Titel: die skrywer
Skrywer: Esta Steyn
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624054412
Klik hier om Die skrywer te koop by Kalahari.com.
Onwillekeurig assosieer die leser die titel van Esta Steyn se jongste boek, die skrywer, met die lirieke van Koos du Plessis se “Swerwers”. In die lied vra Du Plessis: “jy wat jou op die wysheid roem/ wie sou jy die swerwer noem: die een wat sonder afskeid ry of sy wat eensaam agterbly?/ of wie?/ wie sou die ware swerwer wees/ die een wat reis, die een wat lees?”. In hierdie meningstuk oor die skrywer vra die resensent: “wie sou jy die skrywer noem/ die een wat sonder afskeid ry (lees hierin die een hoofkarakter, Arthur) of sy wat eensaam agterbly (lees hierin die ander hoofkarakter, Anabella)/ of wie?/ wie sou die ware skrywer wees/ die een wat reis (lees hierin beide hoofkarakters, Arthur en Anabella), die een wat lees (lees hierin ook beide hoofkarakters, Arthur en Anabella, want Arthur lees Anabella se outobiografiese groenboek en Anabella lees Arthur se draaiboeke, soos The Mountain Prophet)?”.
Skrywerskap is die spilpunt waarom hierdie boek wentel. Dit vorm wye rimpels om die storie waar Anabella en Arthur se lewens paaie kruis en vervleg raak. Verwysings na skrywerskap kom met tussenposes voor. Dit word egter só aangebied dat die leser nie hierdie tema uit die oog verloor nie. “I guess that’s what scriptwriters are supposed to do, to create magical immortal moments … scenes that stay in the minds of people forever” (94); “The thing with writing fiction is to keep within the borders of truth … Even if your story is completely justified, it still is only a story … it’s made up. Even if you may think about it as the truth. And the frightening part of it all is your emotional attachment to your fabrications, to know that you are actually transforming the truth within yourself into a lie” (111); “I’d rather die writing, than having to live without a story …” (127).
Die titel se bepaalde lidwoord en gebrek aan hoofletters roep die assosiasie van ’n versamelterm op wat skrywers en skrywerskap impliseer. As dit op die individuele storiekarakters ingespeel het, sou Esta Steyn heel waarskynlik ’n onbepaalde lidwoord gebruik het. Daarom die aanspraak op die interpretasie van die titel as ’n versamelterm.
Op lekkerleesvlak sal die romantiese leser in die skrywer ’n besliste heenkome vind. Want Anabella Bennett, met die noemnaam Ben, ontmoet reeds vir Arthur Addington, bekende Amerikaanse skrywer met ’n aangetroude liefde vir Afrika, in haar jeugjare op Bulungwi in die hart van hierdie vasteland. Op daardie stadium was sy onder die voogdyskap van ’n sendeling en hy op ’n rolprentskiet-ekspedisie. Die woorde wat hy aan haar gegee het in daardie tyd het in haar tienerhart agtergebly: “Your berries are very sweet, my princess” (94) en “You look stunning, my princess” (32). Sy kon hom daarna nooit vergeet nie. Agterop ’n foto het hy vir haar geskryf: “To Ana, my African princess. With love, Arthur” (32).
Vandat Anabella op 16-jarige ouderdom vir Arthur ontmoet, verloop daar 11 jaar waarin sy ondertussen ’n joernalis by Die Randse Dagblad word. Na jare van harde werk, en ook gesondheidsprobleme, besluit sy om vir ses weke met langverlof te gaan. Margate sou die bestemming wees, waar Anabella haarself beloof het om nie te werk nie. Die aand voor sy vertrek, sien sy egter die nuwe uitgawe van die koerant op ’n lessenaar met ’n berig in oor Addington wat in die dorpe Heimat in ’n hofgeding betrokke is met sy huishoudster. Die volgende oggend draai sy Koekoes (haar motortjie) uit die Goudstad 1 700 km duskant na waar sy heen eintlik op pad was. Sy arriveer twee dae later op Heimat, waar Addington op ’n landgoed woon. Onder die vaandel van ’n welkome misverstand en die noodlot van die natuur kry sy die geleentheid om as sjef vir Addington te begin werk. Die geleentheid is ’n verdigsel wat geleef moet word terwyl sy geen kennis van fynproewergeregte opdis het nie. Trouens, pool speel en ’n bier op sy goeie tyd is veel meer haar forté. Eers was die ooreenkoms net dat sy vir een naweek as sjef sou instaan. Toe word die periode langer … en natuurlik die opbouende spanning van twee skrywers wat erken en ontken, sien en stilbly, onthou en verskeie verliese het om op hul eie te verwerk.
Die roman verkeer in metagesprek oor skrywerskap, wat vernuwend is in die genre. Heelwat kan ook ontgin word in verdere navorsing oor die allitererende a se aanwesigheid in die boek, asook die verwerking van lewensverlies en moontlike lewensverlies.
Stuwende progressie is sigbaar in die skrywerskap van Steyn as die chronologiese lees van Meeulanders, Kinders van die Sabbatsee, Kus vir die Kluisenaars, Droomdelwers en Die Grafte Jubel tot en met die skrywer gevolg word.

