
...
Ek doen ’n beroep daarop dat ons nie van moeilike onderwerpe sal wegskram nie, maar juis die kunste sal ondersteun wat ons uitdaag om sulke temas waagmoedig te konfronteer.
...
Die Toyota Stellenbosch Woordfees is in sy pylvak. Ek is op pad om die laaste vertoning van Ons is nog hier te sien, met gemengde gevoelens – opgewonde om een van die vyf produksies te sien wat vir die NATi Jong Sterre-projek gekeur is en by die Suidoosterfees gedebuteer het, maar ook met ’n mate van ongemaklikheid, want ek weet nie wat om te verwag nie.
Ons is nog hier raak aan ontnugterende temas soos geslagsgeweld en mensehandel. Alhoewel dit universele temas is, val die kollig op huidige omstandighede in Suid-Afrika, waar die nuus steeds gevul word met berigte oor jongmense wat vermis raak en ondersoeke wat aan die gang is.
Die donkerte van hierdie temas word kolskoot aangevat deur die drie karakters se weerbaarheid. Humor word gebruik om die donkerte van die temas aan die gehoor oor te dra. Dis ’n sielkundige toutrek tussen lig en donker, hoop en wanhoop.
As kyker word jy gekonfronteer met ’n situasie op die verhoog wat ooreenstem met die alledaagse werklikheid, waarteen ons skynbaar afgestomp geraak het. Die gehoor word betrek en kry die geleentheid om te reflekteer.

Die rolle word vertolk deur Franka Kirby (Nicky), Adri-Jo Waterboer (Layla) en Cara Rossouw (Shanice). Al drie karakters is uniek. Die storie vertel hoe elkeen haar in hierdie dilemma bevind. Daar is egter een gemene faktor: naïwiteit, wat voortspruit uit blindelingse vertroue in familie en vreemdelinge, omdat ons goed grootgemaak is. Die ontnugtering en konfrontasie met die self vorm deel van hierdie reis.
Shanice, Nicky en Layla bevind hulle in ’n geheimsinnige, onheilspellende vertrek. Soos die toneelstuk vorder, verander die ruimte, die tekort aan water en kos en die karakters self. Hulle begin deur speletjies te speel om hulself af te lei en hul angs te verlig.
Die storie neem ook ’n wending wat die gehoor verbaas en teleurstel.
Ek het ná die vertoning die geleentheid gehad om vlugtig met die jong akteurs en regisseur Tamia Thompson te gesels.
Hulle besing die lof van die skrywer Matthew Smith wat hulle vrye teuels gegee het om vorm aan die karakters te gee. Alhoewel die drie akteurs van mekaar kennis geneem het, het hulle nog nooit vantevore saamgewerk nie. Volgens hulle is dit te danke aan Rafiek Mammon, bekroonde Suid-Afrikaanse dramaturg, wat ’n strategiese visie gehad het.
Regisseur Tamia Thompson vertel dat hulle ’n minimalistiese benadering tot die ruimte gevolg het. Die humor het gehelp om ’n baie diep tema oor te dra en dit by die gehoor te laat aanklank vind. Tog moet jy jou afvra: Hoekom lag ek? Dis kinders wat ontvoer is.
Cara beskryf haar rol as Shanice as kompleks. Sonder om te veel van die storielyn weg te gee, is Shanice ’n slagoffer wat onwillekeurig in die sisteem vasgevang is en terselfdertyd vir haar oorlewing veg. Haar karakter worstel met interne konflik.
Franka, wat die rol van Nicky vertolk, sê dit was moeiliker as wat sy kon indink.
Adri vertolk die rol van Layla, wat aanvanklik sku en teruggetrokke voorkom. Sy hou rekord van hoe lank hulle in aanhouding is en maak notas ter wille van haar geesteswelsyn. Dit is bevrydend om te sien hoe haar selfvertroue groei.
Wat hartseer is en my bybly, is die leed wat volwassenes kinders aandoen, en hoe hulle ander kinders inspan en manipuleer vir eie gewin.
Die ligpunt is dat Suid-Afrikaanse teater floreer, met nuwe lewenskrag wat deur jong talent die arena betree. Ek doen ’n beroep daarop dat ons nie van moeilike onderwerpe sal wegskram nie, maar juis die kunste sal ondersteun wat ons uitdaag om sulke temas waagmoedig te konfronteer.

