Expelled: ’n teaterresensie

  • 0

Expelled, vervaardig deur How Now Brown Cow (Baxterteater tot 2 Maart; Markteater (6 tot 31 Maart)

Die span agter die toneelstuk Expelled is How Now Brown Cow, wat ’n paar maande gelede ook verantwoordelik was vir die bekroonde The Beauty Queen of Leenane. Hierdie keer is hul fokus die euwel van sosiale media wat nie net families, huwelike en verhoudings kan laat skipbreuk lei nie, maar lewens kan vernietig en tokomsdrome aan skerwe kan laat spat.

Die verhoog is enige voorstedelike sitkamer. Niks luuks of oordadig nie, net die huis van ’n gesin waar die kommunikasie tussen ma en pa jare terug opgehou het en hul lewens in hul fone opgesluit lê.

Louise erken dat sy nie sonder sosiale media kan wees nie, maar vermaan haarself tog elke nou en dan dat sy moet ophou om haar lewe deur die lewe van haar Facebook-vriende te leef. Sy praat van haar vingers se vlugtigheid oor haar slimfoonskerm as die “Facebook-simfonie”. Sy merk ook dat sy soms bekommerd is dat haar brein een of ander tyd te vol gaan word, en wie weet of haar kosbare herinneringe aan hul seun se kleintyd vervang sal word met nuttelose inligting van iemand anders se lewe wat sy op sosiale media gesien het.

Hoewel haar man, Richard, se foon ook ’n verlengstuk van sy arm is, kritiseer hy haar oor sy soveel ure op sosiale media deurbring. Sy verduidelik dat sy nie dood of dooie mense wil sien nie en mense maklik blok wat inligting plaas wat haar nie aanstaan nie. Terselfdertyd erken sy ook dat sy baie van haar Facebook-vriende en hul gesinne – van wie sy heelwat nog nooit ontmoet het nie – baie beter ken as haar regte vriende.

Dit bring ons by hul seun, Alex, wat ’n leerder aan ’n baie “posh” skool is waar hy nie baie gelukkig is nie, maar waarheen sy pa wou hê hy moet gaan, omdat dit deure vir hom sal oopmaak. Louise was teen die skool, want Alex is te sag vir koshuis en sal so lank weg van die huis wees en het die eerste jaar elke aand huilend gebel om huis toe te kom. Sy koggel haar man oor sy geloof “dat ’n skooldas soveel mag het in die lewe” toe hy vertel die oudleerders van sulke skole werk saam en gun mekaar geleenthede.

........
Dan bars ’n bom: Alex is deel van ’n groep seuns wat in ’n paar onbesonne oomblikke ’n toneel verfilm wat dan op die internet beland.
........

Dan bars ’n bom: Alex is deel van ’n groep seuns wat in ’n paar onbesonne oomblikke ’n toneel verfilm wat dan op die internet beland.

Vir dae hang die swaard oor die gesin se koppe: Gaan hy geskors word? Sal hy kan matriek skryf? Hoe gaan dit sy toekoms raak? En hoe lank gaan dit neem voor die storm oorwaai? Hy moet om verskoning vra, maar dit wat gesien is, kan nie ongesien word nie.

Die kaal mure van die sitkamer en slaapkamer word soms met sosialemediabeelde en -boodskappe gevul, wat baie treffend is. Daar is ook ’n paar WhatsApp-video-oproepe en ’n Zoom-vergadering wat groot teen die mure geprojekteer word. Die groot beelde van die mense wat ’n aandeel het in hoe Alex se toekoms gaan uitspeel, versterk die gedagte dat hulle mag baie groter is as Alex of sy gesin s’n. Dit laat die gesin klein lyk én word.

Hoewel die bykans 90 minute baie goeie spel van die akteurs gelewer het, twyfel ek of die toneelstuk vir my enigiets nuuts onthul het. Daar is die afgelope paar jaar telkemale oor soortgelyke gevalle in die media gerapporteer, maar dit verhoed nie dat dit weer gebeur nie.

........
Hoewel die bykans 90 minute baie goeie spel van die akteurs gelewer het, twyfel ek of die toneelstuk vir my enigiets nuuts onthul het.
........

Ook met die ouderdomsbeperking van geen onder 12’s wonder ek of ’n groot gedeelte van die teikenmark nie uitgesluit word nie. As ek na vriende se kinders kyk, is sommige agtjariges al meer bedrewe op sosiale media as wat ek ooit kan droom om te wees.

Ek het ook oor die jare tot die besef gekom dat ’n storie baie kompleks moet wees voor dit regtig 90 minute regverdig. ’n Storie soos hierdie sou dalk meer trefkrag gehad het as dit 60 minute lank was. Dit voel soms of die skrywer en regisseur dinge wou oorbeklemtoon, net ingeval die gehoor nie die boodskap met die eerste verbykomslag gehoor of verstaan het nie. Verder het ek gewonder oor die besluit om die berugte video waarom alles draai, aan die einde van die toneelstuk te speel.

Maar dan wil ek myself amper hier weerspreek.

Die toneelstuk is, soos reeds gemeld, die produk van How Now Brown Cow, wat ’n uitvloeisel is van die teksontwikkelingsprogram The Writers’ Collective tydens die pandemie en sy inperkings en beperkings op teaters. Dit het 12 nuwe Suid-Afrikaanse tekste tot gevolg gehad, waarvan verskeie nou in die volgende fase van ontwikkeling is. How Now Brown Cow sal in die volgende 16 maande nog drie nuwe produksies op die planke bring.

 “Die aktualiteit van Expelled het dadelik ’n indruk op ons gemaak en ons is trots daarop dat ons die ontwikkeling daarvan deur The Writers’ Collective kon ervaar,” sê Julie-Anne McDowell, stigter van en vervaardiger by How Now Brown Cow. “Dit is ’n relevante toneelstuk vir ons wêreld wat behep is met sosiale media, en ons glo dat die kritieke impak daarvan vir baie jare weerklank sal vind. Ons moet almal hierdie waardevolle storie ervaar.”

.........
Dis goed om ’n nuwe generasie teaterstemme te hoor en te ervaar en die kwessies wat hulle raak, op teaterverhoë tot uiting te sien kom.
.........

En daarmee stem ek saam. Dis goed om ’n nuwe generasie teaterstemme te hoor en te ervaar en die kwessies wat hulle raak, op teaterverhoë tot uiting te sien kom.

En daarom kry dit my stem. Jy gaan nie sielkundig armer uit die teater stap nie. Inteendeel, dalk spoor dit jou aan om vir ’n aand of wat nie aan jou foon vasgegroei te wees nie. En dalk kan jy ’n vriend opsoek in plaas van jaloesie in jou hart te koester omdat iemand in Griekeland kuier terwyl jou oortrokke fasiliteit nie eers ’n wegneemkoffie toelaat nie.

Expelled 

Met: Charmaine Weir-Smith, Antony Coleman en Nicolas Hattingh 
Regie: Craig Freimond
Ontwerp: Kieran McGregor en Daniel Rutland Manners

  • Studio Theatre by die Baxterteater in Kaapstad tot 2 Maart 2024
  • Markteater in Johannesburg se Mannie Manim-teater van 6 tot 31 Maart 2024

Kaartjies vir beide speelvakke deur Webtickets by www.webtickets.co.za, en vir skole is daar groot afslag via Jeff Brooker by schools@jbpro.co.za.

Lees ook:

Press release: Rosalind Butler’s new South African play Expelled at The Baxter premieres on 7 February

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top