Op 10 April sterf Debora Carstens op ’n hoë ouderdom in die Paarl. Sy sal onthou word as ’n geliefde moeder, ouma en oumagrootjie, en as iemand wat wydbelese was en oor baie onderwerpe kon gesels.
Sy sal óók onthou word vir ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en televisie.
Met haar dagboeke en herinnerings het sy romansier, televisiedraaiboekskrywer en dramaturg Esta Steyn van Saldanha help skep aan die gewilde televisiereeks Meeulanders. Dit is in 1996 gebeeldsend. Kort ná die reeks ten einde geloop het, verskyn dit ook as roman en in 2008 word dit ’n voorgeskrewe werk vir skole.
Toe Esta navorsing begin doen vir die televisiedraaiboek, besoek sy Debora in Silvermanstraat, Saldanha; dit is net ’n paar straatblokke van die Steyn-woning af.
Esta vertel: “Tannie Debora het voorheen drie jaar lank op die eiland Malgas gewoon terwyl haar man, Org, hoofman daar was. Ek het dadelik aanklank by haar gevind en ’n lewenslange vriendskap met haar ontwikkel. Sy was so liefdevol en gewillig om te help en het met groot vertroue al haar eiland-dagboeke tot my beskikking gestel en daaruit kon ek baie leer. Byvoorbeeld die daaglikse roetine van die lewe op die eiland, die werksaamhede, die algehele afhanklikheid van die patrollieboot wat weekliks eiland toe geloop het met voorrade voedsel en water, asook die gedurige kom en gaan van navorsers.”
Esta glo “elke storie moet in ’n mens ontwaak in ’n oomblik van verootmoediging. Tannie Debora se laaste dagboekinskrywing het dit aan my gedoen. In die besonder die uitroep: ‘O, bitter dag, wat word van my.’”
Dit is die slotwoorde van Debora se inskrywing vir Saterdag 2 Junie 1983. Haar man, Org, wou sy skoonseun, twee kleinseuns en ’n vriend van sy dogter land toe neem in ’n bootjie, eintlik ’n kreefbakkie. Debora teken aan dat een van die kinders, Deon, so bang was. Hy “het aanhou huil. Pa het gesê hou julle reg vir Elmarie-hulle, ek kom nou weer. Hy het nie weer gekom nie. Okkie sê die ander is veilig, maar ons Pa is weg. Hulle het hom darem gekry.” Dan volg die uitroep.

Okkie, haar seun, vertel dat Org vooraf gesorg het dat die kleuters, Jannie en Deon, reddingsbaadjies aantrek. Hulle ma, Elmarie Smit, onthou dat hulle met toutjies aan mekaar vas was. Dit het moontlik gehelp dat hulle by mekaar gebly het en saam met twee volwassenes kon uitswem en die land lewend bereik het.
Org het egter aan ’n hartaanval gesterf. Hy’s gevind met ’n roeispaan wat hy vashou. Ook sy handlanger het omgekom.
Toe die beeldsending van Meeulanders begin het, het Debora baie teruggedink aan die jare van afsondering op die eiland. Dit was vir haar baie gelukkige jare, want sy het van die stilte gehou. Sy het gebrei en gehekel, lappoppe gemaak en baie gelees. En sy het nog haar eggenoot by haar gehad, nou in hulle eintlike aftreejare. Hulle was die enigste bewoners van die eiland; die besoekende navorsers het hulle maar eenkant gehou.
Aanvanklik was Org ongedurig. Hy was gewoond daaraan om met vrugte te boer, onder meer in die Brandwacht-vallei ten noorde van Worcester in die 1950’s. Nou was daar nie veel om hom mee besig te hou naas instandhoudingswerk van die geboue en kreefdiewe verdryf nie. Volgens Debora het hy wel rustiger geword toe hy begin visvang het. Sy vertel: “Het ons darem gesmul aan die vis en die kreef!” Okkie onthou ook sy ouers se geluk en vrede; in ’n stadium sou hulle dorpenaars geword het, maar toe breek die eilandbestaan gelukkig vir hulle aan.
Ná die deurwerk van die dagboeke en ander navorsing by die indertydse Seevissery, gaan Esta self verskeie kere na die eiland Malgas, slegs ’n paar seemyle van Saldanha – ’n “wit barheid van ’n ghwano-deurtrapte stukkie aarde” met “sewentigduisend malgasse” daarop.
Die eindproduk was 13 televisie-episodes oor navorser Ryna van Rensburg (gespeel deur Michele Burgers) wat op ’n soortgelyke eiland aan haar verlede probeer ontsnap. ’n Verhaal van moord, bedrog, buite-egtelike en onbeantwoorde liefde.
In die latere jare, toe Debora in ’n ouetehuis in die Paarl gewoon het, kon Esta haar nog te sien kry wanneer sy by Okkie en sy gesin op Saldanha kom kuier het.
Esta Steyn bevestig: “Tannie Debora was ’n lieflike, meelewende mens.”
2
Ek glo dat dit in die Meeulander-tyd was dat ek as redakteur van ander Steyn-romans verneem het van die verbintenis tussen Esta en Debora. Ek het by Esta seker gemaak. Ja, in my kleintyd in die 1950’s was die Carstense op ’n buurplaas in die Brandwacht-vallei noord van Worcester. Esta se man, Le Roux Steyn, was ook ’n jeugdige in dié vallei, so ’n bietjie verder van die berg af langs die Hartebeesrivier, wys Okkie dadelik uit. Okkie se helde was wel my neef Thomas en Le Roux – dié was so ’n kranige ingenieur.
My eerste ontmoeting met oom Org sien ek nog duidelik. Ek is so agt jaar en teen vieruur in middag besig met verbeeldingspeletjies op die grasperk langs die soldertrap. Meteens staan ’n vosperd voor my. En uit die saal rys ’n oom op – ’n toonbeeld van krag teen die blou lug. Hy vra my na Pa. Menige skemeraande daarna het ek tande getel as Pa en oom Org mekaar grootmensstories vertel, hulle albei moeg na ’n dag se werk in die boord, wingerd of op die graanland.
En tannie Debora? Was dit haar Bybelnaam wat my met eerbied vir haar gevul het? Ek het haar sagmoedig gevind, so sorgsaam vir haar kinders.
In my kindertyd was ek een winternag in die hospitaal op Worcester se binneplaas kort voor oom Org en tannie Debora hulle klein Ora aan die dood afgestaan het. Jare later het ek my jeugherinnering as gedig gepubliseer gekry. Ek was bly dat Esta dit destyds aan tannie Debora besorg het.
Hemelvaart
Die bruinswart skilpaaie kruip nors
deur die hospitaal se sopnat binneplaas.
Daar binne in die kindersaal
lê Ora van oom Org en tant Debora
met die witste slaapklere aan.
Alles is lig en wit om haar.
En al die mense sit en staan
of hulle haar op wil lig en weg wil dra.Ek bly by die bruines.
Ek buk by een.
Hy trek sy kop vinnig in
en hóú dit so.
Hy roer nie, hy bly die ene dop.

Bronne
Erika Terblanche: “Esta Steyn 1946–”, ATKV-skrywersalbum. LitNet, 29 Oktober 2009. skakel?
Mededelings van Esta Steyn, Okkie Carstens en Elmarie Smit.
Foto’s: Elmarie Smit en Esta Steyn.
Augusta van Greunen: “Meeulanders laat vrou terugverlang”. Rapport, 18 Februarie 1996.
“Hemelvaart” in New Nation, Februarie/Maart 1980.

