Die Afrikaanse Taalraad maak sterk beswaar teen die skynbaar hardhandige afdwing van Engels as verpligte omgangstaal by ten minste twee vrouekoshuise in Stellenbosch, Minerva en Irene. Volgens klagtes wat die Afrikaanse Taalraad ontvang het, word Afrikaanse studente verplig om Engels met mekaar en besoekende ouers te praat. Dié reël geld blykbaar selfs in hulle eie kamers of in situasies waar almal om hulle Afrikaanssprekend is. Volgens die studente word dié maatreël blykbaar as progressief en inklusief beskou, hoewel dit blykbaar nie op anderstaliges van toepassing is nie.
Taalgebruik in koshuise en die verband daarvan met ’n atmosfeer van insluiting is landswyd ’n kwessie. Maar die afdwing van Engelse eentaligheid – veral op hierdie outokratiese manier – is nie die antwoord nie. Dit skend basiese taalkundige en kulturele regte. Dit ontstel en verdeel, veral indien dit blyk dat anderstaliges nie deur die verbod geraak word nie. Dit skep ook vrees vir vergelding en verbittering aan die kant van diegene wat die maatreëls as onredelik beskou.
Die afdwing van die koloniale taal in die opvoedkunde en die gepaardgaande verbod op die inheemse tale, is natuurlik ’n ou en gediskrediteerde koloniale praktyk wat geweldige taalkundige en kulturele skade verrig het. Dit het geen plek aan enige moderne Suid-Afrikaanse instelling nie – veral nie een wat homself tot meertaligheid verbind het nie. Die praktyk strook sekerlik ook nie met die nuwe Nasionale Taalbeleid vir Hoër Onderwys nie en stel die Universiteit aan regsaksies bloot.
Die Taalraad wil graag weet of hierdie koshuise se optrede in ooreenstemming met die Universiteit se amptelike beleid is of nie. Indien wel, is ’n ernstige gesprek nodig oor hoe die US sy “meertaligheid” verbeel. Intussen doen ons ’n beroep op die US om die taalreëlings aan die twee koshuise op te hef en om eerder aan kreatiewe maniere te dink om meertaligheid onder studente te bevorder.
Die Taalraad sal die US nader om hieroor in gesprek te tree.