
Antoinette Kellermann en Gerben Kamper in Liefde, Lafras (foto: Gys Loubser)
Wat sou jy doen as jy ’n tweede kans kry om met jou geliefde tyd deur te bring, maar daardie tyd beteken oneindige pyn vir die ander persoon? ’n Filosofiese toneelstuk wat die dood, die hiernamaals, wonderwerke en selfs die bestaan van God bevraagteken. Dit is ’n stuk gevul met vrae en baie min antwoorde. En waar ’n antwoord wel gegee word, is daar ook ’n voorstel dat die karakter dalk die verkeerde besluit neem. Tog is een ding duidelik: Die mag om jou eie besluite te neem is al waaroor ons werklik beheer het.
......
Is sy tweede lewe ’n wonderwerk, of is dit eintlik ’n straf?
......
Dit is ’n mooi storie, geskryf deur Caitlin Wiggill en met regie deur Wolf Britz. Die idee van ’n paartjie wat hul hele lewe saam deurgebring het en gemaklik in hul huis saamleef tot een van hulle, onvermydelik, sterf. Die weduwee word agtergelaat om die stukke aanmekaar te probeer hou, terwyl die man die pyn van doodgaan ondervind en daarna alleen en bang wag vir iets om te gebeur, of iemand om hom te kom haal – tevergeefs. En dan, onverklaarbaar, kry hy ’n tweede kans op die lewe. ’n Kans om vir sy vrou te vertel hoe lief hy vir haar is en om weer ’n slag met haar te dans. Maar dooies is nie veronderstel om te leef nie, en hy kan nie vir ewig daar bly nie. Hy kwyn gou weg, en sy besef ook dat sy ’n gevangene word van haar eie huis en herinneringe. Is sy tweede lewe ’n wonderwerk, of is dit eintlik ’n straf?
Die stel is beide prakties en interessant, met deursigtige mure wat die kombuis en badkamer van die leefarea skei. Projeksies is baie interessant en effektief gebruik en skep ’n droomeffek. Die klankbaan is sterk en help om emosie te bou. Tegnies is hierdie ’n baie goeie produksie. Dit is ’n stadiger vertoning, en op sommige maniere vind ek dit baie passend: Dinge word stadiger soos ons ouer word, en daar is (teoreties, ten minste) niks stadiger of meer tydsaam as die dood nie. Dit maak ook sin dat die toneelspel klein, subtiel en genuanseerd is. Selfs die klimaks is nie groot en oordrewe nie, en al is daar ’n fisiese uitbarsting, is dit minder belangrik as die emosionele ondertone.
Ek het wel gevoel dat dit met tye ’n bietjie meer tempo kon bou, of dat daar ’n bietjie gesny kon word aan van die herhalende aksies en gesprekke. Die teks kan bietjie meer gestroop word, en daar is een of twee plekke waar spronge plaasvind wat nie heeltemal gemotiveer is nie, of wat teenstrydig is met wat elders in die teks gebeur. Maar wat baie mooi en natuurlik vasgevang is, is die verhouding van die twee karakters. Dit het my baie aan my ouma en oupa laat dink: een oomblik dolgelukkig, dan aan die stry oor TV-programme of ander kleinighede, en net so vinnig ook weer vergete. Die diep konneksie en teerheid tussen Antoinette Kellermann en Gerben Kamper is pragtig om dop te hou.
......
’n Produksie soos hierdie een verdien ’n meer tydsame aanslag. ’n Aand uit, een vertoning, geen gejaag, ’n glasie wyn en na die tyd rustig saam sit om dit te bespreek en te debatteer.
......
Ek glo hierdie stuk sal verder gaan en ek dink dit sal net beter word met tyd en herhaling. Soms kan ’n fees ’n gejaagde ding wees: Kunstenaars spring tussen een karakter en ’n ander, gehore hardloop rond en die repetisieperiode is dikwels baie kort. ’n Produksie soos hierdie een verdien ’n meer tydsame aanslag. ’n Aand uit, een vertoning, geen gejaag, ’n glasie wyn en na die tyd rustig saam sit om dit te bespreek en te debatteer. En daar is hope hier om oor te dink.
’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie
Met: Antoinette Kellermann, Gerben Kamper
Regisseur: Wolf Britz
Skrywer: Caitlin Wiggill
Vertaling: Antoinette Kellermann
Klankontwerp: Charl-Johan Lingenfelder
Kostuumontwerp: Birrie le Roux
Verhoogbestuurder: Morag Tison
Produksiebestuurder: Brechmari van Wyk
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Alan Committie: Comedy gold – ’n resensie
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Oesie meense – ’n onderhoud
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Kruger en Tutu: Wit, swart en volkleur serenades – ’n foto-essay
Toyota Stellenbosch Woordfees: Sonografie: grepe in roots en blues – ’n Instagram-resensie

