Die virus, die king, "Die Stem" en die sonkoning

  • 1

Erkennings: onderaan

Die Latynse woord vir kroon is corona. As jy die SARS-CoV-2-virus wat verantwoordelik is vir die COVID-19 respiratoriese siekte onder ’n mikroskoop bekyk, lyk dit asof dié virus ’n kroontipe struktuur het. CO verwys na corona, VI na virus, D na disease en 19 na 2019, toe die eerste geval in Wuhan, China geïdentifiseer is .

Tot vandag toe is daar ’n polemiek oor die oorsprong van die siekte. Een teorie is dat die virus “oorgespring” het van vlermuise of ietermagôs na die mens. ’n Ander gedagtegang is dat die virus gekweek is in ’n laboratorium en toe “ontsnap” het. Hoe dit ook al sy: Dit help niks vir die duisende wat dood is of ernstig siek geword het tydens die sogenaamde pandemie nie. 

.....
As jy die SARS-CoV-2-virus wat verantwoordelik is vir die COVID-19 respiratoriese siekte onder ’n mikroskoop bekyk, lyk dit asof dié virus ’n kroontipe struktuur het.
.....

Egte krone hoort by konings en koninginne. Koningin Elizabeth II het die Britse kroon meer as 70 jaar lank gedra: van 1952 tot 2022. Dit is die langste tydperk vir enige Britse monarg en die langste vir enige vroulike kroondraer in die geskiedenis. 

Die Britse kroon is 31,5 cm hoog en weeg 1,06 kg. Die raam is van goud, silwer en platinum en is verder versier met 2 868 diamante, 273 pêrels, 17 saffiere, 11 smaragde en vyf robyne. Die 317,4 karaat-Cullinan II is voor en in die middel van die fabelagtige kroon gemonteer. Die Cullinan I, of “Great Star of Africa”, is 530,2 karaat en is aan die bokant van die koninklike staf gemonteer.

Noudat die Engelse (weer) ’n koning het, gaan hulle natuurlik nie meer “God save the Queen” sing nie, maar “God save the King”. Sedert die oorgawe van die Boere aan die einde van die Anglo-Boereoorlog was “God save the King” die enigste amptelike volkslied dwarsoor Suid-Afrika. “Die Stem” is eers in 1938 as een van die twee amptelike volksliedere geproklameer, dws 13 jaar nadat Afrikaans amptelik in 1925 as een van die landstale erken is.

CJ Langenhoven het in 1918 “Die Stem van Suid-Afrika” gedig en dit is in 1921 deur ML de Villiers getoonset. In die twintigerjare het die SABC beide “Die Stem” en “God save the King” aan die einde van daaglikse uitsendings uitgesaai. “Die Stem” is eers op 31 Mei 1928 vir die eerste keer in die openbaar gesing.

In September 1949 het die ATKV die minister van binnelandse sake, Eben Dönges, versoek om “Die Stem” die enigste volkslied van Suid-Afrika te maak en ’n Engelse vertaling te laat doen. In September 1950 het die minister ’n komitee aangestel olv Henry Fagan om aan ’n vertaling te werk. Die Engelse vertaling, “The Call of South Africa”, is in 1952 gepubliseer en vir amptelike gebruik aanvaar. Vanaf 1952 is “Die Stem” (Afrikaanse en Engelse weergawes waar toepaslik) saam met die Britse volkslied gesing en dit het tot 1957 geduur, toe “God save the Queen” as volkslied in die slag gebly het. 

.....
Maar waar kom “God save the King” vandaan? Selfs vandag nog bestaan daar geen parlementêre besluit oor die sing van dié volkslied by Britse amptelike koninklike geleenthede nie. En boonop word beweer dat die melodie daarvan ’n Franse oorsprong het. Hoe sit dit nou in mekaar? 
.....

Maar waar kom “God save the King” vandaan? Selfs vandag nog bestaan daar geen parlementêre besluit oor die sing van dié volkslied by Britse amptelike koninklike geleenthede nie. En boonop word beweer dat die melodie daarvan ’n Franse oorsprong het. Hoe sit dit nou in mekaar? 

In ’n onlangse boek lys ’n Franse professor, Jean-Noël Fabiani, hoof van kardiovaskulêre geneeskunde aan die Georges Pompidou-hospitaal in Parys, die ontstaan van “God save the King” as een van die toevallighede van die mediese wetenskap wat te doen het met ’n kanaaltjie wat tussen die vel en die anale kanaal vorm en wat dikwels ontsteek. Die abses wat dan gevorm word, word ’n fistel genoem. En die Sonkoning, Lodewyk XIV, het ’n baie pynlike een gehad. In 1686 wou die koning dit sjirurgies laat verwyder, maar in daardie tyd het artse nie operasies uitgevoer nie – dit was barbiere se werk, want hulle het vlyme gehad – baie skerp (vlymskerp) messies waarmee hulle mense se are gesny het vir bloedlating. Daar is geglo, hoe belaglik ook al, dat bloedverlies jou van allerlei siektes kon genees. ’n Minister het die koning oorreed om sy barbier te vertrou met die operasie, maar die barbier wou nie – bang dis ’n mislukking en dan is die guillotine sy voorland. Die koning beveel hom egter om sy apparaat en prosesse te verfyn en na maande se verfyning van sy tegniek en verbetering van sy vlym, is Charles-François Félix gereed om te opereer onder toesig van die hofarts, en natuurlik sonder narkose, op 18 November 1686.

Portret van die Sonkoning, Lodewyk XIV deur Henri Testelin (1667). Bron: Wiki Commons

Die koning se eggenote, madame De Maintenon, het inmiddels die hofkomponis, Baptiste Lully, gevra om ’n melodie te komponeer waarvoor madame De Brinon, direktrise van de meisieskool van Saint-Cyr, die liriek geskryf het: "Dieu protège le roi, de sa main souverain! Vive le roi!" (God beskerm die koning, met sy soewereine hand! Lank lewe die koning!) Tydens die operasie het ’n meisiekoor van die skool die lied gesing. Die koning het die operasie volgens oorlewering baie dapper hanteer.

Hoe het die lied uiteindelik "God save the King/Queen" geword? Daaroor bestaan daar volgens Fabiana twee teorieë. 

Volgens die eerste een het Georg Friedrich Händl, destyds die komponis van die Britse hof van George I, die lied tydens ’n besoek aan Versailles in 1714 gehoor. Hy noteer die melodie, skryf ’n Engelse teks daarvoor en lê dit voor aan die koning. Die koning was baie ingenome daarmee.

Die ander, minder waarskynlike, teorie is dat die Britse koning James II, toe hy in ballingskap was in Frankryk, die lied gehoor het en gesweer het dat dit die volkslied sou word as hy die Engelse troon herower. Hy sterf egter in 1701 en sy seun was ook nie suksesvol om koning in Engeland te word nie. 

.....
Hoe dit ook sy: “God save the King/Queen” se wysie kom uit Frankryk.
.....

Hoe dit ook sy: “God save the King/Queen” se wysie kom uit Frankryk.

’n Nasionale volkslied is gewoonlik ’n patriotiese lied wat dikwels die geskiedenis, stryd en tradisies van ’n bepaalde volk weergee; vgl maar die Franse “Marseillaise” (oproep tot stryd gekoppel aan die Franse Revolusie) en die Nederlandse “Wilhelmus” (’n Christelike lied ter ere van Willem van Oranje gekoppel aan die Reformasie). Simbolies het dit die waarde van ’n volk se identiteit. 

Suid-Afrika se huidige (post-1994) volkslied is uniek. Die eerste twee reëls van die eerste vers is in Xhosa, die volgende twee in Zoeloe, gevolg deur Suid-Sotho in die tweede vers, Afrikaans in die derde vers en Engels in die vierde. Die eerste gedeelte is ’n gebed vir eenheid en beskerming, terwyl die laaste gedeelte (Afrikaans en Engels) ’n oproep is vir samehorigheid en vrede.

Sowel die kroon as ’n land se volkslied het geweldige simboliese waarde. Die kroon simboliseer nie alleen koningskap nie, maar ook wetlikheid, mag, rykdom en soms ook heiligheid. Daarom word, soos in die geval van Brittanje, die koning deur ’n kerklike gekroon. Die oudste Christelike kroon is dan ook die Kroon van Lombardye, gebruik as die simbool van die eenheid van Italië na 1860. Dit kom reeds uit die 4de of 5de eeu na Christus.

.....
Die kroon het ook ’n negatiewe sy. ’n Kroon van dorings het gesimboliseer dat die draer ’n nikswerd skelm is; die bekendste voorbeeld is die doringkroon van Christus.
.....

Die oudste kroon op aarde is ontdek in ’n grot in Israel. Dit is gemaak van koper deur mense van die kopertydperk, 4 500–3 600 vC, wat die dra van krone dus ’n baie ou tradisie maak. In alle ou beskawings het die oppergesag een of ander hoofbedekking gedra om sy/haar aansien en mag teenoor sy/haar onderdane te beklemtoon. “Loyalty to the crown” is ’n bekende uitdrukking.

Die kroon het ook ’n negatiewe sy. ’n Kroon van dorings het gesimboliseer dat die draer ’n nikswerd skelm is; die bekendste voorbeeld is die doringkroon van Christus.

.....
Die woord kroon is ’n baie mooi voorbeeld van die taalverskynsel metonimie of oornoeming. Dit beteken dat die woord kroon wat na ’n fisiese artefak verwys, gebruik word om ’n verbandhoudende saak aan te dui, soos in “Die kroon het ’n verklaring uitgereik”, waar kroon na die koningshuis of die regering of administrasie verwys. Respek vir die kroon beteken nie respek vir die artefak nie, maar vir die draer daarvan.
.....

Terug by die woord kroon. Dit is ’n baie mooi voorbeeld van die taalverskynsel metonimie of oornoeming. Dit beteken dat die woord kroon wat na ’n fisiese artefak verwys, gebruik word om ’n verbandhoudende saak aan te dui, soos in “Die kroon het ’n verklaring uitgereik”, waar kroon na die koningshuis of die regering of administrasie verwys. Respek vir die kroon beteken nie respek vir die artefak nie, maar vir die draer daarvan. Engeland het baie sogenaamde kroonkolonies gehad, wat eenvoudig beteken het dat die koning of koningin van Engeland die betrokke lande se hoof of heerser was. Die kroon is dikwels nie net ’n fabelagtige artefak nie, maar deur assosiasie die simbool van onder andere mag, setel van mag, oorheersing, bestuur, prestasie en besit.    

Dan het ons ook nog “bekroonde” skrywers en digters, en as die adjektief nie metonimies geïnterpreteer word nie, bv as “pryswenner” dink net hoe snaaks sou so ’n bekroonde lyk, met ’n verspotte kroontjie op sy/haar kop.

Die woord corona, afgekort en saamgetrek in Covid en verwysende na die siekte, is dus self ’n metoniem.

Beelde:

  1. Koningprotea: PixaBay
  2. Illustrasie van Koning Charles III: Andreas Volz op Pixabay
  3.  Portret van die Sonkoning, Lodewyk XIV deur Henri Testelin (1667). Bron: Wiki Commons

Lees ook:

Republiek Natalia en Voortrekkerafrikaans

Republiek Natalia en Voortrekkerafrikaans 2

  • 1

Kommentaar

  • Chris Heymans

    Die God save the Queen kwessie klink in lyn met die algemene konteks van die Britse stelsel - selfs die “grondwet” is nie ‘n formele dokument nie, maar die produk van ongeskrewe konvensie. Selfs die Magna Carta is eerder ‘n handves van regte, eerder as ‘n formele gondwet. Dit alles klink nogal esoteries, maar nou ja…

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top