Resensie: Too many tsunamis deur Vincent Pienaar

  • 0

Titel: Too many tsunamis
Skrywer: Vincent Pienaar

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978 1485903369

Die 34-jarige ongeluksvoël en lomperd, Bert Laid bly nog by sy ma. Moeder en die G&T-drinkende Auntie Grace terg die arme jongman tot vervelens toe; reël vir hom die een na die ander toe-oog-afspraak, en help om werk te soek. Wel, op 34 is Bert reeds ’n professionele werksoeker. En as hy ’n verloorder is, is dit nietemin ’n hoogsbegaafde een – sy droom om ’n wêreldberoemde skrywer te word, het nog niks opgelewer nie. Daar bly vir Bert net een uitweg oor: hy moet selfdood pleeg en sorg dat sy literêre erfenis postuum geeer word:

"He had lost count of the number of writing competitions he had entered. Remembering how many competitions he had won was a lot easier. Wins? None. Second places? None. What about honourable mentions? None. This was going to be his final attempt and it was going to get him quoted in the Internet lists of famous last words or – as Groucho Marx said about living forever – he would die trying. But to win this one, he knew he had to come up with the tightest, funkiest and most economical copy possible."   (10)

Op die gesaghebbende letterkundige webwerf, Literary Hub bespiegel die skrywer, Dustin Illingworth of die literêre selfdoodbrief geklassifiseer kan word as ’n letterkundige subgenre. En dit is inderdaad so: die laaste woorde van bekende skrywers kan gelees word as addendum tot hulle oeuvre. Too many tsunamis is geensins ’n morbiede of ontstellende werk nie; dit is, om die waarheid te sê, skreeusnaaks. Bert voltooi nie sy selfdoodbrief aan Moeder nie, maar begin in stede daarvan ’n voetnoot oor sy eie lewe te skryf. Laasgenoemde ontvou dan as die verhaalgegewens van ’n roman, met gelyknamige titel. 

Moeder kry vir Bert ’n werk as assistent by ’n drukkerswinkel. Die karakters en storielyn word ’n viering van ’n middelklasbestaan en van dodelike middelmatigheid. Alhoewel alledaags, is die karakters lewensgroot – hulle word pikaresk en op geanimeerde wyse uitgebeeld, wat plek-plek aan ’n strokiesprent herinner. Ná werk gaan drink Bert in die kroeg, Lone Star, en dié kroeg sowel as die drukkerswinkel word die katalisator van ontmoetings met eksentrieke wesens, gomgatte, Gote en selfieverslaafdes. Misverstande vier hoogty en die leser raak geheg aan Pienaar se aweregse personasies. Alhoewel die roman die leë wêreld van die absurde voorstel, bevat dit ook elemente van die klug – baie dele is lynreg absurd. Daar is die tergende geheim van die groen kabinet waaraan Bert nie mag raak nie; die paranoïa van sy seniors...tot die polisie een dag toeslaan op die winkel en die geheim met geweld in die ope gebring word. Bert, wat intussen honderde gratis gunsies vir armes en bejaardes gedoen het, soos om werkloses se CV's kosteloos te faks, verkeer verkeerdelik onder die indruk dat hý gearresteer gaan word – die winkel se motto is nie om dowe neute "no kindness goes unpunished" nie.

Moeder, die oorbeskermde matriarg, knoop in die stilligheid ’n verhouding aan met Archie Frankenmeier en dis met afgryse wat Bert haar sekskapades gadeslaan. Die eksistensiële vakuum waarin hy verkeer, word deurlopend met sardoniese erns en galgehumor verbeeld. Wanneer dinge te veel raak, gaan sit hy in sy man cave en speel rekenaarspeletjies, motorwedrenne waarin hy teen die blitsige Speed Volice kompeteer. Maar wié is Speed Volice régtig?

Die roman betrek die populêre kultuur van die dag, tegnologie, die sosiale media...en ’n YouTube-video wat Angela van Bert geneem het en wat hom met duisende likes en ’n rooi gesig laat. En dan is daar sy liefde vir die tragiese vrou, Light (wat op ’n dieper vlak die lewe simboliseer).

Naas ernstige besinnings oor die selfdood van Virginia Woolf, Ingrid Jonker, Ralph Rabie, Marilyn Monroe en ander, wat ook aan die roman ’n metafiksionele lading gee, het die boek weinig met die Savage god-tradisie van selfdoodlektuur uit te waai. Die sitkomagtige styl is gelukkig meer komies as steurend, net soos die persoonsbeskrywings van karakters: 

"She was like a ghost. Barely reaching his shoulder, she had dark, tatty hair, her eyes so wide apart she looked like a hammerhead shark, bulging out of their sockets as if she was constantly in shock."  (29)

Ek het Too many tsunamis terdeë geniet. Pienaar kyk deur ’n ongewone en lighartige bril na verskynsels soos selfvernietiging en selfdood, maar oppervlakkig is die boek gewis nie. Die karakters se pyn bly netjies gekamoefleer in die tragikomiese en kan dalk die beste saamgevat word in die woorde van Horace Walpole: “The world is a tragedy to those who feel, but a comedy to those who think.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top