Dertig jaar in limerence – Elthea

  • 3

Ek het Vincent Pienaar se baie onderhoudende roman Limerence begin lees. Ek moes gaan opsoek:

Limerence is a state of mind which results from a romantic attraction to another person and typically includes obsessive thoughts and fantasies and a desire to form or maintain a relationship with the object of love and have one's feelings reciprocated. Limerence can also be defined as an involuntary state of intense romantic desire.

“Sweetheart, do not love too long / I loved long and long, / And grew to be out of fashion / Like an old song.” So het WB Yeats geskryf oor sy liefde vir Maud Gonne – ’n liefde wat sy nooit beantwoord het nie.

Ek was ongeveer 30 jaar in die wentelbaan van ’n hopelose liefde. Ek het lank geglo my aandagspan is maar net kort, want my verhoudings het, soos selfoonkontrakte, nooit langer as twee jaar geduur nie. Maar die waarheid was dat my hart aan een vrou behoort het.

Sy was my alles en sy het my ook lief – my liefde was nie onbeantwoord nie, maar anders beantwoord. Toe ons baie jonk was, en al die jare daarna, was dit genoeg om net naby haar te wees, verkieslik alleen. Ek het immers geglo ek is straight. Ek en haar boyfriend vanaf laerskooldae het op universiteit meegeding om die aandag van haar oë. Hy is ’n sensitiewe man met oordeellose liggroen oë. Het hy soms gevoel soos Maria in Sy kom met die sekelmaan? Toe ek hierdie boek google, kom ek op die volgende juweel af:

Sekelmaan is an account of lost love and grew out of Smit's torrid relationship with WEG Louw (brother of NP Van Wyk Louw) in 1931/32 while they were both students. The coarse cloth boards have some light spotting and are gently rubbed at the bottom outer corners. (abebooks.com)

Sy het my laat voel dat sy my geselskap net so belangrik of belangriker as mans s’n ag. Sy was nooit seunsmal nie. Sy het mans met ’n houtoog bekyk, maar my altyd die voordeel van die twyfel gegee. Sy het my geïnspireer om my beste self te wees en al daardie clichés wat mans graag oor vroue sê.

Sy is nie popmooi nie – sy het ’n aangrypende kwart-Joodse intensiteit en ’n lieflike stem. Sy was van jongs af ’n vurige feminis en respekteerder van vroue. Maar met geen romantiese of lyflike versugting na vroue nie, slegs na mans, wat sy graag op hul plek gesit het.

Foto van Elthea: Andrew Hofmeyr

Sy het ’n rankerige lyf, ’n nuuskierige brein en matelose energie – sy wil altyd aan die beweeg wees, besig. Ek het vakansies agter haar aan geklim, geseil, geswem, gefiets, gehardloop. Niks was te veel moeite nie.

Sy en haar boyfriend is later getroud. Ek is ook getroud, met ’n man. My huwelik was gedoem. Hare bestaan steeds, ’n sterk band van respek, humor en deernis. Sy het soms gesê sy het eintlik ’n man én ’n vrou: ek. Partykeer het sy gesê: As die mans eendag dood is, sal ons saam woon.

......

So ’n onvanpaste liefde is gedoem en droewig, soos ’n blaar wat op ’n vlinder verlief raak. Soos ’n blomknop wat doodryp. Dit kan nooit oopvou nie.

.......

So ’n onvanpaste liefde is gedoem en droewig, soos ’n blaar wat op ’n vlinder verlief raak. Soos ’n blomknop wat doodryp. Dit kan nooit oopvou nie.

Daar was tye, die grootste deel van my lewe, waarin ek alles wat ek beleef, met haar moes deel, meestal in lang briewe. Sy was die boek wat ek skryf of sy was die skrywer en ek die storie. Yeats het gesê: “All through the years of our youth / Neither could have known / Their own thought from the other's, / We were so much at one.”

Die mees intieme ding wat ons ooit saam gedoen het, was lag. Ons deel ’n oog en kan lank lag vir dinge wat ander mense miskyk. Een van die dinge wat ons hard en ongeskik laat lag het, kom uit ’n boek oor graffiti. Iemand het geskryf: “Manslaughter is terrible.” Toe kom skryf iemand anders daaronder: “Womans laughter is also pretty bad.”

Deborah en Elthea: foto verskaf

Op 50 het ek vir ’n oomblik weggekyk en op my lewensmaat verlief geraak. My langdurige liefde het my gewaarsku dat hierdie vrou gevaarlik is omdat sy so mooi en uitsonderlik is. Dat sy my kan seermaak. Wat sy seergemaak het, was my jare lange limerence.

Vir die eerste keer is daar iemand wat al die leemtes vul waarin ek háár altyd gestop het soos ’n trooskombers. En skielik het ek uit ’n lang slaap ontwaak. Dis nie dat skille van my oë geval en ek gesien het dat sy eintlik maar gewoon is nie. Sy is nie. Sy sal altyd besonders wees, met ’n veerkragtige tred en swaai in die heup, getooi in Afrika-lappe en kopdoeke soos die koningin van Skeba, met ’n lig in haar oë, sagte vel en die heerlikste geur. ’n Vorstin van ver.

Klein dingetjies het ek skielik gesien, soos dat ons altyd moet doen wat sy wil doen, dat sy immer ’n besige program uitgewerk het waarby ek inval. Maar dis menslik en niemand is volmaak nie. Dis juis die onvolmaakte, die koddige en koppige wat ’n mens aan die geliefde bemin.

.......

Dis nie dat skille van my oë geval en ek gesien het dat sy eintlik maar gewoon is nie. Sy is nie.

.........

Ek weet nie of sy dit ooit mis nie, soveel jare in die sweisvlam. Ek sal haar altyd liefhê, maar nooit weer met dieselfde intensiteit nie. Soms voel ek amper hartseer oor iets ragfyn wat verpoeier het. “Dis iets wit en stil en allerliefliks wat weg is / Die liefde bedek niks,” het TT Cloete oor ’n dood geskryf.

Maar dis bevrydend om lief te hê en op dieselfde manier bemin te word. Dis soos tuiskom. Dis soos in Jeanne Goosen se gedig “Ons twee”: “ons huil nooit nie / ons twee huil nooit nie / snags lê ons lywe inmekaar / en ons vra nie vrae nie / ons is mekaar se droefnis.”

Miskien moes dit so wees, dat dié wonder betreklik laat in my lewe gebeur het – when my coarse cloth boards have some light spotting and are gently rubbed at the bottom outer corners – op dié manier het ek dekades gehad om te leer hoe om onbaatsugtig lief te hê.

  • 3

Kommentaar

  • Ek bly terugkom na hierdie stuk. Dit laat my dink aan hierdie pragtige gedig van Jay Becker, wat ek 'n ruk gelede van iemand gekry het.

    BEWARE THE WARM

    Beware the warm not of your own making
    That tempts you with a touch, a wink, a challenge, a semi-dry lock of hair – feelings and emotions that surge through your veins like the seventh gulp of white wine
    That leaves you basking in the warm
    Dreaming dreams, forgetting about wrinkles and tomorrow – wondering how you ever lived without it and grateful that it will never leave.

    It won’t, will it?

    But the source that brought the springtide as high as a teenage boy’s limerence
    Soon turns away
    Surely followed by the ebbtide
    Leaving a dark, muddy beach and stranded shells shredding naked feet
    Leaving the cold of your own making
    Leaving you gasping for the warm (you suddenly realize) that only lasted a brief moment
    And was never yours to begin with.
    Beware the warm.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top