Wat sê Bettina? Die probleem met nasionale gesondheidversekering

  • 1
  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
Ek glo, met ’n oortuiging wat ek eintlik oor baie min dinge voel, dat elke Suid-Afrikaner, ryk of arm, gehaltegesondheidsorg behoort te kry. Dis ’n basiese reg, of dit behoort te wees.
........

Ek glo, met ’n oortuiging wat ek eintlik oor baie min dinge voel, dat elke Suid-Afrikaner, ryk of arm, gehaltegesondheidsorg behoort te kry. Dis ’n basiese reg, of dit behoort te wees.

Geen persoon behoort tweederangse mediese sorg te kry omdat hulle arm is, of in ’n landelike gebied woon, ver van geriewe af, of omdat hulle nie kan lees en skryf nie. In daardie opsig stem ek saam met die filosofie agter die wetgewing wat soveel dokters en mediesefondspasiënte ontsteld het, en wat hoop gee aan soveel arm mense wat nou maar moed opgee oor oorvol daghospitale en kortaf, oorwerkte, moedelose mediese personeel. Die probleem is, iewers tussen die filosofie en die implementering lê daar ’n berg van misverstande, gebrek aan insig in wat nodig is om die ding te maak werk, en suiwer, ongelouterde korrupsie.

Gehaltegesondheidsorg vir almal kan werk. Ek het dit gesien toe my ma die lense in beide oë moes laat vervang. Een oogtoets om die probleem te identifiseer, een opvolgtoets met die dokter wat die lensvervanging sou doen, en sy het haar datum vir die operasie gekry. Covid het dinge vertraag, met die gevolg dat haar lensvervanging omtrent ’n jaar later as verwag gedoen is, maar skuld daarvoor kan nie voor die staat se deur gelê word nie. Worcester-staatshospitaal, waar die operasie gedoen is, het my beïndruk met hoe professioneel die personeel was, hoe skoon die geboue en selfs die gronde buite was, en hoe seepglad alles verloop het. Die dokter wat die operasie gedoen het, is ’n kenner op sy gebied, en sy personeel hoef nie terug te staan vir enigeen in privaatpraktyk nie. Dit was vir my ’n model van hoe dit kan lyk wanneer die staat funksioneer soos wat dit moet.

Onlangs het ek egter my eie mediese uitdagings ervaar, en hierdie slag lyk die prentjie aansienlik anders. Soos baie skrywers het ek nie ’n mediese fonds nie. Ek besoek ’n privaatdokter en betaal. Dis nie die einde van die wêreld nie, want ek is eintlik oor die algemeen baie gesond. Hierdie slag is dit anders. Daar is toetse gedoen, ’n diagnose gemaak en ek is op medikasie geplaas. Na ’n maand is ek terug dokter toe. My dokter stuur my vir ’n sonar die dag na die ondersoek. Terwyl ek met ’n vriendin, ’n verpleegster by ’n staatsinstelling, hieroor gesels, spreek sy die mening uit dat die privaatdokters eintlik maar net hulle eie bas bedek. Daai sonar sou nooit deur die staatshospitaal aangevra word nie. Ek glo haar goed dit sou nie aangevra word nie. Maar die sonar wys toe op ’n groot probleem wat waarskynlik net met ’n operasie reggestel sal kan word.

Ek gaan binnekort nog ’n spesialis spreek, en daarna moet ek my vertroue in die staat plaas, want daai operasie kan ek nie bekostig nie. Wat beteken dit? Ek moet nou ’n lêer oopmaak by die plaaslike daghospitaal. Dan moet ek ’n afspraak kry om ’n verpleegster of ’n dokter in hul sg Zuma-jaar te spreek. Hou in gedagte dat ek dan alreeds toetse van radioloë  en ander spesialiste in hul veld sal hê, en dat die personeellid toegang tot daai verslae sal hê. Die personeellid by die daghospitaal moet die spesialiste se verslae evalueer, en besluit of dit iets is waaraan hulle iets behoort te doen, en of hulle hul eie toetse wil laat doen. Dan, indien hulle besluit ’n operasie is nodig, word ek op ’n waglys geplaas.

Ek word meegedeel om ’n eerste afspraak by my plaaslike daghospitaal te kry, sal waarskynlik eers in November of Desember gebeur. Ek het geen hoop dat enige besluit oor ’n operasie voor 2026 geneem sal word nie, en afhangend van hoe die waglys lyk, mag ek my eers teen 2027 in ’n teater bevind.

Dit laat my wonder: Wat sou gebeur het indien ek van die begin af in die tou by die daghospitaal moes gaan sit het? Sou die aanvanklike diagnose gemaak gewees het? Waarskynlik, ja, maar ek twyfel of die opvolg sou gebeur het. Ek sou waarskynlik met Panado’s huis toe gestuur gewees het.

Ek het ’n lang gesprek met my huisdokter gehad. Hy reken dat as primêresorgdokters opgelei word om self sonars te doen en dit nie na ‘n spesialis hoef te verwys nie, dit alreeds ’n groot deel van die rompslomp sou uitskakel en diagnoses vinniger sou laat geskied. Die staat het genoeg geld om seker te maak elke daghospitaal en kliniek het die basiese toerusting om die sonars te doen. Hier verwys ek nou nie na die sonars om swangerskappe te bevestig nie; ek verwys na die meer gesofistikeerde soort wat meer besonderhede van organe ens wys.

........
Hoeveel mense word weggestuur vanaf staatshospitale, klinieke en daghospitale omdat die toetse wat hulle moet kry, as onnodig beskou word, of as te duur? Watter prys word daar op ons mense se gesondheid geplaas?
........

Hoeveel mense word weggestuur vanaf staatshospitale, klinieke en daghospitale omdat die toetse wat hulle moet kry, as onnodig beskou word, of as te duur? Watter prys word daar op ons mense se gesondheid geplaas?

Die vrees bestaan by baie privaatpasiënte dat hulle gesondheidsorg afgradeer gaan word tot dit wat pasiënte in staatsorg ontvang. Wat eintlik behoort te gebeur, is dat pasiënte in staatsorg se dienste opgegradeer behoort te word sodat elkeen voel hulle stap in ’n privaathospitaal in en kry gehaltesorg.

Ek dink nie ons is naastenby by daardie punt nie. Dis jammer, want daar is regtig ongelooflik goeie mediese personeel in die staatsdiens wat hulle hande stompies werk om reg te laat geskied aan die belofte van gehaltegesondheidsorg vir almal.

Intussen kan ons net hoop dat nie te veel mense tussen die krake val en verlore gaan nie.

Lees ook:

Nasionale gesondheidsversekering nodig om armes se menswaardigheid te herstel en om bevoorregtes menswaardigheid te leer

Wat sê Bettina? Kry die minister van elektrisiteit performance bonus?

Wat sê Bettina? Wanneer kapitalisme as feminisme paradeer

Wat sê Bettina? Malema kom sy haatspraak-moses teë

Wat sê Bettina? Is korrupsie-ontbloting doodsake?

Wat sê Bettina? Regse op regse geweld in Charlie Kirk se sluipmoord

  • 1

Kommentaar

  • Worcester het 'n opleidingshospitaal van Stellenbosch Universiteit, daarom is dienste beter. Die Wes-Kaapse staatshospitale is opgegradeer met goeie toerusting, maar die personnel is oorwerk en te min.
    Het Vrydag na 'n Netcare gegaan vir bloedtoetse. Oppad na Pathcare het ek in die voorportaal op 'n verkoping vasgeloop - samoesas, koesisters en ander snuistery. Het gelyk soos 'n kerkbasaar. Wonder of dit toelaatbaar is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top