedatum |
1979 |
|
ISBN |
079810936X (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Waar wenners woon |
|
Publikasiedatum |
1980 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Kus vir die kluisenaars |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Somer van die silwer-skuim |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0798111682 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Projek Maanblom |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624020088 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Kinders van die Sabbatsee |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Sarie/ATKV-vervolgverhaalwedstryd 1984 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vlindervlug |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0624025446 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Brakjan en mev Bam |
|
Publikasiedatum |
1994 |
|
ISBN |
186839221X (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief/Kennis Onbeperk |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels vertaal deur Madeleine van Biljon 1994 |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Meeulanders |
|
Publikasiedatum |
1996 |
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die grafte jubel: kroniek van pyn en genesing ná die dood van ’n kind |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
086997848 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Outobiografies |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Nederlands; vertaal deur Adee van der Lugt |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Droomdelwers |
|
Publikasiedatum |
2011 |
|
ISBN |
9780624051459 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die kolonel: ses speurkat-stories |
|
Publikasiedatum |
2012 (ook beskikbaar as ’n e-boek) |
|
ISBN |
97780798159241 |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Kinderverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
die skrywer |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780624054412 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Biegbrief en ander verhale |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9780624068457 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Esta Steyn
- Botha, Danie: Sy het Meeulanders help skep: Herinneringe aan Debora Carstens. LitNet, 25 April 2014
- De Lange, Amanda: Oues haak uit in nuwe reeks op TV [oor Geraldina die Tweede – televisiereeks]. Volksblad, 7 Julie 2007
- Esta Steyn
- Esta Steyn
- Liebenberg, Danila: Esta Steyn kén woorde en note. Volksblad, 3 November 2008
- Malan, Mariana: Nic de Jager immer bedrywig [oor Geraldina die Tweede – televisiereeks]. Die Burger, 10 Julie 2007
- Malan, Mariana: Nic de Jager “ly” die keer in weelde [oor Geraldina die Tweede – televisiereeks]. Volksblad, 20 Julie 2007
- Moord sonder moordenaar. Sarie, 30 April 1980
- Ontevrede hekse toi-toi in Reënboogland. Die Burger, 13 November 2000
- Rautenbach, Elmari: Skryfproses ’n “heerlike ervaring”. Die Burger, 30 Junie 2014
- Roos, Martjie: Esta Steyn het hárd gewerk. Beeld, 22 Junie 1995
- Roos, Martjie: Nuwe dramareeks uit Esta Steyn se pen. Beeld, 6 April 2000
- Roos, Martjie: “Soutmansland” se mense kruip in kykers se hart. Beeld, 12 April 2000
- Truter, Suzette: Sout en graniet. Sarie, 31 Mei 2000
- Van der Merwe, André: Dié gewilde skrywer wil Venus afstof. Keur, 5 Julie 1996
- Van der Merwe, Romi: Prentjies word ’n eilandstorie. Rooi Rose, 20 Maart 1996
- Van Taak wen groot met radiodrama. Volksblad, 4 Desember 2018
- Van Vuuren, Lukas: Meeulanders – gebore uit geloof en musiek. Keur, 12 April 1996
- Vermaak, Kittie: Skryfster uit plek met vele gesigte. Rapport, 8 Maart 1981
Esta Steyn se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-10-29 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: LitNet-argief