Republiek Natalia en Voortrekkerafrikaans 2

  • 2

Soos in ’n vorige artikel[1] gemeld, het ek die voorreg gehad om as proefleser mee te doen aan die projek van die KwaZulu-Natal Archives in die ontsluiting van die dokumente van die vroeë Nederlandse Immigrante Boeren in die Republiek Natalia.

Die doel van die projek is om die geskrifte van die land wat die Voortrekkers in besit geneem het en waarvan noukeurig boek gehou is, te ontsluit, te transkribeer en vir ondersoekers digitaal beskikbaar te stel. Reinhardt Hartzenberg is die leier van die projek en hy hoop om in die loop van 2023 die volledige transkripsies van die Landmeters Algemene Kantoor in e-boek-formaat te publiseer.

Die dokumente wat ek geproeflees het, was:

  1. VOLUME 1 NR 1 – SURVEYOR GENERAL OFFICE (S.G.O) VOORTREKKER PERIOD: CORRESPONDENCE & MISCELLANEOUS 1837–1845 – hoofsaaklik aanvrae en besware teen grondtoekenning (100 getranskribeerde bladsye) = 1_6-transcriberen.
  2. VOLUME 1 NR 2 – SURVEYOR GENERAL OFFICE (S.G.O) VOORTREKKER PERIOD: PAPERS RELATING TO SALE OF FARMS 1839–1844 (42 getranskribeerde bladsye) =02a_
  3. VOLUME 1 NR 2 – SURVEYOR GENERAL OFFICE (S.G.O) VOORTREKKER PERIOD: PAPERS RELATING TO LAND DISPUTES 1841–1842 (89 getranskribeerde bladsye) =2b_transcriberen.
  4. VOLUME 1 NR 2 – SURVEYOR GENERAL OFFICE (S.G.O) VOORTREKKER PERIOD: PAPERS RELATING TO LAND DISPUTES 1841–1842 (10 getranskribeerde bladsye) =02c_transcriberen.
  5. G.O, Voortrekker Period, Inspection Reports, Farms by Fieldcornets, 1840–1843 (728 getranskribeerde bladsye) =3_10 transcriberen.

 

 Hoflikheid in die briewe

 Een ding wat my opgeval het tydens die proeflees, is die sin vir wet en orde waarop die Republiek gegrondves was.[2] Dit getuig deeglik van die inbors van die Voortrekkers, wat natuurlik baie godsdienstig was en hulle waardes uit die Skrif geneem het. Die erkenning van die gesag wat oor hulle aangestel is, blyk duidelik uit die briewe wat aan die Volksraad gerig is. Daar kom nie alleen talle hoflike uitdrukkings in die briewe voor nie, maar ook uitgebreide hoflike aanhewwe en afsluitings. Dit was die gangbare en beskaafde wyse waarop die Voortrekkers formeel met mekaar gekommunikeer het.

Die brief van die weduwee Retief is ’n goeie voorbeeld hiervan. Die hoflikheidsmerkers word vet en kursief gedruk.

Meijn Heer

tot mij Leet moet ik u lastig valle
over de plaats gelege over de omgiene
de Scheurve Kop mij zoon P Greijleng
Komd der nu onlangs voor bij in zeg
dat het hem Schijnt de selfde plaats te wese
die voor vanderberg of Sneijman geinspekteerd
nu is mij versoek of u van de goetheijd    ben
belief te seijn in [h]oud de grond brieve in
tot mijn plaats eens ge inspekteerd is
ter weijl mijn aan tekeneg de outste ben
blijfve namensame groet ue vrienden

                  dewedewe M J Retief
P M burg den 25 No 1842
PieterMauritzBurg den 25 February
                                             1841

Dié soort hoflikheid word afstandshoflikheid genoem waarby die skrywer hoflike uitings gebruik om respek en beleefdheid uit te druk, soos ons vandag ook nog in ’n formele vergadering die voorsitter aanspreek as Voorsitter, of Eerwaarde Voorsitter in ’n kerkraadsvergadering. Sy gebruik ook die werkwoord versoek. Versoeke is uiteraard hoflik.

In ’n brief van veldkornet Zietsman kom die volgende voor:

Aan dEdele Commissie
van Landeryen te
Pieter MauritzBurg

WelEdele Heeren

.....

En in die hoop leve
noeme ik my met alle ere
en respect
         WelEdele Heeren
         UWelEdDwDienaar (= U Wel Edele Dienswillige Dienaar)
                  PHZietsman

’n Ander vorm daarvan:

Ik heb deEer te Zyn

                           UwwelEd Dwdienaar

                                                      L de Jaager

En ’n mooie:

aand welEd S Maritz
Land dt van Congella

.....

_ waar mede ik
de Eer het my te noemen UwelE diens
willige Dienaar               J.S. Maritz

en:

   Ik heb de Eer te syn
                     WEd heer UWEd DW Dienaar
                           /get/ P T) vermaak

En so sluit Eerwaarde Erasmus Smit sy brief af: “27. Februarij 1839” (1–6).

Dit Verzoek ’t welken is doenende
                           uwen W.Ed Achtbaare onder Daanige
                                    Dienst Willig Dienaar Erasmus Smit
                                                               Eerste Leeraar in deze Gemeente

Deze Aan den W Ed Achtbaaren 
President En Leeden Van den Raad
dezer Vereenigde Leger.

Alhoewel die hoflikheidsmerkers baie ritualisties mag voorkom, dui die gebruik daarvan tóg op die respek vir nie net die persone nie, maar ook vir hulle ampte en daardeur vir die stelsel, in dié geval ’n geordende regering en administrasie, soos ons vandag nog opstaan vir ’n regter en hom as U Edele of Edelagbare aanspreek. Hierdie ordelikheid blyk ook uit die demokratiese wyse waarop burgers beswaar kon aanteken oor die toekenning van plase of inspeksiegebreke (02b). In die saak van Morewood en Laas word die geskil oor die plaas Wandsbeek eers deur ’n veldkornet en twee heemrade aangehoor waarin nie minder nie as nege getuies geroep word. Die saak word daarna verwys na die Commissie voor Landerye en minstens drie verder getuies word ingeroep.

 

Plaasname

Onomastiek of naamkunde is die studieveld wat die betekenis, die oorsprong en die verspreiding van name ondersoek. Die woord onomastiek is afgelei van die Griekse νομα ónoma (“naam”). Onomastiek kan op twee maniere bedryf word, naamlik antronimie, die studie van voorname en vanne, en toponimie, die studie van plek- en plaasname.[3] Vir beide van bogenoemde subdissiplines sal daar ’n ongelooflike korpus data beskikbaar wees sodra die projek afgehandel en gepubliseer is. 3_10 transcriberen, wat hoofsaaklik die inspeksieverslae vir die toekenning van plase bevat en sowel die eienaars se name as hulle plaasname meld, beslaan 728 getranskribeerde bladsye.[4]

In hierdie oorsig bepaal ek my hoofsaaklik by ’n beperkte korpus, naamlik dié items wat vir my taalkundig interessante insig oor die uitspraak en spelling van Voortrekkerafrikaans gee.

Name: Badenhorsthoek, Cato Manor, Jonkershoek, Stolzenfellds (Carel Willem Kiel), Tjakas Kraal

Diere: Zee koe gat, Seekoegat, Zeekoeigat, ZeekoeiVallei, Zakoengat, Tyger Vonteyn, Buffelsfontein, varkens Valley, Varkensvontein, Vogel Valley, Asvogelklip, Buffels Bosch , Elands hoek, Oliphants been, Leeuwenhoek

Plante: Appelsbos, Tabaks Tuin, Wagteenbeetjes draay, Waggen Beetjes draay, Wagenbeetjes draay

Kleure: Groenfontein, roode kranzpoort, Geelpoort

Geografie/topografie: De Spitze Kop, Platrug, Tafelkop, Moeras revier

Positiewe emosie: Hoop wel, Wondergeluk, Welte Vreden, Welgevonden, Welgevraagd, Welbedacht

Negatiewe emosie: Wanhoop, Uit Roem (Anthony Rieslaar), Jammerfontein, Vaszit Valley

Historiese plekke en gebeure: Vlugkommandodrif,[5] Overwinningslager, Modder Lager’s Hoek, De Zaaylager, Onderste Moordkraal, Van Dyks lager

Allerlei: Nietgedacht, Niet gezien, Erfgoed (Plaas van Anna Maria Smit, weduwee van Lucas J Meyer), Asynkraal, Dronkvly, Dronkvly – bedoelde Dorp 12. Uur te paard van PrMrB., annex Dronkvlys Dorp

In die inspeksieverslae moes die veldkornette die plase opmeet en die grense aandui. Die volgende is ’n voorbeeld:

1ste hoek nd (=noord) op de berg een plek Zwart bossen
  zich vertoon 15 minuten afgegaan van
 daar na de oost hoek 18 min van daar een
rechte lyn na de Zuyd hoek 47 min: van daar
een rechte lyn over de rand 19 min: Van daar
tot de noord hoek 50 min: afgegaan[6]

Soms kom daar kostelike beskrywings voor.

De plaats genaampt Drie Fontein, gelegen aan Umsem:
 colo, alwaar de Bosjesmans mit de gestolene vee
  over de nek gegaan is vlak agter de nek –

De plaats genaampt Bok Rivier boven in
 een Spruit die naar Ganiga afloopt
  alwaar het paard van Jacobus Groenewald
   is bleyven staan –

“De vlug Kommando drif” van Wasbank

Tussen Wasbank en Zondagsrevier op de nek alwaar
de vlug Kommando met hun terugkomst overgekomen
is

Ek dink min mense is bewus van die feit dat vandag se Cato Manor behoort het aan die plaas wat die Volksraad in 1843 aan die heer George Cato toegeken het[7] oa vir dienste wat hy aan die Republiek Natalia gelewer het. Hy was dan ook die eerste burgemeester van Durban.  

So ’n zeekoe of seekoe! Die wisseling tussen z en s is opvallend. Interessanter is die spelling vir die vroulike, melkgewende soogdier. Onthou dis landdroste wat die plase opgemeet het en ’n mens sou min of meer ’n eenvormige skryfwyse verwag het. Maar dis duidelik by Zeekoei dat die uitspraak gevolg is.

Elders kom die volgende voor – dit in teenstelling met die Nederlandse koeien:

Ik ondergeteken de bekenne wil en wettig
     verhandeld te hebbe mijn plaas de omslatien
     voor een wage tien kooije twee osse en
     hondert Rijxdaalders geld aan Dirk C:uijs
     Lodewijk Petrus de Jager

Interessant, dus, dat die tipiese spelling wat die uitspraak koei weergee, aangetref word. Alhoewel die meeste landdroste die vorm koe gebruik, kan mens aflei dat die uitspraak dus lankal koei moes gewees het.

In 1655 gebruik Jan van Riebeeck die vorm koebeesten[8] en Tregardt in 1837 kouijen.[9] Ek was verstom toe ek die woord koe op ’n dialekkaart van Nederlands bekyk.[10] Die vorm koei kom in talle dialekte voor en ook die vorm koebeeste (Wes-Vlaams) sonder die -(e)n op die einde soos by Van Riebeeck. Die naaste vorm aan Tregardt se spelling is kouw. Ons sal waarskynlik nooit weet presies hoe Tregardt dit uitgespreek het nie.

Ook by wacht een beetje sien ons hoe die uitspraak gelei het tot die verskillende spellings: Waggen Beetjes draay en Wagenbeetjes draay waar eers die ch vervang is met g en die t mettertyd weggelaat is. Wanneer die spelling gewysig is na wag-’n-bietjie weet ek nie. Hier is ruimte vir verdere ondersoek. In 1884 het prof Mansvelt dit so gespel: wacht-’n-bietji.[11]

By Vaszit Valley kan mens dalk nog jou verbeelding laat gaan – iets soos ‘n plek waar waens/osse (gereeld?) vassit, maar die naam Uit Roem slaan my dronk. Die naam van die eienaar, Anthony Rieslaer, klink ook vreemd. Sonder behoorlike agtergrond kan dié naam nie verklaar word nie. Dieselfde geld Oliphantsbeen. In Boutjes Kraal verwys die bout- waarskynlik na ’n dier en nie ’n mens nie.

Dronkvly fassineer my. Afgesien van die plaasnaam wil dit voorkom asof dit ook ’n klein nedersetting of dorpie was. ’n Mens sou die dronk kon opvat as ’n adjektief en dan sou ’n verklaring kon wees: ’n plek waar mense dronk geword het. Meer waarskynlik kan dit soos volg verklaar word: dronk is die onvoltooide verlede tyd van drinken en dan is Dronkvly ’n vlei met water waar daar gedrink word, waarskynlik hoofsaaklik deur vee, maw ’n suiping. Dit kan dan moontlik ook verklaar hoe dit tot ’n soort nedersetting/dorp ontwikkel het.

 

Ons skryf soos ons praat

Hoewel die meeste van die ses of sewe landdroste wat inspeksie gedoen het, goed Nederlands skryf, slaan die Afrikaanse uitspraak soms deur. So kry ons:

Genaamp en den Her Josepperitooris by Landdros Labuschagne en ook Januwaarij, Veebriewarij, Veebruwaarij, Veebruary (Landdros Pretorius). In die meeste gevalle word January en February so gespel en nie Januari en Februari soos die hedendaagse Nederlandse spelling nie. ’n Mens kan aanneem dat die uitspraak Jannewarie was en Februwarie.[12] Jannewarie kom nog in Nederlandse dialekte voor:[13]

  1. jannewarie = januari (Beegdens)
  2. jannewarie = januari (Oldebroeks)
  3. Jannewarie = Januarie (Steins)
  4. jannewarie = januarie (Mestreechs)
  5. Jannewarie = Januari (Gelaens (Geleens))
  6. jannewarie = januari (Aelsers)
  7. jannewarie = januari (Westfries)

en Februwarie in die Liemerse dialek.[14]

Baffiejaans Riefier en Omsokoeloe is ook mooi voorbeelde van hoe geskryf word na die mond, terwyl ’n mens glimlag as die Weduwe Hilletjie Nel elders die Weduwe Helletjie Nel word. Ook Tugela is soms Togela, Tougela, Tongela, Tugala. Selfs pampiere, wat ek uit my kinderdae onthou, kom voor.

Deurgaans word daar geskryf bosjesman, wat dus die algemene uitspraak was. Wanneer bosjesman boesman geword het, behoort ’n interessante ondersoek te wees. Engelse invloed dalk?

Veldkornet Johannes Jacobus Scheepers het verskeie plase opgemeet. Ek het geen verdere agtergrond oor hom nie, maar sy verslae dui baie duidelik ten minste sy eie uitspraak aan. ’n Mens kan aanneem dat die vorme wyer voorgekom het. Hy is ook nie konsekwent nie. Dit blyk al duidelik uit sy naamtekening op verskillende plekke: JJ Scheepers, Jo Ja Scheepers (332),[15] Joh Jac Scheepers (286), Joh J Scheepers (356).

Name: Ader Jan (335), Girrit (336), Stavaans (337), Harmaans (538, 350), Harmaans Boota (391), Laant Man (340), Hattang (348, 351), Liroex (350), Komdant Pertoors (350), Z Pretoorus, Jan Aweram Pertoors (392), Lindekwee (391), Krisjan St Vanrooyjen (307), Ste: Crisstijan Van royjen (317),  Kritsinger (327), Van vure (335), Van Stade (322), Vrans Laberschagnie (354), de Weduwe Oucam (328)

Ander: Cirteveceere (391), Cettevoeseere (394), ogustus, ougustus (338), bevejaans rivier (302) bofvie aansrevier, bavejaansrievier

Daar is ook nog ander verskynsels wat ondersoek kan word. Die ui-klank word soms as eu geskryf: beseudenhouts Kraal (512). Ek onthou nog my ouma het in die jare ’50–’60 van die vorige eeu nog speul (speel) en veul (veel) gesê. Janze van Veuren (379) kom ook voor.

Hier is veel ruimte vir verdere navorsing. Sou daar vandag nog streke of groepe mense wees wat so oorrond of klanke vervang? En watter klanke word geraak? Watter van hierdie ou vorme kan nog in hedendaagse Afrikaanse variëteite gevind word?

Die ontsluiting van die data en die digitalisering daarvan is ’n mylpaal in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing. Nie alleen is dit vir historici en genealoë van onskatbare waarde nie, maar dit is ook ’n ryke skat van taalkundige gegewens wat wag om ontgin te word.

 

Eindnotas:

[1] Republiek Natalia en Voortrekkerafrikaans, LitNet, 17/01/2023.

[2] Kyk ook: Ou dokumente oor die destydse Natalia nou toeganklik. Petronel Fourie, 23 April 2023. Maroela Media.

[3] https://www.wikiwand.com/nl/Onomastiek.

[4] Een van die doelwitte wat die projek volgens Reinhardt graag wil bereik, is om die plaaswerwe op 'n moderne geografiese kaart te projekteer met bykomende inligting uit die SGO-dokumente. Sodoende kan belangstellendes sien presies waar die plaaswerf geleë was, wie daar gewoon het, en die verdere geskiedenis van bewoning van die plaas. Ongelukkig het ons nog nie iemand kon kry om ons te help met dié deel van die projek nie en doen ons graag ʼn oproep aan die gemeenskap vir hulp met die kaartwerk.

[5] Na aanleiding van die Slag van Italeni, 11 April 1838.

[6] Die minute is so ver as wat ’n perd in daardie tyd stap.

[7] https://www.sahistory.org.za/place/cato-manor-durban.

[8] HJJM van der Merwe (1975:84), Scheepsjournael ende Daghregister. JL van Schaik.

[9] Ditto, bl 224.

[10] https://www.mijnwoordenboek.nl/dialect-vertaler.php?woord=koe.

[11] Mansvelt, N. 1884. Proeve van een Kaapsch-Hollandsch idioticon met toelichtingen en opmerkingen betreffende land, volk en taal. Professor in de moderne talen aan het college te stellenbosch.

[12] Vgl. WAT by die lemma Januarie: “Die beskaafde Nederlandse uitspraak (van Januarie) het ook 'n w, nl. Jan-nu-wa-rie, Fe-bru-wa-rie, sodat die oorspronklike en tot nie lank gelede nie die enigste Afrikaanse uitspraak baie nader staan aan die Nederlandse as die jonger letteruitspraak” (TH le Roux). Dis jammer dat die WAT en veral Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) nie aandag hieraan gee nie.

[13] https://www.mijnwoordenboek.nl/dialect-vertaler.php?woord=Jannewari.

[14] https://www.mijnwoordenboek.nl/dialect-vertaler.php?woord=februwarie.

[15] Die bladsyverwysings kom almal uit 3_10 transcriberen.

  • 2

Kommentaar

  • Eugene van der Merwe

    Dit is baie insiggewend en ek sal graag op jou lys bygevoeg word. Baie dankie vir julle moeite in die verband. Eugene.

  • Daar is soveel toponieme wat onontgin is en ondersoek nodig het. Vir 'n jaar of meer soek ek al na 'Poer se plaat' naby Nylstroom/Modimolle waar my oupagrootjie Christiaan Ernst Schutte tydens die ABO gevange geneem is: Niks kon tot dusver opgelewer word nie. Ek het wel 'Poer se loop' wes daarvandaan opgespoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top