Die afgelope paar weke, en in die aanloop tot Menseregtedag, is Maties se taalbeleid, wat weer hierdie jaar hersien gaan word, ’n brandpunt vir opkomende studenteorganisasies en politieke partye. StudentePlein, ’n organisasie wat hulle oa toespits op “’n moderne poging om die kulturele en ontwikkelingsbelang in Afrikaans as moedertaal te vervleg met die belang daarin om by die inligtingsera aan te pas”, het namens eerstejaarstudente gekla dat Afrikaanse Matie-studente gedwing word om in koshuisomgewings Engels te praat.
Hulle voer aan dat “no SU official has denounced the proven ban on Afrikaans”. Tog sê die US aan ’n verklaring aan Netwerk24: “Daar is nie ’n beleid om slegs Engels in koshuise te gebruik nie, en studente kan nie verbied word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Die universiteit sal dit nie duld nie, aangesien dit nie in ooreenstemming met ons taalbeleid, ons visie of ons waardes is nie.”
.....
“Die probleem lê nie by die ‘stryd’ wat hierdie ‘taalvegters’ voer nie ... Die probleem lê by die kulturele, morele en etiese implikasies wat dit inhou vir enigiemand om hulle by hierdie groep aan te sluit.”
.....
Dit is om na strooihalms te gryp om die stelling te maak dat daar ’n “proven ban” is. Wat wel bewys is, is dat daar sekere studenteleiers is wat die taalbeleid op ’n ekstreme manier misinterpreteer en hul eie persoonlike sienings en opvattings op eerstejaars probeer afdwing, indien al die aantygings wat gemaak word, woord vir woord geglo kan word. Dit is baie maklik om enige interaksie deur ’n spesifieke lens te interpreteer indien daar reeds voor jou aankoms by die universiteit herhaaldelik gesê word dat dit is wat met jou gaan gebeur. Dit is ook gerieflik om spesifieke interaksies te interpreteer op ’n manier wat ’n organisasie waarby jy belange het en wat ’n platform probeer wen, se vuur stook.
Die taalbeleid kan sonder twyfel verbeter word. Dit is wyd en verbind dosente nie genoeg aan meertaligheid nie. Wat wel onthou moet word, is dat dit bloot ’n beleid is – dit is ’n verklaring van die filosofie van die universiteit se ingesteldheid teenoor taal op kampus. Riglyne word voorsien, maar dit is nie ’n dokument wat praktiese stappe uiteensit nie. Dit beteken dat enigiemand “in die gees van die taalbeleid” taal kan toepas in hul omgewings soos wat hulle dink prakties moontlik en goed is. Dit laat natuurlik plek vir misinterpretasie, en wat nodig is om te voorkom dat hierdie misinterpretasies gebeur, is om wel konkrete riglyne daar te stel. Daar moet ’n taalbeleid wees, sowel as ’n dokument wat verduidelik hoe presies hierdie beleid dan geïmplementeer moet word; en in dié gevalle waar studenteleiers die beleid misverstaan het as die “verbanning van Afrikaans”, dui dit op ’n tweeledige probleem: Die beleid is te wyd en studente is nie betrokke genoeg by die beleid om ’n gesamentlike verstaan daarvan te ontwikkel nie, of gebruik nie hul gesonder verstand om te dink dat dit sekerlik nie die geval kan wees dat mense nie hul moedertaal mag praat nie. Die gevolg vloei nie noodwendig uit die beleid nie, maar die beleid laat wel spasie daarvoor.
.....
“Dit laat nie spasie vir groei en uitbreiding van wat dit beteken om Afrikaans te wees nie, en dit laat nie spasie vir dié wat Afrikaanssprekend is en nooit by die stereotipiese beeld van Afrikaans-wees gepas het nie, om hulle regmatige plek in die taalgemeenskap in te neem nie.”
.....
Daar moet ook tog erken word dat beleide hóé waterdig kan wees – as studenteleiers eers baie konkrete politiese oortuigings vir hulself gevorm het, is ’n beleid van ’n universiteit bykans nooit genoeg om hulle te keer om nie hierdie oortuigings in hul eie spasies te probeer uitleef nie. Met ander woorde, studenteleiers se aksies vloei nie noodwendig uit die beleid, ingesteldheid of opleiding van die universiteit nie. Hierdie oortuigings spruit baie maal juis uit weerstand teen dit wat die universiteit probeer regkry. Dink maar net aan studenteleiers wat daarop aandring dat sekere “verwelkomingspraktyke” steeds in hulle studentespasies plaasvind, ten spyte van die US se uitgesprokenheid teen hierdie praktyke.
Maar goed, om die outonomie van studenteleiers en die taalbeleid van mekaar te skei, los steeds nie die probleem van ’n wye taalbeleid op nie. Hoe dan gemaak? StudentePlein se lede is van mening dat die manier om dit te doen is om ’n goedberekende mediastorm te begin en sodoende momentum te gee vir hul organisasie se politieke oortuigings wat gebou en uitgebrei word op die populistiese retoriek van ’n bedreigde minderheid wat voel dat hulle onder skoot is.
Die probleem lê nie by die “stryd” wat hierdie “taalvegters” voer nie (die gewig van die woord “stryd” wat gebruik word in hierdie konteks kan sekerlik ook ‘n bietjie meer bevraagteken word). Die probleem lê by die kulturele, morele en etiese implikasies wat dit inhou vir enigiemand om hulle by hierdie groep aan te sluit. Diegene wat wel insien dat die taalbeleid kan verbeter, skroom daarvoor om hulle met hierdie taalvegters te assosieer, en daarom bly hulle eerder stil. Die gesprek word geannekseer deur ’n groep mense wat nie slegs betoog vir die behoud en bevordering van Afrikaans nie, maar wat in dieselfde asem aanneem dat almal wat saamstem oor hierdie punt, ook saamstem oor die “kultuurwaardes” wat saam met hierdie taal gepaard gaan. En juis daar val enige hoop van ’n groter groep mense wat saamspan rondom hierdie kwessie ineen. In ’n Instagram-plasing skryf StudentePlein: “Of wil jy jou kinders in Afrikaans grootmaak en verseker dat hulle met die waardes, norme en kulturele identiteit ingeskerp word wat jou voorouers gevorm het en oor talle millennia uitgeleef het?” My vraag is: Wat is hierdie waardes, norme en kulturele identiteit? Wie se voorouers? Is dit nie juis nodig vir die Afrikaanssprekende om sy taal en sy waardes nie meer te skoei op dié van sy voorouers nie? Om sy taal te sien, soos wat Breytenbach dit stel, “as kompos. Om wéér in ander vorme te kan bind.”
As die belangrikheid wat ek aan moedertaalonderrig heg, onskeidbaar van ’n waardesisteem en manier van leef is, dan kies ek eerder om nie daardie belangrikheid te beklemtoon nie – want ek besef dat die houding dat ek die “waardes, norme en kulturele identiteit van my voorouers” wil behou, juis bydra tot die stereotipes wat aan Afrikaans-wees gekoppel word. Dit laat nie spasie vir groei en uitbreiding van wat dit beteken om Afrikaans te wees nie, en dit laat nie spasie vir dié wat Afrikaanssprekend is en nooit by die stereotipiese beeld van Afrikaans-wees gepas het nie, om hulle regmatige plek in die taalgemeenskap in te neem nie. ’n Taalgemeenskap wat in ’n ideale wêreld oop sal wees vir verandering, groei en kennis, en die wete dat verandering dalk goed kan wees.
Maak geraas oor die taalbeleid wat in elk geval hierdie jaar hersien word, gooi jou opinies in die kuberruim en wees oop oor die feit dat jy voel ons taal word ondermyn – maar dink ook goed oor wie jy by die geveg betrek, wat die beeld is wat jy van ons taal uitstraal en of daar dalk beter en meer produktiewe maniere is om Afrikaans te laat skyn as om platforms vir eie agendas en waarde-oortuigings te probeer skep.
Lees ook:
Persverklaring: StudentePlein eis werklike optrede deur US en funksionarisse oor afdwing van Engels
Persvrystelling: Verbod van Afrikaans by Stellenbosch-koshuise
US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies
US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid
SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders
US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?
US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?
Kommentaar
Ek is geskok om te lees dat studenteleiers wat vir Afrikaans "veg" dit verbind met sekere kultuurwaardes (om nie eers oor die identiteitdeologie van hierdie inhoud te praat nie). Word Afrikaans nou gekaap deur 'n half-regse Stellenbosse brigade? 'n Menigte Afrikaanssprekendes - Breyten Breytenbach om mee te begin - wil die taal behou maar beslis nie die "waardes" nie,
US is deesdae irrelevant sedert Akademia. Ons sal self!
By StudentePlein is ons mandaat baie spesfiek: Ons probeer ‘n herwaardering vir Afrikaans in die akademie koester deur ‘n platform vir die deel van studiemateriaal bekend te stel.
Tweedens help ons studente met klagtes oor taaldiskriminasie, soos die inligting en getuienis wat met die Sentrum vir Studentegemeenskappe rondom die afdwing van Engels in koshuise gedeel is.
Me Heydenrych neem verwysings na waardes, ekstrapoleer dit en impliseer dan sonder stawing dat ons ‘n konserwatiewe nostalgiese weergawe van “waardes” uit die ou bedeling koester.
Ons lede kom uit ‘n groot verskeidenheid Afrikaanse gemeenskappe met verskillende waardes, menings, geloofs- of nie-geloofs oortuigings, geskiedenisse en prioriteite.
Ons het geen lidmaatskapvereistes of norm wat bogenoemde betref nie, slegs dat ons studente wat ernstig voel oor Afrikaans as studiemedium en akademiese taal op Maties, wil betrek.
Dit kan beslis tot van ons lede spreek, en nog belangstelling lok, indien ons platform mense in staat stel om graag mense met soortgelyke oortuigings en opinies en denkrigtings te ontmoet.
Daarom is daar niks vreemds daaraan om onsself te bemark as ‘n netwerk waar mense wat waarde-ingestel is, hierdie waardes kan koester nie.
Ons aanbod skep geleentheid vir skakeling rondom die uitruil van studiemateriaal en idees oor Afrikaans in die akademie, maar indien studente mekaar rondom gedeelde waardes ontmoet, is dit hul saak. Ons skryf nie ‘n sekere waardestel of ideologie voor nie.
Ons staan bloot sterk daaroor dat Afrikaans se volhoubaarheid en groei van opleiding daardeur afhanklik is, en dat ons studente wil help om Afrikaanse studies voluit te benut.