
Margit Meyer-Rödenbeck en Frank Opperman (Foto: Gys Loubser)
“Hoe smag ons nie almal na meer tyd nie! Tyd om te doen, te leer, te lewe, te ervaar. Tyd, daardie skaars kommoditeit. Daar is tyd, altyd te min. En dan is daar hoog tyd. Wanneer die tyd ryp is en geen verdere uitstel meer moontlik is nie. Die beste tyd vir iets om te gebeur,” skryf Saartjie Botha, Toyota Stellenbosch Woordfees 2026 se feesdirekteur, in haar feesgidsboodskap.
Dan is dit kennistyd, koestertyd, kunstyd, kappit-yt-tyd!
En inderdaad is dit hoog tyd dat twee van Suid-Afrika se gewildste vermaaksterre hul talente saamsnoer en feesvier.
Dit is presies wat Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck (danksy die veelsydige teaterskepper Wessel Pretorius) vanjaar op die kunstefeesroete doen.
Hulle werk die eerste keer saam aan ’n produksie, gepas met die titel Eerste vir alles.
Hulle dreig glo al 25 jaar lank om iets saam te doen, maar kon net nog nooit daarby uitkom nie. Albei was té bedrywig met hul onderskeie loopbane. (Lees ondertoe.)
Frank se onmiskenbare stem, natuurlike komiese aanvoeling, fyn tydsberekening en ’n gesonde skeut patos as rem definieer sy werk as eerlik en slim.
As aktrise en komediant, kán Margit in ’n oogwink van kinderlike onskuld na bytende satire beweeg: spitsvondig en intelligent.
Sáám skep hulle gemaklike, toeganklike, peinsende, menslike teater; gepoets met spontane eenvoud.
Almal ken mos die mite van die paradys. Van Adam en Eva, die eerste mense – man en vrou – op aarde. Van die vrugteboom van kennis en kwaad wat in die middel van die tuin wink. Van die sluwe slang wat sy listig-lustige kop lig – en Eva met sy gesplete tergtongetjie verlei. Van Eva wat die sappige appel proe. Van Adam wat ’n hap vat en verstik. (Geen wonder hy sluk steeds aan ’n knop in sy keel nie.) Van Adam en Eva wat eurekakennis én erotiese domheid deel. Van die vyeblare wat in skaamte bedek en verlep. Van die sondeval ...
En nou, eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is, besin Adam en Eva oor die huwelik. Dit was glad nie maklik om die protopaartjie te wees nie, hoor! Alles moes vir die eerste keer uitgepluis word: liefde, kinders en huishou. Noudat die laatlammetjie die huis gaan verlaat, het Adam en Eva binnekort weer net mekaar as geselskap. Sien hulle kans vir nog ’n 100 jaar saam en sal hulle sondes hulle ontsien? Ná baie goed en kwaad het hulle vir oulaas ’n appeltjie met mekaar te skil. ’n Komedie oor saam ou bene maak, veral as een die ander ’n ribbebeen skuld ...
Dit is die tema van die romantiese komedie Eerste vir alles, geskryf en geregisseer deur Wessel Pretorius, met stelontwerp deur Nell van der Merwe en verhoogbestuur deur Wicus Louw. Die spelers is Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck, vervaardig deur haar Arena Produksiehuis. Dit is ’n koproduksie van die Suidoosterfees en Vrystaat Kunstefees en het vanjaar vol sale op die kunstefeesroete getrek.
Frank was ook te sien in Crybaby, saam met Nicole Holm, Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch. Dié stuk is geskryf en geregisseer deur Carla Smith, met ontwerp deur Wolf Britz en verhoogbestuur deur Jean du Plessis. Dit is ’n Feesforum-produksie, moontlik gemaak deur NATi, ondersteun deur die Festival Enterprise Catalyst (FEC), in samewerking met The Jobs Fund.
Dié stewige finansieel-ondersteunde produksie vertel hoe die driejarige Samuel die onkeerbare verwoester van onskuld – die nuus – op ’n doodgewone oggend by ’n doodgewone dagsorgplek beleef. Hy verander in ’n oogwink: van ’n dolgelukkige kind na ’n moeë volwassene, dekades verouder deur haglike hoofopskrifte, tragiese gebeure en die lot van die mensdom wat hopeloos te swaar is vir sy skouers om te dra. Crybaby is ’n absurde tragikomedie wat handel oor die tol wat dit eis om te lewe in ’n geldgierige wêreld waar alles in duie stort. Dit is terselfdertyd ’n liefdesbrief aan ’n mens se kinderjare en ’n onuitwisbare herinnering aan die een waarheid wat elke volwassene weet: Grootword is nie kinderspeletjies nie.
Margit is ook te sien in haar eenvrouvertoning Ouma en die ou koeie, met teks en regie deur Jurgen Human, klavierbegeleiding deur Coenraad Rall en vervaardig deur Arena Produksiehuis.
Soos ons ouer word, is die meeste mense geneig om (gerieflikheidshalwe) sekere dinge te vergeet. En dié wat ons wel wil onthou, kry mos mettertyd allerhande “versierinkies” by. ’n Halwe waarheid in die 50’s word 50 jaar later ’n voldonge feit; ’n wolhaarstorie word ge-blow-dry tot ’n manjifieke beehive; en ’n besope one-night stand verander jare later in ’n pragtige kortstondige romanse. Hierdie komedie-kabaret gaan jou een oomblik laat skaterlag en die volgende oomblik saggies laat snak na jou asem wanneer jy dalk net jouself herken.
Hierdie onderhoud het amper nie gebeur nie (wat ook ’n eerste vir alles sou wees), want Margit het tussen Aardklop en Woordfees met ’n vrot verkoue en gastropyne geveg, terwyl Frank moes rondtrippel om ’n termietplaag by sy huis onder beheer te kry!

Margit en Frank (Foto: Gys Loubser)
Maar toe kom Frank en Margit uiteindelik by mekaar uit vir ’n produksie. Hoe het dit gebeur?
Frank: Ek en Margit was doerietyd by daardie Skouspelle by Sun City seremoniemonsters en het mekaar belowe ons gaan nog ’n ding doen. Ja, partykeer vat dit 25 jaar! Uiteindelik, mos liewer laat as nooit! Nou ja, toe sit ons en kekkel en sy en ek kry die gedagte oor Adam en Eva: die oudste couple op aarde. Maar daardie idee is ’n halfsent werd, tot jy dit by Wessel uitkry; dan weet jy dit gaan ’n play wees. Dit is ook ’n aangename ervaring om met ’n ou pro soos Margit te werk. Wat ’n go-getter, vir wie ek baie respek het. Ons is albei so gewoond om alleen op die verhoog te wees en dit was hoog tyd om ’n slag saam met ’n ander akteur te werk. Dit is vir ons albei ’n treat om saam te werk. En ons verhoogbestuurder Wicus Louw laat alles in die spanpoging glad verloop.
Margit: Wessel is regtig een van die knapste teatermakers wat ons op die oomblik in die land het. En nou is hy ons teksskrywer en regisseur. Hy bied ’n wonderlike woordspin. Sy opdrag was: Toe, komaan: Skryf vir ons ’n slim – nie plat nie – komedie wat toeganklik is, wat niemand uitsluit nie en waarmee ons deur die land kan toer.
Die feit dat hy jonger is, is opwindend, want hy storm nog in, terwyl ons ouer garde nou al begin keer. Dit is asof hoe ouer ’n mens word, hoe banger raak jy om te waag – ondanks meer ervaring en hopelik, in ’n sekere sin, ook wysheid.
Dit is ’n voorreg om deur Wessel se talent omring te wees.
Van ouderdom gepraat: Maak ’n speler se ouderdom ’n verskil in sy of haar benadering tot ’n rol?
Frank: Kyk, in Eerste vir alles speel ek Adam – van sy prulle penorenttyd in die tuin tot sy verrimpellende voosheid op 450 jaar!
Dan is ek ook nog in Crybaby, wat deur ’n klomp jong talentvolle kunstenaars geskep is. Dit is een van daardie toneelstukke wat oor ’n mens se pad kom en jou laat wonder of jy lus is om ’n vierjarige te speel. En dan besin jy maar en besluit as jy dit nie nou doen nie, dan gaan ’n ou dit nooit doen nie. Dit is ’n ongelooflike aangename ervaring. Wel, ek weet dit is die laaste keer in my lewe dat ek ’n vierjarige sal speel!
Ek spring maar net in en probeer daarvan maak wat ek kan. Ek probeer om nie te verstaan waaroor almal praat nie.
Wat nogal interessant is, is dat in albei stukke wat ek nou doen, het ek ’n babatjie in my hand. Adam en Eva het immers 56 kinders gehad! Ek moet in albei stukke seker maak sy koppie moet in die regte posisie bly, maar in albei stukke is hul koppies in die verkeerde posisie ...
En dit is die ding van teater. Televisie en rolprente bied hul eie bevrediging, maar niks klop daai immediate rush van lewendige teater voor ’n gehoor nie. En as jy klaar is, weet jy of mense daarvan gehou het of nie. En as jy dit nie reggekry het nie, het jy môre nog ’n geleentheid om weer ’n keer te probeer. Soos met alles: Hoe meer jy dit doen, hoe beter moet dit word. Aanhouer wen.
Margit: Ek het die karakter Dowwe Dolla begin toe ek omtrent 24 jaar oud was. Toe was sy min of meer my ouderdom, maar ek het haar gespeel tot ek 50 was. Vir ’n wyle het ek haar as baie jonger as ekself gespeel. Ouma het toe as ’n kamee-karakter in die Dolla show ingeloer en ek moes redelik gefokus tussen Dolla en Ouma tred hou. Nou is Ouma iewers in haar tagtigerjare; ’n klompie jare ouer as ek ...
Tussendeur het ek Vlooi en Liewe Heksie gespeel; albei baie jonger as ek – en talle ander karakters tussenin en daarna wat eiesoortige uitdagings gestel het.
Daar was soveel karakters deur die jare. Elke karakter wat mens bou, kom van êrens binne-in jou. Jy moet ’n raakplek vind, anders gaan jy ’n karikatuur bou. Jy móét deernis en begrip vir jou karakter hê, al speel jy ook ’n reeksmoordenaar.
Nou speel ek Eva. Ek bewonder haar. Sy is ’n sterk vrou. Dalk tog ver van my verwyder. Dit is nogal ’n uitdagende rol.
Jy sien Eva vandat sy geskep is as hierdie grootoog, opgewonde, jong meisie wat die eerste keer alles in haar lewe ontdek – tot iemand wat deur die eeue 56 kinders gehad het en 450 jaar oud geword het en steeds ’n glinstering in haar oog het. Jy vra of dit soete wraak of gerusstellende versoening is. Kom kyk na die storie van die eerste mense op die aardbol – en stel vas ...
Ek en Frank, as Adam, speel die karakters van baie jonk na baie oud. Maar ons speel dit nie in bewerige stemme of met kromruglywe nie; eerder met ervaring en kennis en rypheid wat wysheid met lewensjare bring.
Daar is sogenaamde teatersnobs (gehore en kritici) wat sekere genres as minderwaardig of ondergeskik aan mekaar verklaar – veral komedie, klug en kabaret. Hoekom tog?
Frank: Ja, klug, komedie en daai goeters. Ek weet nie; ek is maar ene wat glo in: Is dit vermaaklik? Of dit nou ’n heavy teater is, en of dit ’n ligte teater is, is my bottom line eerstens: Is dit vermaaklik? Is dit iets lekkers om na te kyk? Vir my is daar nie ’n verskil nie. Komedie is ook ’n ernstige ding; hy’s so ernstig soos ’n drama. Albei beklee dieselfde statusposisie. As jy kan – verskoon my Engels – maar as jy kan entertain, as jy mense kan laat stilsit, na ’n ding laat kyk en dalk nog aan ietsie laat dink, dan werk dit: uit ’n klug of ’n komedie of whatever. En dis wat ek nou gesien het met ons Eerste vir alles. Na die tyd kom mense en dan sê hulle: “Jisterdy, dankie! Hierdie storie het my oor ’n paar dinge laat dink.” Die stuk los ’n ou darem met ’n paar dinge waaroor jy kan dink: Hoe sou of moes die vierde geslag gelyk het as dit nou volgens oorvertelling die waarheid is dat daar net een couple was? Ja, selfs ’n ou komedie kan nog steeds mense laat dink!
Van dink gepraat: Jou Hollywood-tyd, wat het jy daar geleer wat jy kon huis toe bring?
Frank: Ja, ek was jarre terug in Amerika. Ek wou soontoe gaan. Het ’n groenkaart gehad. Het werk gekry. Het baie pret gehad. Maar ek wou graag terugkom. ’n Ou wil mos maar wees waar ’n ou maar wil wees: by jou familie en hier by die huis. Ek is nie spyt daaroor dat ek gegaan en teruggekom het nie. Wat Amerika jou wel leer: Jy MOET dinge doen! Wanneer jy ’n Amerikaner ontmoet, weet jy binne die eerste minuut presies wie hy is, waar hy vandaan kom, wat sy claim to fame is. Ek is nou nie soos dit nie, maar dit is wat ek uit Amerika geleer het. Wat ek gedoen het toe ek teruggekom het van Amerika: Ek het jazz-klubs gebou. Ek het sulke dinge gedoen. Daai Amerika inspireer ’n ou om darem bietjie groter te kan dink. Anything is possible in Amerika; ook in Suid-Afrika.
En vir die res, is ek maar net ’n ou. Jy karring maar net aan – én entertain! Kan dit mense vermaak? ’n Heavy ding kan net so beautiful wees soos ’n ligte ding. Dis maar net wat ek doen vir ’n lewe. Ek wil dit eintlik nie analiseer nie: Ek DOEN net, of eerder – maar net probeer doen ...
Margit: Die klug en komedie is baie bepaalde genres en is verseker nie ondergeskik aan sogenaamde intellektuele teater nie, want daar is ander vaardighede hiervoor nodig.
Klug, byvoorbeeld, die akteurs, die span wat saamwerk, die skrywer, die regisseur en die tegnici moet almal ’n ontsettende fyn tydsberekening aan die dag lê. Dit is amper soos ’n georkestreerde, chaotiese dans. Maar dit moet só ingeoefen wees dat dit so glad verloop dat dit spoorloos en onmerkbaar ontplooi. Die gehoor hoef net te rol van die lag en hulself net oor te gee; hulle dink nie, hulle hoef nie te dink met ’n klug nie. Die klug oorrompel jou. Dit is hoe sterk en hoe fyn daardie akteurs moet werk.
Daar is verskillende stelle gereedskap. Jou kissie met vaardighede is skerper op sekere gebiede as op ander, na gelang van die behoefte daaraan.
Ek dink baie akteurs en teatermakers is ’n wonderlike span mense wat in alle genres kan werk. Daar is min van hulle, maar daar is wel sulke wonderlike mense wat die oog daarvoor het.
Met komedie en klug: Hoe makliker dit lyk, hoe beter is daardie mense op die verhoog. Komedie moet maklik lyk; dit mag nie lyk asof jy sukkel nie. Ons wil nie die akteurs sien werk nie; komedie moet net spuit.
Kabaret is een van my gunstelinggenres om by te woon. Die een oomblik lag jy en die volgende oomblik kry jy ’n klap deur die gesig. Kabaret is juis die genre wat ongelukkig as ’n nismark bestempel word, die genre wat jou bietjie-bietjie uitwring – en dan weer paai.
Ek dink mense is baie geneig daartoe om te sê dat iets wat groter gehore trek en makliker lyk, “kommersieel” is. Dis nie noodwendig waar nie. Dit is baie onregverdig om binne ’n genre net te veralgemeen. Enige teatermaker of akteur wat sy sout werd is, weet dat alle genres moeilik is.
Jy moet immers die mens op die stoel voor jou oortuig, aangryp – en vermaak.
Dit is wat teater is!
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Wessel Pretorius Ont-dek steeds teater

