The lie of 1652: Retories regstellend, feitelik bedenklik?

  • 2

 

The lie of 1652
Patric Mellet
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089704

Doen die boek sy titel gestand?

Watter tipe oordeel, op watter tipe glyskaal, kan ’n resensent vel oor ’n boek met ’n grootse regstellende drafstappie én ’n reeks skuiwergate wat wenkbroue laat lig oor die geskiedkundige erns daarvan?

Tariq Patric Mellet stel sy geskiedskrywing as ’n nuutjie voor. Hy probeer nie ’n finale weergawe van die geskiedenis neerpen nie, maar poog bloot om ’n verfrissende perspektief op sake te bring. Dit is te verwelkom. In 2018 het Tembeka Ngcukaitobi ook die reeds bekende geskiedenis van die ontneming van grond in swart (spesifiek Xhosa-) besit vanuit die perspektief van swart regsgeleerdes en konstitusionalisme ontleed. Daar is ’n besliste beweging om die geskiedenis van die ontheemdes, ontneemdes en gekoloniseerdes oop te skryf en met ’n welverdiende swier toe te dig. Dit behels dikwels dat geskiedskrywers met ’n dekolonialiserende aanslag kritiese vrae stel oor geskiedkundige gevolgtrekkings wat deur hul voorgangers gemaak is. Die caveat bly egter dat kritiek op verifieerbare feite gebaseer moet word. Daarom die lang tradisie van kruisverwysing en bronnelyste. In ’n era van hiperkonnektiwiteit, die blitsvinnige deel van kennis en sosialemediaprofiele as gedemokratiseerde seepkiste bestaan die wesenlike gevaar dat klein oordrywings en ligte versinsels tot groot, gewigtige en selfs gevaarlike leuens kan muteer.

Dit was ’n groot jammerte om te lees hoe talle resensente van The lie of 1652 nie die boek gelees het nie, maar tog snydende kritiek daaroor gelewer het. Dit is te verstane dat gesoute historici ’n goedgeoefende oog vir versinsels, inkonsekwenthede, feitefoute ens het. Nogtans vind ek dit onaanvaarbaar dat ’n finale oordeel oor ’n boek gevel word op grond van hoorsê. Op ’n ironiese wyse het hierdie boek die slagoffer geword van dieselfde onreg wat die onderwerpe van die boek oorgekom het, naamlik die dikwels versweë en geïgnoreerde stories van die slagoffers van kolonialisme in suidelike Afrika. Kanonskote kritiek is afgevuur voordat die basiese plig van die resensent – om die boek te lees – nagekom is.

Mellet se verfrissende benadering begin deur die oorsprong van suidelike Afrika se bevolkingsproses na te vors en in heeltemal verstaanbare leketaal uiteen te sit. Ek waardeer hoe hy ingewikkelde genetikavaktaal vir die gewone leser verduidelik. Sy oopskryftegniek laat hom ook toe om nuwe terminologie uit te dink, soos die Thoathoa-gebied, wat verwys na ’n rowwe driehoekige area waarbinne die bevolkingsproses van suidelike Afrika begin het. Dit is wel jammer dat Mellet hierdie nuwe term gebruik en dan eers ’n digte paar bladsye verder uit die Kora-taal vertaal en per kaart beskryf. Dit lyk asof die skrywer soms so opgewonde aan die skryf gaan en soveel begrippe probeer vaslê dat hy vergeet het om deeglik sistematies deur die begripsomskrywings te werk. Hoewel die gefokuste leser die boek hiervoor kan vergewe, kan ek insien dat iemand wat nie die boek om akademiese of resensiedoeleindes lees nie, hierdeur gesteur of deurmekaar gelaat sal word. Dieselfde geld vir talle voorbeelde van onversorgdheid, soos punte waar kommas moes wees, punte wat uitgelaat is, meervoude wat enkelvoude moes wees en andersom.

Mellet stel die belangrike punt dat ons versigtig moet wees vir absolute kategorieë van identiteit, veral soos dit rondom herkoms en geografie draai. Hy illustreer hoe identiteit in prekoloniale suidelike Afrika veel komplekser verweef is as wat ons onsself vertel. Migrasiepatrone en groepsverhoudinge het met die tye gefluktueer. Die argeologie wys dat Afrikane dikwels in groot sirkelvormige migrasies beweeg het, eerder as om so te trek dat elkeen sy afgebakende stamgebied “gekry” het. Dit is ’n belangrike punt van kritiek op koloniale en apartheidsortodoksie, wat staatgemaak het op absolute verskille tussen mensegroepe en op grond daarvan die vernietigende wetlike versperrings probeer regverdig het.

My grootste ongemak met die boek was aanvanklik nie die opspraakwekkende titel of Jan van Riebeeck wat skalks deur die opskrifletterkuns loer nie. Ten spyte van die belangrike perspektief wat Mellet probeer lewer, ondermyn ’n hele aantal ongesteunde bewerings en vertellings die boek. ’n Eerste voorbeeld is die stelling op bl 87 dat die Rozvi-ryk van die 17de eeu in noordoostelike Suid-Afrika se verwoestende verowerings die gevolg van die “koloniale indringing” van die Portugese en Boere was. Hierdie stelling is deels ongeskiedkundig, omdat daar geen Boere in daardie geweste was tydens die 17de eeu nie; trouens, daar was nog nie eens ’n groep wat ons as “Boere” in die etniese sin van die woord kon beskryf nie. Dalk is daar meriete in die Portugese deel van die stelling, maar hiervoor verskaf Mellet geen verwysing nie. Die indruk word gewek dat traumatiese verowering en oorlog nie aan Afrikane self toegeskryf kan word nie, ’n goeie voorbeeld van wat Vrye Weekblad se Max du Preez onlangs die “sagte vooroordeel van mindere verwagtinge” genoem het.

Die hoofstuk oor Europese kontak aan die Kaap bevat ook talle beweringe wat nêrens gesteun word met verwysing nie, en wat ek ook nie onder gerekende geskiedskrywerkontakte kon bevestig nie. Oor Europese aanlanding by Tafelbaai voor 1652 word sonder bronne bewerings gemaak oor politieke intrige en moorddadige optrede wat die Britte, Nederlanders en Khoi betrek. Die gedeelte oor Jan van Riebeeck, Doman, Autshomao en Krotoa se persoonlike politieke magspel lees verruklik, maar daar is min historiese gronde vir die omvang daarvan. Dit lyk of Mellet telkens op ’n narratiewe wandeling gaan en ’n historiese fiksie probeer skryf, pleks om die versweë geskiedenis – steeds feite! – te belig.

Gegewe skrywers soos Mellet en Ngcukaitobi se doelstelling om versweë perspektiewe oop te skryf, kan ’n mens nog ’n nydige kritiek teen sekere historiese figure verstaan, maar Mellet se bewering dat ambisieuse Khoi-leiersfigure soos Doman (Nommoa) deur Van Riebeeck gebruik is, as verklaring vir sy verraderlike optrede teen sy eie mense, is te dik vir ’n daalder. Weer eens hiermee die “sagte vooroordeel van mindere verwagtinge”. Soos enige ander magsugtige menslike leiersfiguur het ’n Khoi-leier dit tog ook sekerlik in hom om soos ’n tweegatjakkals op te tree. ’n Europeër se beherende hand is nie ’n noodsaaklike bestanddeel hiervoor nie. Dit is beslis so dat kolonialiste die gekoloniseerde mense teen mekaar afgespeel het, maar nie deur hul persoonlike outonomie op een of ander metafisiese wyse te “steel” nie. Dit sou die meerderwaardige houding impliseer dat die gekoloniseerde mense van daardie tyd blote leë kruike was wat na goeddunke gevul en gebruik kon word.

Waarsku Frantz Fanon en andere nie juis daarteen dat die dekolonialiserende denker daarop bedag moet wees om nie Europese prestasies as subtiele standaard te probeer nadoen nie? Dit lyk of Mellet nie op hierdie beginsel van dekolonialiseringsteorie ag slaan nie. ’n Voorbeeld is sy wankelrige verruiming van die begrip hawe om die Kaapse Khoi se handel met Europese seevaarders in te sluit. As daardie handelsgeskiedenis feitelik nie binne die redelike omvang van ’n 17de-eeuse industriële hawe val nie, wat maak dit regtig saak? Dit maak geen verskil aan die inherente en potensiële industriële vermoë, entrepreneurskap, intelligensie, menswaardigheid of algemene sofistikasie van Khoi-individue as mense nie. Die hele doel van dekolonialeringsteorie is om die kenwyses, kulturele uniekhede en prekoloniale ontwikkelingstrant van gekoloniseerde groepe as onafhanklik en menswaardig te omskryf. Die doel is nie om onderdruktes se geskiedenis teen wil en dank met die Weste te probeer vergelyk, so asof die enigste mate van menslike sofistikasie in die Europese, Westerse geskiedenis geleë is nie. As historici ’n bedenklike “keeping up with the Joneses”-spel met die Westerse geskiedenis probeer speel, is hulle juis besig om die onafhanklike waardigheid van gedekoloniseerde groepe se geskiedenis te onderskat, en ’n bepaalde meerderwaardigheidsin voort te sit. In hierdie opsig misluk Mellet. Dit is jammer, want sy verteltrant kon maklik hierdie basiese bovermelde beginsel van dekolonialisering bevestig het. ’n Losse omgang met geskiedkundige feite negeer ongelukkig die betroubaarheid van ’n stuk werk wat tog daarin slaag om ’n verfrissende aksent van heroïsme, grootsheid, romantiese opstandigheid, weelde en sofistikasie aan die lankverdoeselde Afrika-geskiedenis te gee. Dit is gesond dat Afrika op hierdie manier oorvertel word, maar dit beteken beslis nie dat wetenskaplikheid moet swig voor retoriese mooimakery nie.

Al dink sommige so, het postmoderne denkers nooit beoog dat elkeen op sy eie feite geregtig is nie. Inteendeel, die postmodernes (getrou aan Sokrates se vroegste aandrang op waarheidsoeke) vra slegs dat ons die arbitrêre hiërargieë in ons geskrewe vertellinge bevraagteken, en dat ons geskiedkundige figure en groepe regverdig en met menswaardigheid behandel. In hierdie opsig was die minderwaardigheid wat geskiedkundig op swart, gay, vroulike en transgender mense neergeskryf is, die teiken.

Hoekom? Want deur daardie petit histoires, oftewel “klein geskiedenisse”, ’n regverdige kans tydens hoofstroomgeskiedskrywing te gee, verryk ons die waarheidsoeke en bevestig ons getrouheid aan die volle menslike storie. Maar om onder andere hawens te verbeel waar hulle nie bestaan het nie, sal enige skeepsvaarder van die geskiedenis eenvoudig op die rotse lei.

Lees ook:

The Lie of 1652 gemeet aan ewewigtigheid, regverdigheid en objektiwiteit

The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel

  • 2

Kommentaar

  • Francois Verster

    Van Dyk se resensie is goed bewoord en getuig van deeglike besinning - die stem van redelikheid en ewewigtigheid. Dit was 'n plesier om te lees.

  • Arrie de Beer

    Soms het dit nut om 'n boek bietjie eenkant toe te sit om later rustiger daarna te kan kyk.

    Ek skat dié punt kan ook resensies oor só 'n geld.

    Na al die pro- en anti-uitasemrensies oor "The lie", bied hierdie resensie 'n veel rustiger en objektiewe beeld van dié omstrede boek.

    Die resensent maak 'n goeie saak uit dat die skrywer 'n deel van die nagelate geskiedenis wil oopskryf en herdefinieer. Maar voeg dan die uiters belangrike vereiste by dat feitelike korrektheid nie opgeoffer moet word waar dit werklik saak maak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top