Wat sê Bettina? Verpligte diensplig en soldate se trauma

  • 5

Boekomslag: Troep: Die dinge wat hulle saamdra deur Bun Booyens (Penguin Random House SA)

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
...
Ek dink dis ’n wonderwerk dat, met soveel gebroke mense wat sonder hulp hulle weg moes baan deur die lewe, ons steeds bekend kan staan as die reënboognasie.
...

Ek lees onlangs Bun Booyens se Troep: Die dinge wat hulle saamdra. Die afgelope aantal jare het daar heelparty niefiksie-boeke oor verpligte diensplig, oor die grensoorlog en oor die ervaring van jong dienspligtiges verskyn.

Dit vervang amper die plaasroman in gewildheid. Amper, nie heeltemal nie. Eintlik maak dit sin. Die heel laaste groep wat verpligte diensplig ondergaan het, sou in die laat 1980’s moes aanmeld. Hulle trek nou al by 60. Ek kan nie onthou dat ek al iets gesien het oor die outjies wat na die townships uitgeplaas is as deel van die polisie nie, maar dan het ek ook nie ’n uitputtende leeslys saamgestel nie. Dis gewoon net te ver buite my verwysingsraamwerk.

Een sin uit Booyens se boek, sommer vroeg al, pla my nou al dae lank. “Daar is egter geen inventaris van mense met blywende beserings nie, ook nie van oudsoldate wat oorlogversteurde lewens lei nie.” Ek wonder oor die oorlogversteurde soldate. ’n Af arm of been of oog wat uit is, is duidelik sigbaar en daar kan iets gedoen word aan fisiese wonde, maar wat van PW se “seuns”, soos wat hulle blykbaar genoem is, wie se siele stukkend is? Het enige van hulle hulp gekry?

...
In die weermag sou hulle mooi verstaan gemaak word as hulle nie taf genoeg is nie, dan lê die fout by hulle, nie die sisteem nie.
...

Hoeveel middeljarige alkoholiste se menswees het iewers in ’n soldatekamp, op patrollie, op die grens iewers agtergebly en hulle kon dit net nooit terugkry nie? Hoeveel mans is daar wat elke Nuwejaar en Guy Fawkes opnuut getraumatiseer word deur die klank van vuurwerke, maar hulle moet maar maak asof niks verkeerd is nie? Want die een ding waarvan ek baie seker is: In die weermag sou hulle mooi verstaan gemaak word as hulle nie taf genoeg is nie, dan lê die fout by hulle, nie die sisteem nie.

Hoe anders sou ons land nie daar uitgesien het as ’n klomp dinge anders hanteer is nie, maar veral as die trauma aan albei kante nie beter hanteer is nie. Dit was traumaties om aan die ontvangkant van die brutale apartheidsbeleid te wees, maar vir sommiges was dit ewe traumaties om die gewelddadige instandhouding van die beleid, binne- en buitelands, te moes afdwing. Sou hulle dieselfde keuses gemaak het destyds as hulle toe geweet het wat hulle nou weet: dat formele apartheid in elk geval in duie gestort het; dat PW en sy manne toe nie vir ewig regeer het nie; en dat hulle soos uitgedrukte lemoene eenkant gegooi sou word, nutteloos om die Empaaier in stand te hou? Voel hulle verraai? Of sou hulle selfs meer verbete geveg het en met meer toewyding gewerk het om seker te maak die NP bly kragdadig in beheer?

Ek vermoed die waarheid is iewers anders. Die meeste jong seuns het maar gegaan, want hulle is wysgemaak dis nou maar deel van die grootwordproses. Jy gaan skool; jy doen diensplig; as jy gelukkig genoeg is om terug te kom, dan gaan jy aan met jou lewe. Rinse en repeat. Dit gee oorgenoeg kanonvoer vir PW. Niemand vra vrae nie, want dan is jy die vyand, en as dit klaar is, kan jy verseker wees iemand sal iewers vir jou ’n geleentheid skep. Dis deel van die voordele van aan die klub behoort. Maar moet tog nooit praat oor wat jy deurgemaak het nie en moet nooit ooit laat blyk dat jy snags in angssweet wakkerskrik, dat jy nie harde geluide kan verduur nie, dat jou gesin nou al geleer het daar is tye wanneer hulle maar trapsuutjies rondom pa moet beweeg.

Sou ons land anders wees as daar as deel van die WVK se verrigtinge ’n aanbeveling gemaak word dat almal wat in oorlog betrokke was, aan weermagkant en aan vryheidsvegterkant, vir verpligte gratis terapie moes gaan? Sou ons meer genesing as ’n nasie gehad het as elke persoon wat tydens apartheid gemartel is, formeel of informeel, die geleentheid gehad het om gratis terapie te kry?

Ek dink dis ’n wonderwerk dat, met soveel gebroke mense wat sonder hulp hulle weg moes baan deur die lewe, ons steeds bekend kan staan as die reënboognasie.

Lees ook:

Troep, saamgestel deur Bun Booyens: ’n resensie

Troep: Die kleingeskiedenis van ’n oorlog

Bloedbroers: na die slagveld van Smokeshell en terug deur Deon Lamprecht: ’n resensie

Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese: ’n resensie

Francois Verster praat met Naomi Meyer oor sy jongste boek, Ill at ease.

  • 5

Kommentaar

  • Kobus van den Berg

    Bettina Wyngaard
    My beskeie mening is dat jy mistas as jy verwys na die Bosoorlog as die verdediging van apartheid. Daar was verskeie etniese bataljons wat deel was van die SAW- en die RSA-verdedig teen die totale aanslag van Kommunisme dmv terrorisme. Was dit nie vir die 27 jaar bosoorlog nie, was die RSA nie vandag n reënboognasie nie. Voorsprongoperasies in die buiteland noord van ons landsgrense het verhoed dat ons in Johannesburg se strate veg. Ek stem dat berading aan NDP's beter kon wees.
    Die sg vryheidsvegters waarna jy verwys was niks ander as terroriste nie, aangesien hulle aanslag onskuldige mense (nie net soldate) gedood en vermink het.

  • Francois Verster

    Goed gestel. Soos met alles in ons land, sal daar 'n verskeidenheid menings wees, maar my stem sal altyd gaan aan ewewigtige menings, soos hierdie een. Terloops, my eie boeke oor die tema, 'Omega, oor en uit' (Tafelberg, 2016) en 'Ill at ease' (KDP, 2025), handel presies hieroor.

  • Marthinus Willemse

    In my ondervinding as sappeur was daar nie apartheid in die weermag nie en dis juis ons wat terugkeer "states" toe, wat begin om teen apartheid te protesteer. [Jou swart makker sit langs jou in die menasie, stort langs jou, slaap langs jou, veg langs jou, sterf langs jou. Dit verander jou denke, sodat jy "ja" stem in 'n referendum] Nie-blanke soldate het wel nie so maklik bevordering gekry nie, maar dan, ons wat sieklik was ook nie. Die oorlog was nie net op die "grens" nie, daar was bomme in Kerkstraat en in restaurante in Jhb. Kerke is deur MK aangeval. Dit was 'n totale aanslag.

    Naby my woon 'n ou omie wie se drie seuns saam meer as 10 jaar in die tronk gesit het, omdat hulle as Sewendedag Adventiste-pasifiste is; hulle weier om oorlog te maak. Ek het baie respek vir hulle. Hulle stories is nog nie vertel nie.

    Daar was landmyne op plaaspaaie in Limpopo, daar was necklace-moorde in die townships. Daardie slagoffers se families sukkel ook.

    Oorlog in Angola: lees John Stockwell se "In search of enemies" oor die werklike rede. Maar ons gaan nog lank skryf, en Bettina is reg oor die gebrek aan berading.

  • Dr Janet van Eeden

    It's important to talk about the border war and so many who were damaged by it. Not only the men who had to serve in active combat, but also the families of those whose brothers or sons were killed or who took their own lives on the border. There was so much damage done during those years.

  • Brigadier JJS Storm

    Die konsep van reënboognasie het eintlik niks te doen met bosoorlog en PTSD-lyers nie. Dis nou rêrig voorgee appels is pere. En diegene wat dink Suid-Afrikaners is 'n reënboognasie, nou ja. Pie in the sky.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top