
Die Fiksiefees by die Toyota Stellenbosch Woordfees 2026 (Foto: Izak de Vries)
Ek onthou al die vorige Woordfeeste. Ek was by byna almal. Byna, want ek het die eerste een misgeloop – die deurnagfees van 2000. Daarna was ek daar, klokslag. In 2004 ook deelgeneem, toe ek my boek Van Kaspaas tot Kaas, die lewe en werk van TO Honiball (Sun Media) in die Konservatorium bekendgestel het. Dit was ’n PowerPoint-lesing. Die oplaag was binne ’n uur uitverkoop. Wonderlike geleentheid, my eerste boek, my eerste optrede daar. In 2016 het ek weer ’n kans gekry toe Dana Snyman met my in die HB Thom- (nou Adam Small-teater) gepraat het. Dit was oor my dienspligmemoires, Omega, oor en uit (Tafelberg). Daardie boek het ook met ’n spoed weggetrek. Nou al tien jaar gelede ...
Tussendeur was ek daar, hoofsaaklik om boekbekendstellings by te woon, want boeke is maar my ding. En dan het ek daar, soos gister (10 Oktober 2026), gesit en notas gemaak en (soos nou, 11 Oktober) om my indrukke en die menings van ander, veel slimmer mense as ek, met ander mense wat dalk nie daar kon wees nie, te deel. Dan stuur ek dit na LitNet, of Kaapse Bibliotekaris, Bolander, en so aan – die blaaie waarvoor ek oor die jare geskryf het.
“So,” het Ilse my al hier by Juniemaand rond gevra, “wat gaan ons vanjaar bywoon?” Toe die program beskikbaar was, het ek dadelik gekyk. Ons is nou armgatpensionarisse, maar ek wou darem een item kies om by te woon. Die keuse het op die Fiksiefees geval. ’n Lang sessie wat van 9:30 tot 12:30 sou loop. Met Bibi Slippers en Susan Booyens as aanbieders, in die EasyEquities Skrywerskamer, in Die Khaya oorkant die ou Bloemhof Meisieskool, wat nou ’n museum is. Alles oor boeke gebeur deesdae daar, lyk dit my. Nie meer so versprei oor die dorp soos voorheen nie – ’n teken van die inkrimping van ons boekewéreld.
Ilse het binne die eerste ses jaar van ons samesyn ook haar ervarings van die Woordfees gehad. In 2022 het sy aan die virtuele weergawe deelgeneem deur op die fees se TV-kanaal met wyle Anastasia de Vries te praat oor haar boek So lyk ’n vrou. In 2024 tree sy by die fees op, toe oor haar boek ’n Vrou staan op. So ons het albei ons bande met die Woordfees, en hopelik sal dit voortduur, op welke wyse ook al.
Ons is vroegoggend op – voorbereiding skyn elke jaar langer te neem voor ons ons koppe by die huis uitsteek – en in die Ecosport, en deur die dorp na die parkeerterrein by Rhenish, in die “shuttle” (pendelwa?), saam met ’n spul opgeruimde middeljariges, en tjoef-tjaf tot by Rhyneveldstraat, daar afgelaai deur die vriendelike bestuurder, en ons loop stywebeen oor die boomwortels en leivore, reguit na die stalletjie wat koffie verkoop. Ons is nog aan’t herstel van ’n vieslike bronchitis, maar ons glo koffie sal help. Koffie en Afrikaner-hardkoppigheid werk mos al lank heel goed. Wel, meestal.
Skaars die koffie verorber, toe is ons in – A10 en A11, reg voor. Bibi sit links voor en dan ’n lang, lae bank en dan regs sit Susan. Bibi vertel hoe dinge gaan werk en Deon Meyer kom sit op die lang bank. Hy is die eerste van 11 skrywers wat sal deelneem – ’n ambisieuse onderneming, bieg Bibi. Sy sê “It’s like herding cats” om so baie skrywers betyds op een plek te kry. Die lys lui as volg (in geen spesifieke volgorde nie): Theolla Langenhoven, Elmarie Dercksen, Allan Grootboom, Martin Steyn, Irna van Zyl, Michèle Meyer, Daniël Lotter, Zelda Bezuidenhout, Carel van Rooyen en Anton Roodt. Hulle sal elkeen oor hulle nuuste boeke praat.
Omdat Deon (ons eie krimi-uitvoerproduk, soos Bibi hom sien, met boeke in 28 tale vertaal) ook op ’n ander venue moet gaan optree, is hy eerste aan die beurt. Ek haal my ou oopzip-eksamenbladhouer uit en probeer byhou.
(Ai, vrek, voel effe naar – miskien was ons haastig om uit die huis te kom. Maar dis al amper ’n maand, en ons is deur twee kursusse antibiotika. Ilse was eerste siek, en sy lyk al beter as ek. Of hou ’n goeie front voor. Gesels met almal, soos altyd. Die oud-Bloemfonteiner is mal oor die Boland. En mense, soos van die skrywers wat sy al ken.)
Die vrae wat Bibi aan Deon rig, is deur die ander skrywers, wat op ’n ry af teen die muur sit (soos meisies by ’n dansbaan), opgestel. Soos: Is daar nog absolute waarhede? Hy reken jy moet so wyd as moontlik lees en dan daaruit jou absolute waarheid formuleer. Tweede vraag: Wat is die verskil tussen misdadigers en ander mense? Hy dink dis ’n samestelling van elemente soos agtergrond, potensiaal, omgewing ... eintlik sal min mense oor ’n presiese definisie saamstem. Ek self voel dis in jou gene en dan hang dit af van watter “triggers” daarop inspeel. Maar jy kan altyd keuses maak – reg of minder reg, en die gevolge is ook reg of minder so.
Hulle praat oor vertalings en Deon se persoonlike betrokkenheid daarby, wat volgens hom wissel – in sekere gevalle gebruik buitelandse uitgewers die Engelse manuskrip om vanaf te werk en in ander gevalle word direk van die Afrikaanse teks af gewerk. Dis duidelik ’n ingewikkelde en uitputtende proses en Deon sê hy moet uiteindelik maar die vertalers en redakteurs vertrou. Hoe sal hy weet of byvoorbeeld die Hebreeuse vertalings 100% korrek is? En ja, soms is daar woorde en terme wat nie vertaal kan word nie, of verwysings wat buitelandse lesers nie sal snap nie, aangesien hulle verwysingsraamwerke verskil – selfs die Britse en Amerikaanse vertalings verskil soms.
(Ek voel ’n kuggie kom aan, ’n droë hoesie. Mind over matter, dink ek. Ontspan, dit sal weggaan. My bors trek saam. Ek sit vorentoe, weer agtertoe. Byt vas. My bene begin tintel. Bliks...kottel, ek haat ’n “scene” in die openbaar. En niemand het betaal om my te hoor hoes nie.)
Nog ’n vraag is: Sal jy weer oor Zatopek van Heerden skryf? Deon lag. Dalk, maar die aanvraag na Bennie Griessel en Vaughn Cupido is groter as na ander karakters, soos Mat Joubert, Thobela Mpayipheli, of die enigmatiese Lemming. Hy wil wel graag weer ’n roman skryf waarin ’n vrou die hoofkarakter is, maar die uitgewers sê glo “nog nie”.
Ek weet uitgewers speel ’n meer voorskriftelike rol soos skrywers meer bekend word. Later is die skrywer se naam soos ’n produknaam, en die lesers weet presies wat hulle kan verwag wanneer hulle ’n Deon Meyer, Dibi Breytenbach of Martin Steyn op ’n boekrak sien. “Brand name” noem die Engelse dit. Dit herinner my aan Louis L’Amour wat graag in ander genres as cowboystories (200 plus) waarvoor hy bekend was, wou skryf, maar sy uitgewer het vasgeskop: Die goue gans moet aanhou lê. Eers ná sy dood is ander avontuurverhale wat dekades in sy oorvol studeerkamer gewag het, uitgegee.
Ja, genres en verwagtinge ... soos by die bekendstelling van Koors in 2016. Ek was by BoekeJol in Pretoria om oor een van my eie boeke te praat, en het toe gesien Deon Meyer gaan oor sy toekomsroman praat. In die Atterbury. En wat ek van die aand onthou (behalwe Lize Beekman se pragtige sang), was dat hy erken het dat hy bekommerd was dat hy van sy gereelde lesers sou verloor omdat hy buite sy normale genrekraam geskryf het. Maar klaarblyklik het hulle hom nie versaak nie ...
(Ek voel skielik my keel begin krap – hier kom ’n hoesbui. Ek probeer dit onderdruk. Sluk, probeer ontspan. Wil nie lastig wees nie. Help nie my selfoon is af en ek hoes soos ’n lugafweerkanon nie. Ek konsentreer op wat op die verhoog aangaan. My maag kramp. Ek kyk nie links of regs nie.)
Deon lyk baie ontspanne, soos ’n gesoute akteur wat ’n rol met gemak speel. Hy sê soos die reekse aanloop, volg hy (byvoorbeeld) Bennie se lewensfases – hy drink, hou op, trou weer, en werk op verskillende plekke. Sy volgende fase kom nou wanneer hy 50 word. (Deon self is nou 68.)
Nog vrae volg, en uiteindelik sê Bibi: “Raak jy nie moeg vir dieselfde vrae by sulke geleenthede nie?” Deon glimlag. “Nee, as mense dieselfde vrae vra, beteken dit dat hulle in daardie temas belangstel. En, ek ken al die antwoorde!” Hy raak ernstig. “Maar een ding wat ek nooit wil doen nie, is om mense te verveel. Dis wat geen skrywer wil doen nie.”
Laaste vraag aan hom: “Wat lees jy nou en wat sal jy aanbeveel?” Die antwoord: “Yuri Harari se Sapiens en Agrippa deur Robert Harris.” Ilse fluister: “Ons het mos Sapiens op ons rak?” Ek knik. Wil iets sê. Net ’n kwaakgeluid kom uit nie ...
(Oeps. Wat nou? My bors begin toetrek. Ek spring op, maak verskoning. Uit by die deur, badkamer toe. Bietjie naar. Die slyme is nog nie alles weg nie. Blykbaar is die bronchitis vanjaar onwillig om die aftog te blaas. Ek wag buite tot die pouse, kry toe solank ’n hamburger om die hol kol te verdoesel. Eet net ’n stuk. Te veel flippen koolsnysels – ek lyk seker soos ’n baber as ek ’n hap vat – dis net koolstukke wat oral uitsteek.)
Ilse kom uit; ons gesels met Martin Steyn en sy vrou. Ons loop mekaar jaar ná jaar hier raak – dis al ’n gewoonte!
Ons gaan weer in, maar met die volgende pouse bly ek buite. Ek voel nie alte sosiaal nie. Kry ’n sitplek onder ’n boom, begin lees aan Martin se Blinde kol (LAPA), wat ek so pas by die Boeketent gaan koop het.
Ilse sit deur die heel sessie tot halfeen. Kom uitgedrentel, praat met Daniël Lotter. Sy is ’n groot aanhanger. Deel ook ’n fassinasie met die Britse koningsgesin.
Ons besluit ons probeer die spitsverkeer vryspring en huiswaarts keer. So, oorkant die straat, wag ons vir die bussie. Ilse gesels met twee dames; ek hou my “pose” en my lam knieë styf. Ek sou met ’n beervelmus op die kop, soos ’n brandwag voor Buckingham-paleis, kon staan. So styf en gesellig soos ’n gevriesde bokkom. Die geluide en reuke wat van die stalletjies aankom, draai om my soos blare in ’n klein warrelwind.
Op pad na die parkeerplekke ontdek die een dame wie Ilse is en dat sy albei Ilse se boeke al gelees het, en hulle reël sommer net daar dat Ilse later vanjaar by ’n leesgroep sal gaan praat.
Ek kyk by die venster uit na al die bekende landmerke – ek was ’n student hier in die tagtigerjare, en het baie om te onthou. Dis asof ek spoke op die sypaadjies kan sien, soms bekende, maar meestal amper vergete gedaantes.
Maar op daardie oomblik dink ek veral aan al die Woordfeeste wat verby is. Die “vibe” in die dorp, die oorvol strate; die tannie wat vir my vra of ek “famous” is, en wat vatterig geraak het toe die wyn en die son inskop; die vurige argumente oor boeke en skrywers by die Jolly Roger; my selfoon wat ek in ’n badkamer vergeet het en Harry Kalmer wat dit daar gekry het en ek het nooit so ver gekom om hom te bedank nie en nou is hy dood. Die kuiers by die Plataankafee ... Alexander Strachan, Johannes Bakkes, Dana Snyman, Gert Vlok Nel, Willie en Malene Breytenbach ... te veel om op te noem. Ook plaaslike vriende, van wie ons hierdie slag niemand teëgekom het nie. Die tyd was te min.
Maar daar sal nog volgende jaar wees. Dankie nogmaals aan almal wat hierdie fees so ’n fees maak. Dit bly steeds my gunsteling.
Toe ons deur die verkeer worstel en Klipheuwel vat, bly ’n stukkie van my hart in Skelmbos agter. Wagtend.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Ons is nog hier, ’n sielkundige toutrek tussen lig en donker
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Wie se geskiedenis leer ons ons kinders?

