- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
........
Op 5 November gaan Amerikaners wat nie alreeds gestem het nie, hulle kruisie in die 2024-verkiesing maak.
Hoe belangrik is hierdie verkiesing?
........
Op 5 November gaan Amerikaners wat nie alreeds gestem het nie, hulle kruisie in die 2024-verkiesing maak.
Hoe belangrik is hierdie verkiesing?
Om ’n aanduiding te gee: Elon Musk het belowe dat hy elke dag een miljoen dollar in ’n tipe lotery sal uitdeel aan persone wat registreer om in daardie state te stem waar die stryd tussen die twee kandidate die felste is. Hy doen dit natuurlik met die hoop dat hy meer Republikeine kan kry om te registreer om te stem. Potensieel kan dit beteken dat hy teen verkiesingsdag 17 miljoen dollar armer gaan wees. Dis nou bo en behalwe die 46 miljoen dollar wat hy alreeds aan Trump se veldtog bestee het. Dalk is dit hoekom hy so desperaat was om sy Optimus-robot aan die wêreld bekend te stel voor dit heeltemal gereed was? Daily Maverick berig dat groot dele van Optimus se interaksie met die publiek tydens die bekendstelling van ’n afstand deur mense beheer is.
Musk is nie die enigste miljardêr in Silicon Valley wat groot geld bestee om Trump in beheer te kry nie. Hoekom? Soos Zuma is Trump slu, korrup, maklik beïnvloedbaar en met geen respek vir die regbank of menseregte nie. Dit gaan nie net oor belastingvoordele vir die VSA se superrykes nie, dit gaan daaroor dat Trump omkoopbaar is, en sal doen wat hy wil teen die regte prys. Ek is nie eens regtig seker dat Trump in wese ’n rassis is nie. As hy genoeg geld uit Black Lives Matter kon maak, sou hy dit voorstaan. So ’n beginsellose persoon in beheer van Amerika se kernbomme is ’n angswekkende gedagte.
Harris, daarenteen, is meer beginselvas, minder beheerbaar en boonop ’n vrou. Die Republikeinse obsessie daarmee om vroue te beheer is behoorlik gedokumenteer. Projek 2025, die dokument wat wyd beskou word as die handboek waarmee Trump sal regeer as hy wen, maak dit duidelik dat vroue en swart mense se regte so vinnig as moontlik weggeneem sal word. Trump self het openlik gesê hy sal op Dag Een ’n diktator wees. Hy het bewys hy het geen probleem daarmee om die weermag te gebruik op ’n manier wat oneties en onwettig is nie.
..........
Wat maak dit saak vir ons in Suid-Afrika wat in Amerika aangaan? Dis nie net hulle binnelandse beleid wat probleme gaan veroorsaak nie. Ook buitelandse beleid wat ons wel gaan beïnvloed, word bepaal deur die prioriteite van die verkose president.
............
Wat maak dit saak vir ons in Suid-Afrika wat in Amerika aangaan? Dis nie net hulle binnelandse beleid wat probleme gaan veroorsaak nie. Ook buitelandse beleid wat ons wel gaan beïnvloed, word bepaal deur die prioriteite van die verkose president. Het ons vergeet dat hy laas ’n handsakontwerper met geen diplomatieke agtergrond, kennis of belangstelling nie aangestel het as ambassadeur na Suid-Afrika? Het ons vergeet dat hy die VSA uit die VN wou onttrek?
Die enigste moontlike ligpunt aan ’n Trump-presidentskap is dat hy waarskynlik nie oorlog teen Poetin sal verklaar nie. Dis slegte nuus vir Oekraïne, maar dalk goeie nuus in soverre dit een minder brandpunt is om die Derde Wêreldoorlog te ontlont.
Trump is onvoorspelbaar, en dit maak hom gevaarlik. Gee my enige dag eerder ’n kalm, beredeneerde, eerbare Kamala Harris. Maar hoe nader dit aan die verkiesing kom, hoe duideliker word dit dat baie Amerikaners glad nie aan die lang termyn dink, aan buitelandse beleid of selfs tot watter mate Trump se binnelandse beleid hulle gaan benadeel nie. Solank daar ’n wit man in beheer is, is hulle gelukkig.
Wat hulle nie besef nie, is dat dit slegte nuus is vir enigeen wat ook nie ’n wit, heteroseksuele man is nie. Dit sluit vroue in, dwarsoor die wêreld. ’n Trump-presidentskap gaan nie noodwendig ’n probleem hê met verkragting as ’n oorlogsmisdaad, of geweld as ’n politieke strategie binnelands nie.
Terwyl ek hoop vir Harris as president, begin ek al meer vrees dat Trump, om redes wat niks met sy bevoegdheid om die pos te beklee te doen het nie, gaan wen.
Ons almal verloor as Harris verloor.
Lees ook:
Wat sê Bettina? – Wat beteken die tweede Trump-sluipmoordpoging vir sy verkiesingsveldtog?
Kommentaar
Dit is vir my gladnie so duidelik wie gaan wen nie. Maar benewens dit, dink ek ook nie dit is juis belangrik wie wen nie. Wat maak dit saak? Die bekende uitdrukking lui, left wing, right wing, same bird. Onlangs blaai ek so bietjie rond op joetjoep en gaan kyk wat praat die klomp by Afriforum. Praat ou doktor Ernst Roets daar in een van sy videos van die 'Vote mind virus'. Dit is gebou op die uitdrukking 'Woke mind virus' van die konserwatiewes. Maar dit gaan in kort daaroor dat die wereld 'n siekte het. Dis die siekte genaamd: die regering moet. Die regering moet probleme oplos. Die politici moet die land verander. As ons net nuwe leiers kan kry, sal dit beter gaan. En, gebeur dit ooit? Suid-Afrika het strukturele probleme wat geen politikus kan oplos nie. Die GNU gaan nie die armoede oplos nie. Of die werkloosheid nie. Inteendeel vermoed ek die GNU gaan die ongelykhede laat vererger. Of mens nou hou van die Soliforum lot of nie, hulle vermag veel met hulle 'ons sal self' aanslag. Andere kan maar gerus daarby leer, en bietjie minder aan politici se lippe hang. Die politici is nie net geensins daartoe in staat om probleme op te los nie, dis erger as dit, veel veel erger, die politici veroorsaak eintlik baie van die probleme. Staatskaping het nie vanself gebeur nie. Dit is aangehelp deur wetgewing soos SEB wat die vergrype moontlik gemaak het. SEB gee 'n klein groepie mense toegang tot bronne, alles onder die dekmantel van 'transformasie'. Soveel as wat ek met Roets oor 10 000 ander dinge verskil, stem ek nogal saam met hom en andere, dat die fiksasie op politici help nie. Wag vir die regering om iets te doen, en jy gaan wag tot die koeie huis toe kom. Mens kan Roets se videotjie hier kyk:
https://www.youtube.com/watch?v=yWVbkoiJI0Y
Trump was al president, en die wereld het net voorwaarts gestoomroller. Ek koop ook nie die rassisme aanklag nie. Hoewel elke dorp op aarde gewis 'n kwota rassiste het, en altyd sal he, het die VSA se witmense darem ook twee keer vir Obama help instem in die Withuis in. Mense het maar hulle redes hoekom hulle stem soos hulle stem, en Harris sukkel glo juis om steun te wen by swart Amerikaners, veral mans.. Blykbaar lyk dinge goed vir Trump op die stadium, maar volgens 'n onderhoud wat Freek Robinson hier op Litnet gevoer het met Chris Opperman, is dit moontlik dat baie kiessers nie hulle ware gevoelens in meningspeilings openbaar nie. En baie republikeine mag dalk teen Trump stem op stemdag. Veral vroue. Robinson se onderhou is by die skakel:
https://www.litnet.co.za/wat-hou-die-verkiesing-in-die-vsa-vir-suid-afrika-in/
Harris en Trump is albei pro-Israel. Ongeag wie wen, hulle doelwitte sal dieselfde wees, net maar die manier hoe hulle daarby wil uitkom, sal verskil. Harris se kritici se grootste wapen skyn te wees president Biden. Daar word gese Harris as president sal maar net 'n voorsetting van die Biden administrasie wees.
Die Afrikaners het ook vir dekades hulle politici aanbid. Vir Verwoerd veral. En al wat dit hulle gebring het was muishondstatus. Desentralisasie bring hoop. Suid-Afrika se sentrale regering is besig om te faal. Die infrastruktuur. Die paaie. Die water in Gauteng gaan een of ander tyd opraak, en ander dorpe en stede gaan ook in daai voetspore volg. Menige plattelandse dorpe gee mense reeds 'n distopiese gevoel as hulle daardeur ry. Die politici gaan nie enige probleme oplos nie. Nuwe krisisse gaan vir hulle net nuwe geleenthede skep om mag te bekom. Mekaar te verwyt. Modder te gooi. So, mens kan eerder betrokke raak by 'n NGO as by 'n politieke party, en mens sal veel meer bereik.