Skote in die nag: “Is Melville dood?”

  • 4

Twee verbyryskietvoorvalle tydens Nuwejaar-feesvieringe in Johannesburg het 2020 op ’n tragiese noot ingelui. LitNet het Afrikaanse skrywers wat ’n verbintenis met Johannesburg het, gevra om hul gewaarwordinge oor dié gebeure met lesers te deel.

Vincent Pienaar is die skrywer van Too many tsunamis, wat in 2020 die langlys van die Sunday Times Barry Ronge-prys gehaal het.

........

“Melville dood?”

Dit is seker al ’n goeie tien of vyftien jaar gelede dat ek en Nuno de Gouveia op die voorstoep van sy restaurant bo in Sewende Straat naby die klein sirkeltjie gestaan het. Ons het teen die straat af gekyk, verby Xai-Xai, Spiro’s (wat deesdae Poppy’s is), Six en Book Dealers, selfs tot by De La Creme onder by die robot.

Daai tyd was ek, gereken teen die ander mense van die omgewing, nog maar nuut in Melville. Ek kan nie onthou wat die spesifieke krisis was wat my die vraag laat vra het nie: “Is dit die einde van Melville? Is Melville dood?” wou ek weet.

Nuno, altyd pynlik netjies asof hy verwag om deur die spreekwoordelike ring getrek te word, kyk in die venster om seker te maak dat sy hare presies reg is. “Nee wat,” antwoord hy.

Ek hou hom dop om te sien of die vraag hom irriteer. Dit lyk nie so nie. “Die eerste keer wat ek daai vraag gehoor het, was maklik tien jaar gelede. Ben het dit gevra toe die rioolstelsel uitmekaar geval het.”

“Ben?”

“Ben is nou al oorlede.”

Ek wonder of hy my miskien van Ben (wie Ben ook al mag wees) se afsterwe vertel om my te laat weet dat hy die vraag al genoeg kere gehoor het dat hy dit nie te lank wil bespreek nie.

Nou, nege dae na die geskietery by Poppy’s, sit ek op die voorstoep by Nuno’s met ’n Windhoek Draught gerusstellend in my hand terwyl my hond verveeld tussen die tafels rondsnuffel vir iets interessant.

’n Jong man wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, kom staan by die tafel. Hy is nie van hier af nie. Ek weet, want hy is geklee in ’n lang kortbroek en sandale, ’n bont hemp met ’n wilde blompatroon, ’n donkerbril en ’n klein kakiehoedjie, en selfs ’n kamera om sy nek. Ja-nee! Hy is reg vir aksie! Hollander of Duitser.

“Verskoon my dat ek vra, meneer. Is Melville dood?” Beslis Hollander. Heeltemal te lank om ’n Duitser te wees.

Hy gaan sit langs my. Sy oë vonkel van opgewondenheid asof hy ’n verslaggewer in ’n oorlogsone is. Ek voel hy sou beter gelyk het in ’n polisie-kamoefleeruniform.

Hoe volledig moet ek antwoord? Moet ek sê dat ek nou al self so tien of vyftien jaar in hierdie straat ronddwaal; dat daar nie baie plekke is waar ek nie op my eerste naam genoem word nie, en dat ek al self voorheen die vraag gevra het?

Vir ’n goeie nanosekonde oorweeg ek my antwoord deeglik.

Mathilda (wat, toe ek die eerste keer op hierdie stoep kom sit het, alreeds ’n goeie dekade hier gewerk het) sit my vis en tjips voor my neer, wys na my leë glas en vra of ek nog ’n bier wil hê. Ek knik vir haar en skud my kop vir die jongeling met die partytjiehemp langs my.

“Is Melville dood?” herhaal ek sy vraag sonder die Hollandse aksent. “Nee, wat. Dit kan ek nie sê nie.”

Ek lig ’n tjip van die bord af en strooi slaaisous oor die tamatie en uie ingeval ek dit wel gaan eet.

“Toe ek tien jaar terug vir my vriend Charles vra of ons nie maar vir ’n slag êrens anders ’n bier moet gaan drink nie, het hy gesê …” [ek vat die bier uit Mathilda se hand uit] “… toe het hy gesê: ‘As jy my soek, is dit net hier waar jy my gaan kry.’”

“Charles?”

“Ja. Hy’s ook nou al oorlede.” Ek drink lekker diep en pars ’n nattigheid met my onderlip uit my snor uit. (So ’n eerste sluk van ’n nuwe Draught-bier op ’n Vrydagmiddag is darem lekker!) Ek kyk na my nuwe vriend: “Ek weet nie of dit jou help nie, maar as jy my soek, dan kry jy my net hier.”

Ek hoop die gesprek is verby. As ek die Oujaarsaand se skote in die nag wil bespreek, gaan dit nie met ’n vreemdeling wees nie.

Lees die ander bydraes hier: 

Skote in die nag

  • 4

Kommentaar

  • Ja-nee Vince, ek het ook al by geleentheid gewonder of Melville (of dalk Westdene 'for that matter' want daar gebeur ook so nou en dan iets wat die tonge laat klap) dood is. Maar dan, klokslag om ses, klink daai alombekende sepie-wysie vanuit die voorhuis en ek slaak 'n sug van verligting met die wete dat ouens soos Danie Odendaal dit nie sal toelaat nie

  • Jy weet, behalwe vir die openingskoot met Fred se haarkapper, het Sewendelaan en Sewendestraat omtrent niks met mekaar te doen nie.

  • Bloot `n retoriese vraag oor Melville.
    Soos al die ander vrae oor ons land se voortbestaan.

    Jou boek is great! Groetnis, ou maat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top