
Foto: Canva
...
Van die waardevolste kommentaar was dié van Siona O’Connell, die Departementshoof vir Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, wat daarop gewys het dat die nuwe Afrogesentreerde kurrikulum leerders sal help verstaan dat gemeenskappe en koninkryke in Afrika gesofistikeerd en vernuwend was en globale bande gehad het lank voor die aanvang van die koloniale era.
...
Die Amerikaanse president van 1913 tot 1921, Woodrow Wilson, het oor sy werk in die onderwys opgemerk: “Dit is makliker om ’n begraafplaas te verskuif as om ’n kurrikulum te verander.”
Die vrystelling van die aangepaste Kurrikulum en Assesserigsbeleiedverklaring (KABV) vir Geskiedenis in Suid-Afrika van graad 4 tot 12 vir publieke kommentaar het my aan dié opmerking van Wilson laat dink.
Die verskil is dat in dié geval die kurrikulum verander het en die begraafplaas nie verskuif is nie. Dit verklaar waarskynlik die vloedgolf van kommentaar op elke denkbare platform – van dié wat nóú betrokke is by Geskiedenis en Geskiedenis-opvoedkunde tot dié wat ’n lewe maak uit provokasie tot dié wie se eerste woorde is: “Ek het nie die voorgestelde kurrikulum gelees nie, maar ...” Van die waardevolste kommentaar was dié van Siona O’Connell, die Departementshoof vir Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, wat daarop gewys het dat die nuwe Afrogesentreerde kurrikulum leerders sal help verstaan dat gemeenskappe en koninkryke in Afrika gesofistikeerd en vernuwend was en globale bande gehad het lank voor die aanvang van die koloniale era. Die opvoedkundige uitkoms daarvan is ’n verstaan van wat Afrika is en hoe bekwaam Afrikane was. Dit is fundamenteel anders as wat elke skoolgeskiedeniskurrikulum nog ooit in Suid-Afrika as kernfokus op die voorgrond geplaas het.
Dit is waarskynlik die fokus wat die moeilikste was om te verstaan vir die kritici van die voorgestelde kurrikulum, want ’n Afrosentriese kurrikulum wat nie noodwendig net ’n binêre teenpool vir vroeëre en die bestaande Eurosentriese kurrikulum is nie, was ’n steen des aanstoots. Veral omdat die voorgestelde aangespaste kurrikulum finaal die uiting van die Britse historikus in 1963, Hugh Trevor-Roper, met verwysing na Afrika, dat daar “slegs die geskiedenis van Europeërs in Afrika is. Die res is duisternis ...” die nek ingeslaan het. Die denkwyse van Trevor-Roper het vergestalting gegee aan historiografiese denkwyses asook skoolgeskiedenisse in Suid Afrika wat geslagte lank gesosialiseer het in ’n denkwyse dat Afrika nie ’n geskiedenis het nie. Daarom moet mens nie verbaas staan dat uitsprake gemaak word dat die voorgestelde Afrosentriese kurrikulum antiintellektueel is, en nie almal verteenwoordig nie, en daar vervaard voorstelle gemaak word oor veral Eurosentriese inhoud wat nog bygevoeg moet word. Die kognitiewe dissonansie is bloot pogings om die nuwe Afrosentriese geskiedeniskurrikulum weg te redeneer.
...
Die span, wat bestaan uit gesoute en gerespekteerde akademiese historici, ’n argeoloog asook geskiedenisopvoedkundiges, het internasionaal en nasionaal gekonsulteer.
...
Die realiteit is dat die voorgestelde kurrikulum nie so maklik weggerdeneer kan word nie. Dit is die werk van bykans ’n dekade van ’n ministeriele taakspan wat die skoolgeskiedenis moes hersien. Die span, wat bestaan uit gesoute en gerespekteerde akademiese historici, ’n argeoloog asook geskiedenisopvoedkundiges, het internasionaal en nasionaal gekonsulteer (ek het so ’n sessie by die Vryheidspark bygewoon) en het verslae en terugvoering gegenereer. Die span het terselfdertyd hulle vingers op die spreekwoordelike historiografiese polse gehad en was ook terdeë bewus van die nuutste navorsing oor geskiedenisopvoedkunde. Terselfdertyd het hulle gestaan op die ongelooflike skouers van Unesco se General History of Africa-projek wat in 1964 (kort na Trevor-Roper se uitspraak) van stapel gestuur is. Die reeks van 11 volumes, wat begin met ’n volume wat na die metodologie van geskiedenis in Afrika kyk, en eindig met die publikasie in 2025 van volumes wat die idee van ’n “Globale Afrika” op die voorgrond plaas, weerspreek enige koloniale idees dat Afrika nie ’n eie volwaardige geskiedenis het nie. In kort, die historiografiese onderbou van die voorgestelde kurrikulum is hoogs intellektueel. In die leerproses soos uiteengesit, word daar van die leerders en onderwysers verwag om indringend om te gaan met ’n reeks historiese bewyse wat wissel van geskrewe en mondelinge bronne tot argeologiese bewyse tot DNS-ontleding om sleutelvrae te beantwoord. Die sambreel wat die inhoud oorspan, is die internasionaal aanvaarde historiese denkkonsepte van tyd en chronologie, historiese betekenis, oorsaak en gevolg, kontinuïteit en verandering, en multiperspektiwiteit en interpretasie wat deurlopend toegepas moet word. Die historiografie en opvoedkundige onderbou word gerugsteun deur ’n baie duidelike konseptuele raamwerk wat onder andere verklaar wat historiese bewussyn, historiese kultuur en mondelinge geskiedenis is.
Die voorgestelde Geskiedenis-kurrikulum maak dit baie duidelik hoe die prototipeburger lyk wat dit wil produseer – ’n burger wat onderlê is in historiese denkwyses, wat met historiese bronmateriaal kan werk, wat verstaan dat geskiedenis ’n konstruksie is, en wat op ’n analitiese en kritiese wyse kan omgaan met ’n Afrosentriese geskiedenis as ’n reismetgesel deur die leefwêreld heen. Dit beteken ’n verstaan van die Globale Afrika, en ’n sin van waardigheid, trots in Afrogesentreerde geskiedenis, en die verstaan van die veerkragtigheid van historiese karakters in die verskeidenheid van Afrika-geskiedenisse – polities, ekonomies, sosiaal en militêr. Dit is ’n historiese wêreld verwyderd van waar Afrikane en hul geskiedenis slegs as slagoffers verskyn het, of as historiese randfigure of as probleemmakers vir Europeërs se doen en late. In ’n neutedop, die voorgestelde Geskiedenis-kurrikulum het ’n duidelike Afrogesentreerde akademiese en burgerlike identiteit in gedagte vir leerders wat historiese denke, en die gebruik van historiese bewyse, voorstaan, asook die idee dat geskiedenis ’n konstruksie is en dat daar nie ’n enkele meesternarratief is nie.
Nou wie sal diep teleurgesteld wees in die voorgestelde Geskiedenis-kurrikulum? Mense wat óf ’n noue etnonasionalistiese agenda het, óf nog nostalgies verlang na ’n Eurosentriese kurrikulum wat dieselfde alleenstaande temas soos die Franse en Russiese Revolusies insluit en op Jan van Riebeeck en die VOC en die Groot Trek fokus. ’n Diep lees van die voorgestelde kurrikulum sal wys dat die meeste van die temas daar nóú vervleg is in ’n groter narratief waar dit inpas by die Afrogesentreerde visie. Dieselfde mense sal ook waarskynlik teleurgesteld wees dat ’n meesternarratief wat fokus op ’n geheuegeskiedenis wat handel oor groot mans, meestal wit, wat die Suid-Afrikaanse nasiestaat polities en militêr gebou het, nie meer die fokus is nie. Hulle sal ook die klakkelose memorisering van name en datums vir geen goeie rede nie, mis. Dié is ’n geskiedenis wat die huidige KABV vir Geskiedenis alreeds uitgeskuif het en dit nou die finale nekslag toedien.
...
Die assessering soos voorgestel, spreek nie sterk genoeg tot die gedekolonialiseerde aard van die dokument nie. Die rol van vroue in die geskiedenis van ’n Globale Afrika kan ook sterker wees.
...
Is die nuwe voorgestelde kurrikulum foutloos? Beslis nie. Die assessering soos voorgestel, spreek nie sterk genoeg tot die gedekolonialiseerde aard van die dokument nie. Die rol van vroue in die geskiedenis van ’n Globale Afrika kan ook sterker wees. Baie deurlopende steun sal ook nodig wees vir onderwysers deur middel van indiensheropleiding, en nuwe materiaal sal ontwikkel moet word. Die grootste uitdaging is waarskynlik die psigologiese en kognitiewe kopskuif wat nodig is om ’n Afrogesentreerde kurrikulum te verstaan en af te leer wat oor eeue aangeleer is, en om sodoende ’n gedeelde geskiedenis van ’n Globale Afrika te omarm.
- Johan Wassermann is ’n professor in Geskiedenis-opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria en die waarnemende adjunkdekaan vir onderrig en leer. Hy is die voorsitter van die Historiese Genootskap van Suid-Afrika, die voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die redakteur van die akademiese joernaal Yesterday & Today.
Lees ook:
The fear of erasure: On South Africa’s history curriculum and the Afrikaner question


Kommentaar
Miskien sou dit beter wees as 'n kurriculum nie Eurosenties OF Afrosentries was nie. Maar mense is betrokke en werklike objektiwiteit is slegs 'n mikpunt. In elk geval, die "jurie is nog uit."