Hoerkind deur Herman Lategan: ’n onderhoud met die skrywer

  • 2

Hoerkind: Die memoires van ’n randeier
Herman Lategan
ISBN: 9781776093380
Penguin Random House South Africa

Herman Lategan laat weet hy’s in ’n Uber op pad van sy Kwêla-opname in Milnerton en gaan ’n bietjie laat wees vir ons onderhoud by The Dry Dock Taverna in Paardeneiland.

Ek wag in my kar – die taverna in sig, vensters toe. Ek is huiwerig om uit te klim. Dit voel anders as die stadskom waaraan ek gewoond is.

“Ek is mal oor Paardeneiland,” het Herman gesê toe ek vra hoekom hy juis daar wil ontmoet. “Dis nes New York se Meatpacking District; die geboue is ideaal om in lofts te ontwikkel. En dis so na aan die stad. Dit gaan nog boom, hoor my, boom. Paardeneiland is ryp vir ontwikkeling.”

Ek sien hom voor die kroeg uit die agterkant van ’n wit Mercedes klim – sy bekende lang, groot gestalte, kop tot tone uitgevat in swart. Hy glimlag toe hy my aangestap sien kom.

“Jammer ek’s laat,” sê hy hartlik. “Ek het nog al my make-up aan vir die show. Hulle het my omtrent mooi gemaak.” Hy vee heen en weer oor sy wange om my te wys.

Die plek binne het ’n cool grungy atmosfeer sonder om grungy te wees. Drie mans sit stil langs mekaar by die kroegtoonbank, hande om hulle lang biere terwyl hulle na ’n sportuitsending op ’n groot TV kyk.

Die kelnerin is oulik en gevat en dadelik deur Herman betower. Sonder om te blik of te bloos speel sy saam toe hy haar vertel hy is pas uit Valkenberg ontslaan en dat ek sy sielkundige is wat hom moet evalueer om te sien of hy reg is om in die buitewêreld te wees.

“Ek het ’n klomp ou mense vermoor,” sê hy en swaai sy arms verwoed rond om haar te wys hoe hy hulle een vir een afgemaai het.

Haar reaksie is foutloos met net die regte uitdrukking en stemtoon, veral na hy haar palm gelees het, en waarin hy die maan en sterre vir haar gesien het. Uiteindelik kyk sy met groot oë na my en sê sy dink hy is okay, ek kan hom maar die wye wêreld inlaat.

Die losieshuisdae in Kloofstraat (foto verskaf deur Herman Lategan)

Herman is ’n charismatiese storieverteller, nes sy ma, Ria. “Dis waar my liefde vir woorde, vir stories, vandaan kom,” sê hy. “My ma. Sy het haar hande gereeld by die kerslig gehou en dan het die skaduwees teen die mure soos diere gelyk. Oor elke dier het sy ’n storie vertel.”

...........
Herman is ’n charismatiese storieverteller, nes sy ma, Ria. “Dis waar my liefde vir woorde, vir stories, vandaan kom,” sê hy. “My ma. Sy het haar hande gereeld by die kerslig gehou en dan het die skaduwees teen die mure soos diere gelyk. Oor elke dier het sy ’n storie vertel.”
............

Maar hy onthou ook die plaaswerkers op Lutzville se mooi stories wat hulle om die vuur in Namakwalandse Afrikaans vertel het. Die streek se unieke woorde. Dit het hom ook ’n diep liefde vir taal laat ontwikkel. “Om so met die taal te kan toor, die stem van die storievertellers te hoor, om ’n vuur, in die nag, dit is mos hemels.”

Hy noem dit ’n vorm van hipnose, ’n oermanier van los drade bymekaarvleg om iets uit niks te skep. “Letterkunde en rolprente, kuns, enigiets wat ’n narratief het, kan herlei word tot vuurstories, vertel deur mense wat weet hoe om die emosionele gravitas van ’n verhaal sonder gedwonge tegnieke te vertel, tot so ’n mate dat hulle vir altyd by jou bly.”

Herman Lategan (foto: Lien Botha)

Bietjie soos hoe Herman stories vertel. Vra maar vir die kelnerin. Die taverna kort net ’n vuurtjie.

Dis in die Lutzville-plaaswerkers se nederige huisies waar hy en sy ma keer op keer vir sy stiefpa, Christie Kruger, moes wegkruip. Herman noem hom die grootste holborsel onder die son. “Hy het op ons geskiet met ’n geweer,” sê hy. “Vir my en my ma en die plaaswerkers aangerand. Hulle met die dopsisteem betaal. Hulle verneder. Die mense wat ons beskerm het, op wie se vloere ons geslaap het. Hy was ’n psigopaat.”

...........
Maar Hoerkind is nie net ’n verhaal van onbevoegde ouers en hul gebrekkige versorging van hul kind nie. Dis ’n storie van ’n samelewing se Calvinisme, politiek en kultuur wat die land en sy mense in die steek gelaat het.
............

Maar Hoerkind is nie net ’n verhaal van onbevoegde ouers en hul gebrekkige versorging van hul kind nie. Dis ’n storie van ’n samelewing se Calvinisme, politiek en kultuur wat die land en sy mense in die steek gelaat het. Maar Herman sê hy glo op ’n goeie dag dat ’n mens se ervarings, goed of sleg, nie vermors is in die hande van ’n skrywer of kunstenaar nie. Hy gebruik alles wat met hom gebeur in sy werk. “Ek vergader, stof af, polish en bêre gebeure vir latere gebruik.”

Herman Lategan (foto verskaf deur Herman Lategan)

Ander dae voel hy nie so nie. Dan vaar hy uit teen die eng Afrikaners in die land, veral dié op klein plattelandse dorpies soos Lutzville.

“Kyk, ek het ’n baie ambivalente verhouding met taal,” sê hy. “Taal is soos ’n mens met wie jy ’n verhouding het. Dinge kan stormagtig raak en dan strip ek my moer vir Afrikaans en wil sommer al die klein dorpies uitwis. Maar dan dink ek die volgende dag – haai, hulle praat so mooi idiomatiese Afrikaans. Jy weet, waar is die dae wat my ouma gesê het daar gaan dadels van kom? Niemand gebruik dit meer nie. Sulke goed maak my weer heeltemal verlief op die taal. Dan mag jy niks daaroor sê nie. So, eendag staan ek in die skeihof en môre smeek ek weer – o nee, asseblief, moet my nie los nie!”

...........
“Kyk, ek het ’n baie ambivalente verhouding met taal,” sê hy. “Taal is soos ’n mens met wie jy ’n verhouding het. Dinge kan stormagtig raak en dan strip ek my moer vir Afrikaans en wil sommer al die klein dorpies uitwis. Maar dan dink ek die volgende dag – haai, hulle praat so mooi idiomatiese Afrikaans. Jy weet, waar is die dae wat my ouma gesê het daar gaan dadels van kom? Niemand gebruik dit meer nie. Sulke goed maak my weer heeltemal verlief op die taal. Dan mag jy niks daaroor sê nie. So, eendag staan ek in die skeihof en môre smeek ek weer – o nee, asseblief, moet my nie los nie!”
...........

Maar taalbul is Herman ook nie; hy haat die woord. “Ek is nie iemand wat daarop aandring dat Afrikaans in die universiteite moet wees en so aan nie; ek is eenvoudig net baie lief vir die taal. Maar ongelukkig is die deursnee-Afrikaner nie gemotiveerd genoeg om dit aan die gang te hou nie. Daarom dink ek dit gaan maar ’n braaivleisvuurtaal word. Honderd jaar van nou af, laat ons onsself nie fool nie, gaan dit gebeur.”

Maar tot tyd en wyl skryf hy oor interessante woorde in sy tweeweeklikse Rapport-rubriek, “Woorde wat wip”. ’n Versameling van hierdie rubrieke het in 2014 in boekvorm verskyn as Binnekring van spookasems. Waar kom hy aan die woorde?

Herman Lategan (foto verskaf deur Herman Lategan)

“Partykeer kom die onderwerp eenvoudig by my op,” sê hy. “Nou die dag het ’n bejaarde vrou van ’n gebou afgespring en haarself op die sypaadjie langs die Hussar Grill te pletter geval terwyl die mense sit en middagete eet. Ek het nog nie daaroor geskryf nie, maar so iets sal my byvoorbeeld interesseer en dan soek ek die woord wat die beste by die storie sal pas. Dit neem soms lank om die regte woord te kry, maar gelukkig het ek baie woordeboeke, baie, baie.”

Hy haal sy foon uit en maak ’n nota om hom te herinner aan die insident. Die vrou het glo langsaan in die aftreeoord Good Hope Park gewoon en aan Alzheimersiekte gely voor haar selfdood.

Ander dae kom die woord na hom toe. Soos ronkedoor, ’n olifantbul wat uit ’n trop gestoot is en hom eenkant hou.

“Vele mense gebruik nie meer interessante woorde nie. Gereeld word daar deesdae in ’n templaat geskryf, terwyl ons soveel mooi Afrikaanse woorde het.”

Herman skryf ook in Engels en van sy artikels het al in plaaslike en internasionale publikasies verskyn. Maar nes met Afrikaans is sy verhouding met Engels complicated.

“Alhoewel ek baie lief is vir Engels en vir jare net in Engels geskryf het, het dit vir my oud geword,” sê hy. “Wooden. Ek is twee verskillende mense in Afrikaans en Engels. Hulle sê mos in elke taal wat jy praat het jy ’n ander persoonlikheid. As ek Afrikaans skryf, skryf ek vir my ma. Vir die mense op die plaas. My Engels was destyds anders, meer Brits, hoogdrawend. Deesdae skryf ek ’n rouer soort Engels. Soos Athol Fugard. Ek sê nou nie ek skryf soos hy nie, dis meer die manier waarop hy praat, met ’n Afrikaanse aksent. Herman Charles Bosman het ook so geskryf. Hy het eintlik in ’n Afrikaanse register geskryf. Ek skryf soos ’n Suid-Afrikaanse Engelse persoon. Ek wil nie soos ’n fokken Brit klink nie. Nou geniet ek weer Engels.”

Herman Lategan (foto verskaf deur Herman Lategan)

Herman se weeklikse In memoriams in Rapport gee hom soms rede om te wil bedank – hy hemel nie mense op net omdat hulle dood is nie. Gelukkig neem sy redakteurs hom nie ernstig op nie en skryf hy nou al vir jare hierdie berigte.

Die persoon waaroor hy ’n doodsberig moes skryf en van wie hy die minste gehou het, was Wilbur Smith.

“Hy was ’n nare mens,” sê Herman. “Een van sy eksvroue het hom byvoorbeeld eendag in Londen raakgeloop en hom gegroet. Hy vra toe: ‘Wie is jy?’ Sy antwoord hom met: ‘Oh, we’ve got a child together, bye.’ En stap aan. Weet jy, hy is in ’n uniform met ’n geweer bo-op op sy lyf begrawe? Hy was ’n wit, butch, chauvinistiese grootwildjagter. ’n Militaris. En hy het sy kinders so sleg behandel, niks vir hulle gelos nie. Nie ’n sent nie. Hy’t leeus geskiet, olifante, krokodille. So, ek het dit geniet om oor hom te skryf. Die waarheid. Ek het baie kritiek gekry oor Wilbur Smith, want as jy mos in Suid-Afrika doodgaan word jy outomaties ’n engel. Dis wat my so moeg maak van Suid-Afrikaners.”

Aan die ander kant is daar sy berig oor dr John Sonnenberg, wat hom in die wêreld gebring het en wat soos ’n pa vir hom was. Dit was vir hom die mees betekenisvolle en moeilikste een om te skryf.

“Om oor só ’n man te praat. Hy het die helfte van Seepunt verniet behandel. Al die ou tannies wie se mediese fondse verval het en baie huishulpe. Ek sou nie hier gewees het as dit nie vir dr Sonnenberg was nie. My ma wou ’n aborsie hê, en hy was pro-abortion, ek is ook. Vroue het die reg om te besluit en my ma het besluit. Hy het vir my ma gesê: ‘You never know how he is going to turn out.’ En dit het haar lewe verander; ek het ’n hoerkind geword en nou is daar ’n boek met die titel. Wie sou dit 58 jaar gelede kon dink? Dis interessant dat my ma daai besluit geneem het. Sy was ’n feminis. Sy kon die aborsie gehad het. Maar sy het nie. Ek dink baie daaraan. Dr Sonnenberg was ’n wonderlike mens.”

Praat van wonderlike mense in Herman se lewe en een man steek kop bo water uit – sy ex-partner en metgesel Graham Sonnenberg, dr Sonnenberg se seun.

“Ons het nie een ouers oor nie; al familie wat ons het, is sy susters,” sê Herman. “Ons is terdeë bewus van die uurglas wat leegloop, van hoe min tyd oor is. Graham was 26 toe ek hom ontmoet het, hy is nou 62. Dit voel soos gister. Daar is nie meer tyd om te mors op allerhande esoteriese soort idees nie. Dis nou. Geniet nou. Dis al wat ons het. Here, dit klink so kitsch.” Hy lag voor hy weer ernstig raak. “Maar toe Graham se partner Athan onlangs so onverwags oorlede is, toe besef ons dit. Jy tref iemand dood in ’n bed aan en jy dink hulle slaap. Maar hulle word nie weer wakker nie. Dis ’n lyk wat daar lê. There’s no time to waste.”

Herman Lategan (foto: Debbie Loots)

Herman het my al baie oor Graham vertel en aangrypend oor hulle verhouding en vriendskap in Hoerkind geskryf. Dit was dus lekker om Graham nou die dag in lewende lywe te ontmoet en die verhouding tussen die twee self waar te neem. En dis kitsch, want dis eenvoudig mooi; ’n voorbeeld van hoe ’n dekades lange verhouding lyk wat uit liefde en respek bestaan. Daar is beslis harde klippe gekou en sakke sout saam geëet (dis alles in die boek), maar daar is iets te sê vir langtermynverhoudings waarin mense geduldig en mooi met mekaar praat, veral as die een nie met die ander een saamstem oor presies hoe ’n situasie in die verlede afgespeel het nie.

Geen wonder dat toe ek vir Herman vra wie die wonderlikste mens is wat hy nog ooit teëgekom het, hy sonder aarseling sê Graham nie. “Hy beteken baie in my lewe, maar onder andere is hy my witness,” sê Herman na ons vir die soveelste maal skaterlag oor die vele bisarre oomblikke in sy lewe; gebeure wat Graham beaam.

Herman is tans besig om ’n roman te skryf. Een wat veronderstel was om voor sy memoires klaar te wees (hy het reeds dié se voorskot spandeer) en dit gaan goed. Stadig maar seker, 450 woorde per dag. “Ek moes eers die memoires uit my sisteem kry. Nou geniet ek weer die romanskryfproses. Maar as ek hiermee klaar is, dan is dit klaar. That’s it. Ek wil nooit weer ’n boek skryf nie. Nooit.”

Artikels skryf, ja. Narrative journalism. “I will do that,” sê hy. “Ek is te arm om af te tree. Ek sal moet skryf tot ek dood neerslaan. Madeleine van Biljon het omtrent twee dae voor haar dood haar laaste artikels gefile. Maar al wen ek die Lotto en ek kan gaan travel, is ek nie een van daai mense wat in stede rondloop en sê ‘ah, kyk die mooi museums, die pragtige katedrale’ nie. Ek moet notas maak oor goed wat gebeur, sodat ek later die storie kan vertel.”

Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Ongelukkig het Herman nog nie die Lotto gewen nie, so van oorsee travel is daar tans nie sprake nie.

Volgens hom rol hy in die oggend soos ’n walvis uit sy kooi uit. “Dit neem my ’n halfuur om positief te begin dink en myself te oortuig dat dit nie die kakste dag van my lewe is nie. Dan gaan sit ek voor my laptop. Maar eers slaan ek die Groot verseboek enige plek oop en lees ’n gedig hardop – net vir die ritme van die taal. Dan lees ek ’n paar koerante, soos die New York Times, Daily Telegraph en Daily Maverick tot so 10:30 se kant. Daarna skryf ek tot so 16:30 in die middag. En dan moet ek uitkom, Vasco’s toe vir ’n drink. En dis my gemiddelde week. Niks glamorous nie; ek arriveer nie iewers in ’n lugballon en maak ’n grand entrance of so iets nie. Ek dink ek sal seker ook my laaste storie file net voor ek dood neerslaan.”

Die kelnerin kom nader en vra Herman vir sy handtekening – sy’t afgelei die boek op die tafel is syne. Hy wys haar sy foto’s op die agterblad en sy rek haar oë en giggel oor iets wat hy kwytraak. Sy kan dalk nie Afrikaans verstaan nie, maar ek wed jou as daar ’n kaggelvuurtjie in the taverna gebrand het, sou ons almal saam in die kroeg om die vuur gaan sit het om na Herman te luister. En so met beurtkrag sou hy met sy hande ’n paar skadu’s teen die muur kon gooi wat soos diere lyk en vir ons stories oor hulle vertel.

  • 2

Kommentaar

  • Ek is so bly vir Herman, nooit geweet daar bestaan so iemand nie. Laat dink my aan myself. Afrikaans het meer sulke mense en skrywers nodig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top