Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n onderhoud met Elzabé Zietsman oor kabaret, met hoop en vreugde

  • 0

Kunstenaars sluit hul kunstefeesroete in Stellenbosch by die Toyota Woordfees 2026 af.  Hier is dit kennistyd, koestertyd, kunstyd. Dis feestyd. Dis hoog tyd! Kappityt.

Elzabé Zietsman – aktrise, sangeres, regisseur en vervaardiger – het in amper elke medium en genre gewerk – drama, komedie, klug, pantomime, revue, blyspele en sepies: op die verhoog en TV en in rolprente. Sy spog ook met bekendheid as die singende kelnerin en sjef!

Sy’t selfs haar eie tuisrestaurant bedryf, maar toe tref Covid in 2020. Alles sneuwel, veral vir die kunste. Gegrendel en geskraag.

Maar tyd is geduldig en tyd genees in veerkragtigheid!

Elzabé het ’n bedrywige jaar op die kunstefeesroete agter die rug. Sy was pas by drie produksies by Aardklop betrokke, een daarvan in die rol van Daisy de Melker in die komedie Tronk met ’n D.

Na die Woordfees bring sy twee produksies. Sy is die regisseur van Hoort – met teks deur Johann Slabbert en die sangeres Stephanie Baardman, met klavierbegeleiding en musiekregie deur Janine Neethling.  Dié produksie is verlede jaar juis hier met die Woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek bekroon. Dit is ’n semi-outobiografiese kabaret wat jou laat lag, huil en jou met nuwe oë na jou eie storie laat kyk. Dit vertel die verhaal van Stephanie, die dogter van twee pastore, wat haar plek in die wêreld soek te midde van haar gemengde agtergrond en ons komplekse geskiedenis. Met humor, patos en ’n mengsel van koortjies, ghoema, jazz en oorspronklike Afrikaanse komposisies besef sy: Om in te pas is een ding, maar om te behoort is iets heeltemal anders.

Elzabé sluit haar kunstefeesjaar af met haar kabaret Wat om te doen as die wêreld brand. Die teks en regie is deur Bibi Slippers behartig, met klavierbegeleiding deur Jody Jason Petersen. Haar produksiehuis Drama Drama is self die vervaardiger. Die stuk is vanjaar vir drie Kannatoekennings benoem.

Die storie ontrafel so: Die wêreld is aan die brand, maar die engel/orakel/demigodin wat eiehandig die kliëntedienssentrum van die kosmos beman, is afgeboek weens uitbranding. Die groot opsigter van die heelal het heeltemal genoeg gehad. Wie gaan nou na die mensdom se gesanik luister, raad gee oor verhoudings en vure doodslaan waar hulle dreig om verwoesting te saai?

Gaan kyk en vind uit!

Sedert haar veelsydige loopbaan in 1984  op die verhoog en skerm begin het, is Elzabé nou met reg ’n grand dame van teater. Sy kén slim satire, ironie en patos; sorgvuldig in  sosiopolitieke kommentaar en peinsteater verpak.

Ons gesels oor transformasie, progressie, verandering, vernuwing en, bowenal: herstel, hoop en vreugde.

In Hoort ondersoek jy die tema van om nie net in te pas nie, maar om te behoort. In Wat om te doen as die wêreld brand speel jy ’n karakter wat van hulpgewend na hulpbehoewend verander. In die tragikomedie Routrip (waarvoor jy verlede jaar as beste aktrise by Aardklop bekroon is) belig jy depressie en selfdood. Dis die verhale van drie vroue wat moet leer om te laat los. Is dit toevallig jou 2026-boog, of soek jy doelbewus stories waar transformasie nie mooi is nie, maar selfs morsig kan wees?

Ja. Ek kies altyd baie doelbewus temas waaroor ek wil praat, maar ek weet nie of dit werklik oor transformasie gaan as wat dit eerder oor hoop gaan nie.

Die belangrikste boodskap met my laaste klomp werk – selfs met Vier Panado’s en ’n Chardonnay – was dat daar altyd hoop is. Daar is altyd hoop.

Die kabaret Vier Panado’s en ’n Chardonnay is in 2024 met ’n Kannatoekenning as beste musiekproduksie bekroon, waarna dit ook by Aardklop en die Woordfees erkenning geniet het. Teks deur Johann Slabbert, met Tony Bentel op klavier. Hierin het sy Suid-Afrikaners se veerkragtigheid gevier. As ons val, staan ons op. As die mat onder ons uitgeruk word, maak ons bollemakiesies en land op ons voete. As die wêreld om ons verander, pas ons aan. En as die wêreld om ons heeltemal uitmekaar val, drink Mamma vier Panado's en ’n glas Chardonnay en Pappa steek die vuur aan.

In Wat om te doen as die wêreld brand het Bibi ’n sin geskryf wat vir my verskriklik treffend is en wat so waar is. En dink dit is meer waaroor my shows gaan. Dit sluit aan by wat jy vra oor die morsigheid van transformasie, maar vir my is die belangriker ding: Daar's altyd hoop. Bibi skryf: “Vernuwing lyk soos verwoesting voordat die herstel begin.”

Ek is meer in die herstel geïnteresseerd.

Kabaret is nogal ’n ongemaklike genre. Wat is jou definisie van kabaret?

Daar is altyd ongemak by kabaret betrokke. My definisie van kabaret het nie deur die jare verander nie – alhoewel ek nie werklik in woorde of in ’n sin vir jou ’n definisie kan gee nie. My definisie van kabaret was nog altyd dat dit sosiopolitieke kommentaar moet lewer op watter manier ook al. Of dit deur stories en liedjies is, of dit deur ’n sirkus-act is, of wat ook al ... dit maak nie saak deur wat dit vertel word en hoe dit vertel word nie. Die punt is dat dit sosiopolitieke kommentaar is. En om sosiopolitieke kommentaar te lewer moet jou gehoor jou kan verstaan. So jy moet dit in ’n taal doen wat toeganklik is vir jou gehoor. En die ongemak moet altyd daar wees. Maar ek dink Casper (de Vries) het altyd gesê jy laat hulle lag en dan steek jy hulle met ’n dolk in die maag. En vir my is kabaret nie net ’n wroeging nie. Daar moet geweldige vermaak ook teenwoordig wees. Lag uit jou maag uit en dan slaan ek jou wind uit. Daarin is die kruks vir my van kabaret.

Jy was ’n aktrise en sangeres in die tagtigerjare toe kabaret amper net oorlewing was. Nou is jy ’n vervaardiger en regisseur wat vir ander vroue (Stephanie, Bibi, Janine) se talent ’n platform bied. Dit is drie dekades later! Voel dit vir jou soos volsirkel?

Dit is vir my interessant dat mense altyd vir my sê ek herskep – of in Engels “re-invent” – myself. Maar dit is nie wat dit is nie, dit is nog altyd ek. En my doelwit was nog altyd dieselfde ding. Daar was nie ’n strewe na meer as doodeenvoudig om teater te skep wat mense kan inlig en wat mense kan help om mekaar te verstaan nie.

Natuurlik is dit nie altyd die geval wanneer ek ’n toneelstuk gedoen het nie, maar in my kabaretwerk was dit nog altyd dieselfde. Daar het nie ’n verandering gekom in wat ek dink kabaret moet wees en hoe ek kabaret aanpak nie. My formule het nog nooit werklik verander nie. Dit is nog dieselfde ding.

In Wat om te doen as die wêreld brand is die boodskap die feit dat ons eers na onsself moet kyk voordat ons die afvlerke kan help.

Dit is een van die grootste lesse wat ek in my lewe moes leer: Jy moet eers na jouself omsien voordat jy na ander kan omsien. Ek het dit nooit gedoen nie. En dis nou eers, hier op 65, wat ek begin om veranderinge in my lewe aan te bring om beter na myself te kyk en nie altyd al my energie, my geld, my hulpbronne, alles wat ek het, aan ander te gee nie. Die mense wat die maklikste uitbrand, is die mense wat die meeste omgee.

Ek raak wat dit aanbetref ’n bietjie selfsugtiger. Red jouself en wees lief vir jouself is die hooftema.

Is daar ook ’n deurlopende tema in die stukke wat jy vanjaar op die kunstefeesroete aangebied het?

Natuurlik, ja: hoop en vreugde!  Dit kom in al drie stukke voor. Sonder vreugde kan ons nie oorleef nie.

As jy Woordfees 2026 se “Dis hoog tyd” moet toepas op jou drie produksies: Hoort = hoog tyd om te behoort, Wêreld brand = hoog tyd om self te vra vir hulp, Routrip = hoog tyd om te aanvaar jy kan nie almal red nie. Watter een is vir jou die moeilikste les om te leef, nie net te “speel” nie?

Ek doen wel nie meer Routrip nie, maar daardie boodskap van jy moet eers jouself red voordat jy ander kan red, eggo wel daarin. En uiteindelik is daar altyd hoop. 

Dus:  Dis hoog tyd dat ons almal onthou vreugde is goeie medisyne. Dis hoog tyd om na jouself om te sien en nie net altyd na ander om te sien nie…

Daar word beweer om ouer te word is nie vir sissies nie! Hoe gebruik jy jou lyf en ouderdom as transformasie-instrument en nie iets om weg te steek nie?

Dis nie iets wat ek doelbewus probeer doen nie – om ’n stem te gee vir vroue van my ouderdom nie. Ek doen nog presies dieselfde – te midde van verandering – wat ek nog altyd gedoen het. Dis mense se persepsie van waartoe ’n vrou in staat is op ’n sekere ouderdom en waartoe sy nie in staat is nie. Vir my was daar nie transformasie nie. Ek het eenvoudig net ouer geword; dis al. Die verandering lê nie by my nie.  Ek verwerp die opvatting dat ouer vrouens nie raakgesien word nie. Ek sal nie toelaat dat ek nie raakgesien word nie. En ek gebruik my lyf op presies dieselfde manier as wat ek dit nog altyd gebruik het. Ek weeg presies dieselfde as wat ek geweeg het toe ek in matriek was. Ek lyk presies dieselfde. Die grootste verskil is die plooie op my gesig, maar dit kan die gehoor ook nie so maklik sien nie.

Ja, ek raak ’n bietjie stywer en ek is nie meer so sterk as wat ek was nie. My energievlakke is laer as wat dit was, maar op die verhoog is dit nog dieselfde ding. En ek dink dit is meer wat ek onder mense se aandag wil bring as enigiets anders: dat veroudering nie beteken jy moet gaan wegkruip nie. Ons ouer vrouens het juis soveel meer om te bied met die wysheid van die jare … Ja!

Ten slotte: Wat is die grootste verskil tussen musiekteater en kabaret?

Die grootste verskil tussen musiekteater en kabaret is vir my die boodskap. Musiekteater het nie noodwendig ’n boodskap nie, maar ’n kabaret sonder ’n boodskap is nie ’n kabaret nie!

Klink ’n kabaretkelkie!

  • Grafika (c) Christiaan J de Swardt
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top