Stel jou dit voor: ’n Akteur arriveer by ’n fotografie-ateljee wat in ’n opskietteater omskep is. Hier wag 78 mense op houtbankies vir hom. Hy gaan ’n toneelstuk opvoer waarvan hy nie die teks ken nie, oor ’n onderwerp wat hy nog moet ontdek, en daar mag dalk gehoordeelname wees. Daar is geen verhoog nie; geen kostuums nie en ook geen rekwisiete nie – behalwe ’n tafeltjie met twee glase met deurskynende vloeistof. Hy bring ook ’n klein glaspotjie met wit poeier in om langs die twee glase neer te sit.
Dis die agtergrond van White rabbit, red rabbit deur die Irannese dramaturg Nassim Soleimanpour wat op 13 Maart in die opskiet Kaapse Toneelhuis in Paardeneiland opgevoer is. Dis deur The Pink Couch in samewerking met Aurora Nova aangebied. Die akteur vir 2024: die bekroonde Albert Pretorius, een van die land se veelsydigste teatermakers.
Soleimanpour is verbied om sy geboorteland te verlaat, omdat mans van sy generasie ’n paspoort mag kry net as hulle twee jaar diensplig verrig het. Hy skryf toe ’n toneelstuk wat in sy plek die wêreld deurreis.
........
Op 13 Maart elke jaar voer kunstenaars regoor die wêreld die toneelstuk op dieselfde tyd op ter herdenking van die sluiting van teaters weens Covid-regulasies en die veerkragtigheid van teater om wêreldwye inperkings te oorleef.
........
Die gehoor gaan saam met elke verskillende kunstenaar op ’n reis na die onbekende; struikel oor die persoonlike en diepsinnige, die grense van vryheid, en uiteindelik waarheen teater jou kan neem.
Op 13 Maart elke jaar voer kunstenaars regoor die wêreld die toneelstuk op dieselfde tyd op ter herdenking van die sluiting van teaters weens Covid-regulasies en die veerkragtigheid van teater om wêreldwye inperkings te oorleef.
White rabbit, red rabbit is al meer as 1 000 keer in 25 verskillende tale opgevoer.
Die vervaardiger, Christina Hinterberger van Aurora Nova, het die regte vir die Suid-Afrikaanse produksie bekom en sê vanjaar was daar ongeveer 55 optredes deur 48 verskillende vervaardigers in 25 verskillende lande (Australië, Brasilië, Costa Rica, Duitsland, Ghana, Griekeland, Indië, Italië, Kanada, Litaue, Montenegro, Oekraïne, Oostenryk, Portugal, Roemenië, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Singapoer, Slowakye, Slowenië, Solomon-eilande, Spanje, Suid-Afrika, Taiwan, die VK en die VSA).
“Ons was op al die kontinente behalwe Antarktika! Die vertonings is in 18 verskillende tale.”
White rabbit, red rabbit is op 13 Maart 2021 vir die eerste maal opgevoer, in plekke van tronke in Meksiko tot ’n plaaslike teater in Pakistan, van Guatemala tot New York, om die eerste verjaardag van die sluiting van teaters te herdenk.
In 2023 was daar 23 aanbieders in 30 lande. Die Suid-Afrikaanse akteur (in Kaapstad) was Rob van Vuuren.
Met die bespreking van ons kaartjies lees ek onderaan: “Let wel: Hierdie toneelstuk is nie openlik polities nie, en moet nie as sodanig uitgebeeld word nie. Dit werk op ’n dieper, metaforiese vlak, en vermy uitdruklik openlike politieke kommentaar. Alle media- en persagente moet in gedagte hou dat die dramaturg ’n Iranse boorling is. Ons vra dus die pers om oordeelkundig te wees in hul beriggewing.”
Ek mag nie veel sê oor die inhoud van die teks nie. Ook nie die storielyn verklap nie. Ons wil hê dat die volgende groep wit konyne volgende jaar op 13 Maart weer bymekaar sal kom waar ’n akteur ’n koevert sal oopskeur en vir 70 minute sal toneelspeel sonder dat hy die teks vooraf kon bestudeer. “Sodat die verlede weer die toekoms kan word en omgekeerd” – die skrywer se woorde, nie myne nie. Of was dit die akteur s’n; of die rooi konyn s’n?
........
Maar wat my wel lank sal bybly, is dat die skrywer dit in 2010 in sy woonstel in Teheran geskryf het. Toe hy reeds onder die onderdrukkende reëls van sy samelewing gebuk gegaan het – lank voor ’n pes ons vryheid kom steel het.
........
Maar wat my wel lank sal bybly, is dat die skrywer dit in 2010 in sy woonstel in Teheran geskryf het. Toe hy reeds onder die onderdrukkende reëls van sy samelewing gebuk gegaan het – lank voor ’n pes ons vryheid kom steel het.
Ons kyk dit nou elke jaar om die onderdrukking van die Covid-inperkings van ons af te gooi. Vir ons het die vryheid in ’n mate teruggekeer.
Of het dit?
Soleimanpour kon eers in 2013 sy paspoort kry om die wêreld te gaan sien. Maar toe hy die teks die heelal instuur, het hy nie geweet of dit gaan vlerke kry nie.
Onderhoud met Albert Pretorius
Ek gesels met Albert Pretorius oor sy ervaring as die 2024-gekose akteur; oor inperking en die wegneem van vryheid.
Wat het jy van die toneelstuk of dramaturg geweet voor jy die verhoog betree het?
Byna niks. Net dat Tara dit laasjaar gedoen het met Rob van Vuuren, dat die inhoud ’n geheim is en dat die skrywer van Iran is. Basies net alles wat mens op die kaartjiewebwerf gesien het. Ek het niks gegoogle of iets nie – ek wou so min moontlik weet, soos wat die skrywer wil hê dit moet wees.
Het jy enige agtergrond gekry?
Geen. 24 uur voor die vertoning het ek ’n paar praktiese instruksies van die skrywer ontvang, maar dis net riglyne, soos hoe om sy naam korrek in Engels uit te spreek en as ’n woord in hoofletters geskryf is, moet ek die woord beklemtoon, ens. Niks oor die inhoud nie.
Hoe lank voor die tyd is jy gevra of jy die rol sal speel?
Ek dink so twee of drie weke voor die tyd.
Het jy onmiddellik ingestem of moes jy daaroor dink?
Ek het onmiddellik ingestem. Ek moes net kyk of dit prakties moontlik is met ander werk, en toe dit uitwerk, was dit ’n no brainer. Die idee het vir my na ’n lekker uitdaging geklink.
Het jy al ooit voorheen iets soortgelyk gedoen?
Die naaste was seker ’n Akkerboom, wat De Klerk Oelofse gedoen het. Ek was een aand sy gaskunstenaar. Maar dis ook baie anders, want daar lei iemand jou, en al weet jy nie wat gaan gebeur nie, word jy deur ’n ander persoon gelei. Met Rabbit het ek net die teks.
Hoekom dink jy het hulle jou gekies?
Ek en Tara stap al ’n lang kreatiewe pad saam en het al baie saamgewerk, en ons werk goed saam. Jy moet eintlik vir haar vra.
Was jy nuuskierig en wou jy gaan oplees?
Nogal nie. Ek was uitdruklik gesê ek mag nie, so ek het geweet dit gaan dit vir my bederf as ek dit doen, en aangesien ek dit net een keer mag doen, wou ek die beste ervaring daaruit put soos die skrywer dit vereis.
Jy is bewus daarvan dat die toneelstuk die wêreld oor op dieselfde tyd opgevoer word ter herdenking van die sluiting van teaters weens Covid en die veerkragtigheid van teater om wêreldwye inperkings te oorleef. Hoe resoneer hierdie boodskap by jou persoonlik?
Dis vreemd, want Covid voel so lank terug, maar die effekte word steeds gevoel, veral in die kunste. Ek dink dit dui op die kanniedood houding van teater en vereer dit op ’n manier (selfs tydens die inperkings het mense maniere gevind om teater te doen), so ek dink dit bevestig die harregat attitude van teater.
Wat was jou ervaring toe een na die ander teater in Suid-Afrika sluit en kunstefeeste afgestel word. Wat gaan deur jou gedagtes?
Ja, mens kon dit amper nie glo nie. Ek was backstage by die Woordfees toe gerugte begin loop dat KKNK miskien gekanselleer gaan word (en dit was net meer as ’n week of twee weke na Woordfees), en wragtag, binne die volgende paar dae is feeste en teaters toe. Mens skrik ... dis my inkomste, en ek dink die ergste was die onsekerheid oor wanneer dit weer “normaal” gaan wees. Ons almal weet hoe lank dit geneem het en hoe dit steeds aan die herstel is. Maar ek dink ook mense het baie kreatief begin dink en interessante idees en werk het wortel geskiet in daardie tydperk.
Ek was die teenoorgestelde. Ek het kreatief niks gehad nie. Hoe meer ek iets probeer forseer het, hoe minder wou iets vlam vat in my. Ek was in rou, sal ek sê. En dit was toe ook goed om toe heeltemal af te skakel en te sê oukei, vandag bak ons dan maar ’n brood of kyk ’n film, of of of.
Hoe het jy aan die lewe gebly?
Ek het gelukkig twee advertensies gedoen net voor die inperkings, wat gehelp het, en toe maar die bietjie spaargeld wat ek gehad het, geblaas én skuld gemaak. Gelukkig het sekere film- en TV-projekte begin skiet toe van die regulasies verminder is.
Hoekom is hierdie tipe toneelstukke belangrik vir die samelewing?
Daar was so ’n wonderlike atmosfeer in die teater. Ek dink omdat niemand geweet het wat gaan gebeur nie, was almal baie “present”. Ek het niemand op ’n foon gesien nie. Ek dink almal wou ’n ervaring hê, en as nie eers die persoon wat vir jou voorlees weet waarheen die storie gaan nie, is dit nogal opwindend. Ervarings is vir my belangriker as materiële dinge. En as ’n mens nou praat oor die inperkings, is dit waarna mense gesmag het. Of dit nou ’n ete is saam met vriende, of musiek met regte musikante.
Wat het verlede week se opvoering vir jou persoonlik beteken?
Dit was só wonderlik om só vry te kon voel, en dis iets wat mens maklik vergeet, want mens wil te maklik goed "reg" doen, soms, dat dit bevrydend was om te weet ek gaan foute maak – ek mag dalk my naam met ’n plank slaan, en dis oukei. Dis ’n goeie les om weer te leer.
- Lees meer oor Nassim Soleimanpour hier: https://www.nassimsoleimanpour.com/artisticdirector
Lees ook:
LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: Olga Leonard se resensie van The promise (finale weergawe)
Strong story, adaptation and team make The promise this year’s must-see stage production