
Vredemaker deur Reggie Peace (Lux Verbi, 2025)
Titel: Vredemaker
Skrywer: Reggie Peace
Uitgewer: Lux Verbi (Junie 2025)
ISBN: 9780796323767
Epub ISBN: 9780796323774
Nog voor ek die boek begin lees, tref die agterblad se eerste sin my diep: “Ek is in ’n hok gebore ...”
Dis enkele dae nadat ’n vriend vertel het van sy ma se versorger wat só dankbaar is dat sy uiteindelik haar eie sinkhok gekry het, nadat haar mishandelaar van ’n man alles verkoop het en sy op straat moes slaap. Ek kry die gevoel die boek oor Reginald Hufkie – vandag bekend as die suksesvolle akteur en musikant Reggie Peace – gaan beslis oor die teenoorgestelde ervaring in daardie hok.
Ek lees verder: “Reginald was 13 jaar oud toe hy by die kinderhuis se voordeur gaan aanklop het. Hy wou nie langer in die hok saam met sy pa en broers bly nie. Hier kry hy vir die eerste keer sy eie bed en kan hy stort. Die kinderhuis bied hom stabiliteit en gou begin Reggie presteer.
......
Die boek volg sy lewe in die agterplaas, in ’n hopeloos te klein hok saam met broers en ouers ingedruk.
......
“Maar hy blv ontevrede met homself. Reggie sug voortdurend na erkenning en aanvaarding. Tot hy besef dat hy ’n keuse het: Kies die lewe, of kies ’n stadige dood.
“En dan verander Reggie se verhaal in een van hoop. Ondanks sy uitdagende kinderjare kry hy ’n kans om sy drome waar te maak en ’n beter lewe te bou. In sy aangrypende memoires beklemtoon Reggie die waarde van selfliefde, positiewe verandering en geestelike groei.
“Sy storie is een van swaarkry, maar wys ook dat uitdagings oorkom kan word en dat jy, met Christus aan jou sy, sterker anderkant kan uitkom.”
Reeds op die titelblad is daar getuigskrifte van wie Reggie is en hoe hy “die oergawe van ligmaak uit duisternis” het en hoe hy “een van die hardwerkendste en mees professionele spelers in ons bedryf” is.
Die boek volg sy lewe in die agterplaas, in ’n hopeloos te klein hok saam met broers en ouers ingedruk. Sy pa is die grootste deel van sy lewe aan alkohol en dwelms verslaaf en mishandel sy vrou en kinders. Reggie se ma word ook vasgevang in die greep van misbruik, maar sterf vroeg. Haar man nie lank na haar nie.
.......
Reggie se eerlikheid oor die gevoel wat kinders wat uit sulke gesinne kom, met hulle saamdra, ruk jou. Hy praat van goeie tye, “maar ek kan meestal net die slegte goed onthou. Die goed wat jou trauma word.”
.......
Reggie se eerlikheid oor die gevoel wat kinders wat uit sulke gesinne kom, met hulle saamdra, ruk jou. Hy praat van goeie tye, “maar ek kan meestal net die slegte goed onthou. Die goed wat jou trauma word.” Hy vertel hoe sy ouers se swaarkry hom verleë gemaak het; hoe dit hom laat voel het hy pas nêrens in nie – hy is ’n outsider en dit bring mee dat hy voel hy het nêrens om heen te gaan nie.
“Baie kinders se lewe word verwoes, soms onverwags, deur kinders by die skool, vriende en family members wat hulle afbreek met hulle woorde. Tog sal ek die woorde van die kinders by die skool enige tyd bo die familie s’n kies. In woorde lê krag, glo ek. Imagine ons lewe in ’n samelewing waar positivity en aanmoediging van ander en jouself die norm is.”
Daar is sprankies hoop: die goeie tye saam met sy vriende op laerskool; sy liefde vir hardloop; die positiewe effek wat skool en omgee-onderwysers op hom gehad het. Hierdie opmerking van hom dra groot gewig: “Ek kon ten minste met die meeste van die kinders se issues deal, maar hoe die onderwysers dit gedoen het, en nou nog doen, gaan my verstand te bowe. ‘Education is the most powerful weapon which you can use to change the world’ – dis die woorde van Nelson Mandela, ons voormalige president. Daai woorde dra soveel krag, maar imagine hoeveel kinders kry nie die beste education nie omdat onderwysers meestal moet sukkel met dissiplinêre issues in die klas.”
.......
Hy skryf reguit, uit sy gebeentes uit. Want dis hoe diep sy seer vasgegroei het.
.......
Die boek gaan nie oor fensie woordgebruik of om slim te wees nie. Hy herhaal baie gedagtes en jy kan vóél hoe swaar dit op hom rus. Hy skryf reguit, uit sy gebeentes uit. Want dis hoe diep sy seer vasgegroei het. En dis seer wat hy saam met hom graf toe sal neem.
Nadat ek die laaste bladsy gelees het, wou ek meer weet, en dit bring my by die stukkie oor hom op die Jakes Gerwel Stigting se webblad, waar dit vertel dat hy, hoewel hy ’n studiebeurs gekry het nadat hy die kinderhuis moes verlaat, nie met atletiek uitgeblink het nie, maar eerder as musikant, akteur en skrywer. “Teen die tyd dat hy sy Vervoerbestuursdiploma aan UJ voltooi het, was hy deel van baie van die universiteit se teaterproduksies. Hy was ook deel van ’n koor, Gospel Goes Beyond, en die hip-hop-duo Peacemaker. Voordat hy in 2015 gegradueer het, het hy ook as akteur gasverskynings op televisie gemaak.
“Talent ETC Artist Management het sy talent tydens sy universiteitsjare raakgesien en hom die geleentheid van ’n leeftyd gegee, om by hulle aan te sluit. Sedert hy universiteit verlaat het, het Reginald in baie films en TV-programme verskyn terwyl hy terselfdertyd sy musiek-, skryf- en praatloopbaan uitgebou het. Jy het hom dalk al gesien op Generations: The legacy, Huis Lelieveld, Desert rose, Swartwater, 7de Laan, Poena, die bekroonde film Cowboy Dan en, meer onlangs, sy eerste film as skrywer/akteur, Vlamme.
“In 2021 het hy ook sy eerste album vrygestel, genaamd Nuwe lewe. New life. Dit is immers waarna Reginald gestreef het. ’n Nuwe, beter lewe.”
Dis Frankie Opperman, regisseur en vervaardiger, se woorde waarmee ek die meeste saamstem: “Die wêreld kort meer mense soos hy.”
As meer mense wat in hokke grootword, se stories maar net só kan uitwerk. Intussen hoop ek hierdie boek word in elke jong kind se hand gedruk en word ’n bondeltjie hoop. ’n Lig in ’n baie donker tonnel wat flonker van hoop. ’n Goue medalje op die wêreldpodium wat haalbaar is vir elkeen as jy hard werk en in jouself glo. Soos Reggie gedoen het.
Lees ook:
Book review: Hoerkind by Herman Lategan is "a rare privilege"

