
In 1595 vaar die eerste vloot van vier Nederlandse skepe om die Kaap na die Ooste. Die vaart om Bantam te bereik duur 15 maande. Ná drie jaar keer die vloot terug met net genoeg peper om die onkoste te dek. Slegs 87 uit 249 bemanning keer lewendig terug. Hulle moes een van die skepe gewoon agterlaat omdat daar nie genoeg bemanning oorgebly het nie. In 1602 neem die VOC (Vereenigde Oostindische Compagnie) beheer oor.
Wat het die groot tol aan bemanning geëis?
Hoofsaaklik siektes. Afgesien van die normale verkoues en landsiektes, het hulle te doen gekry met die sogenaamde eksotiese siektes soos beri-beri en malaria. En dan natuurlik die gevreesde skeurbuik.1 Skeurbuik was al aan die Romeine bekend en die oorsaak is gewoon ’n tekort aan vitamiene C2, en soos Dan Sleigh tereg aanvoer:
[D]ie uitgediende storie van skeurbuik as ’n skeepssiekte, terwyl dit in werklikheid sy oorsprong op land het, veroorsaak deur ’n vitamien-gebrek in die dieet, as gevolg van die uitwerking van die Klein Ystyd se groter koue en verlengde winters op Europese graan-, vee- en groenteboerdery. Skeurbuik is van die land af na die skepe gedra, en dit was veral personeel op Paasskepe wat aan die einde van die vitamien C-arm winter uitvaar, wat getref is.3
Vars water. Een van die redes waarom die eiland Texel gekies is as vertrekplek, was juis omdat die water van hoër gehalte was as op die vasteland. Die behoefte aan vars water op see was so groot dat soutwater selfs op skepe gedistilleer is, maar die ketels het egter te veel ruimte in beslag geneem en baie brandstof moes gebruik word, wat onekonomies was, en dit is gestaak. Natuurlik is reënwater opgevang, maar dit was maar ’n beperkte bron.
Onhigiëniese toestande. Dink daaraan dat elke skip ongeveer 300 siele aan boord gehad het waarvan ongeveer die helfte soldate was. Dit het drie maande geneem om die Kaap te bereik en agt maande na die Ooste. Aansteeklike siektes is maklik oorgedra. Die skepe was eintlik verdeel in twee dele. Agter die hoofmas was die luukse agterstewe met kajuite, kantore en slaapplekke. Nie groot nie, maar goed toegerus vir die offisiere en gaste. Voor die mas en in die boeg was die soldate en matrose se blyplek. Hulle was die laagste range in die hiërargie van range en moes in onvoldoende ruimtes op mekaar bly en hoofsaaklik in hangmatte slaap wat minder plek in beslag neem. En toilette? Ja, die VOC-skepe het wel toilette gehad.4 Op die luukse agterstewe is ’n kleinhuisie gebou en as gevolg van die skuinste van die romp, het die afval in die see beland. Op die voordek was dit ’n ander storie.
Op ’n uitgeboude stukkie van die voordek was die oop toilet. Net ’n plank met ’n gat in. In teenstelling met die agterdek, het die afval nie in die see beland nie, maar onder die gat op die dek. Die bedoeling was dat die golwe van die see die skoonmaakwerk sou doen. Verstaanbaar dus dat matrose en soldate windstiltes met ’n vurige haat gehaat het. En vir afvee is ’n henneptou in die see gehang, opgetrek, gebruik om af te vee en weer in die see laat sak om skoongespoel te word.
Chirurgyns. Hoe is die siektes behandel? Dit bring ons by die dokters of chirurgyns op die skepe van die VOC. Op elke VOC-skip was daar ’n opperchirurgyn, ’n onderchirurgyn en ook ’n derde leerling of selfs ’n predikant. Tydens die VOC-tydperk is ongeveer 10 000 chirurgyns na die Ooste gestuur.5 Die VOC het blykbaar geen probleme gehad om chirurgyns aan skepe te voorsien nie. Daar was selfs dokters uit Duitsland wat as chirurgyns gedien het. Die VOC het toegelaat dat chirurgyns, wat tewens offisiere was met al die voordele daaraan verbonde, ook vir hulle eie sakke kon handeldryf. Dit was dus ’n gewilde beroep.
........
[Chirurgyns] het hulle eie gilde gehad en ’n leerling het op veertienjarige leeftyd ingeskryf by ’n meesterchirurgyn. Hy lê binne ses jaar sy kneg-eksamen af. Hy voltooi sy studies rondom 25 jaar met ’n meesterproef wat onder andere bestaan uit die slyp van lansette, aarlating, chirurgie, ’n teoretiese eksamen oor die anatomie van bene en are, en materia chirurgica.
........
In teenstelling met artse of dokters wat tersiêre opleiding gehad het, en wat hoofsaaklik inwendige siektes gediagnoseer en behandel het, behandel chirurgyns uitwendige siektes soos veluitslag, wonde, beenbreuke, verkoues en maagaandoenings. Omdat chirurgyns as agtergrond barbiers was, het hulle beskik oor vlyme, met ander woorde vlymskerp messies.6 Afgesien van die siektes wat op land bekend was, kry hulle op seereise te doen met die sogenaamde eksotiese siektes soos beri-beri, disenterie, oogontstekings, malaria, waterpokke, masels, vlektifus, lintwurm en vele ander waaraan hulle hoegenaamd niks kon doen nie.
Nie dat hulle nie opgelei was nie. Hulle het hulle eie gilde7 gehad en ’n leerling het op veertienjarige leeftyd ingeskryf by ’n meesterchirurgyn. Hy lê binne ses jaar sy kneg-eksamen af. Hy voltooi sy studies rondom 25 jaar met ’n meesterproef wat onder andere bestaan uit die slyp van lansette, aarlating, chirurgie, ’n teoretiese eksamen oor die anatomie van bene en are, en materia chirurgica (die leer van die uitwendige gebruik van geneesmiddele).
Hulle was ook goed toegerus met allerhande medikamente vir die lang seereise. Afgesien van sae (vir amputasies), tange en messe vir operasies en spuite, het hulle ook geneesmiddels gehad, soos opium en ander opiate tot kwik, anysolie en ’n enorme hoeveelheid kruide, lakseermiddels, blomme, sade, poeiers, olie, salwe en pleisters.8
Neffens die hoofmas was die chirurgyn se spreekkamer; weliswaar ’n hut. Ná ontbyt in die oggend het die bootsman ’n draai geloop en uitgeroep: Kreupelen en blinden, komt laat u verbinden, boven bij den grooten mast, zult gij den meester vinden.9 ’n Mens kan jou goed voorstel dat die arbeid op die skip, die werk met katrolle en takelwerk, heelparty wonde en selfs gebreekte arms en bene kon veroorsaak. Dié kon hulle spalk en verbind. Vir velkwale was daar salf. Dit was die inwendige kwale wat probleme gegee het.
Onthou dat die mediese opvattings nog geanker was in die hipotese van die Griek, Hippocrates10 (ongeveer 460 vC–370 vC), dat die vier liggaamsappe (humoria), naamlik bloed, geel gal, swart gal en slym, en hulle ekwilibrium in die liggaam, siektes en emosies bepaal. Daarom was purgasies, klismas en die voorskryf van sekere dranke gewilde behandeling. Ironies genoeg, het die chirurgyns gevind dat die drink van sitrussap wondere verrig in die behandeling van skeurbuik, en VOC-skepe is redelik van sap voorsien. As die sap opgeraak het, het die chirurgyns asyn laat drink want die surigheid sou dan die liggaamsappe in ekwilibrium bring. Van vitamiene C het hulle nog niks geweet nie.
’n Baie gewilde behandeling was bloedlating. Bloed was een van die misterieuse liggaamsappe en te veel bloed was ongesond. Daarom is die arm-are met vlyme gesny en die pasiënt is toegelaat om goed te bloei.
........
Die chirurgyn moes ook ander bloedige take verrig. Dissipline aan boord was onverbiddelik.
........
Die chirurgyn moes ook ander bloedige take verrig. Dissipline aan boord was onverbiddelik. Veral in stil tye aan boord moes die matrose besig gehou word, anders het hulle humeure opgevlam en het hulle baklei. Dan het die kaptein gewoonlik skoonskip laat doen, met ander woorde die skip is geskrop, dikwels met ’n asynmengsel, ook ter wille van siektes. Nogtans het daar oortredings soos diefstal, aanrandings, opstand en selfs moorde voorgekom. Die strawwe was meedoënloos. Doodstraf is toegepas vir moord waar die skuldige dikwels aan die lyk vasgebind en oorboord gegooi is. Ook vir homoseksualiteit is die twee betrokkenes aanmekaar gebind en oorboord gegooi. Aan die slaap raak op wag het ook doodstraf tot gevolg gehad. So ’n persoon is óf gehang óf gefusilleer.
Naas doodstraf was kielhaal die ergste straf. Die skuldige is drie maal onderdeur die skip gesleep. Of soveel houe met die kat (gesel) met sewe of nege staarten. Ná 50 of 100 slae was die rug van die skuldige flenters geslaan en dan het die chirurgyn sout in die wonde gevryf.11 Dit was ongelooflik pynlik en as die skuldige nog by sy bewussyn was, byna erger as die straf, maar die sout moes die bloed stol en infeksie voorkom. So ook die wonde wat opgedoen is by kielhaal. Indien die skuldige verdrink het, dan was dit sy verdiende loon. As hy nog lewend was, is sy wonde behandel.
En dan amputasies. Veral in oorlogsituasies waar bene en arms afgeskiet is, moes die chirurgyns amputasies uitvoer. Die pasiënt is gewoon vasgedruk, ’n sopie gegee en sy oë is toegegooi sodat hy nie die brandysters kan sien nie. Die chirurgyn besluit hoe hoog die been of arm afgesit moet word, maak ’n merk en sny dan die vleis los tot op die been. Die vel en vleis word dan met hake teruggetrek en die chirurgyn saag vinnig deur die been. Die helper druk op die are om bloeding te keer en dit word dikwels met vurige ysters toegebrand. Daarna word die vel en vleis weer teruggetrek en die stompie word verbind.
Die VOC is in 1602 gevestig as handelorganisasie en het voortbestaan tot 1796,12 dit wil sê bykans twee eeue. Hy het bykans ’n miljoen Europeërs na die Ooste gestuur op 4 785 skepe. Oor die algemeen is goed vir die matrose gesorg.13 Vir amputasies kon hulle kontant eis, byvoorbeeld vir ’n been 350 gulde en vir albei bene 700 gulde. Matrose het maar 10 tot 11 gulde per maand verdien. Dit was in die VOC se belang om gesonde en sterk matrose en soldate te hê. Desnieteenstaande sterf daar tussen 1770 en 1775 23% van die vaarders ter see.14
Wie weet, dalk was dit die behandeling van ’n chirurgyn van een van jou voorouers wat tot gevolg het dat jy vandag springlewendig in Suid-Afrika vertoef.
In ieder geval, ’n reis na die Ooste was nie vir sissies nie, allermins vir die matrose.
Eindnotas
1 Schelleman, J.M.A. 2014. Het gezondheidszorgbeleid aan boord van de VOC-schepen. De toepassing van medische kennis uit de zestiende eeuw door de VOC (1602-1622). BA-skripsie Geskiedenis, Universiteit Utrecht.
2 Vitamien C is eers in 1912 ontdek.
3 https://www.litnet.co.za/schoeman-en-die-voc-tyd-historikus-of-kroniekskrywer/
4 https://historiek.net/naar-de-wc-op-zee/152215/
5 Bruijn, I. 2009. Chirurgijns op de schepen van de Verenigde Oost-Indische Compagnie. TMEO, 28:180–2.
6 https://www.litnet.co.za/die-virus-die-king-die-stem-en-die-sonkoning/
7 https://link.springer.com/article/10.1007/BF03081788#citeas
8 https://vaartips.nl/extra/chirurgijn.htm
9 https://www.hetscheepvaartmuseum.nl/collectie/artikelen/542/ziek-op-zee-bij-de-voc-5x-de-barre-waarheid
10 https://en.wikipedia.org/wiki/Humorism
11 “Salt has been used for thousands of years to clean and treat wounds. Applying salt on wounds has been a life-saving solution for many patients in the times where the medical methods were primitive or situations such as war, migration, and exile where the medical means are limited” (Koyuncusalt).
12 “By contrast, the rest of Europe combined sent only 882,412 people from 1500 to 1795” (Wikipedia).
13 “Tydens Jan van Riebeeck se seereis Kaap toe op die Dromedaris is twee persone oorlede. Op 7 Januarie 1652 is ’n timmerman aan watersug wat hy reeds op land gehad het, oorlede. Op 12 Maart 1652 is die jongste kind van die opperchirurgyn oorlede aan skeurbuik” (DBNL).
14 http://www.atem.nl/voc/voc007.htm
Lees ook:
Dan Sleigh skryf VOC se retoervlootstelsel en die oorsprong van verwoestende pokke aan die Kaap oop
Eeue oue joernaal onthul geheime van Nederlandse retoervlote
Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see

