’n Ontleding van die Amerikaanse presidentsdebat

  • 3

1.

Die presidentsdebat tussen visepresident Kamala Harris en oudpresident Donald Trump maak ’n hele rits gewaarwordinge by my wakker. Sommige van hierdie gewaarwordinge kan ek aanbied as sleutels vir die priemende leser om die verkiesingstryd mee te benader.

’n Reeks presidentsdebatte waaraan dit my herinner het, was die beroemde debatte tussen Richard Nixon en JF Kennedy in 1960. Die verskil in aanslag van die debatteerders vertel veel omtrent die veranderde waardes tussen nou en toe. Nou is die debat ’n gladiatorspel, waarin sommige kodes van kontaksport duidelik afgemerk staan. Kontaksport was nog altyd met ons, van Romeinse tye af, maar dit is eers in die dekades sedert 1960 dat dit die vernaamste televisieskouspel wêreldwyd geword het. Politiek kan sy hoed agterna gooi, en doen dit ook met graagte deesdae.

Die respekvolle erns is by beide Nixon en Kennedy te bespeur, asof hulle uit die katkisasieklas gekom het. Waarvoor was hierdie respek, wat by Harris en Trump nie te bespeur was nie? Dit was die erns van selfaanbieding. Die idee dat media ’n buffer tussen jou en die publiek kan vorm, was nog nie die kwade deel van die spel wat dit vandag is nie.

Die bykanse afwesigheid van aggressiewe retoriek by Nixon-hulle is opvallend vergeleke met Trump en Harris. In laasgenoemde geval het die retoriek bykans heeltemal van Trump af gekom en die volle onus van fatsoenlikheid het op die stylvolle Harris geval. Trump het soos ’n disintegrerende bepruikte nar die Engelse grammatika aan haar stertvere probeer rondpluk in ’n poging om sy wisselvallige grepe op die moderne politiek te kommunikeer.

Retoriek, sinisme, en sofisme was sy mondering. Harris het die debat gewen gewoon omdat sy in ’n groter mate egtheid uitgestraal het. Die verkiesing is haar erns, terwyl dit Trump is wat Trump se erns is. Hy het nie goed gelyk met sy dun lippe so verbete saamgepers en stroef onder ’n yl wollerigheid nie. Amper soos ’n muisval wat ’n geheim ingesluk het.

Hy was die beliggaming van oneweredigheid. Jammer om te sê. En daardie kenmerk het sy verbale aanbod ook by uitstek getipeer.

Harris het haarself, soos Trump, soms in die rede geval, wat angstigheid by beide verraai het, maar Harris se argumente het vorm gehad – begin, middel en einde. En sy kon die lyne weer optel en deurvoer waar sy dit tydelik verloor het. Trump selde. Sy aandag het verstrooi oorgekom.

Sy is ook ’n meester van die gesigsuitdrukking as grammatika. Sy het daarin geslaag om aan te hou om woordlose kommentaar te lewer, al was dit nie haar spreukbeurt nie. En boonop met elegante registerwisselinge, humor, sowel as goedgeplaaste nydigheid. ’n Glimlag wat afwysend flits, wenkbroue wat in verbasing lig, en weer lig, ’n bitter trek om die mondhoeke wat die aandag geplaas het op onsinnighede wat haar opponent kwytraak. Die kamerawerk was uitstekend – die manier waarop dit die luisterende kandidaat ook afgeneem het terwyl die ander een praat.

Sou dit kon beteken dat sy in diplomasie ook meer as een taalspel gelyktydig sal kan behartig? Waarskynlik. Trump waarskynlik nie. Die monoliet versus die gimnas.

Harris sou nie sleg gevaar het in die hoofrol van ’n rolprent vir doofstomme kinders nie. Wat dalk iets sê oor die Amerikaanse kieser.

Om saam te vat, vergeleke met 1960: Die televisiedebat beklemtoon die spel-aard van debat, en die debat self, nie soseer meer dit waarna die debat verwys nie, naamlik die politiek daarbuite. Soos gesê, het die presidentsdebat ’n sportsoort geword. En die rede hiervoor is die aard van media.

2.

Dit het opgeval dat een van die verskille tussen Trump en Harris is hoe Trump dink in terme van sentrismes en essensialismes. Harris praat in terme van relasies: tússen die ekonomie en die burgery; tússen die kleinbesigheidspersoon en die ekonomie; en so meer. Vir Trump is heersende waardes in bepaalde vaste punte geleë: “die kommunisme”; “die immigrante”; en so meer. Laasgenoemde is ’n baie ou manier van dink, en hou gewoonlik ook verband met fundamentalistiese uitkyke op die lewe. Die soeklig val dan nié op die relasie tussen die ekonomie en immigrante nie, net op “die immigrante”. Dit is ’n manier van dink wat swart-en-wit denke baie waarskynliker maak. Die verloëning van die wesenlike kompleksiteit van politiek hierin spreek boekdele en is ’n bewys van hierdie kandidaat se onbevoegdheid vir die pos van president in 2024.     

Indien Trump in terme van relasies gedink het, sou deelnemende partye in daardie relasies nie vir hom permanente en vasgestelde identiteite gehad het nie, en sou die etiese komponent wat beoordeel moet word, meer as een kant moes hê. ’n Waarnemer kan teruggaan na die basisvraag: Waarom is daar hoegenaamd immigrante uit Suid-Amerika in die VSA? Die antwoord is eenvoudig: Omdat die VSA se ekonomie op bepaalde tye en in bepaalde sektore daardie immigrante nodig gehad het as werkers.

Indien enige party dus skuldig is aan die immigrante se teenwoordigheid in die VSA, staan die VSA se ekonomiese behoeftes in die dekades wat verby is, heel boaan die lys! Die punt is dat ekonomie, wat saamgestel is uit relasies, meer as ooit in die laatmoderne tyd gedefinieer staan in terme van daardie relasies. Dit is verskuiwende relasies, waarin niemand ’n vasgestelde identiteit het nie, want dieselfde persoon (of agent) se identiteit sal verskil van relasie tot relasie. Die logika van demonisering en sondeboksoekery berus integraal op die aanname van vasgestelde identiteite. Wat ’n verkeerde aanname is.

Die versoeking is gevolglik daar vir enige artikelskrywer (soos ek self) om Trump van onverdunde domheid te beskuldig, maar selfs hy moet die voordeel gegun word om beoordeel te word in terme van die verskuiwende lig. En hy mag onder die druk van omstandighede sy menings in die toekoms verander.

3.

Hierdie verskil oor dink in terme van essensies en dink in terme van relasies verklap veel oor die verskil in die twee kandidate se steunbasisse. Fundamentalistiese Amerika steun vir Trump, en die meer denkende, byderwetse dinkstande steun waarskynlik vir Harris.

’n Mens sou kon praat van die pendelaard van eietydse denke wat te staan gekom het teen die “dingesourusse”. Hierdie waarneming verraai meer as net my eie negatiewe oordeel oor Trump. Dit sê iets oor die mate waarin Trump in voeling met sy steunbasis is, en hoe hy daardie mense “speel”. Effektief, is die enigste woord daarvoor. Maar nie meer effektief as wat Harris was met haar eie steunbasis nie.

Wat hier verlore raak, is ’n gesonde marge van intersubjektiwiteit. Dit is media 2024 op sy beste: “Alle nuus is vals én waar.” En dit is ’n boodskap wat die besorgde kyker bekommerd moet laat.

4.

Een van die verskille tussen die genoemde presidentsdebatte van die 1960’s en die Harris-Trump-debat is die voortdurende verwysing na gedeelde aanvaardings in eersgenoemde, en juis die afwesigheid van staanplek vir gedeelde aanvaardings tussen Harris en Trump. Trouens die woord lies (leuens) is verskeie male deur beide antagoniste gebruik om die ander een se argumente te kenmerk. Harris het dit meer suksesvol gedoen, want tussen haar en die aanbieders het dit duidelik geword dat Trump hoorsê as feite inspan (soos in sy bewering oor immigrante wat “bodem-Amerikaners” se troeteldiere eet). Die punt is dat debatsantagoniste gedeelde grond, soos “patriotisme”, moet kan opsoek ten einde aan die debattering ’n omskrewe ruimte te gee. Min daarvan was by Harris en Trump aanwesig gewees.

Wat kan mens hieruit aflei?

Mens kan aflei (a) dat die polarisasie in die Amerikaanse samelewing veel sterker is by Harris en Trump as by Nixon en Kennedy (waar gedeelde waardes nog sterk was).

Mens kan aflei (b) dat retoriek die plek van waarheid ingeneem het (wat verband hou met wat ek hier bo “intersubjektiwiteit” noem).

As mens dan (a) en (b) bymekaar sit, is daar twee gevolgtrekkings wat mens kan  maak: een wat met die veld van rasionaliteit te make het, en een wat met die veld van die irrasionele verband hou. (Laasgenoemde sal ek in 6 hier onder bespreek.)

Wat die rasionele gevolgtrekking betref: Dalk het moderne samelewings te veel in sommige waardes ten koste van ander waardes belê. Een so ’n waarde is demokrasie.

Demokrasie as waarde op sy eie kan geen moderne samelewing op die spoor hou nie. Dit is ’n waarde wat in spanning met ander waardes moet opereer. Nog so ’n waarde wat dalk te veel klem gekry het, is kapitalisme. Ook hierdie waarde moet met ander waardes saam opereer. Net so die waarde vryheid.

As teenstrydige waardes saam moet opereer en begin faal het om dit behoorlik te doen, beteken dit dat die waardes se “negatiewe” omskrywing, die grense van inperking ter sprake vir elke waarde, herbesoek en herdefinieer moet word. Die waardes wat oënskynlik in Amerika begin verlore raak het in hierdie veld van plurale waardespel, sluit in sosiale geregtigheid, einste vryheid, openheid, en outentisiteit.

Buiten die kwessie van “negatiewe” omskrywing van waardes wat teenstellend saam moet opereer, is daar die kwessie dat waardes metafories benader moet word. Alle waardes is figuratief, ook die waarde letterlikheid.

My raaiskoot is dat populistiese Amerika, die sentrum van “dinglikheid” – dinglikheid wat so op stelte geplaas word deur die verbruikerskultuur – in ’n krisis verkeer oor niks minder nie as “Wat is die aard van betekenisse?”. Met ander woorde, dit is ’n vertolkingskrisis. Is betekenisse in hulself iets, of lê ’n betekenis binne homself sowel as buite homself?     

Hierdie vertolkingskrisis hou verder verband met ’n gesagskrisis, of werk ’n gesagskrisis in die hand.

Dat ’n niewit vrou die uitvoerende gesag kan bekom, die hoof van byvoorbeeld die weermag kan word, is een van die beste situasies waaraan ek kan dink om ’n hervertolking op breë basis af te dwing oor wat die rol van waardes is, en wat ons met gesag moet bedoel. Ek hoop dus van harte Harris word wel president.

En sy sal ’n president wees wat saamgestel sal wees uit allerlei partikulariteite, soos vrou-wees, wat sal toon dat mens nie by die alles-gedeelde of die universele kan uitkom vanuit enige ander plek as – juis, slégs – die partikuliere nie.

Trump se minagting vir Harris as vrou en partikuliere identiteit spreek uit die feit dat hy haar nie een maal (sover ek kan onthou nie) by haar naam geïdentifiseer het nie. Dit was maar altyd “she” of “her”.

5.

Dat samelewings in hul samestelling slegs vanuit die partikuliere aankom tot in die gemeenskaplike, het allerlei implikasies vir die politiek, veral vir diep verdeelde samelewings soos die VSA en Suid-Afrika.

6.

Dit het my gedurende die debat opgeval hoe dikwels Trump sy toevlug neem tot die geloofmodus, in teenstelling met die redenerende modus. Met “geloofmodus” bedoel ek die blote aanvaardings behorende tot sy lewensuitkyk en dié van sy steunbasis.

Die geloofsmodus (ek verwys nie na religie nie, maar ’n struktuur van dink) is ’n modus waarin die beskerming van die self top prioriteit is, in teenstelling met die strewe om gemene grond met antagoniste te vind. Laasgenoemde berus op ’n modus van beredenering, wat selfrefleksie en -kritiek kan bekostig. Laasgenoemde modus is by uitstek deur Harris verteenwoordig.

Sover ek kan onthou, was Harris die enigste een wat die woord “moraliteit” ter sprake gebring het, ’n woord wat ten diepste met redenasie en gemene-grond-soeke verband hou.

Maar selfs sy het aangaande die suiwer morele gekompromitteer. In die debat rondom aborsieregte byvoorbeeld het sy nie soseer gefokus op die individu se onaanraakbare reg om oor haar eie liggaam te besluit nie, maar eerder op die praktiese sake daarrondom, en op die empatiese dimensie van lydingsvermindering van vroue in nood.   

 7.

Die debat was in wese ’n krytgeveg tussen die atavistiese (deur Trump verteenwoordig) en die burgerlike (deur Harris verteenwoordig).         

Lees ook:

Eerste regstreekse debat tussen Trump en Harris

  • 3

Kommentaar

  • Sjoe, ek hierdie ontleding geniet - sy intellektuele en beredeneerde grondslag, asook die verstommende taalkompetensie van Naude. Nou het ek 'n lang lys beskaafde argumente waarmee ek familie en vriende wat Trump-aanhangers is, kan laat les opsê. Tot nou toe het ek oorwegend staatgemaak op die befaamde rolprentakeur se ontleding. Ek glo dis wyd bekend...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top