
Boekomslae: Die seun wat net wou dans deur Diana Ferrus; ’n Kans om te dans deur Gregory Maqoma en Gcina Mhlope; Elke tree tel deur Gregory Maqoma.
Boeke
- Die seun wat net wou dans deur Diana Ferrus en geïllustreer deur Archie Birch. (Ook in Engels beskikbaar as The boy who loved to dance.)
- ’n Kans om te dans deur Gregory Maqoma en Gcina Mhlope, geïllustreer deur Elizabeth Pulles. (Ook in Engels beskikbaar as The joy dancer, en ook in Xhosa en Zoeloe beskikbaar.)
- Elke tree tel deur Gregory Maqoma en geïllustreer deur Elizabeth Pulles. (Ook in Engels beskikbaar as One step at a time, en ook in Xhosa, Zoeloe, Pedi en Tsonga beskikbaar.)
Oorsig
Kinders het rolmodelle nodig. Die regte rolmodelle kan hulle motiveer en inspireer om drome na te jaag. Hierdie drome mag buite bereik en onmoontlik voel om te verwesenlik indien prentjies of televisie-insetsels van rolmodelle soos sportsterre, sangers en televisiepersoonlikhede se glanslewens al is wat jong bewonderaars van hulle weet of te siene kry. Hoe lyk hierdie sterre se paaie na sukses? Hoe het hulle dit reggekry?
Daar is te min boeke oor moontlike rolmodelle vir jong Afrikaanse lesers. Ná Springbok-seges is daar altyd nuwe Cheslin Kolbe’s en Faf de Klerks wat hulle smiddae by skoolrugby-oefeninge aanmeld – blink ogies vol drome.
........
Dit is hierdie soort boeke wat kan help om drome en hoop lewend te hou, aangesien die pad na sukses, danksy bekende of gemeenskaplike omstandighede en komvandaans, meer toeganklik kan voel.
........
Daar het wel onlangs drie boeke verskyn wat die inspirerende stories van twee dansers vertel. Dié boeke het my aangegryp en maak my opgewonde. Dit is hierdie soort boeke wat kan help om drome en hoop lewend te hou, aangesien die pad na sukses, danksy bekende of gemeenskaplike omstandighede en komvandaans, meer toeganklik kan voel.

.......
Jovaar Mosaval was ’n Moslem-seuntjie wat net wou dans, en hierdie prenteboek vertel sy lewensverhaal. Hy moes oor rasse- sowel as kulturele hekkies kom om sy droom na te jaag, maar sy passie vir ballet het gesorg dat hy van die Kaapse strate by verhoë van die Londense Koninklike Balletskool uitgekom het.
.......
In die dertigerjare van die vorige eeu in Distrik Ses was dit ongehoord vir ’n Moslem-seuntjie om te dans, wat nog te sê van ’n beroepsdanser word. Die seun wat net wou dans deur Diana Ferrus, toegelig met illustrasies deur Archie Birch en foto’s uit die hoofkarakter se private versameling, is onlangs by New Africa Books uitgegee. Jovaar Mosaval was ’n Moslem-seuntjie wat net wou dans, en hierdie prenteboek vertel sy lewensverhaal. Hy moes oor rasse- sowel as kulturele hekkies kom om sy droom na te jaag, maar sy passie vir ballet het gesorg dat hy van die Kaapse strate by verhoë van die Londense Koninklike Balletskool uitgekom het.
Jovaar se verhaal begin met ’n illustrasie van mansbene en manskoene met kleiner skoene bo-op. Menige ouer het al so met hulle kinders gedans. ’n Reeks illustrasies van ’n seun wat sy ma met huistake help, maar duidelik oral dansend of springend beweeg, sonder om ooit iets te breek. Jovaar het wel nie almal se ondersteuning gehad nie. Hy is op straat gespot: “Daar gaan die meisie, daar gaan die meisie, daar gaan die meisie wat in die rondte kan tol.” Aanvanklik het hy hom nie daaraan gesteur nie, na sy gimnastiekklasse toe gegaan en gereeld saam met ’n vriendin gedans. Soos hy ouer geword het, was daar egter meer druk van onderwysers, en ook van sy ouers, dat hy moet fokus op dinge waarmee hy ’n inkomste sou kon verdien. Hy was die oudste van tien kinders, dus is daar verwag dat hy moes help om die gesin te onderhou. Gereeld moes hy hoor: “Dans betaal nie!”
Ons lees hoe Jovaar dit reggekry het om raakgesien te word, watter struikelblokke hy te bowe moes kom, en hoe hy selfs by ’n teater ingesmokkel is om ’n oudisie te doen. Ferrus beskryf sy oudisiedans gevoelvol: “Daardie middag het hy oor die vloer gegly asof daar botter onder sy voete was. Hy het soos ’n voël gevlieg, en sag geland.” Birch se vinjet-illustrasies tussendeur Ferrus se beskrywings, aangevul met foto’s van Jovaar, gee lewe aan hierdie verhaal. Jovaar Mosaval dans as’t ware deur hierdie prenteboek.
Ferrus sit die storie voort waar Johaar, na 25 jaar in die buiteland, terugkeer na Suid-Afrika om terug te ploeg om die jong, blinkoog kinders van Suid-Afrika tot arabesk en pirouette en pas de deux te inspireer. Sy gaan wel voort om sy storie via sy vertellings aan kinders en sy jong studente te vertel.
Jovaar se jong gehoor hoor onder meer hoe die Moslem-gemeenskap destyds fondsinsamelings gehou het om vir sy reis na Londen te betaal. Hulle hoor hoe hy by die Koninklike Balletgeselskap aangesluit het en oor die wêreld heen gestudeer en gedans het en medaljes en toekennings bymekaargemaak het.
Die seun wat net wou dans is ’n baie mooi boek wat ek met ’n glimlag toegemaak het. Diana Ferrus het presies geweet watter grootte porsie om vir haar jong lesers aan te bied om hulle te boei. Sy skrik hulle nie af met swaar feite oor Johaar se uitdagings of die politiek van die tyd nie; sy slaag daarin om sy storie realisties dog lig en inspirerend te hou.

........
Nog ’n seuntjie wat van jongs af wou dans, is Gregory Maqoma. ’n Kans om te dans, geskryf deur hom en medeskrywer Gcina Mhlope, en in Afrikaans vertaal deur Anita van Zyl, vertel sy storie.
........
Nog ’n seuntjie wat van jongs af wou dans, is Gregory Maqoma. ’n Kans om te dans, geskryf deur hom en medeskrywer Gcina Mhlope, en in Afrikaans vertaal deur Anita van Zyl, vertel sy storie. Dis ’n outobiografiese prenteboek, in 2023 deur Jacana uitgegee, en geïllustreer deur Elizabeth Pulles, danksy wie ons onder andere weet hoe Lulama en haar kombers, Musa en Zoleka lyk.
Lesers leer Gregory ken as ’n vrolike seuntjie wat graag met sy maats in Soweto se strate speel. Oor naweke luister hy saam met sy pa na jazzmusiek. Sy pa se musiek en die rubbersteweldansers naby die manshostel maak hom gelukkig. “Eendag, dink hy, eendag gaan ek ’n beroemde danser wees.” Gregory hou wel nie van sokker nie, en omdat sy pa gevoel het hy moet een of ander soort oefening kry, reël hy dat Gregory by die marsorkes aansluit en die bastrom speel. Min het sy pa geweet dat sy betrokkenheid by die orkes en die trompoppies tot Gregory en twee vriende se eie dansgroep, The Joy Dancers, sou lei.
Oudisies en dansklasse volg, en Gregory word uiteindelik wel ’n suksesvolle danser en koreograaf en is vandag wêreldbekend. Pulles se kleurvolle en vrolike illustrasies van dansende kinders bekoor, en ek sou nie verbaas wees as jong gehore of lesers party van die geanimeerde danshoudings naboots en ’n paar spontane passies uitvoer nie.

.......
Nog ’n outobiografie, Elke tree tel, vertel Gregory Maqoma se verhaal in meer besonderhede en is in 2024 ... Die skrywer het duidelik besluit om meer vleis om die storiebene te sit – ’n groter porsie vir die ouer teikenmark.
......
Nog ’n outobiografie, Elke tree tel, vertel Gregory Maqoma se verhaal in meer besonderhede en is in 2024, ook deur Jacana, uitgegee. Hierdie selfleesboek vir lesers van nege tot twaalf jaar oud is ook deur Elizabeth Pulles geïllustreer en deur Anita van Zyl in Afrikaans vertaal. Gregory en die ander hoofkarakters lyk dus, dié keer in swart-en-wit, nes hulle in die prenteboek in kleur gelyk het.
Dis uit die staanspoor duidelik dat Gregory se storie oor musiek en dans gaan, maar dié keer leer die leser hom as Gregory Vuyani Maqoma ken. Die skrywer het duidelik besluit om meer vleis om die storiebene te sit – ’n groter porsie vir die ouer teikenmark. In die eerste hoofstuk blyk dit dat Gregory ’n effense spraakgebrek het. Sy pa laat hom, opsigtelik neerhalend, oefen om sy naam reg uit te spreek. Later verduidelik sy ouma aan hom wat sy name beteken. Sy eerste naam beteken “versigtig” en Vuyani beteken “gelukkig”. Daar word ook klem gelê op die feit dat hy ’n nasaat is van ’n hoofman wat vir geregtigheid baklei het.
Terwyl daar in die prenteboek slegs genoem word dat Gregory nie van sokker hou nie, hoor Gregory in hierdie boek in ’n hoofstuk oor sy teëspoed op die sokkerveld – sy pa skree: “Jy’s veronderstel om die bal te skop, nie daarmee te dans nie!” Gregory se belewing van opstande en betogings en boeliery, wat glad nie in die prenteboek genoem word nie, kry ook aandag. “‘Hoekom hardloop jy soos ’n meisie, Gwegory?’ ‘Jou idioot,’ koggel iemand anders. ‘Want hy is een!’” Dis duidelik dat Maqoma en sy uitgewers met groot sorg besluit het watter inhoud vir watter teikenmark ingesluit moet word.
........
Gregory Maqoma se verhaal wys aan kinders dat drome tot buitengewone avonture en meer kan lei.
........
Gregory Maqoma se verhaal wys aan kinders dat drome tot buitengewone avonture en meer kan lei. Maqoma het hom, soos Mosaval, as internasionaal erkende danser, koreograaf, afrigter en regisseur gevestig. My hoop is dat hierdie boeke by jong aspirantdansers sal uitkom en hulle sal inspireer om hulle drome na te streef.
Ten slotte: Ek vermoed min leestrae kinders sal verskonings uitdink as hulle gevra word om ’n boek oor een van hulle helde te lees. Veral as hierdie boeke in ’n toepaslike en aantreklike formaat aangebied word. Wie weet, dalk, terwyl drome rigting kry, word ’n liefde vir lees gekweek. Praat van ’n wen-wen-situasie!
- Terloops: Vir jong volwassenes en volwassenes wat ook ’n outobiografie van Gregory Maqoma wil lees, het Gregory saam met Lorato Trok die stewiger My life, my dance, my soul, wat ook onlangs deur Jacana uitgegee is, geskryf.
Lees ook:
Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke
Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine
Huisies vir muisies deur Chareldine van der Merwe: ’n resensie

