Vincent Pienaar, Melville se onwillige literêre skat

  • 0

Op 72 is die skrywer Vincent Pienaar ’n ou bekende in Johannesburg se Melville-woonbuurt. Mens loop hom oral raak. As hy nie by ’n kerkbasaar naby die poedingtafel hof hou nie, sien jy hom in die Xai Xai Lounge, die gewilde kroeg waar mense van alle ouderdomme en oortuigings uithang. En wanneer jy die Italiaanse restaurant Picobella besoek, is Vincent daar – dikwels saam met ’n aanvallige dame wat aan sy lippe hang; altyd vergesel van sy geliefde brak Snowy.

Maar van ’n instelling wees wil dié skrywer, wie se laaste twee romans – Too many tsunamis (2018) en Limerence (2021) – die langlys van die Sunday Times-fiksieprys gehaal het, net mooi niks weet nie. “Nee, wat,” protesteer hy, “Charles Visser was ’n instelling, nie ek nie. Vandag is Melville self die instelling.” Charles Visser was op sy dag ’n alombekende “boulevardier” van Melville se Sewende Straat.

Melville was nog altyd ’n hutspot van mense. En al het die grendelstaat menige onderneming se deure kom sluit en die strate windverwaaid gelaat, is dié voorstad voortdurend aan die transformeer.

“Ek het eenkeer vir Nuno van Nuno’s gesê ek dink Melville is moer toe, en sy antwoord was dat hy dit tien jaar tevore al die eerste keer gehoor het,” vertel Vincent. “Melville is organies en dit sal altyd aan die verander wees. Byvoorbeeld, ’n plek soos Xai Xai sal altyd daar wees. Of dit altyd aan Heidi sal behoort en deur Eddie en Ntando bedryf word, weet mens natuurlik nie.”

Op die stoep by Die agterplaas, die sanger Jannie du Toit se gastehuis in Melville

Vincent se eerste boek, Jimmy’s place, het in 1992 by Penguin verskyn, en in die Afrikaanse mark het hy sy stempel afgedruk met publikasies soos Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird en Kringfluit. Die onlangse langlyskopknikke deur die Sunday Times vir Too many tsunamis en Limerence het egter ’n ou bittersoet waarheid aan Vincent oor sy skrywerskap bevestig: “Always the bridesmaid, never the bride.”

Jo’burg, Too many tsunamis en Limerence was almal benoem vir literêre pryse, maar het nooit toekennings verower nie. My radiodrama Nag in, nag uit was in die top twintig van die RSG-dramakompetisie, maar nie onder die laaste drie nie, ens, ens.”

Vincent kan nie besluit of dié stand van sake ’n oorwinning of ’n teleurstelling is nie. “Ek is maar ’n dirt tracker. Ek is die ou wat ’n goeie kaptein van die B-span maak, maar nooit in die A-span plek gekry het nie.”

En waarom sou hy wat Vincent is, dan nou ’n uitsondering wou wees? Hy sou beslis nie in die hoofstroom tuis voel nie: “Ek ken baie mense in Melville wat talentvolle kunstenaars is – skrywers, musikante, skilders, beeldhouers, maar hulle is nie hoofstroomkarakters nie.”

Baie van dié mense is deur hulle kuns aan Vincent bekend: “Rian Malan vir My traitor’s heart, Fanie de Villiers vir Kontrei, Anel Heydenreich vir Malhuis. Harry Kalmer, André Krüger, Michael Schmidt, Jannie du Toit …”

En dan is daar die joernaliste wat in Melville woon wat sy bewondering geniet: Kabous Verwoed, Jana van der Merwe, Everson Luhanga. Mense wat in dieselfde bedryf as Vincent is.

Van uittrede uit die joernalistiekomgewing is daar geen sprake nie. Vincent hou die pot aan die kook as “herskrywer” by twee instansies: die Daily Sun en ’n webwerf wat in Londen gebaseer is. “Baie van my vriende het nie werk nie, so ek is dankbaar dat ek ’n inkomste het. Wanneer ek my lot as herskrywer bekla, herinner ek myself dat ek dankbaar moet wees dat ek nie ’n kruiwa op ’n konstruksiewerf rondstoot nie.”

Vincent se eksvrou het altyd met afkeuring gesê: “You lead such a humble existence.” En dit was natuurlik niks anders as die waarheid nie. “Ek lei wel ’n nederige bestaan, maar ek kan die huur betaal en ek kan so nou en dan Picobella toe gaan vir ’n pizza.”

Die belangrikste vrou in sy lewe, sy oorlede ma – op haar dag self ’n joernalis en rubriekskrywer – het altyd met haar hande teatraal in die lug gesê: “My sekuriteit lê in my tien vingers.”

“Ek verstaan nou hoekom sy dit gesê het.”

Vincent en sy judo-afrigter

As kleuter het Vincent “soos ’n lastige kat” by sy ma op die lessenaar gesit terwyl sy artikels vir koerante soos Dagbreek, Landstem en Vaderland op ’n groot Remington uitgetik het. “Dit is hoekom ek leer tik het lank voordat ek geleer het om met ’n potlood te skryf.” Wanneer sy ma nie by haar tikmasjien was nie, het Vincent letters met klein vingertjies op die sleutelbord uitgekap – sonder dat daar papier in die roller gedraai was.

“Nie alleen het ek dus op vyfjarige ouderdom begin tik nie, maar ek het ook, as gevolg van haar verbintenis met die koerant- en vermaaklikheidswese, legendariese joernaliste en kunstenaars ontmoet. Huisvriende. Hulle gesprekke het baie keer gegaan oor die politiek, maar meestal oor die kreatiewe kunste.”

Tydens dié grootmensgesprekke het die kleuter die verdriet wat met ’n afgekeurde toneelstuk of roman gepaardgaan, asook die vreugde van ’n literêre prys, eerstehands beleef. “Dit het deel van daai seuntjie se DNS geword van sy eerste dae af tot … wel, vir ewig.”

Op ouderdom 12 het Vincent sy eerste storie geskryf. “Dit was nadat ons Oos-Londen toe gery het om vir Stirling Moss (“the greatest driver never to win the World Championship”) te gaan kyk. Die verhaal het gegaan oor ’n wedren waaraan ek deelneem. Die storie was omtrent nege bladsye lank, en het uit een enkele sin bestaan: ‘En toe gaan ek hom voor die draai verby, en toe gaan hy my in die draai verby, maar my kar was te vinnig, toe pass ek hom op die straight, maar sy kar het beter brieke en toe …’”

As volwasse skrywer was Vincent uit die staanspoor ewe tuis in Afrikaans as in Engels. “Ek het Afrikaans grootgeword, maar die meeste van die tyd in Engelse gemeenskappe geleef. Omdat ek beide Engels en Afrikaans vlot kan besig (soos hulle sê, ek vernietig albei tale presies dieselfde), was dit nie vir my ’n issue nie. Ek verstaan die nuanses in Engels baie goed, maar Afrikaans het die wonderlikste toepassings wat ek voel ek nie kan bemeester nie. Ek praat nie van die befaamde vloekwoorde en uitdrukkings wat mense so laat skaterlag nie.”

Die ervaring om boeke vir die verskillende taalmarkte te skryf verskil soos dag en nag. “Die Engelse mark bied die potensiaal vir internasionale publikasie. Nie dat dit outomaties roem en fabelagtige rykdom meebring nie. Daarteenoor is die Afrikaanse mark natuurlik baie kleiner, maar dit is so wonderlik dinamies. Daar word soveel werk gedoen om Afrikaanse werke te promoveer en dit maak my jaloers wanneer ek in Engels publiseer.

“Baie meer Afrikaanse boeke word verkoop en die verkope per boek, lyk my, is ook heelwat hoër. Dit is veral so in die fiksiemark. Ek neem aan daar is min LitNet-lesers wat dit nié sal beaam nie.”

Tussen die joernalistiek en romanskryf het Vincent sy skryftande deur die jare geslyp met radiodramas en kommentaar vir Killarney Films se African Mirror-nuusfilms. “Ek onthou dat die kommentaar vir African Mirror nogal outyds was, selfs vir daai jare.

“Terwyl ek by Killarney was, het ek ’n roman in Afrikaans geskryf. Dit was voor die dae van fotokopiemasjiene. Ek het die enigste bestaande manuskrip vir ’n meisie gegee om te lees. Ek wou haar beïndruk om voor die hand liggende redes, maar sy het verdwyn met die velle papier wat sy sekerlik nooit gelees het nie.

“Dié roman het nooit die daglig gesien nie.”

Radiodramas was veel meer pret as die “alleen-besigheid” van romanskryf, vertel hy. “Met dramaskryf is daar altyd nabye samewerking met regisseurs, akteurs en ander tegnici. Daar is baie genot daarin om met iemand soos Rina Nienaber, Norman Anstey of Lochner de Kock te werk aan ’n teks wat ek geskep het.” Die ritme en dissipline wat radiodramas en vervolgverhale vereis, pas Vincent ook beter. “Jy moet weet wanneer om te begin en wanneer om te eindig. Die tekste is ook baie korter en makliker redigeerbaar.”

Met Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird het Vincent die narratief doelbewus in omgangstaal aangebied. “Ek het geweet ek ken my mense en hoe hulle werklik praat; ek het nie as buitestander deur die slaapkamervenster geloer nie.” Die boek het kort ná Jackie Nagtegaal se opspraakwekkende Daar’s vis in die punch verskyn, en Vincent was salig onbewus dat die polemiek wat oor suiwer Afrikaans aan die woed was, hom ook sou tref.

Die resensent Madelein van Biljon het Jo’burg gunstig beoordeel en gejuig: “Welke karakters het Pienaar nie geskep nie!” Sy het ook die einde van die boek aangeprys as ’n “totaal bevredigende snoer”. Maar ’n ander resensent, destyds verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth soos dit toe bekend was, het in Die Burger verklaar: “’n Donker dieselwolk sak oor die Afrikaanse taal.”

“Net daar het sy die boekie se strot omgedraai,” lag Vincent. “Ek verstaan nou hoekom daardie resensent dit gedoen het. Sy was in die middel van ’n taalstryd wat ek tóé nie verstaan het nie. Interessant genoeg was Jo’burg en Kleinboer se Kontrei die twee boeke wat genomineer was vir die Jan Rabie-prys. En ek dink dit was juis omdat albei die boeke outentiek was.

Vincent saam met Simon en Snowy by 27 Boxes in Melville. Simon het die replika van Snowy gemaak.

Vincent het Kringfluit in Afrikaans geskryf omdat Theresa Papenfus, destyds uitgewer by Litera, die boek in Afrikaans wou hê. “Ek kon dit net sowel in Engels geskryf het. Die Engelse titel, Little dark theatre, sou fantasties gewees het!”

Merkwaardige mense in die uitgewers- en radiowese en het Vincent geïnspireer: Alison Lowry (Jimmy’s place), Annemarié van Niekerk en Annari van der Merwe (Jo’burg), Theresa Papenfus (Kringfluit), Fourie Botha (Tsunamis en Limerence), Joe-Anne Richards (Limerence) en andere. Ook Bruce Millar en Nigel Vermaas vir ure se radiodramas. “Ek hou van mense wat waagmoed en kreatiwiteit kombineer,” sê hy.

’n Leeftyd gewy aan die skryfkuns het Vincent Pienaar gemaklik in sy vel gelaat, al boer hy meestal op literêre langlyste, ’n klipgooi van die binnekring. En saam met sy grys dos het wysheid gekom, die wysheid om skepties te wees oor idees soos om gekoester te word as ’n “living treasure” in ’n “globale” stad soos Johannesburg. “Ek wou in die sewentigs ‘in with the in crowd’ gewees het,” sê hy, “maar ek dink daar is ’n diep donker boksie spesiaal vir wit, ouer mans.”

Intussen werk Vincent aan ’n nuwe roman met die werktitel “Things I never knew about Ma”.

  • Die foto’s in hierdie artikel is deur Vincent Pienaar verskaf.

Lees ook:

Resensie: Too many tsunamis deur Vincent Pienaar

Dertig jaar in limerence – Elthea

Skote in die nag: “Is Melville dood?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top