
Wessel Pretorius (Foto: Llewellyn de Wet, verskaf deur die Stellenbosch Woordfees)
By die Toyota Woordfees 2026 in Stellenbosch vier kennistyd, koestertyd, kunstyd en kappityttyd hoogty!
En tussen al die erns deur is daar ook ’n tydjie vir skater!
“Komedie is ’n moeilike genre. Mense huil oor die dieselfde goed, maar hulle lag vir verskillende dinge. Komedie kan dus verdelend wees. By die Woordfees het ons nie ’n baie groot komediegehoor nie; ons gehore verkies drama, en sal ook skerpsketsoptredes kyk. Hulle hou ook van wat ek ‘komiese vertelling’ noem. In terme van tradisionele komedie het ons ’n relatief klein aanbod,” sê Saartjie Botha, die feesdirekteur.
Die romantiese komedie Eerste vir alles is vol bespreek. “Die stuk is deels suksesvol oor die inhoud en die tema, maar baie eerder oor die twee geliefde spelers. Ons gehore is lojaal. Tussen vanjaar se uitdagendste komedieproduksies is Vlindervry en CRYBABY. Taboe onderwerpe word nie vermy nie.”
Sy voeg daarby: “Ek probeer soveel as moontlik vooraf na werk kyk; my barometer oor wat by die Woordfees gaan werk, is teen dié tyd redelik goed ontwikkel. Ons is in Suid-Afrika gelukkig om uitstekende komediante te hê en hulle werk hard om ’n gevolg te ontwikkel. Komedie wat kommentaar lewer en op die snykant is, werk goed.”
Dit is nie blote toeval dat die kunstenaars Wessel Pretorius, Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck vanjaar by die fees met komedie vereenselwig word nie.
Ná Wessel Pretorius sy honneursgraad in drama aan Maties verwerf het, is sy talent gou geëien en word hy in 2010 as Fleur du Cap se belowendste student aangewys. Hy wen in 2012 Woordfees se toekenning vir beste drama vir sy stuk Ont-, waar hy alleen, sonder stel, sy lyf vir uitdrukking gebruik. Sy Engelse vertaling na Undone by die Grahamstadfees besorg hom toe ook ’n Gold Ovation-toekenning in 2014.
In 2016 gebeur Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: die Vloeistoftrilogie, wat as ’n stuk van 20 minute lank voor 20 teatergangers teen R20 per kaartjie in ’n wit tent op groen gras voor die burgersentrum in Oudtshoorn by die KKNK se Uitkampteaterprojek begin het. Wessel en David Viviers moes die elemente trotseer tydens ’n skielike wolkbreuk, gevaarlike, nat elektriese drade, vonke wat spat en kragonderbrekings. (Glo my, want ek was daar – nog nie oordronk nie, maar deurdrenk!) Dit besorg aan hulle toe die Kanna-toekenning vir beste debuutwerk by die fees.
Die Engelse weergawe, The waterworks anthology, besorg hulle in 2022 die Fleur du Cap-teatertoekenning vir beste ensemblevertolking.
Uiteraard moes die produksie ontwikkel word, en die uitgebreide, vollengte 2017- aanpassing spog met vier Kanna-benoemings: Wessel vir beste akteur, David vir beste manlike byspeler, en vir Wessel die beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks en beste teateraanbieding.
En toe volg die opvolgproduksie: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: die Ongewerwelde-trilogie, wat die 2024 Woordfees se toekenning vir beste prestasie deur ’n duo en ’n Fleur du Cap-benoeming aan Wessel en David besorg. Van die werke is selfs in boekvorm gepubliseer.
Daar is geen halt aan tyd nie. Wessel het op vanjaar se kunstefeesroete behoorlik gewoel.
Hy is pas terug van Aardklop, waar hy ook op die verhoog was saam met Ludwig Bing en Wilhelm van der Walt (onder regie van Marthinus Basson) in die gevierde, bekroonde vlymskepkomedie KUNS – wat jare lange vriende se vriendskap toets wanneer ’n duur skildery uiteenlopende menings oor kuns ontketen en diep konflikte blootlê.
Ons gesels hier met Wessel Pretorius oor sy jare op die kunstefeesroetes en sy reis na die ontdekking van teater.
In ’n mymering: Waar het alles ná jou studies in 2011 begin?
My debuut was tweeledig. Hugo Theart het vir my my eerste professionele geleentheid gebied met Korte mette met die versamelde werke van William Shakespeare, en Albert Maritz het my kort daarna gebruik as oom Tampan in PG du Plessis se klug ’n Seder val in Waterkloof.
Vanjaar is jou produksie Vlindervry (met Cindy Swanepoel, Heinrich Wentzel, Jeanne-Marié Koekemoer en Geon Nel) as Aardklop se vlagstuk aangebied. Dit is jou vertaling en verwerking van Leonard Gershe se trefferkomedie Butterflies are free – wat sensitief-komies met gestremdheid (blindheid) stoei en ligter maak. Jy behartig ook die regie. Jy self is onder die leiding van verskeie regisseurs geskoei. Wat het jy by hulle geleer in jou benadering tot regie?
Christiaan Olwagen het my geleer om vreesloos te wees. Marthinus Basson het my geleer om met integriteit te werk, die nodige vrae te vra oor die teks en om die stuk in die breër konteks van die samelewing the plaas. Sylvaine Strike het my geleer dat ’n repetisieproses jou selle kan verander.
Jy is ’n veelsydige kunstenaar wat in verskeie genres werk. Daar word dikwels beweer komedie is ondergeskik aan drama. Is dit waar?
Goeie komedie is ’n haarbreedte van tragedie af. Om ’n sin vir die absurde te hê, moet jy hartseer intiem ken. Die meeste spelers wat komedie kan speel, kan deur ’n drama draf. Die teenoorgestelde is nie altyd waar nie.
Die feit dat jy self ’n akteur is: Hoe beïnvloed dit jou benadering tot ander akteurs wanneer jy die regisseur is – dalk ’n groter begrip vir die akteur se tekortkominge en menswees?
Ek dink ek verstaan akteurs se prosesse dalk beter omdat ek self speel. Ek het ’n beter gevoel vir wanneer om te lei en wanneer om te berus. As akteur het ek ook groot bewondering vir ander akteurs en probeer hulle help om die beste moontlike uitings van hul gawes te lewer.
Is dit makliker of moeiliker om vir jouself of vir ander dialoog te skryf – en wat is die uitdagings?
Dis uiteraard makliker om vir myself te skryf, want ek weet outomaties hoe om die teks te interpreteer. Ander spelers het weer hul eie ritmes. Dis makliker as ek weet vir wie ek skryf en die mens se vermoëns ken. Maar, die meeste akteurs poog om enige teks – van Tom Lanoye tot Harold Pinter – te kan vertolk. So ek dink ’n mens moet skryf wat op jou hart is. Dan sal alle spelers wat op hul voete dink, eerlikheid in die woorde vind en dit met oorgawe weerspieël.
Nou, by Woordfees 2026 skryf en regisseer jy die romantiese komedie Eerste vir alles met twee sterre – Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck – en darem ’n stukkie stel. Wat het jy sedertdien van lyfteater, eenvoud, stelminimalisme en begroting (veral die gebrek daaraan) geleer?
Ont- was my grootwordrelaas voor ’n jong man wat sy eie identiteit ondersoek en tot verhaal kom oor verlies. My gunstelingmanier om ’n storie te vertel – veral as speler – is met so min as moontlik hiperletterlike ondersteuning. Ek is nuuskierig oor die potensiaal van die lyf om karakter, narratief en emosie op sy eie uit te beeld. Dan moet daar ook bygesê word dat ek op 24 (toe ek Ont- begin doen het) aansienlik minder tot my beskikking gehad – wat my moes leer om die bogenoemde te probeer baasraak. Eerste vir alles dra nog steeds elemente van daai prinsiep. Daar is ’n stukkie gras wat die tuin aandui en ’n boom wat lyk asof dit uit ’n sketsboek gaan haal is. Die gehoor moet hier ook relatief verbeelding gebruik om ’n wêreld saam met die akteurs te skep.
Jy het vier Fiëstas op een aand in 2013 vir Ont- gewen: opkomend, akteur, solo en nuwe teks. Alles was jy. Nou het jy die komedie Eerste vir alles – vir Frank en Margit, wat self Fiësta-wenners is. Hoe skryf ’n Fiësta-wenner vir ander Fiësta-wenners – min teks of baie teks?
Nadat Frank die storie aan my ge-“pitch” het, was ek vry om te skryf soos ek goedgedink het. Dit was vir my ’n geleentheid om ’n meer tradisionele komiese teks te skryf (in teenstelling met van my ander werk). Hier kon ek daarop fokus om punchlines te slyp en dubbelbetekenis te skaaf, want ek het geweet ek gaan dit in die hande kan los van twee gesoute komediante wat nie skrik vir teks nie.
Jou werk (onder meer Die ontelbare 48, jou satiriese, tour de force- mikrokosmiese blik op menslikheid, wat in 2019 deur Protea Boekhuis as teks gepubliseer is) word aan grensverskuiwing gekenmerk. Eerste vir alles is op die oog af ’n veilige romantiese komedie. Waar in hierdie stuk steek jy steeds die grensverskuiwende Wessel weg wat in Ont- sy eie naaktheid ontdek het?
Ek dink ’n mens gaan maar deur fases in jou kreatiewe tog. Ek het pas klaar studeer toe ek Ont- geskryf het en daar was dinge wat ek as jong kunstenaar wou oopklowe en ondersoek. My identiteit, my skielike blootstelling aan die “regte” lewe en verlies het my genoop om iets rouer en “kaler” te skep. Wat egter onder al die eksterne dinge bly klop het, was my behoefte om my hart met die gehoor te deel en hulle saam met my op ’n emosionele reis te neem. Ja, Eerste vir alles is dalk “veiliger” – omdat ons dit vir Frank en Margit se gehore gemaak het – maar dieselfde behoefte om die gehoor met iets meer, iets warmer, agter te laat as waarmee hulle ingestap het, geld steeds.
Jy is ’n vervaardiger, ’n regisseur, ’n dramaturg, ’n akteur (ernstig en komies in teater, op TV en in flieks) en jy spog met talle benoemings en toekennings in al dié sfere. ’n Gunsteling, dalk?
Vir my maak dit deel uit van dieselfde blok hout. Of ek ’n beeld kerf as akteur, skrywer of regisseur, die uitgangspunt bly dieselfde: om die beste weergawe van die beeld te skep wat ek in daardie stadium kan.
Woordfees sê “Dis hoog tyd!” Jy het in 2012 hier begin wen. Dis 14 jaar later. Is Eerste vir alles vir jou ’n terugkeer, of is dit ’n bewys dat die seun van Nelspruit wat destyds as die belowendste student bekroon is, nou tevrede kan terugkyk?
Ja. Ek dink die seun van Nelspruit sou hom nie eers kon verbeel dat twee legendes in ons bedryf hom genoeg sou vertrou om vir hulle ’n produksie te skep wat hul gawes kan ten toon stel nie.
En saam met die kunstenaars ontdek teatergangers hul eie en mekaar se innerlike, die geheime, die verskansings, die ontblotings: Ont-…

