Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Wie se geskiedenis leer ons ons kinders?

  • 0

Die diskoersgesprek “Geskiedenis vir die toekoms” – met Gert van der Westhuizen, Jonathan Jansen en Albert Grundlingh – het op 6 Oktober as deel van die Netwerk24-gespreksreeks by die Toyota Stellenbosch Woordfees 2026 plaasgevind: “Hoe lyk die ideale geskiedenis-kurrikulum en wat sê dit van ons eie belewenis van die geskiedenis en hoe ons na geskiedenis behoort te kyk?”

Lees Jean Oosthuizen se oorsig.

Jonathan Jansen, Albert Grundlingh en Gert van der Westhuizen (foto: Jean Oosthuizen)

Die debat oor ’n nuwe geskiedeniskurrikulum gaan uiteindelik oor veel meer as wat in ’n handboek staan. Dit gaan oor wie ons is, wie die mag het om oor die verlede te vertel en of ons kinders geleer word om te dink of bloot om die feitelike geskiedenis te onthou.

Daar is min dinge waaroor Suid-Afrikaners so maklik baklei soos oor geskiedenis. Hoe lyk die ideale geskiedeniskurrikulum en wat sê dit van ons eie belewenis van die geskiedenis en hoe ons na geskiedenis behoort te kyk?

Dit was die onderliggende vrae by ’n Woordfees-diskoersgesprek in Stellenbosch oor die tema.

Gert van der Westhuizen van Netwerk24 was die gesprekleier en die gesprek het onder meer gefokus op die nuwe voorgestelde Afrika-gesentreerde geskiedeniskurrikulum.

Jonathan Jansen en Albert Grundlingh het aan die gesprek deelgeneem. Nomalanga Mkhize, wat volgens die Woordfees-program ook op die paneel sou wees, was nie teenwoordig nie.

Dit was jammer, want Mkhize se sterk steun vir die voorgestelde nuwe kurrikulum sou ’n belangrike teenstem teenoor Jansen se uitgesproke kritiek daarop gebied het.

Jansen het die voorgestelde kurrikulum elders reeds beskryf as “anti-intellectual and soul-deadening”. Sy kritiek is dat die verskuiwing na ’n sterker Afrika-gesentreerde benadering maklik in nog ’n ideologiese projek kan ontaard, hierdie keer met ander protagoniste en ander helde, maar met dieselfde basiese probleem: dat die verlede gebruik word om ’n bepaalde identiteit en wêreldbeskouing aan jongmense oor te dra.

Mkhize se uitgangspunt is wesenlik anders, aldus Jansen. Sy was deel van die ministeriële taakspan wat die nuwe kurrikulum ontwikkel het en het dit in die parlement verdedig as ’n poging om die Suid-Afrikaanse verlede vollediger te vertel deur perspektiewe wat lank gemarginaliseer is, in te sluit.

Die vraag is nie of almal tevrede gaan wees met ’n geskiedeniskurrikulum nie, maar of daar ’n duidelike logika is waarom sekere gebeure en figure meer aandag as ander kry, sê Jansen.

Dit is onmoontlik om ’n geskiedeniskurrikulum saam te stel wat almal in ’n land met Suid-Afrika se verdeelde en omstrede verlede tevrede sal stel. Die probleem met die voorgestelde nuwe kurrikulum is eerder dat dit nie altyd duidelik is watter logika bepaal waarom sekere gebeure en historiese figure ingesluit word en hoeveel aandag hulle kry nie.

Jansen het die voorgestelde Afrika-gesentreerde geskiedeniskurrikulum sterk gekritiseer en gesê hy sukkel om die onderliggende logika daarvan te sien.

Volgens hom is die probleem nie dat daar noodwendig meer aandag aan een historiese figuur as aan ’n ander gegee word nie, maar dat die redes daarvoor duidelik verdedigbaar behoort te wees.

Hy het Robert Sobukwe en Steve Biko as voorbeelde genoem en daarop gewys dat hulle volgens hom minder aandag kry as PW Botha.

“Ek gee nie om as PW Botha meer aandag kry as Robert Sobukwe nie,” het Jansen in wese aangevoer. “Maar verduidelik vir ons waarom.”

Volgens hom moet daar ’n duidelike en verstaanbare rede wees waarom sekere tydperke, gebeure of mense prominenter in die kurrikulum figureer.

Hy het die voorgestelde kurrikulum beskryf as iets wat op die oog af soos ’n versameling verskillende temas en voorkeure lyk wat saamgegooi is, eerder as ’n kurrikulum wat vanuit ’n duidelike opvoedkundige logika ontwikkel is.

Jansen het beklemtoon dat hy nie ’n historikus of geskiedenisonderwyser is nie, maar dat hy as opvoedkundige verstaan hoe kennis gekies, georganiseer en oorgedra word.

“Ek verstaan hoe kennis werk en hoe dit verdeel en uitgedeel word en hoe dit ondermyn word,” was sy punt.

Volgens hom behoort die debat oor geskiedenisonderrig daarom nie bloot te gaan oor die vraag watter groep of historiese perspektief meer aandag kry nie.

Die groter vraag is waarom.

Jansen het erken dat daar wêreldwyd ’n stryd oor geskiedenis bestaan en dat dit nie iets uniek aan Suid-Afrika is nie.

Hy het verwys na geskiedenisbesprekings in Europa, onder meer in Duitsland, waar daar ook spanning bestaan oor hoe die verlede onthou en voorgestel moet word.

Hy het ook verwys na die geskiedenis van die Holocaust, die Israel-Palestina-konflik en die VSA, waar daar voortdurend politieke stryd is oor die interpretasie van historiese gebeure.

“Dit is maar normaal dat daar ’n stryd oor die geskiedenis sal wees,” was sy gevolgtrekking.

Die probleem ontstaan volgens hom wanneer politieke agendas begin bepaal hoe geskiedenis in die klaskamer aangebied word.

Albert Grundlingh het saamgestem dat daar politieke dryfvere bestaan agter die manier waarop geskiedenis vertel word. Die vraag is volgens hom eerder hoeveel van daardie politieke dryfvere in die klaskamer behoort te figureer.

Hy het gewaarsku teen die versoeking om te veel van leerders te verwag en hulle met historiese en politieke kwessies te konfronteer wat hulle nog nie noodwendig in staat is om behoorlik te hanteer nie. Dit beteken nie dat moeilike onderwerpe vermy moet word nie. Die gevaar is eerder dat die eietydse politiek die historiese gebeurtenisse kan oorheers.

“Dan verloor jy iets van die integriteit van die vak,” was sy standpunt.

Volgens Grundlingh behoort geskiedenisonderrig in die eerste plek te begin by wat gebeur het, hoe dit gebeur het en waarom dit gebeur het.

Daarná kan gekyk word na die betekenis wat die gebeurtenis later gekry het en wat die langtermyngevolge daarvan was. Eers dan kan die verband met die politieke en maatskaplike werklikheid van vandag sinvol getrek word.

Die gespreksgenote het ook gewys op die groter probleem van wie uiteindelik besluit watter weergawe van die verlede aan jong mense voorgehou word.

Met verwysing na George Orwell se bekende uitspraak oor die verband tussen mag, die hede en die verlede, naamlik: Wie die verlede beheer, beheer ook die toekoms en wie die hede beheer, beheer ook die verlede, het Jansen gesê dit is hoe dit dwarsoor die wêreld is.

Maar volgens hom is dit nie net regerings wat probeer om geskiedenis te beïnvloed nie.

Verskeie burgerlike organisasies en ander groepe in die samelewing het ook hulle eie voorstellings van die verlede en probeer dit in die openbare gesprek bevorder, soos wat pas weer gesien is met Ernst Roets van Lex Libertas se witkruisprojek in Amerika.

Hy sê vir hom as ’n pedagoog maak dit eintlik absoluut glad nie saak nie, want minder as die helfte van die leerders in die senior fase neem geskiedenis. En die rede waarom hulle geskiedenis neem, is nie dat hulle lief is vir intellektuele betrokkenheid by die verlede nie. Hulle neem geskiedenis omdat hulle dit makliker kan slaag.

Daar is as voorbeeld ook verwys na pogings om apartheid op ’n minder negatiewe manier voor te stel – asof apartheid ingestel is omdat mense goeie bedoelings gehad het of asof dit nie ’n stelsel was wat fundamenteel verkeerd was nie.

Jansen se waarskuwing is dat dieselfde meganisme wat in die verlede gebruik is om ’n bepaalde politieke orde te regverdig, vandag weer gebruik kan word om ’n ander weergawe van die geskiedenis te bevorder.

Dit is waarom die geskiedeniskurrikulum volgens hom nie bloot ’n versameling politieke voorkeure behoort te wees nie.

Die uitdaging is om kinders genoeg historiese kennis te gee om self te kan onderskei tussen ’n goed nagevorste historiese argument en ’n politieke poging om die verlede vir hedendaagse doeleindes te gebruik.

Die geskiedenis sal altyd omstrede wees.

Maar juis daarom, het die gesprek in Stellenbosch gewys, behoort die doel van geskiedenisonderrig nie te wees om die stryd oor die verlede te beëindig nie.

Dit behoort jongmense toe te rus om daardie stryd met kennis, konteks en kritiese denke te kan voer.

Lees ook:

Nuwe Geskiedeniskurrikulum: Afrika het ook ’n geskiedenis

The fear of erasure: On South Africa’s history curriculum and the Afrikaner question

History in the classroom: Why CAPS must look beyond ideology

The importance of oral history in southern African historiography

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top