Huisies vir muisies deur Chareldine van der Merwe: ’n resensie

  • 0

Titel: Huisies vir muisies
Skrywer: Chareldine van der Merwe
Illustrasies: Ronell Lareman
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 9781037016097

Ken jy die Tandemuis? Of dalk glo jy in die Tandefee. Hierdie oulike en eenvoudige leesboek vir kleuters sal beslis ’n gesprek oor dié mitologiese figuurtjies kan open. Die storie is ’n hervertelling van die Tandemuismite.

........
Dit skep ’n goeie trapleertjie na volwaardige leesboeke teen die einde van die Grondslagfase.
........

Huisies vir muisies (2024) handel oor Xavier en Kendrick wat op ’n uitstappie in die veld leer oor die huisies wat die tandemuise bou van gesonde tande wat kinders vir hulle in skoene laat. En hulle betaal goed vir ’n gesonde wit tand! Die seuns gaan ry fiets deur die veld met hulle tannie, mamma en oom en ontdek dan ’n paar veldmuise. Dit ontsluit dan ’n hele gesprek oor hoe ons mooi na ons tande moet kyk, net soos ons na ons liggame moet kyk en gereeld oefen om groot en sterk te word.

Die teks se uitleg is uitstekend vir voorlees, waar een bladsy die teks bevat en die teenoorstaande bladsy die illustrasie. Die teks word ook opgebreek deur slegs te vertel wat in daardie betrokke prent gebeur. Die sleutelwoorde, idiome en belangrike woordeskat word ook beklemtoon deur kleur- en vetdrukskrif. Die ekstra inligting aan die einde van die boek, soos die woordeskat, verduidelikings van idiome en onderwerpe om oor te gesels, kan van enige storietyd ’n opvoedkundige gesprek maak. Hierdie boek is dus ideaal vir gebruik in kleuterskole en in die Grondslagfases (graad R tot 3) vir leestyd, veral wanneer kinders nog besig is om te leer lees en ook nie meer op die heel basiese leesvlak is nie. Dit skep ’n goeie trapleertjie na volwaardige leesboeke teen die einde van die Grondslagfase.

Skrywer en oorsprong van die storie

........
Huisies vir muisies (2024) is Chareldine van der Merwe se debuut as skrywer en is ’n storie oor ’n avontuur van haar suster se kinders. Sy is ’n kampvegter vir leesbevordering onder kinders, asook van Afrikaans.
........

Huisies vir muisies (2024) is Chareldine van der Merwe se debuut as skrywer en is ’n storie oor ’n avontuur van haar suster se kinders. Sy is ’n kampvegter vir leesbevordering onder kinders, asook van Afrikaans. Sy werk as die projekbestuurder vir die Vriende Van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV. Sy is ook betrokke by werkswinkels oor voorlees en leesbegrip en bevorder die belangrikheid van taal en boeke onder jong lesers. In 2022 het Chareldine ’n Kokertoekenning vir Bemagtiging deur Afrikaans van die Afrikaanse Taalraad ontvang vir haar werk by die ATKV en in haar gemeenskap. Sy is ook deur Afrikaans100, ’n veldtog wat Afrikaans se 100-jarig bestaan vier, benoem as een van die Top 10 Vroue wat ’n impak maak op Afrikaans, deur Afrikaans.

Chareldine vertel in ’n onderhoud met Naomi Meyer dat sy gesien het dat daar ’n daadwerklike behoefte is vir boeke vir jong kinders (Meyer en Van der Merwe, 2024), spesifiek in afgeleë gemeenskappe waar kinders nie toegang het tot boeke nie. Sy spreek ook haar kommer uit oor die kompetisie wat tegnologie en digitale boeke bied teenoor gedrukte boeke. Volgens haar is gedrukte tekste die beste opsie, veral vir kinders met leer- en leesuitdagings (Meyer en Van der Merwe, 2024). Sy vertel verder in haar onderhoud oor al die projekte waarby sy betrokke is in haar hoedanigheid as projekbestuurder by die Vriende Van Afrikaans. Dit sluit in: boektrommeloorhandigings – verspreiding van boeke, voorlees van stories, boekopvoeding, voorleeswerkswinkels vir ouers en opvoeders, leeskonferensies en opleiding om mense te leer hoe om kinders met uitdagings soos leesprobleme te help (Meyer en Van der Merwe, 2024).

Hierdie storie kom dus uit ’n plek van behoefte en is ’n moontlike oplossing wat daartoe kan bydra dat kinders beter kan lees. En nog te beter, lees geniet, en wie beter om dit te skryf as iemand met uitstekende kennis oor hoe om kinders te help om hul leesvaardigheid te slyp.

Saam met hierdie behoefte kom daar ook uitdagings.

Illustrasies en teks

Die grootste uitdaging wanneer dit by boeke kom, is koste. Dit is waarskynlik dat die skrywer hier ’n boek wou skryf en skep wat kinders sou interesseer, ’n goeie storie. Wat terselfdertyd ook vir hulle ’n waardevolle lewensles op ’n speelse manier sou tuisbring, en laastens ook ’n boek wat goed sal werk in die gemeenskappe waar sy die behoefte raakgesien het. Dus is die doel nie om die beste, mooiste boek te publiseer nie. Of om te kompeteer met die hoëgehaltegrafika van rekenaars en selfoonskerms nie.

Dit is duidelik dat die mikpunt was om koste laag te hou sodat hierdie boek sy pad na kinders toe kan vind wat dit nodig het. Wat nie toegang tot ’n dorps- of skoolbiblioteek het nie. Dit is gepas vir die mark wat die skrywer waarskynlik wou teiken.

Die enigste kritiek is oor die illustrasies. Dit is baie belangrik om te verstaan dat illustrasies in kinderboeke integraal bydra tot die tekstuele verhaal. Die prente help om die storie te vertel, en daarom is die regte tipe en goeiegehalte-illustrasies belangrik om ’n storie interaktief te maak. Veral om die jongste lesers se aandag te behou. Daar is duidelik sentiment betrokke by hierdie illustrasies, omdat die karakters lyk na die skrywer se susterskinders. Hulle was ook deel van die inspirasie vir die storie. Tog kan daar nie weggeskram word van die feit dat die illustrasies, hoewel pragtig, ook problematies is nie.

Van die illustrasies is wasig en in baie van die tonele verdwyn die karakters in die agtergrond. Hierdie aspek is iets wat in gedagte gehou moet word wanneer iemand met swak sig dalk hierdie boek sou voorlees of lees. Dink hier aan die ouma of oupa wat dalk dié oulike boek wil voorlees vir ’n kleinkind, of die afgetrede tannie wat die boek by die gemeenskapsentrum vir kinders wil voorlees. Of selfs ’n jong lesers met swak sig. Die voorkoms van die illustrasie skep die indruk dat dit nie heeltemal in fokus is nie en dit mag ook ’n rol speel in die behoud van jonger kinders se aandag. As hulle nie die prente goed en duidelik kan sien van ’n redelike afstand nie, sal dit beslis veroorsaak dat hul aandag dwaal. Veral in ’n klaskamersituasie, waar hierdie storie uitstekend sal wees vir voorlees.

........
Hierdie slap boekie is dalk nie die blinkste, vinnigste, statigste of coolste nie, maar dit is prakties geskik vir gebruik in klaskamers.
........

Daar is beslis ’n mate van digitale manipulering te bespeur, omdat dit wil voorkom of die illustrasies iewers tussen foto, olieverf en illustrasie dryf. Die skrywer noem in haar onderhoud met Meyer dat sy foto’s aan die illustreerder verskaf het en dat dit as basis gebruik is vir die omgewing waar die storie afspeel. Dit word in gedagte gehou dat hierdie boek gemik is op minderbevoorregte lesers en kinders waar koste en verskeie ander beperkinge in ag geneem moes word.

Ten spyte van die kritiek moet daar in ag geneem word dat hierdie boek gepubliseer is met ’n spesifieke doel. Daar was waarskynlik baie beperkinge waarmee gewerk moes word. Vir die doel om ’n eenvoudige, leersame en goeie storie aan kinders in minderbevoorregte gemeenskappe te verskaf, is dit gepas.

Hierdie slap boekie is dalk nie die blinkste, vinnigste, statigste of coolste nie, maar dit is prakties geskik vir gebruik in klaskamers. Selfs in voorhuise waar daar ’n liefde vir boeke en stories gekweek moet word. Veral in omgewings waar dit swaar gaan en boeke broodnodig is vir kinders om te leer lees. Die addisionele bladsye met idiome en woordeskat sal ook kinders se woordeskat en taalbewustheid uitbrei, wat vir hulle van onskatbare waarde sal wees op die skoolbanke. Elke storie lyk anders en is uniek en op die minste ’n goeie debuut.

Lees ook:

Huisies vir muisies deur Chareldine van der Merwe: ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top