Ver in die wêreld: ’n onderhoud met Frederik de Jager

  • 1

Ver in die wêreld
Frederik de Jager (samesteller)
Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624089575 

Koop die boek by Graffiti.

Frederik de Jager, samesteller van Ver in die wêreld, praat met Naomi Meyer oor die bundel stories wat handel oor die lewe in die buiteland.

Frederik, jy is die samesteller van die bundel verhale oor Suid-Afrikaners in die buiteland, Ver in die wêreld. Jy woon ’n geruime tyd self soms in Griekeland, soms in Suid-Afrika. Het die gedagte vir die bundel by jou ontstaan, of by die uitgewers? En wat was die opdrag wat aan die skrywers gestuur is: Moes hulle hul persoonlike ervarings deel, kon dit stories wees, of wat?

Die idee van die bundel kom van Elise van Wyk, ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat geruime tyd reeds in Nieu-Seeland woon. Sy het die idee bespreek met Zirk van den Berg, ook van Auckland, en hulle het gereken ek sou ’n gepaste samesteller wees omdat ek indertyd in Griekeland gewoon het en daarby ’n agtergrond as boekuitgewer het. Tafelberg het gou ja gesê vir die voorstel, en ek het ’n veertigtal skrywers gevra om verhale voor te lê. Nie almal het iets ingestuur nie, en nie al die ingestuurde verhale het die bundel gehaal nie. Die opdrag was vir verhale, of hulle nou meer of minder outobiografies van aard of suiwer fiksie was, solank hulle iets van die ervaring van ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner as buitelander elders in die wêreld weergee.

Toe jy die verhale ontvang het, wat hét jy toe gekry?

Soos te verwagte was daar in die oes ’n breë verskeidenheid in toonaard, onderwerpsmateriaal, erns of luim, verhaaltegniek en waar die verhale op die skaal van die suiwer fiktiewe tot die suiwer outobiografiese lê. Daar was verhale vanuit ’n stuk of veertien lande. Een daarvan het my soos koue water in die gesig getref. Dit was van ’n skrywer wat sy hele volwasse lewe in verskeie lande in die wêreld gewoon en gewerk het. Sy verhaal was egter van ’n meisie wat saam met haar ingeperkte tante op die Cape Flats woon in die apartheidsjare: vreemdelinge in hul eie land. Dié verhaal, deur Julian de Wette, is in die bundel.

..........
Een daarvan het my soos koue water in die gesig getref. Dit was van ’n skrywer wat sy hele volwasse lewe in verskeie lande in die wêreld gewoon en gewerk het. Sy verhaal was egter van ’n meisie wat saam met haar ingeperkte tante op die Cape Flats woon in die apartheidsjare: vreemdelinge in hul eie land. Dié verhaal, deur Julian de Wette, is in die bundel.
..............

Om in die buiteland te woon en daaroor te moet skryf, konfronteer elke skrywer met die kwessie van ruimte en die impak wat dit op die karakters in die verhaal het. Die ruimte vir iemand wat lank in die buiteland woon, is glad nie meer so onbekend as mens jare lank al daar woon nie, maar om dit aan lesers in Suid-Afrika oor te dra sonder om hulle te vervreem, is nou weer ’n ander saak. Wat dink jy het die skrywers met die ruimte(s) in die verhale gedoen? Hoe het dit die stories beïnvloed? Het dit oplaas wérklik die gevoel of die kwaliteit van die stories beïnvloed? Wat was ook jou kriteria toe jy die verhale beskou het – watter stories het die bundel gehaal?

Wat oorgebly het na die uitsiftingsproses, is die werk van vaardige skrywers wat onder meer een van die elemente van ’n geslaagde verhaal goed onder die knie het, naamlik die ruimte waarin dit gevestig word. Daarmee saam gaan die gawe van fyn waarneming. In van die beste voorbeelde in hierdie bundel gee die skrywers op subtiele manier die ruimte waar hulle woon, profiel teen die agtergrond van die ruimte waar hulle grootgeword het. Soos te verwagte speel die weer en die klimaat ’n groot rol – soos die voorblad van die boek ook aan die hand doen. Verder moet die figure in al die verhale regkom in ’n ruimte van stede of die platteland met anderste tale, argitektuur, kulture, gewoontes, verwagtings, etiket, maar ook van nuwe moontlikhede. Hulle leef daar instinktief weerstandig teen terwyl hulle terselfdertyd moet meegaan ten einde ’n nuwe lewe te bou. Die spanningsveld tussen hierdie twee pole, ’n besonder vrugbare toestand vir die verhaalkuns, bepaal in vry elke verhaal hoe hulle optree. Ek skat die Suid-Afrikaansgeid te midde van die vreemdheid gee die tuisleser genoeg van ’n rafeltjie in die hand om agter die plesier aan uit te trek.

............
Die spanningsveld tussen hierdie twee pole, ’n besonder vrugbare toestand vir die verhaalkuns, bepaal in vry elke verhaal hoe hulle optree. Ek skat die Suid-Afrikaansgeid te midde van die vreemdheid gee die tuisleser genoeg van ’n rafeltjie in die hand om agter die plesier aan uit te trek.
...............

Om in die buiteland te woon: Ek wonder of daar ooit onlangs soveel oor hierdie onderwerp gepraat is soos juis nou, in hierdie land waar die bevrydingsparty gebuk gaan onder so baie beweerde korrupsie, waar Eskom sukkel om die ligte aan te hou, waartydens die rand tuimel. Maar dink jy die stories toon aan Suid-Afrikaners dat dit aldag maanskyn en rose oorsee is? Dat jy net jou goedjies kan pak en trek, Ferreira, so eenvoudig is dit – die gras is groener daar anderkant - Ver in die wêreld, Kittie?

Jy is reg dat die vinnig verslegtende toestand van Suid-Afrika en die opnuut hoë aantal mense wat met emigrasie begin, ’n bundel soos hierdie ongewoon aktueel maak. Soos ek in my inleiding skryf, maak dit hopelik vir Suid-Afrikaners ’n venster oop op ’n binnekyk na die lewe in die buiteland. En as ek eerlik moet wees, is daar ’n ondertoon van melankolie in die meeste verhale. Dis nie oppervlakkige nostalgie nie, net miskien die besef dat die gras oorkant die draad nie noodwendig groener is nie.

Was daar temas wat vir jou uitgestaan het, universele soorte dinge of patrone in die stories?

...........
Patrone is ’n moeilike ding om te eien in so ’n verskeidenheid soos wat ons in die bundel het, maar ek dink dis veilig om te sê dat buitestanderskap die ervaring is wat die grootste gemene deler is. Toe ons vir promosiedoeleindes ’n Zoom-gesprek met ’n aantal van die bydraers opgeneem het, sê een van hulle: "Suid-Afrika is die beste plek om ’n Suid-Afrikaner in te wees." Maar dan moet ons ook weer onthou hierdie mense is almal skrywers, en outsiders is maar wat die meeste skrywers in elk geval is.
.............

Patrone is ’n moeilike ding om te eien in so ’n verskeidenheid soos wat ons in die bundel het, maar ek dink dis veilig om te sê dat buitestanderskap die ervaring is wat die grootste gemene deler is. Toe ons vir promosiedoeleindes ’n Zoom-gesprek met ’n aantal van die bydraers opgeneem het, sê een van hulle: "Suid-Afrika is die beste plek om ’n Suid-Afrikaner in te wees." Maar dan moet ons ook weer onthou hierdie mense is almal skrywers, en outsiders is maar wat die meeste skrywers in elk geval is.

Vir wie is hierdie boek geskryf? Dink jy dat heelwat Suid-Afrikaners, wat familie of vriende het wat in die buiteland woon, hulle met minstens ’n paar van die stories in die bundel sal kan vereenselwig?

Mens wil natuurlik hê almal moet die bundel lees, nie in die minste nie omdat dit aan jou iets van die menslike kondisie openbaar. Om Totius aan te haal, soos ek ook in my inleiding doen: "Die wêreld is ons woning nie." Maar daar was ook die gedagte dat daar deesdae haas geen Afrikaanssprekende familie is wat nie ’n lid iewers in die buiteland het nie. Vir hulle sal die bundel miskien van verskerpte belang wees. En nou is daar die groeiende aantal mense wat die land wil verlaat. Hulle kan ook met vrug eers die boek lees voor hulle hul planne finaliseer.

Ek het nou-nou genoem dat Suid-Afrikaners baie kere gesels oor om die land te verlaat – natuurlik diegene wat bevoorreg genoeg is om daaroor te kan peins, moet ek dalk byvoeg. Diegene wat nie net van die hand in die tand leef nie. Maar jy wat ook dikwels oorsee woon: Is die wêreld van migrasie nie deel van die menslike bestaan en leefwêreld wêreldwyd nie? Toe ek in Ierland gewoon het, was dit in ’n buurt tussen Pole, Nigeriërs, Iere, Italianers, Suid-Afrikaners, Hollanders en Amerikaners. En dit was op die platteland.

Om tot my verleentheid nogeens na myself te verwys: Ek probeer om in die inleiding tot die bundel ’n saak daarvoor uit te maak dat migrasie ’n oerverskynsel is en dat geografiese onrus dalk in ons gene ingeskryf staan as meganisme om die genepoele oor die planeet heen vars te hou. Trek jy enigiemand se genoom, kan jy aflees presies hoeveel bloedlyne, soms van die mees onverwagte streke af, in hulle are loop. Hiermee wil ek nie die ontreddering en gevaar geringskat van die miljoene mense wat in ons tyd weens hongersnood of oorlog gedwing word om elders heen te vlug nie.

Jy het self onlangs ’n hele spul literêre pryse losgeslaan met jou Man op ’n fiets êrens heen. Wat is vir jou die kenmerke van ’n goeie kortverhaal / skets / reisherinnering / geleefde ervaring?

Hanou met "hele spul literêre pryse"! Dit was net twee, maar hulle het my bly gemaak. Ek is daarvan oortuig dat die bron van ’n goeie verhaal binne-in die skrywer self is. Verhaaltegniek, woordeskat, frasering, idioom alles vir ’n oomblik tersyde: As jy waarlik jou eie stem gevind het, uitgekom het by jou eie oorspronklike ervaring van die wêreld – wat die eerlikste manier is – sal jou verhaal sy eie gestalte vind. Wat nie sê jy moet nie jou vak oefen en jou vaardigheid slyp nie.

Uit watter lande het die skrywers geskryf wie se verhale opgeneem is? Was hul almal Afrikaanssprekend?

Al die bydraers is Afrikaanssprekend, bloot omdat ons ’n Afrikaanse bundel wou hê. Heelpaar van hulle het intussen teruggekeer na Suid-Afrika (soos ek en jy ook), maar die verhale speel af in Kanada, die VSA, Ierland, Engeland, Ysland, België, Nederland, Frankryk, Duitsland, China, Australië en Nieu-Seeland. En daardie een in Kaapstad.

En as jy dit weer kon oordoen: Sou jy weer so geleef het, met jou een voet daar en jou ander hier? Hoekom, of hoekom nie?

..........
Ek sou die ervaring om ’n ander land van binne uit te beleef vir niks verruil nie. Dit het my nooit gevoel dat ek my land verloor het nie, maar dat ek ’n land ryker geword het. Ons het minstens een maal per jaar na Suid-Afrika gekom, en dan vir twee of drie maande.
..............

Ek sou die ervaring om ’n ander land van binne uit te beleef vir niks verruil nie. Dit het my nooit gevoel dat ek my land verloor het nie, maar dat ek ’n land ryker geword het. Ons het minstens een maal per jaar na Suid-Afrika gekom, en dan vir twee of drie maande. Dit, en die gereeld kontak deur sosiale media, beeldfoon en die Suid-Afrikaners wat na ons programme in Griekeland gekom het, het eerlikwaar gemaak dat ek nooit gevoel het dat ek Suid-Afrika verlaat het nie. Ons was in dié opsig gelukkiger as ander.

Lees ook:

Frederik de Jager: ’n Herd wat knetter met stories

UJ-debuutprys 2022: Commendatio vir Swatland en Man op ’n fiets êrens heen

UJ-debuutprys 2022: Frederik de Jager se toespraak by die bekroning van Man op ’n fiets êrens heen

’n Swerfjaar vir seniors: Aflewering nommer een

Swerfjaar: Leef om die storie te vertel

  • 1

Kommentaar

  • 'n Algemene opmerking wat Suid-Afrikaners, wat nou elders woon, maak, is dat dit soveel veiliger is as om in SA te woon. Ek het dit telkemale gehoor. Jy kan vergeet om jou huis- of kardeur te sluit, en niks gebeur nie. In baie plekke is diefstal so skaars soos hoendertande. In goeie Afrikaans is die 'Cape Flats' die Kaapse Vlaktes. Ek het vier jaar in die Kaap gewoon en vier inbrake daar gehad. Dinge is blykbaar slegter onder die "bevrydingsparty."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top