
The truth about Cape Slavery: the foundations of colonial South Africa deur Patric Tariq Mellet (Tafelberg, 2024)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: The truth about Cape Slavery: the foundations of colonial South Africa
Skrywer: Patric Tariq Mellet
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095293
Epub ISBN: 9780624095309
Patric Tariq Mellet skryf boeke wat tradisionele persepsies oor die verlede uitdaag, kritiese vrae stel en besonder gewild is onder lesers wat sy bepaalde sentimente deel. Die jammerte lê in die feit dat die soort geskiedskrywing wat hy beoefen, uitloop op gesprekke wat eventueel doodloop. Daar was omvattende reaksie en kritiek op Mellet se vorige boek, The lie of 1652. My eie oordeel was destyds veel meer verwelkomend teenoor sy perspektiewe as wat talle ander mense in hulle reaksies was. Dit blyk egter dat daar maar min reaksie was sedert die publikasie van sy nuutste boek, wat handel oor slawerny in die Kaapkolonie, en resensies oor die boek is moeilik om te vind. Dit maak dit moeiliker om die boek te oordeel, aangesien mens nie bestaande perspektiewe het waarteen jy jou eie indrukke kan meet nie.
........
Terwyl ’n studie van die verlede vele voordele kan inhou deur geletterdheid, insig en empatie te bevorder, verval te veel gesprekke oor die geskiedenis in ’n venynige oor en weer verwyt en byltjies-slyp-onderonsie, wat mense blitsig hulle aptyt vir die geskiedenis laat verloor.
........
Mellet beskryf sy nuutste boek as “a sequel to The lie of 1652”, en die patroon wat in The lie of 1652 gevestig is, waar die skrywer tematies rondspring, word voortgesit in hierdie boek. Die oorhoofse tema word wel deeglik aangespreek, en Mellet slaag daarin om ’n omvattende beeld te skets van slawerny, die oorspronge daarvan, sowel as die aard en omvang. Sy grootste betoog met die boek is waarskynlik dat slawerny nie na wense ondersoek en reflekteer word in Suid-Afrikaanse geskiedskrywing nie. Sy argumente is weer eens nie totaal ongegrond nie en hy maak ’n sterk saak uit daarvoor dat slawe ’n sentrale en deurslaggewende rol in die Kaapse koloniale ekonomie gespeel het. Natuurlik verwyt hy vir die grootste deel van die boek hoofsaaklik die “koloniale” geskiedskrywers vir die Eurosentries gedomineerde geskiedskrywing, maar merk darem ook vinnig in die verbygang op dat “the attitude of the ANC government has been appalling in viewing the slavery in our history as simply a Western Cape and ‘Coloured’ thing” (224).
Terwyl ’n studie van die verlede vele voordele kan inhou deur geletterdheid, insig en empatie te bevorder, verval te veel gesprekke oor die geskiedenis in ’n venynige oor en weer verwyt en byltjies-slyp-onderonsie, wat mense blitsig hulle aptyt vir die geskiedenis laat verloor. Om die verlede sinvol te herleef vereis ’n emosionele volwassenheid waarmee sommiges sukkel. Aktiviste slaan ook graag ’n gaping, want deur middel van hierdie soort geskiedenis kan die verlede gebruik word om “ons”-en-“hulle”-verdelings lewend te hou en te verdiep. Omdat hierdie soort geskiedenis ook aktief deur ’n bepaalde ideologiese bril gelees word, begaan dit eventueel feitefoute, en in die geval van hierdie boek, speel dit veral uit in die opmerkings wat Mellet maak rondom Afrikaans. Volgens Mellet is die woord Afrikaner dieselfde as African (173), en is Afrikaans die eerste keer deur die Oorlam Afrikaners gepraat, ’n etniese groep wat in die 1690’s in die Kaap ontstaan het. Mellet beskryf die Oorlam Afrikaners as ’n groep mense “who had learned the ways of Europeans and their secrets” (173). Afrikaans se oorsprong word egter vandag deur taalkundiges verder terug getrek na die 1500’s, spesifiek na die handel, wat volgens Mellet se eie vorige boek toe reeds in die Kaap floreer het.1 Die manier hoe Mellet oor taal skryf, laat dit lyk asof die ontwikkeling van ’n taal ’n kort geïsoleerde gebeurtenis is en nie iets wat oor lang tye gebeur nie (hy doen dieselfde met identiteit). Volgens Mellet is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) toe in 1875 deur Europeërs gestig, met die uitsluitlike doel om die taal en identiteit van die Oorlam Afrikaners te approprieer. Mellet oorskat nie net die aard, omvang en die invloed van die GRA nie,2 maar toon ook geen nuanse vir die politiek van die tyd waarin die GRA bestaan het nie. Terwyl die GRA daarop uit was om Afrikaans te bevorder, het die verskillende lede betrokke daarby ook verskillende motiewe gehad wat hulle gedryf het. Die konflik vanuit die GRA se perspektief was primêr gesetel in die taalstryd tussen Afrikaans, Nederlands en Engels. Daarvan getuig die talle geskrifte wat hulle vir ons nagelaat het. Daarby kan ook die feit gevoeg word dat die gebruik van wit Europese setlaars om na hulleself as “Afrikaners” te verwys nie vir die eerste keer in 1875 ontstaan het nie, maar dat sulke gevalle reeds in 1707 opgeteken is, soos die baie bekende geval van Hendrik Biebouw.3
As deel van die publikasie lewer Mellet dan ook ten slotte ’n lamsakkige pleidooi vir restitusie. Volgens Mellet was sy nuutste boek deels gemotiveer daardeur om vir die Nederlandse regering en die Nederlandse koning te illustreer dat hulle pogings tot apologie in die verlede nie net gebrekkig was nie, maar die vure net verder gestook het (224). Mellet skryf verder:
While it is not for a historian to determine what constitutes restorative justice and restitution, I can suggest that one consideration of a grand intervention that would go beyond gesture would be, for instance, an appropriate contribution towards developing farms and farmers among descendant communities, and the improvement of conditions of rural communities wrestling with homelessness and of underdeveloped community-built environments for descendants of the enslaved. (233)
........
Hoeveel prosesse van restitusie was daar nie al oor die jare nie?
........
Indien ’n historikus dan nie die presiese aard en omvang van die voorgestelde restitusie kan bereken nie, wie sal dan die ideale persoon wees? ’n Ekonoom? ’n Regter? Dit is baie maklik om voorstelle van hierdie aard te maak, maar ’n totaal ander perd om dit uit te voer. Hoeveel prosesse van restitusie was daar nie al oor die jare nie? Suid-Afrika het reeds tydens die Waarheids-en-Versoeningskommissie ook ’n restitusieprogram gehad, wat duidelik gefaal het. Mellet skryf dat Nederland verantwoordelik moet wees vir landelike ontwikkeling. Suid-Afrika het al vir dekades ’n hele staatsdepartement toegewy aan landelike ontwikkeling en grondhervorming. Dit is nie ’n departement wat bekend is vir skouspelagtige suksesse nie, maar word eerder gekenmerk deur gedurige korrupsie en wanadministrasie. Wie sal dan ook in beheer geplaas word van hierdie restitusieprogramme? En hoeveel moet presies betaal word? Daar waar geld en kontrakte ter sprake is, sal die politici sonder twyfel betrokke raak, en sal daar dan enige restitusie plaasvind aan die einde van die dag met die politici aan’t stuur? Hoe gaan dit ’n sukses wees indien ’n Europese moondheid begin projekte aanpak in Suid-Afrika? Sal hulle nie van voor af ’n klomp skade aanrig nie? ’n Neo-koloniale beleid handhaaf nie? Wat het geword van die uitroep “African solutions for African problems”? Suid-Afrika het reeds ’n omvattende sosiale welsynsisteem. Meer as 25 miljoen Suid-Afrikaners ontvang sosiale toelae. Die fiskus kreun onder die las en dit bedreig die volhoubaarheid van die staat. En ten spyte van dekades van Swart Ekonomiese Bemagtiging en billike indiensnemingspraktyke, bly die gaping tussen ryk en arm groei, terwyl die werkloosheid toeneem. Suid-Afrika se regering het sedert 1994 groot gedeeltes van die staat se werkende infrastruktuur, soos paaie, brûe, hawens en ander strukture, ten gronde laat gaan; hoekom sal enige Europese moondheid dit vir ons vervang sonder die waarborge dat ons land dit sal onderhou?4 Miskien moet Mellet in sy volgende boek dieper ingaan op hierdie onderwerp van restitusie en ’n deeglike model ontwikkel waarmee mense te werk kan gaan, ’n werkbare model, want al wat sy voorstelle op die oomblik bied, is leë woorde. Soos die Engelse uitdrukking lui: Talk is cheap.
........
Daar moet beslis veel meer oor slawerny gepraat word, en daar moet baie navorsing daaroor gedoen word. Maar nie op hierdie manier nie.
........
The truth about Cape slavery is ’n boek wat my met klomp ambivalente gevoelens gelaat het, presies maar soos die voorganger, The lie of 1652. Dit blyk dat laasgenoemde meer van primêre bronne gebruik gemaak het, terwyl die nuutste boek grotendeels op die werk van ander navorsers berus. Alhoewel Patric Tariq Mellet se The truth about Cape slavery goeie argumente maak, ondermyn Mellet sy eie pogings deur die ongenuanseerde maniere waarop hy met die verlede omgaan, tesame met die verbitterde toon van sy boeke. Dit is betreurenswaardig, want daar is ongetwyfeld heelwat meriete in baie van wat hy te sê het. Met hierdie soort van geskiedskrywing sal belangstelling in die geskiedenis egter nie gestimuleer word nie, maar veel eerder aanhou taan. Slawerny laat ’n uiters wrede, onmenslike en pynvolle vlek op ons geskiedenis. Daar moet beslis veel meer oor slawerny gepraat word, en daar moet baie navorsing daaroor gedoen word. Maar nie op hierdie manier nie.
Eindnotas
2 Ten minste twee gesaghebbende bronne wys op die beperkte invloed van die GRA: H Giliomee, Die Afrikaners: ’n biografie (2004, Kaapstad: Tafelberg, bl 177–180); en WAM Carstens en EH Raidt, Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika (2019, Pretoria: Protea boekehuis, bl 200–2).
3 “Eerste Afrikaner dalk al 300 j gelede na Perth”.
4 Die storie van die ANC-geleide regering sedert 1994 is darem nie net droewig nie en groot getalle Suid-Afrikaners het toegang gekry tot basiese geriewe, soos water, elektrisiteit, rioolstelsels en basiese medies en onderwys.
Lees ook:
First sip: The truth about Cape slavery by Patric Tariq Mellet
The lie of 1652: A decolonized history of land deur Patric Tariq Mellet – ’n lesersindruk
The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel
Vertellings uit die vergetelheid deur Danie Schoeman: ’n lesersindruk
Museum Times: Changing histories in South Africa deur Leslie Witz: ’n lesersindruk
Om by die KhoiSan te kan leer, ’n lesersindruk van First people deur Andrew Smith
Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief by Eunice Bauermeester: book review



Kommentaar
Logies, ewewigtig en verstaanbaar. Goed gedoen, Barend.