Nasionale gesondheidsversekering nodig om armes se menswaardigheid te herstel en om bevoorregtes menswaardigheid te leer

  • 10

Suid-Afrika is ’n konsensussoekende land en ook van voortdurende oorgang na lang-en ewigdurende oplossings om die ongelykhede van ons gedeelde koloniale en apartheidsverlede suksesvol aan te spreek om op die duur die lewenskwaliteit van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, te verbeter.

Die regering se omvattende nasionale gesondheidsversekering (NGV) blyk so ’n projek te wees om dié ideale te bereik. Die NGV het ten doel om eenvormige gesondheidsorg aan al die land se inwoners te verskaf en gaan eers in 2026 in volle werking tree.

Die NVG-wetsontwerp, wat saam met ’n wetsontwerp oor mediese fondse gepubliseer is, lui dat mediese fondse na die inwerkingstelling van die NGV net aanvullende dienste wat die NGV nie doen nie, sal lewer.

Om paniek te voorkom, omdat bevoorregtes of NGV-teenstaanders veral bekommerd is op die beperkings op mediese fondse, het die regering intussen gepaai dat mediese fondse eers beperk sal word nadat die NGV behoorlik funksioneer.

’n Mens het begrip vir die NGV-teenstaanders want soos die rubriekskrywer en sosio-politieke kommentator Heindrich Wyngaard in Rapport geskryf het – is “hulle eintlik meer bekommer dat hulle na die inwerkingstelling van die NGV private gesondheidsorgfasiliteite met die arm massa sal moet deel”.

Bygesê die bevoorregtes of NGV-teenstaanders se vrees oor wat met NGV-geld gaan gebeur is nie ongegrond nie omdat korrupsie en staatskaping dreig om die land tot bankrotskap te reduseer. Verder is hulle bekommerd dat die NGV te duur gaan wees en dat persoonlike belasting die hoogte in gaan skiet om die NGV te finansier.

Hieroor het die minister van finansies Tito Mboweni gesê dat die NGV geïmplementeer gaan word teen ’n pas wat bekostigbaar is vir die land.

“Given our current macro-economic outlook and our constrained fiscal environment, full implementation is likely to take longer than initially anticipated.”

Die swak gesondheidsorg by openbare gesondheidsorgfasiliteite – soos klinieke en hospitale – is alombekend. Gewone mense kla van ’n gebrek aan ambulanse, medikasie en ervare personeel, dat mense doodgaan omdat klinieke nie 24 uur oop is nie en dat hulle te ver van hospitale woon.

Nog kritiek op die NGV is dat die staat nog ’n staatsentiteit sal moet skep om die NGV te bestuur wat uiteraard miljarde rande sal beloop. Die Hospital Association of South Africa (Hasa) waarsku nou weer dat die implementering van die NGV tot nagenoeg 132 000 werksverliese kan lui.

Sommige kritici argumenteer dat mediese spesialiste en ander mediese personeel soos verpleegsters die land moontlik kan verlaat omdat hulle glad nie geneë is met die NGV nie en gevolglik groener weivelde in die buiteland sal gaan soek. Hulle sê ook die NGV gaan die private gesondheidsektor en mediesefonds skemas skend en dat dit ’n verdere negatiewe impak op die ekonomie sal hê.

Die NGV-teenstaanders sê verder hokaai, stop die lorrie. Waarom verseker die staat nie eerder eers ’n verbetering van bestaande gesondheidsdienste nie. Eers dan sal die NGV kan werk. Met ander woorde alles moet eers perfek wees. Eers dan sal die NGV kan werk.

Die NGV-teenstaanders moet kennis neem dat Brittanje se universele gesondheidsorg, die nasionale gesondheidsdiens (NHS), tot stand gekom het in 1948 te midde van groot na-oorlogse ekonomiese probleme wat Engeland in die gesig gestaar het.

Die datum 5 Julie 1948 staan in Engeland opgeteken as ’n fundamentele keerpunt in die land se gesondheidsgeskiedenis omdat die NHS tot stand gekom het – nege jaar nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 begin het.

Die Britse historikus Jessica Brain skryf “on the 5th July an historic moment occurred in British history, a culmination of a bold and pioneering plan to make healthcare no longer exclusive to those who could afford it but to make it accessible to everyone. The NHS was born.”

Brain skryf verder: “The creation of the NHS in 1948 was the product of years of hard work and a motivation from various figures who felt the current healthcare system was insufficient and needed to be revolutionised. Before the creation of the NHs or anything like it, when someone found themselves needing a doctor or to use medical facilities, patients were generally expected to pay for those treatments.”

Soos die huidige debatsverskille tussen politici van Brittanje se grootse politieke partye in die aanloop tot die algemene verkiesing op 12 Desember dit uitwys is die NHS 71 jaar na sy stigting nie sonder probleme nie. So dit is mos onrealisties om te verwag dat die NGV sonder enige uitdagings moet wees. Nog voor dat dit begin het.

Die NHS is so afgeskeep deur opeenvolgende Arbeiders-en Tory-regerings dat dit ’n daadwerklike en meetbare invloed begin hê op die diens wat aan pasiënte gelewer word.

Die NGV-teenstanders moet dus kennis neem dat die armes nie vir ewig op universele gesondheidsorg kan wag nie, want baie van hulle het nie toegang tot mediese fondse nie.

Nuutste syfers oor ongelykheidstendense van Statistieke Suid-Afrika toon dat net 10.1% van alle swart mense het toegang tot ’n mediese fondse teenoor 72.4% van die wit bevolking. Net 20.2% van bruin huishoudings en 48.9% van Indiër-en Asiese gesinne het toegang.

Nagenoeg 84% van alle Suid-Afrikaners is op die staat se gesondheidsdienste aanwesig, terwyl die oorblywende 16% – wat mediese fondse kan bekostig – maak gebruik van private mediese sorg. Mediese professionele volg finansiële hulpbronne en reeds daarom volgens syfers van die departement van gesondheid is 80% van mediese spesialiste in die land in die private sektor werksaam.

Wat ook skokkend is, is dat Suid-Afrika tans 4.4% van sy Bruto Binnelandse Produk (BBP) op slegs 16% van die bevolking se gesondheidsdienste spandeer, en alleenlik 4.1% vir die 84% van die bevolking.

Die skokkende syfers skreeu ten hemele dat iets daadwerkliks gedoen moet word om die menswaardigheid van arme mense te verbeter en dat die bevoorregtes in die proses geleer moet word om te deel met diegene wat minder het of glad nie het nie, sodat ook hul menswaardigheid herstel kan word.

Dit is misleidend van bevoorregtes en NGV-teenstaanders om veldtogte te voer net om hul belange te beskerm en te bevorder deur te sê die NGV gaan die land bankrot maak. Die departement van gesondheid het reeds die onderneming gegee dat die NGV-fonds deur gekwalifiseerde en bevoegde mense geadministreer gaan word, wat versigtig gekeur gaan word en op ’n gepaste wyse opgelei gaan word om ’n doeltreffende onderneming te bestuur.

Alle belanghebbendes in die regering en die private sektor moet nou saamstaan en saamwerk om die NGV se doelwitte van ’n eenvormige gesondheidsorg vir die land se inwoners te verseker.

  • 10

Kommentaar

  • Nou toe nou. Jason Lloyd raak die volgende wysheid kwyt aan die einde van sy betoog:

    "Die departement van gesondheid het reeds die onderneming gegee dat die NGV-fonds deur gekwalifiseerde en bevoegde mense geadministreer gaan word, wat versigtig gekeur gaan word en op ’n gepaste wyse opgelei gaan word om ’n doeltreffende onderneming te bestuur."

    Lloyd glo seker ook dat die maan van kaas gemaak is en dat kersvader deur die skoorsteen klim. Dis om van te ween.

    O ja, nog iets, Jason: Die land is reeds bankrot. Lees jy nie koerante nie?

  • Met die swak prestasie van elke liewe staadsdepartement en parastatal tot nou toe asook korrupsie wat hoogty vier, sou ek reken die vrese dat hierdie gaan misluk is gegrond. Vergelyk nogal Engeland met Suid Afrika... Kan jy dit glo?

  • Mnr Lloyd, 'n paar ernstige gate in jou rooskleurige prentjie, ek noem 'n paar. 1. Suid-Afrika soek oplossings om die ongelykhede van apartheid suksesvol aan te spreek om op die duur die lewenskwaliteit van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, te verbeter. MAAR die swak gesondheidsorg by openbare gesondheidsorgfasiliteite – soos klinieke en hospitale – is alombekend. Gewone mense kla oor ’n gebrek aan ambulanse, medikasie en ervare personeel, ens. 2. Nagenoeg 84% van alle Suid-Afrikaners is op die staat se gesondheidsdienste aanwesig, terwyl die oorblywende 16% private sorg kan bekostig. DUS is die plan om 84% te subsidieer met die mediese fonds reserwes van die 16%; eintlik niks anders as gewettigde diefstal van fondslede se reserwes nie. 3. Wat ook skokkend is, is dat Suid-Afrika tans 4.4% van sy Bruto Binnelandse Produk (BBP) op slegs 16% van die bevolking se gesondheidsdienste spandeer. DIS NIE SA SE BBP NIE, MEDIESE FONDSE WORD DEUR PRIVAAT LEDE BEFONDS. WAT SKOKKEND IS, IS DAT 'N HANDJIEVOL GETAP GAAN WORD OM DIE MASSAS TE SUBSIDIEER NET SOOS SASSA-TOELAES. 4. Die skokkende syfers skreeu ten hemele dat iets daadwerkliks gedoen moet word om die menswaardigheid van arme mense te verbeter. HEELTEMAL KORREK - vir 25 jr doen die verkose regering niks daaraan nie behalwe om grootskaalse korrupsie van miljarde rande te pleeg. En nou wil hulle met mag en mening mediese fonds reserwes steel. 5. Die departement van gesondheid het reeds die onderneming gegee dat die NGV-fonds deur gekwalifiseerde en bevoegde mense geadministreer gaan word. JY GRAP SEKER. Moet ek hulle opnoem - PRASA, SAL, DENEL, ESKOM, PETROSA, SAUK, STAATSDEPARTMENTE - en nou glo jy een instansie nl. die NGV, gaan doeltreffend bestuur word? Huh? Die gebruiker betaal beginsel geld net die regering wanneer hulle geld kan maak daaruit. Nee mnr. Lloyd, jou artikel is baie dun en het eintlik geen voet om op te staan nie behalwe populistiese vals retoriek.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Ai tog, hopelik skrik u betyds uit droomland wakker en besef dat niks waaraan die regering of sy kripvreters raak, ooit enige kans op sukses het nie. In 20 jaar is alles vernietig. Die groot 'Afrika verval' is nou ook op ons voorstoep en in volle swang. Moord, doodslag, korrupsie, biljoene wat gesteel word, dienste wat nie meer bestaan nie asook ander tragiese werklikhede soos verkragtings en moorde het en ons stede en dorpe in tronke en asgate verander.

    Hoekom sal wat u voorstel enigsins werk, mnr. Lloyd!? Ek besef daar's 'n strewe en hunkering om iets te probeer maak werk. Maar u kies hier die mees verkeerde opsie. U wil eksperimenteer met mense se lewens wat doodgewoon dom en absurd is. Gaan dink asseblief oor en dan probeer u weer.

  • Wanneer ek rubrieke soos hierdie lees, wonder ek hoeveel mense werklik van die verlede weet. Baie min mense sal bv weet hoe die jaarlikse belastingstelsel van toepassing op swartmense gewerk het. Die belastings is destyds deur die Departement van Bantoesake ingevorder.

    Dit is gedoen deur die uitreiking van seêls wat in bewysboeke geplak is. Daar was ‘n algemene belasting van R3-50, ’n plaaslike belasting van R1.00, ’n hospitaalbelasting van 25 sent en later ‘n bykomstige belasting gehef op inkomstes bo ‘n sekere perk.

    Hierdie belastings is tesame met bydraes van blanke belastingbelaters in tuislande ingepomp, maar min het egter soos vandag die inwoners vir wie dit bedoel is, bereik.

    Vandag lees ‘n mens opskrifte soos: ’SANDF splashes R20.5m on luxury German cars, but says funding shortfall is impacting on maintaining military base in Centurion m.engineeringnews.co.za › 11 Desember 2019

    As ‘n jong skoolseun beland ek met ‘n gebreekte arm in ‘n provinsiale hospitaal en baie jare later in die nuwe bedeling in ‘n privaathospitaal omdat daar ‘n skokkende agteruitgang in provinsiale hospitale was.

    Die behandeling was presies dieselfde. Die een was niks beter as die ander nie. Die vraag wat mnr Jason Lloyd eerlik moet beantwoord, is aan watter regering is die agteruitgang te danke?

    Het dit maar nie onder die ANC-regering gebeur nie en is dit nie die ramspoedige gevolg van hul beleid en kader ontplooing nie? Dit is tog die ANC wat regeer en onder wie se leiding ‘n volledige toegeruste en werkende hospitaal in Kemptonpark met miljoene rande se toerusting gesluit is omdat dit kastig in ‘n verkeerde gebied geleë was en die verkeerde mense bedien het.

    Vandag is dit ‘n vervalle en verlate spookplek. So word Suid-Afrikaners met ‘n skok wakker toe hul verneem dat: ”Over eight months between 2015 and 2016, some 1,700 vulnerable and mentally ill people were moved from Life Esidimeni, a cluster of privately run mental healthcare facilities in Gauteng province, to various unlicensed care homes – many of which were simple suburban residences hastily repurposed.” https://www.theguardian.com/global-development/2018/oct/14/emaciated-mutilated-dead-the-mental-health-scandal-that-rocked-south-africa

    Hiermee sou geld bespaar word. Hierdie kastige besparing het ‘n bykomstige uitgawe van R159 miljoen in vergoeding vir die Gauteng Provinsiale regering teweeg gebring.

    Daar is talle meer skokkende berigte van die verval van provinsiale hospitale in ons land. Sommige verhale is te grusaam om op skrif geplaas te word. Dit is hierdie verval wat tot privaathospitale, sekuriteitsdiens, skole ens gelei het.

    Die vraag is nou is dit moreel geregverdig om belastingbetalers, waarvan baie bygedra het tot die oprigting van gesondheidsinfrastruktuur en ander nou verder te belas om dit wat onder die ANC-regering tot rommelstatus verval het tot op vorige vlak, voor oorname, te herstel.

    Indien die Blankes van Suid-Afrika blameer word vir ongelykhede van die verlede, behoort die ANC en hul ondersteuners dan nie pa te staan vir die huidige toedrag van sake, want dit is hulle wat veral die Zuma-regering aan bewind gehou het?

    Onder die omstandighede en met ‘n President wat ANC-eenheid bo Suid-Afrika stel, is die Nasionale gesondheidsversekering, hoe goed ookal bedoel, gedoem tot mislukking en ‘n verdere las op die reeds oorbelaste belastingbetaler van wie mi baie min bydraes tot die NGV en mediese fondse sal kan bekostig.

  • Die opskrif van die artikel impliseer dat mediese versekering nie al is wat beoog word nie. Oënskynlik moet bevoorregtes 'n les ook geleer word. 'n Mens wonder hoe daar beoog word om dit te doen? Om hulle aan swak mediese sorg te onderwerp?

  • Jy verwys na bevoorregtes (wat kwansuis ook die NGV-teenstanders is). Wie is die “bevoorregtes” dan nou juis? Die 8.9% wit bevolking? Ek lees ’n ondertoon van “straf die wittes vir apartheid” hier. Hulle is mos die sogenaamde rykes volgens die neigings in die wêreld media.

    Wie is “gewone mense”? Ek is wit en beslis ’n gewone mens. Wie is jy? ’n Gewone mens of ’n social justice warrior wat self agter die deur van private mediese fasiliteite staan? Indien so, geniet dit terwyl jy kan want, gegewe die implementering van NGV is privaat mediese sorg se dae getel.

    Die Britte se N.H.S. is gebaseer op ’n populasie met 50.83 miljoen mense bo die ouderdom van 20 jaar, insluitende pensionarisse. 31 miljoen betaal belasting. 64% van die VK bevolking dra by tot die land se ekonomie. Jy kan dit nie met die Suid-Afrika vergelyk nie. Dan het ek nog nie eens die gemiddelde huishoudelike inkomste van belastingbetalers vergelyk met Suid-Afrika nie. Die VK is ’n ryk land. RSA is nie.

    Rykes gaan minder hê om op mediese sorg te spandeer. Private mediese instansies gaan kwyn. Die spesialiste gaan waai (hulle doen dit reeds – die “rykes” gaan oorsee om mediese beroepe te volg want hulle kry nie studietoelating by plaaslike universiteite nie). Die rykes se menswaardigheid gaan verminder en die armes (gewone mense in jou taal) se menswaardigheid gaan dieselfde bly indien dit nie óók verminder nie.

    Daar is té min rykes in die land om armes ryker te maak. In Maart 2018 was daar 21 miljoen belastingbetalers waarvan slegs 6.4 miljoen beglasing opgawes moes verskaf. Net 4.9 miljoen het dit wel gedoen. 64.8% van alle belasting kom uit die sakke van individue (persoonlike belasting) waarvan 96.4% salaristrekkers is wat op hulle beurt die arbeidsmag is wat die korporatiewe wêreld dryf. Húlle is die mense wat die land se ekonomie laat tik.
    Watter porsie van korporatiewe belasting kom ook uit die sakke van verbruikers? Die rykes is die verbruikers wat die meeste bydra. Met NGV sal rykes minder geld hê om te spandeer, wat minder korporatiewe winste beteken, wat minder korporatiewe belasting beteken, wat minder werkgeleenthede beteken. Op die ou end ly die armes die meeste want die hele inkomsteketting word minder van bo tot onder. Lees ook “kaskade-effek”.

    Meer menswaardigheid vir almal? Ek dink nie so nie. Jy kan nie vyf brode en twee vissies onder ’n massa “gewone mense” verdeel en dink hulle gaan beter mediese sorg hê nie. Die staat dink wel hulle is Jesus maar hulle is nie. Die enigste wonderwerk is dat die massas na ’n kwart-eeu se mislukkings steeds vir hom stem. Of is dit? Stem hulle nie maar net vir ’n valse Robin Hood-ideologie wat sinspeel op ’n “haves vs have nots” konsep nie? Hulle, soos jy, maak van dit ’n emosionele in stede van ’n rasionele saak.

    As jy die massas se menswaardigheid wil verbeter, gebruik jou verstand en verbeter die ekonomie. Vra maar die oudlede van die Sowjetunie (die wat dit oorleef het). Verdeel jy rykdom gelykop is ALMAL se menswaardigheid daarmee heen.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dit sukkel maar om die emosie uit hierdie onderwerp te haal. Daarom hierdie opmerkings dat mense 'n les geleer moet word. Die privaat mediese dienste is nie ontwikkel om 50 miljoen mense te kan bedien nie. Ek glo nie vir een oomblik die regering het die kundigheid om die NGV te bestuur nie. Presies soos wat dit ook nie die kundigheid het om Eskom, Prasa, die Poskantoor ens. te bestuur nie. Wat werklik skok, is hoe die NGV toetslopies misluk het. Nogtans wil die regering die saak hardnekkig deurdruk. Dit gaan nie slaag nie. Die regering moet ophou om in te meng in die privaatsektor. Ongetwyfeld gaan die NGV baie mense hulle werk laat verloor, terwyl die kaders op die soustrein gaan klim en groot kontrakte aan hulself toeken. Op die ou einde gaan die hele land armer daaraan toe wees, en die kundiges gaan vlug uit die idiotiese land wat hulle op elke manier probeer beheer en reguleer. Bykans elke diens wat die regering veronderstel is om te lewer, het 'n privaat ekwivalent. Wat gaan die regering volgende voorstel? Dat privaatsekuriteitfirmas die polisie se funksies oorneem? Omdat die polisie onbekwaam is?

    As die regering nie 'n hospitaal kan bestuur nie, hoe gaan dit 'n ingewikkelde onderneming soos die NGV bestuur?

  • Avatar
    Spook Speurder

    Ja Swaer, slaan die spyker op die kop met ‘4. Nou wil hulle met mag en mening mediese fondsreserwes steel.’ Menswaardigheid tel jy nie aan jou hoeveelheid en kwalitiet pleisters en pille nie, dit kom van binne af. Die propaganda apparatchik het die ideë uit die weg probeer maak deur dit te wil kaap. Kom ons praat eerder van menswaardige diens lewer. Ons regering is onmenswaardig, uit en uit.

    Hoekom word hul dan weer ingestem? Hoekom? Want hulle stemmers haat Apartheid? Ek glo nie so nie maar eerder omdat daar nie so iets soos "voorheen agtergeblewes" is nie maar wel duidelik meer en minder agtergeblewe kulture. As ons aanhou weier om van die feit sin te begin maak bly ons op Chaos Verlore se stasie saam met die sg agtergeblewes.

    Ek is moeg daarvoor om die wêreld deur 'n Neo-Marxistiese donnerse bril aan te gluur, want so is dit onmoontlik om die land, met of sonder sy bure, in 'n gesonde sosiale gemeenskap in te vorm, wat voortstrewend, buite huidige leiers se koppe en inmenging, menswaardigheid reëel en vry kan nastreef.

    Dr. Albert Schweitzer (1875-1965) het gekies om in sentrale Afrika te praktiseer, het 'n hospitaal daar laat bou en is daar oorlede. Hy het die gemeente daar vir 'n aalmoes met menswaardige mediese diens bedien. Die apartheidsregering het ook so opgetree. Lees bietjie wat hy oor daai mense kwytgeraak het – oppas, hy was nie polities verkeerd gehalssnoer nie.

    Op watse agtergeblewenes stasie was die Afrikaners nie in 1946 toe die ANC die SAKP gejoin het nie? Dink jy hulle het daar gesit en wag tot die goeie nuus van nuwe hospitale fluit-fluit ingestoom het? Blade Nzimande het mos gesê hy wil hoor hoe ons dit gedoen het. Hy het seker na Westerse beskawing verwys.

  • Avatar
    Spook Speurder

    Ja Swaer slaan die spyker op die kop met "4..nou wil hulle met mag en mening mediese fonds reserwes steel".
    Menswaardigheid tel jy nie aan jou hoeveelheid en kwalitiet pleisters en pille nie, dit kom van binne af. Die propaganda apparatchik het die ideë uit die weg probeer maak deur dit te kaap.

    Kom ons praat eerder van menswaardige diens lewer. Wat ons seker maar moet begin besef is dat die regering nie daarvoor beskore is of in staat toe is of wil wees nie. Wat menswaardige gesondheid betref sal dit nie 'n positiewe gesprek begin nie, op 'n menswaardige gesprek uitloop nie?
    Hoekom sal ons ons verder aan die wil en die nihilistiese Tweespraak van mense onderwerp? Die Post-Modernistiese Neo-Marxistiese taalstoters verlei ons aspris. Hulle is min met jou geluk gepla.
    As ons nie bereid is om te erken dat mense en hul benodigdhede, hul geskiedenisse en kulture verskil nie, soos ek en jy van mekaar verskil nie, het ons eintlik geen grondige gesprek nie. Dan speel ons tennis, en onderlangse oorlog, met kernlose woorde soos die voosgebruikte ‘gelykheid’.
    'n Gesonde nie-sosialistiese sisteem, waarin elke mens in party opsigte eerste gestel word, kan nie daaruit nie maar net teen onkunde ontwikkel, daarom die dwarstrekkers teen die NGV geldmaak skema.

    Barend stel dit duidelik. Hierdie regering kan nie eers minderheidsgroepe hul gelyke reg bedien nie. Huidiglik is konsensus eerder deur die regering verban. Onder regerings wêreldwyd sien die eienaardige verskynsel selde die lig, gepraat van menswaardig wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top