Waarom KI in die klaskamer aanwend? ’n Onderhoud met Riaan van der Bergh

  • 1

Foto: Canva

Riaan van der Bergh, FEDSAS se Adjunk- Uitvoerende Hoof en Bestuurder van die Sentrum vir Tegnologie, praat met Naomi Meyer oor KI in skole.

Riaan, die nuwe skooljaar begin hierdie week. Ek het verlede week in ’n RSG-onderhoud gehoor dat jy praat oor die gebruik van KI in die klaskamer. Elijah Mhlanga van die Departement van Basiese Onderwys sê dis nog te vroeg om ’n beleid te vestig en amptelike gesprekke moet nog gevoer word.

Die realiteit is dat KI hier is, dit is hier om te bly en daar is reeds baie gebruikers daarvan in Suid-Afrika. Sommige statistieke plaas ons in die top-10-gebruikers in die wêreld. Selfs leerders gebruik dit. FEDSAS se standpunt is om die nuwe tegnologie te omhels en die moeilike gesprekke daaroor te hê, eerder as dit net verban. Ek dink dat KI ’n ingrypende effek op onderwys kan hê en baie aspekte van onderwys kan beïnvloed. Van die invloed is positief en van die invloed kan as negatief gesien word. Ons moet egter die risiko’s identifiseer en bestuur.

Alles wat ek lees en luister en dit wat op konferensies (plaaslik en internasionaal) gemeld word, is dat hierdie ’n wesenlike impak op onderwys kan en gaan hê. Die hulpmiddel vir onderwysers, die tutor vir leerders, die persoonlike leeraspek vir groepe, die verandering in loopbane, die benodigde vaardighede van die toekoms en die moontlike verandering in assessering word konstant op die tafel geplaas.

............
Die vinnige vooruitgang met KI plaas nie die kollig op die nuwe nie; daar was altyd nuwe dinge. Dit gooi egter die kollig op die spoed van verandering.
............

Die vinnige vooruitgang met KI plaas nie die kollig op die nuwe nie; daar was altyd nuwe dinge. Dit gooi egter die kollig op die spoed van verandering. Sedert die bekendstelling van ChatGPT het die aantal KI’s en die vermoëns van die tegnologie radikaal verhoog en uitgebrei. Die spoed waarteen die veranderinge plaasvind is te vinnig vir die praktyk, om nie te praat van beleid nie, om op te vang. Al kan die departement nie beleid daarstel nie, moet daar minstens leiding gegee word en dan moet skole ook kyk na hulle eie beleid of praktyk met hierdie nuwe gereedskap. 

KI kan, uit ’n regsoogpunt, as ’n soort sui generis-skepping beskou word, iets unieks – of hoe? Ons regstelsel het in die algemeen nog nie klinkklare regulasies hieromtrent ontwikkel nie. Om te oorvereenvoudig: ons regstelsel se houding sal wees dat daar kopieregskending sal plaasvind as KI-skryfwerk voorgehou word as ’n mens se eie werk. ’n Kind mag dus nie vir KI vra om ’n opstel namens hom te skryf en dit dan indien as sy eie werk nie. Ek lees op Netwerk24 dat jy voorstelle maak ten opsigte van sinvolle maniere hoedat leerders KI dan wel vir assessering kan gebruik (byvoorbeeld: selfassessering). Wat was jou voorstelle?

........
Die assesseringsmodel wat ons tans gebruik, is alreeds ’n geruime tyd onder bespreking. Is dit die beste manier om kennis en vaardigheid te toets?
........

Die assesseringsmodel wat ons tans gebruik, is alreeds ’n geruime tyd onder bespreking. Is dit die beste manier om kennis en vaardigheid te toets? Maak ons nie dalk ’n generasie van goeie “toetsskrywers” groot nie? Hoe assesseer ons insig en toepassing eerder as kennis of geheue? Met KI kan leerders vinnig ’n lang opstel skryf, of ’n toespraak skep, of selfs ’n wiskundeprobleem se antwoord kry. Die antwoorde is nou selfs makliker bekombaar as die “ou” dae toe ons gegoogle het. Dit is nog veel makliker as die dae toe ons in die biblioteek gaan antwoorde soek het. Die sektor moet dus kreatief raak met die wete dat leerders hierdie gereedskap tuis kan gebruik en nie sulke opdragte huis toe stuur nie. Verder kan daar dalk ’n opdrag wees wat juis insluit om die KI te gebruik en die leerproses om te swaai. ’n Voorbeeld is om ’n goeie versoek (prompt) te skep en die KI te vra om ’n leesstuk te skryf. Leerders moet dan die leesstuk evalueer en elke woord wat hulle nie verstaan nie, gaan naslaan om woordeskat uit te brei. Leerders moet navorsing gaan doen om die feitlike akkuraatheid van die KI-geskepte inligting te gaan toets. Daar is dus verskeie maniere om die KI in die proses te gebruik; nie om net die uitkoms van die opdrag af te lewer nie, maar om die leerproses om te swaai.

Verder kan leerders ’n baie persoonlike leerproses volg deur vrae te vra aan die KI oor spesifieke onderwerpe en die KI te gebruik as ’n tutor of leerassistent. Khan Academy het onlangs Khanmigo bekend gestel wat leerders soos ’n onderwyser begelei tydens huiswerksessies sonder om die antwoord te gee. Dit is nie net woorde op ’n skerm nie, maar ’n vriendelike stem wat gesprek voer.

..........
Assesserings om leer te bepaal en ook die regte punte toe te ken, gaan herbedink moet word. Oor plagiaat en gesprekke oor kopiereg of eie-werk moet ook ernstig besin word en daar dink ons die gesprek moet begin by waardes soos integriteit en verantwoordelikheid.
.............

Assesserings om leer te bepaal en ook die regte punte toe te ken, gaan herbedink moet word. Oor plagiaat en gesprekke oor kopiereg of eie-werk moet ook ernstig besin word en daar dink ons die gesprek moet begin by waardes soos integriteit en verantwoordelikheid. Ek het onlangs van ’n taalonderwysers gehoor dat sy in 2023 die grootste aantal puik opstelle vir ’n huiswerkopdrag ontvang het. Dit het in 20 jaar van skoolhou nog nooit so gelyk nie en sy het onmiddellik geweet die werk was nie die leerders se eie nie.

Ek hoor ook nou die oggend jy praat oor die radio oor hoe veral onderwysers KI in die klaskamer behoort aan te wend. Wat was jou voorstelle?

Daar is baie take wat die KI’s kan verrig om onderwysers te help. Hierdie stelsels het al ontwikkel tot onderwyshulpmiddels wat lesse binne sekondes skep oor enige onderwerp. Ek demonstreer gereeld Diffit aan onderwysers en hulle is verstom oor die hulpbronne wat dit genereer binne sekondes oor enige onderwerp, in die meeste tale en op verskillende graadvlakke. Dit skep dus lesse, skep leesstukke, skep vinnige multikeuse-vrae met antwoorde, som groot volumes teks op, analiseer data, verkort leesstukke, som selfs boeke op en skep die mooiste grafiek wat pasgemaak is vir ’n les sonder dat dit kopiereg oortree. Dit kan help om idees te genereer en kan selfs woordspeletjies en blokraaisels skep. Die kreatiwiteit van die onderwysers is die bepalende faktor wat die KI tot sy reg kan laat kom.

Die werklikheid is dat KI reeds deel is van ons lewens. Baie van ons vra reeds vir ’n KI-bot vir raad of wenke as ons ’n algemene taak afgehandel wil kry. Ons kan nie die bestaan van KI ignoreer nie. Die vraag is of KI uiteindelik ons, as mense, se bestaan gaan ignoreer. Sal KI, as dit dan nou onderwysers se rolle begin oorneem (soos in die geval van hierdie skool in Arizona waarna hier verwys word): uiteindelik mense kan vervang en menslike onderwysers hul werk laat verloor, in plaas daarvan om net die onderwysers se werkslading te verlig?

Ek is nie van die opinie dat KI onderwysers / mense sal kan vervang nie. Pistole het nie die polisie vervang nie. Die rol, die fokus en die aanwending van die onderwyser mag dalk verander.

...........
Ek is nie van die opinie dat KI onderwysers / mense sal kan vervang nie. Pistole het nie die polisie vervang nie. Die rol, die fokus en die aanwending van die onderwyser mag dalk verander.
............

Daar is wel ’n gesegde onder die onderwystegnoloë wat lui dat tegnologie nie onderwysers sal vervang nie, maar onderwysers wat tegnologie goed aanwend, onderwysers sal vervang wat dit nie doen nie. Dit is moeilik om te bepaal hoe groot die impak op die onderwysprofessie sal wees, maar in die korttermyn dink ek nie onderwysers gaan terugstaan vir ’n KI-model nie. Ek moet ook daarmee noem dat indien onderwysers bang is KI kan hulle vervang, dan behoort dit te gebeur. Ons benodig onderwysers wat vol selfvertroue die leerproses eien en ’n groter impak op leerders se lewe het as die punte op die rapport vir wiskunde, taal en wetenskap. KI gaan nooit daardie onderrigrol kan vervul nie.

........
Die mees beperkte hulpbron in skole is nie altyd geld nie, maar tyd. Onderwysers kan met meer tyd soveel meer vermag. As van daardie tydrowende take deur KI ondersteun kan word, sit ons tyd terug in die onderwyser se tydbank.
........

KI, soos die groot taalmodelle, is gereedskap in die hande van die onderwysers. Dit is nuttig, dit is kragtig en ook gevaarlik. Ons is baie gewoond aan regulasie met lisensies vir motorvoertuie, vuurwapens en vele ander. Ons moet net die regte riglyne en regulasies vir die onderwyssektor ontwerp om die maksimum voordeel met die minimum risiko te bewerk.

Die mees beperkte hulpbron in skole is nie altyd geld nie, maar tyd. Onderwysers kan met meer tyd soveel meer vermag. As van daardie tydrowende take deur KI ondersteun kan word, sit ons tyd terug in die onderwyser se tydbank.

In die tyd van Covid het baie welvarende skole in Suid-Afrika bloot voortgegaan met skoolgee omdat hulle en hul leerders tegnologie en hulpbronne tot hul beskikking gehad het. Die skole en leerders in gemeenskappe waar dit ekonomies swaar trek, het nie die tegnologie tot hul beskikking gehad nie. In skole wat nie die tegnologie kan bekostig nie: Sal KI werklik konstruktief aangewend kan word? Sal dit onderwysers of leerders ook hier kan help en kan toerus?

Dit is ’n puik vraag en die antwoord lê op verskeie vlakke. Eerstens kan KI tyd skep wat kapasiteit skep wat hulpbronne skep. Dit is juis die bottelnek van die sektor. Tweedens is daar ’n groot aantyging op die onderwyssektor en die befondsingsmodel. Dit is nodig om te verseker dat alle skole goeie internetkonneksie het en ook toegang tot gereedskap van die 21ste eeu. Ons leerders verdien toegang tot die gereedskap van ons era. Derdens dink ek ons (en die departement en regering) mis die geleentheid om die digitale brug te sien waar ons nou maklik die digitale skeiding sien. Ons is maklik om te sê dat vooruitgang duur is en daar nie geld is nie. Die realiteit is dat agteruitgang nog duurder is en daar is geld vir die huidige spandering; daar is nie NUWE geld nie.

............
Derdens dink ek ons (en die departement en regering) mis die geleentheid om die digitale brug te sien waar ons nou maklik die digitale skeiding sien. Ons is maklik om te sê dat vooruitgang duur is en daar nie geld is nie. Die realiteit is dat agteruitgang nog duurder is en daar is geld vir die huidige spandering; daar is nie nuwe geld nie.
............

Ons gaan ons aanwending moet verander en die digitale brug skep waar leerders op skaal na die beste wiskundeles kan kyk op iets soos YouTube. Waar miljoene leerders op hulle eie tyd na video’s kyk wat hulle belangstelling prikkel en leer stimuleer. Waar duisende leerders toegang kan kry tot die massa gratis leerhulpbronne op die internet, wat klassieke literatuur en goeie artikels insluit. Ons moet die brug bou terwyl ons die skeiding sien.

Dalk is hierdie KI-gereedskap juis ’n kritiese bestanddeel vir die resep wat ons nodig het om die probleme aan te spreek.

Lees ook:

Bela, stiefmoeder van noodgedwonge vernuwing

Kunsmatige intelligensie en die dekolonialisering van onderwys in Suid-Afrika

Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke

Toyota Stellenbosch Woordfees: Kunsmatige intelligensie en die tradisionele Universiteit (Netwerk24-gespreksreeks)

Tien etiese en praktiese gebruike van ChatGPT vir akademiese skryfwerk in Afrikaans

Besinning oor die ASSAf-paneelbespreking oor ChatGPT, assessering en hoër onderwys

Seen elsewhere: Marking undergraduate essays in the age of ChatGPT

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top