Gert van Jaarsveld vertel van die interessante taalkundige verskynsels wat hy teëgekom het tydens sy werk aan dokumente van die vroeë Nederlandse immigrante-Boere in die Republiek Natalia.
Ek het die voorreg gehad om as proefleser mee te doen aan die projek van die KwaZulu-Natal Archives in die ontsluiting van die dokumente van die vroeë Nederlandse immigrante-Boere in die Republiek Natalia.
Die doel was om die geskrifte van die land wat die Voortrekkers in besit geneem het en waarvan noukeurig boek gehou is, te ontsluit, te transkribeer en digitaal beskikbaar te stel vir ondersoekers.i
Emile Picardii het die transkripsies gedoen vanaf 2017 en moes worstel met brose dokumente van meer as 170 jaar gelede met soms byna onleesbare skrif, met soms gebruikskade, soms gevou en met gerafelde rande. Groot moeite is gedoen om bruikbare geskandeerde kopie te bekom.
Ek was betrokke by die proeflees van die uitstekend getranskribeerde Volume 1 nr 1 – Surveyor general office (sgo) Voortrekker period: Correspondence & miscellaneous 1837–1845, asook Volume 1 nr 2 – Surveyor general office (sgo) Voortrekker period: Papers relating to land disputes 1841–1842.
Die waarde van die projek olv Reinhardt Hartzenbergiii vir historici en argeoloë kan kwalik oorskat word. Data wat vir meer as 170 jaar bykans ontoeganklik was, is nou gedigitaliseer en vir navorsers beskikbaar. Maar ook vir linguiste is dit van groot waarde. Die geskrifte van daardie tyd is ook deel van data wat ons Voortrekkerafrikaans kan noem en die data kan vergelyk word met ander geskrewe bronne, bv. Louis Tregardt (Trichardt) se dagboek 1938-1939)iv en ander uit die Voortrekkertydperk soos in koerante geskryf aan die Oosgrens.
“De taal ontwikkelde zich anders dan in Nederland,” stel die skrywers van die artikel waarna in eindnota 1 verwys word, dit. Dit weet ons vandag goed. Met die afstand vanaf die Nederlandse bakermat in die Kaap, het die spreektaal en die skryftaal al meer variasie begin vertoon. Alhoewel die amptenare (landdroste en die sekretaris van die Raad) asook opgeleides soos eerwaarde Erasmus Smit in Natalia nog goed Nederlands geskryf het, is die briewe van die “gewone” mense taalkundig meer interessant. By gebrek aan standaardisering van die skryftaal is selfs variasie by die amptenare wat spelling betref, soms opvallend.
Die volgende gevalle wat ek hier aandui, berus nie op ’n omvattende ondersoek nie; daarvoor sal ten minste ’n M-verhandeling of proefskrif van ’n ondernemende student nodig wees. Hier gaan dit oor variasie in die skryftaal met enkele afleidings dááruit oor die gesproke taal.
Hier onder is ’n voorbeeld van ’n transportakte en ’n brief van eerwaarde Smit aan die Raad wat die gebruik van Nederlands in formele korrespondensie toon:
Transkripsie van bostaande akte:
Erf No 19 Lange Mark Straat tusschen deeze en
de Kerk Straat
Wy ondergeteekendens Gecommeteerdens door
den volks Raad Staan af en geeven in vollen en
vrijen eigendom aan en ten behoeve van den Marts J,,
Schoeman Sr dezelfs ordere erfen ofte regt ver,,
Krygende het erf No 19 Lange Mark Straat – alhier
zynde breed Eenhonderd & Vyftig voeten en lang
Vierhonderd & Vyftig voeten. En groot in zyn grond
468 Roeden en 108 vierkantiege voeten met dien ver,,
stande dat het onderheevig zal zijn aan de Kosten
voor het uitlyden der Kleinboschmans revier zo spoe,,
dig als het water benoodig zal zijn en aan alle
steedelyke belastingen van den 15 february 1839 –
Aldus Gedaan te Pietr MauritzBurg den 14 Octobr 1839
Over Getransporteerd, den 17 Meij JacoJohBurger
- op Hk Js. Maartens op Tol: 133.
Over Getransporteerd den 17. Meij
1841 op J,, Ths Maartens op Tol: 133.
JacoJohBurger
Registr.
Brief van eerw Smit getranskribeer:
Pieter Mauritz Burg den 27. Februarij 1839.
Aan den Wel Edelen Achtbaare Raaden dezes Vereenigde Legers.
Myne Heeren ! _
Den ondergetekende Supliandv Requesteerd
door deze met Verschuldigende Eerbied, Om
Van u Edelen Vergund te worden De grond tot
een plaats de Van dijks kraal genaamd
met des Zelfs Zaaij en Wylanden En een gedeelte
Van het aan gelegene houd bosch _ Gelegen aan
de aandere Zeide van de Boschsmans Rivier,
aan de Togilla, of sterk genaamd _ ( op zoo da
nige Wijze En voor Waarde als te welde Eens
zal gelieve goed te vinden.)_
En de Ingevallen, dat de bovenstaande
gemelde en gevraagde plaats, reeds door
U W Ed aan eene anderen Sollicitant is be
geven geworden – Verzoek uwen Supliant
te moogen hebben – De plaats die hy zoude
Wenschen tenoemen: De Groene fontijn:
geleegen op de Stinkhouten Berg, uitko=
men de tusschen de Voeten Van twee schuin
sche gras ruggens, op de regter Zeide van de
Coloniesch Wagen Weg, herwaardsgaande,
af loopende naar de Linker Zeide Dwarsch
over de gezegden Wagen Weg, in eene hol=
le of Diepen Grip,,
Derdens. – En de Zoo ook deze plaats reeds
door U W Edelen aan een Aanderen is begeven,
Dan beveeld den Supliant Zich aan U W E
delens Vader En richterlijke voor Zorgen, om
hem, als eene der aller eerste medereizigers,
(Die alle ongemakken En fatieken Van de reize
mede heeft door gestaan) om uwer Supliant,
na uw wel Edelens goed dunken, een plaats
binnen de Grenzen der Limiten dezer Stad
Pieter Mauritz Burg aan te Wyzen, En in
Eigendom te Schenken.
Dit Verzoek ’t welken is doenende
uwen W.Ed Achtbaare onder Daanige
Dienst Willig Dienaar Erasmus Smit
Deze Aan den W Ed Achtbaaren Eerste Leeraar in deze Gemeente
President En Leeden Van den Raad
dezer Vereenigde Leger.
Voorbeelde van wisseling in die skryftaal
– Pieter Mauritz Burg; PieterMauritz Burg; Pieter Mauritzburg; Pieter Maurits Burg; Pieter maurits burg; Pieter Mouritsburg; Pieter Maritz Burg; Pieter marits Burg; Peter maarits burg; Pieter mauretsburg; Pietermauretz burg; pieter Maretz Burg; Pieter MaretzBurg; Maurets burg; Maurits Burg.
Die onvaste gebruik van hoof- en kleinletters is duidelik. Opvallend is die wisseling -z en -s. Onverklaarbaar vir my altans, is die weglating van “Pieter” in die kursiewe voorbeelde hier bo.
Ek was aanvanklik verstom oor die “Pieter Mauritz” en het foutiewelik gedink die skrywers het gefouteer deur te dink Pietermaritzburg is net na Pieter Retief vernoem. Die onderstreepte voorbeelde was volgens my die korrektes. Foutief! Pieter Retief se tweede naam was inderdaad Mauritz en eers in 1938 (waarskynlik nav die Simboliese Ossewatrek?) het die stadsraad besluit om beide Voortrekkersleiers, Pieter Retief en Gerrit Maritz, te vereer met die naam Pieter Maritzburg.vi
Selfs die verkortings volg nie dieselfde patroon nie: Pr Mz Burg; Pieter MsBurg; PmsBurg; Pm, Burg; PMBurg; Pm Burgh; P: M: Burg; PmtsBurg.
– Landdrost; Landrost; Landrosd; Landeros; Laderos, terwyl wisselende verkortings voorkom: Landt; Landd; Landt.
– volks Raad; volksRaad; volksraad; Volksraad; Volks-Raad.
– Omlovo x Lovo; Umcomas x umcommas x Omcomaas x Omcomas; Tugela x Togela x Tugala; Umwootie x Omwotie x om wootie; Umslooti x umsloetie x Omsloete; Umgenie x Umgini x Omginie x Oemgienie x Omguinée; Umlaas x Umlas x Omlas x Omlaas; Umslonga x Umslanga; Umtougat x Omtokat; Omsinmcoelo x Omsinmcoelo x Umsincolo x Umsincolo.
– Die name van die meeste plase en riviere is los geskryf: Klip revier; Elands fontein x Elandsfontein (in dieselfde brief); Heuning nest Krans.
Klinkers en tweeklanke
a x aa: (die van) Laas x Las; maarits x marits
ij x y x ey: Hyland x Heiland; van deiks kraal x Van Dykskraal x Van dijks kraal; heyl x heil; wy x wey x weij; Rietvly
a x e: kan begryp x ken begryp; vgl. ook versrievier.
i x ie: Vrint x vriendvii; en omgekeerd “sodaniege” vir “sodanige”
e x i x ie: revier x de versrievier x Boschsmans Rivier; Maritz x Maretz; (veljoen, maretz, revier, maar ook Viljoen deur dieselfde skrywer: Landdros JP Zietsman).viii
Konsonante
d x t x dt: volksraad x volksraadt x volksraat; rapord x rapport; Lantman x Landman; supliand x supliant (eerw Smit in dieselfde brief)
p x b: heb x hep
ch x k: Kristene x Christene
v x f: Tavelkoppen x Tafelbergen
Enkele opmerkings
- Terwyl mens kan aanneem dat in “Mouritsburg” die skryftaal die spreektaal gevolg het, het ek gedink “mauretsburg” is moontlik gewoon ’n spelfout. Maar “maretz” kom ook elders voor. Kyk jy na “revier” en “Veljoen” (“Viljoen” met ’n “i” kom net een keer in die korpus voor), dan word dit duidelik dat die “e” in die tekste dikwels staan vir “i” (die [ə]-klank).
- Die geografiese Zuluname is uiters interessant. Die Voortrekkers het in Natal met die vreemde Zuluname kennis gemaak. Opmerklik is dat so baie Zuluname behoue gebly het. Vir die Voortrekkers moes die name ook maar vreemd op die oor geklink het en uit die voorbeelde kan die verwarrende spelling na aanleiding van die uitspraak duidelik gesien word. Die duidelikste is “Um” wat “om” geskryf word en ek glo so uitgespreek is (vgl ook “Togela”), die lengte van die uitspraak “a” x “aa” (Umlaas x Umlas; Umcomas x umcommas x Omcomaas); vgl ook dié van “Laas”, soms “Las”. Mens sal nooit weet of “umcommas” as “oem-kommas” uitgespreek is nie, al suggereer die spelling so. ’n Duidelike voorbeeld van hoe die skrif uitspraak gevolg het, is Omsinmcoelo x Umsincolo x Umsincolo met die duidelike “om” en “oe” geskryf. Waar die “m” in “Omsinmcoelo” vandaan kom, kan ek nie uitpluis nie. Dalk gewoon ’n spelfout? Die wisseling “e” [ɛ] en “i” uitgespreek as “ie” in Umgeni x Umgenie x Umgini x Omginie x Omguinée. Oemgienie glo ek volg heeltemal die uitspraak van die vreemde woord. Ek weet egter glad nie wat om met “Omguinée” te maak nie.
- Die wisseling van d x t x dt wys net hoe die Nederlandse “dt” gaandeweg moes swig voor of “d” of “t”, maar die “p” by “hep” wys dat die uitspraak gevolg is. (Dit kom ook by Tregardt voor.)
- “Vrind” kom uit Nederlands en ons vind dit hier met die spelling “vrint” (vgl. eindnota vii). “Vriend” kom wel ook voor. Ek vermoed die wisseling kom al voor in die vroeë Afrikaanse tydperk en kom vandag nog voor. Ek het op die Facebook-blad “Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool” gevra of die vorme “vrind” en “vrinne” nog gebruik word. Baie het positief en min of meer op dieselfde trant gereageer: “Ja, ek en my goeie Vrind Ian Rothmann gebruik dit gereeld” (Christo Younis du Plessis).
- ’n Opvallende, onreëlmatige werkwoordvorm is “vrieg” wat vier keer voorkom. Landdros Boshof het klaarblyklik die getuienis van drie persone afgeneem: “Getuigen voorden klager” waarin “vrieg” as verlede tyd vir “vragen” Dit kom ook voor by Gerrit Scheepers (1x), Fredrik Coenraad Scheepers (2x) en Matthys HkMaree (1x). Die getuienis is verbatim neergepen en “vrieg” kom dus by al drie die getuies voor. Dis nie duidelik of die sprekers “vrieg” gebruik het en of dit landdros Boshof se eie vervoeging is nie. Een voorbeeld: “hy zeide dathy het nietwist ma[ar] vrieg my waarmyne aantekening was.” Elders kom “vroeg” meermale voor.
Die vervoeging van “vragen” is “vroeg” (onvoltooide verlede tyd enkelvoud) of “(heeft) gevraagd” (voltooide deelwoord).ix
Sterk, onreëlmatige vervoegings kom in Nederlands voor, bv. “lopen – liep”. Ek het aanvanklik gedink dit kan ’n voorbeeld wees van analogiewerking. JErik Adriaensen, Turnhout, België het tot my redding gekom deur my te verwys na die DBNL (Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren) waarin verskeie gevalle van “vrieg” voorkom. Willem Bilderijk skryf in Nederlandse Spraakleer (1928): “Ik vroeg van vragen ..., schoon men in andere onzer provincien ook ik vrieg zegt ...” Elders word verwys na die Overijselse dialek (DBNL). In die DBNL is daar verrassend twee aanhalings uit Karel Schoeman, 1995: Die wêreld van Susanna Smit 1799-1863 met “vrieg” waarvan ek een aanhaal: “... te lichten. Het was als of mijn hart mij vrieg, Is dat ook goed dat ik ge[e]n stille bidtplaats heeft ...” En toe ontdek ek “vrieg” ook by Tregardt: “Toen hy daar kwam, vrieg ik ...” (Vander Merwe 1975:213). Dit blyk dus dat die gebruik van die vorm “vrieg” nie so uitsonderlik was in daardie tyd nie.
Vir my was ’n besonderse brief dié van “Pieter, J vannie kerk” aan sy neef en niggie, waarvan ek ’n gedeelte aanhaal. Ek sien voor my geestesoog, met deernis, die stoere boer by ’n tafel vooroor gebuig met sy lang baard byna op die tafel, die veerpen in sy vingers vasgeskroef en met ’n inkpotjie voor hom. Met sy oë stip op die papier en ’n frons wat sy voorkop plooi, klank hy die sillabes van die woorde met sy lippe wat hy byna lettergrepig en moeisaam neerpen:
Elans rievier den16 septem mer 1843
Waar de neef en nig W S van der
merwe
so be bekomt Es ons wil stant wEd wel stan[…]
es ons hart in wensen voorts beste neef so be kom
U een prok_ra sie ver reg het voor mijn ik
ik sal (...) voor u doen wat ik doe ne ken de on ge
luks kraal waar (...)600 (...) door de on weer ver
on ge luk ben het es een reg dien ik op mijn
oo ver le den schoonvader sijn van die zie ge
kog hep ik hep daar op al gebout en de gront
brief […] leg die ook de heer ge duplusies hep ...
My hartewens is dat navorsers ruimskoots in die opgediepte skat sal delf vir navorsing!
Eindnotas
i’n Meer volledige uiteensetting kan gelees word in die artikel “Republiek Natalia: De vergeten Nederlandse stamverwanten van Suid-Afrika”, in Gen Magazine voor familiegeschiedenis, Jg 28(2), Junie 2022.
ii Emile Picard is ’n historikus en argeoloog en werksaam by die Stadsarchief Rotterdam as koördineerder van grootskaalse digitaliseringsprogramme.
iii Reinhardt Hartzenberg is ’n ondersoeker en spesialis in die digitalisering van argivale materiaal en erfgoed. Hy werk by die KwaZulu-Natal Archives and Record Services.
iv HJJM van der Merwe (1975, Scheepsjournal ende Daghregister, Van Schaik) sê in sy Voorwoord: “Wanneer ’n mens daaraan dink dat Trigardt probeer het om Nederlands te skryf en hoegenaamd nie daarin geslaag het nie, dan kan jy jou voorstel hoe ver Afrikaans reeds gevorder was op daardie tydstip.”
v Van Frans suppliant met die betekenis “nederige versoek/pleidooi”.
vi https://www.wikiwand.com/en/Pietermaritzburg.
vii vrind (de; m; meervoud: vrinden); (deftig of ironisch) kameraad, vriend https://www.vandale.nl/gratis-woordenboek/nederlands/betekenis/vrind#.Y33mfHZBzIU, maar ek dink die gevoelswaarde het verskuif na informele gemeensaamheid. Dat die woord ook in Psalmberyming 105:5 van Totius 1937 (en ook in Psalm 66) voorkom, wys dat dit ook in daardie jare bekend was. Dalk was dit vir Totius deftig en ook nuttig om te rym met “kind”.
viii By Tregardt kom “Satirdag” voor (Van der Merwe 1975:210).
Kommentaar
Goeie werk, Gert! Baie insiggewend. Hartlik dank.
Baie goed, burg verwys in Hollands na 'n olisiestasie of buitepos met soldate.
Kan ek 'n afskrif bekom, asb.
Groete en dankie.
Jan
Baie dankie, Fransjohan. Ek waardeer jou opmerking opreg. Ek is bly ek kon die belangrike werk van Reinhardt en sy span op dié manier 'n bietjie bekendstel. Dankie ook aan Melt vir die mooi plasing.
Baie insiggewend, goeie werk gedoen!
Baie interessant uit 'n taalkundige oogpunt (nie-standaard Nederlands) en om 'n kykie te gee in hulle manier van doen.
Uiters interessant! Moet seker ook kyk na die mate van onderwys wat die skrywers gehad het, en waar dit geniet is. Dit is te verwagte dat die minder geskooldes in hul poging om die woordeklank op skrif te stel tot baie verskillende resultate sou kom.
Weereens bewys dit dat die GRA nie "vaders van Afrikaans" in die hele SA was nie, maar slegs in die baie Engelse Boland van daardie tyd.
Baie dankie, Gert, dit maak nuwe wêrelde oop vir navorsers. Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika sal beslis baie hierin belangstel. Waar kan die transkripsies verkry of gesien word?
Baie dankie, ek het hierdie artikel baie interessant gevind.
Ek wil graag noem dat ek in Pietermaritzburg werk, en reeds my lewe lank noue kontak met die stad het. Dit is baie algemeen om die naam "Pieter" weg te laat uit "Pietermaritzburg". Trouens, die skool waar ek werk, heet Maritzburg College. Die skool is 160 jaar gelede gestig, maar het aanvanklik as Pietermaritzburg High School bekend gestaan. "Maritzburg" is veral in die spreektaal van inwoners baie algemeen, in Engels en ook in Afrikaans.
Dit is regtig wonderlike taaldata! Dit laat my dink aan die Brieven-als-buit-projek. Hoe kan 'n mens toegang kry? Ek wonder nou sommer of Wannie Carstens ook hierdie bronne in sy projek insluit? Jac Conradie weet sekerlik hiervan? In ieder geval: van harte dankie.
Riana, dankie vir jou belangstelling. Die projek is nog nie voltooi nie. Daar lê nog 'n pad voor met proeflees, finale redigering voor dit waarskynlik as e-boek aanvanklik sal verskyn. Reinhardt Harzenberg (projekleier) sal 'n volledige oorsig oor die projek in Maroela Media plaas.
Hallo Nerina. Dankie vir jou opmerking. Kyk ook na my antwoord aan Riana. Ek weet nie of Wannie en Jacques bewus is van die navorsing nie, maar ek glo as dit gepubliseer is, sal Wannie dit ook kan insluit. Groete. Jarries.