The Lie of 1652 gemeet aan ewewigtigheid, regverdigheid en objektiwiteit

  • 2

The lie of 1652
Patric Mellet
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089704

Met die verskuiwings in magsewewig en gevolglike verhoging van politieke temperatuur (met apologie aan ons staatspresident) was dit lankal nie moeilik om ’n boek soos The Lie of 1652, a decolonised history of South Africa (Tafelberg) te sien aankom nie. Net soos daar lank reeds verwag word dat daar nogmaals ’n vreesaanjaende pandemie sal uitbreek, en nes met COVID-19 weet ons ook nie hoe lank die repliek-en-dupliek oor hierdie boek gaan aanhou, of watter reperkussies dit op die lange duur sal meebring nie.

Nietemin, ek is gevra wat ek van die boek dink deur mense wat dit waarskynlik oorweeg het om dit te koop. Boeke is immers duur en selfs boekwurms moet hulle rande tel.

Tot dusver is die boek deur ’n sowat dosyn persone in die media bespreek of geresenseer, soos op LitNet (deur Desmond Painter). Ook swaargewigte soos Dan Sleigh, Johann Kriegler en Rodney Warwick het hul oordeel gevel. In sommige kommentare wat daarop gevolg het, is die man eerder as die bal gespeel en in daardie gevalle raak dit toe bloot ’n straatgeveg met geen wenners nie.

Woorde soos "supremacist", "colonialist" en "alien race" het my so teen die bors gestuit dat ek aanvanklik nie wou aanlees nie, moet ek dadelik erken. Veral as die naamgewer self van "stereotypical identities" praat, dog vooraf beweer dat elkeen op ’n mening geregtig is. Bowenal, hoe maak dit jou werk meer geloofwaardig? Nogtans het ek deurgedruk, want ek wil nie, soos wat reeds gebeur het, ’n oordeel uitspreek sonder dat ek eens die boek gelees het nie.

Dit is nie my wens om tot bogenoemde spanning by te dra nie, maar ek het genoop gevoel om, uit hoofde van my verbintenis met argiewe en geskiedskrywing, te reageer. Ek ondersteun immers die soeke na gedeelde ervarings, motiewe en doelwitte, eerder as ’n voortslepende aftrekkery en verdagmakery. Ons nasie (lees: elke burger van elke volk en gemeenskap binne ons grense) kan dit nie bekostig om aan te hou stry, verdag te maak en eise gegrond op onbewysbaarhede te maak nie – die treurige toestand van die land (plek-plek letterlik en figuurlik ’n rommelhoop) bewys dít juis deeglik.

Eerder as om nóg ’n resensie te skryf, gaan ek egter oor hoofsaaklik die verskil tussen historiese feite (soos bv in geskiedenishandboeke gevind sou word) en historiese fiksie (bv romans) skryf – ’n deel van die kommentare wat in die media rondgevlieg het, het immers hieroor gegaan. Dalk kan ek dmv vergelykings en die uiteensetting van die historikus se kredo – ewewigtigheid, regverdigheid en objektiwiteit – bruikbare middele aanbied waarvolgens die voornemende leser sy/haar eie besluite kan neem. 

Vir baie mense, en vir al baie lank, was die onsigbare en ongeskrewe grense tussen die waarheid en versinsel ’n tergende vraagstuk. Die strewe na objektiwiteit en die twyfel aan die bereikbaarheid van so ’n beginsel dra hiertoe by. Die Engelse het ’n (teen)vraag: As opposed to what? Maw, wat is die alternatief? Sou ons aanneem dat niemand hoegenaamd eerlik, ewewigtig of regverdig kan optree nie, sal regters en skeidsregters geen nut hê nie. Wat natuurlik help, is wanneer iemand betrokke is wat geen aandeel in die saak het nie, of niks daaruit kan wen nie. Maar hoe gaan jy dit regkry as jy oor ons geskiedenis skryf?

Historici word juis opgelei om soos regters op te tree wanneer hulle bronne ontleed – net soos regsgeleerdes ooggetuies ondervra om hopelik by die waarheid uit te kom. Ja, elke persoon het sy/haar menslike foute, met die spreekwoordelike getinte brille en saamgesleepte bagasie. Maar iemand moet die werk doen en iemand moet dit uiteindelik beoordeel. Onder wetenskaplikes, ook geesteswetenskaplikes, bestaan erge wedywering en word daar dikwels krities na mekaar se werk gekyk. Ons neem aan dit gaan darem meestal oor die instandhouding van die geloofwaardigheid van die vakgebied, nie persoonlike na-ywer nie.

Historici weet ook almal wat deeglike navorsing behels – lang ure in stowwerige vertrekke of leeskamers waar net gedempte stemme, trolliewielgeskwiek en stoelegeskuif hoorbaar is, en ná jare se navorsing weet hulle watter bestaande bronne die betroubaarste is. Sekere bronne, soos dagboeke, ensiklopedieë en natuurlik internetbronne, word nie summier as die laaste woord aanvaar nie, maar met ander bronne vergelyk, nes in ’n hofsaak gedoen word.

Wanneer iemand ’n feiteboek skryf, soos The Lie of 1652, val dit in die kader van die vakliteratuur, of dit populêre of akademiese lesersmarkte in gedagte het, al dan nie. Hieroor wil ek my eie ervaring deel. In 2018 het ek ’n boek oor my Suid-Afrikaanse stamvader van Den Bosch in Nederland, Jacobus Verster, geskryf. Ek het niks sonder bronverwysings in die teks ingesluit nie – bronne is in die teks genoem, en ’n volledige bronnelys is agterin aangebring – Nederlandse, Afrikaanse en Engelse bronne. Op soek na Jacobus Verster (sien ’n bespreking op LitNet, 24 Julie 2019) is, soos The Lie, nie vir die akademiese mark bedoel nie, en in die resensie wat ook op LitNet verskyn het, is waardering vir die leesbaarheid daarvan uitgespreek – presies wat ek beoog het. Daar het geen polemiek onder die Versters en ander verwante uitgebreek nie en ook akademici het na my wete geen besware geopper nie. Aan beide akademiese en nie-akademiese vereistes is blykbaar voldoen. Tot my verligting, want ek het geen moeite ontsien om seker te maak dat dit die geval is nie – geen steen is onaangeroer gelaat om inligting te vind nie en alle kante van die tema is ondersoek en bespreek.

Wanneer ek afleidings of persoonlike sienings geopper het, het ek dit duidelik gestel dat dit net my mening is, nie noodwendig ander s’n nie. Wanneer ek onseker was van my afleidings, het ek kenners se menings gevra (soos met 17de-eeuse Nederlandse tekste), en meer as een om hulle sienings te vergelyk. Maar uiteindelik is ’n gebalanseerde en eerlike gevolgtrekking van my as skrywer verwag. Só is ons geleer by oa die Geskiedenisdepartement van die Universiteit Stellenbosch gedurende die tagtigerjare. Hierdie byna verbete deeglikheid en gefokuste soeke na bewyse, in navolging van die Duitse historikus Leopold von Ranke, is ook dalk die rede waarom plaaslike historici so skerp teen die minagting van hulle werkswyse en mantra reageer.

Ook ander niefiksieboeke wat ek geskryf het, is met die oog op ewewigtigheid en deeglikheid aangepak en uitgevoer: Van Kaspaas tot Kaas, die lewe en werk van TO Honiball (2005), Op die spore van Simon van der Stel (2005), Die groot drie, ’n eeu van spotprente in Die Burger, 1915–2015 (2016) en Omega, oor en uit (ook 2016). Ek het my bes gedoen om by feite of die waarheid te bly sover menslik moontlik. Omega, terloops, is in faksiestyl geskryf (waar die skrywer feitelike inhoud in romanvorm oorvertel, asof dit ’n roman is, maar alles wat daarin voorkom, wel gebeur het). Dit word gedoen om die leeservaring makliker en meer onderhoudend te maak, maar die leser word ingelig dat die inhoud wel ware gebeure is, net slegs daarop gebaseer nie.

Daarteenoor word suiwer fiksiewerke uiteraard nie sodanig aan bande gelê nie. Voorin kan byvoorbeeld staan: "Die inhoud verwys nie na ware gebeure of werklike persone nie." Dit beskerm nie werklik die outeur nie, want uitgewers sal jou meedeel dat indien ’n persoon wat as karakter in die boek voorkom, kan bewys dat hy of sy deur ander persone geïdentifiseer kan word, die skrywer wel ’n hofsaak in die gesig kan staar. Daarom is dit belangrik dat daar geen twyfel by die leser bestaan nie: Hierdie tekste is hoofsaaklik vir vermaak bedoel. Ja, dit kan lewenswaarhede bevat, maar die karakters en plotlyne is verbeeld. Ook kan werklike persone in die teks genoem word, maar daar mag nie aan hulle bekende karaktereienskappe getorring word nie – Jan Smuts mag op Tafelberg sit en oor holisme dink, maar nie saam met Satan en Van Hunks rook nie. Behalwe ... behalwe indien dit daar duidelik gestel word dat dit ’n "alternatiewe" geskiedenis is, ’n "what if" ... maar duidelik op die omslag aangedui.

In 2013 skryf ek my eerste niefiksiewerk, wat ’n historiese roman was (Een teen Adamastor) en oor die slawehandel gaan. Ek moes slawerny aan die Kaap deeglik navors om die verhaal so geloofwaardig as moontlik te maak, maar omdat dit ’n roman was, was dit onnodig om by ’n suiwer historiese tydlyn en narratief te bly. Daarna het ek twee wetenskapfiksieromans geskryf wat suiwer verbeeldingsvlugte was – en werklik pret om net tussen die lyne van daardie genre te bly. Maar dit leer ’n mens hoe ver fiksie en niefiksie van mekaar kan lê.

Geskiedenis is nie blote pret en verbeelding nie. As jy die bestaande narratief en karakteruitbeeldings wil bevraagteken, moet jy bewysstukke kan lewer – weer eens net soos in ’n hofsaak. En almal wat betrokke is, moet ’n regverdige kans kry om te praat (of te skryf). Regverdigheid is immers ononderhandelbaar.

Uitgewers en mense met ervaring in die boekbedryf waarsku dikwels dat dit nooit ’n goeie idee is om ’n boek te skryf met die doel om iemand aan te val nie. Laat jou wrokke by die deur voordat jy by jou skryfkamer instap. Anders gaan karma jou kry. Iemand het selfs al gesê: "My karma sal oor jou dogma ry." Wanneer jy jou boek as geskiedskrywing identifiseer, gaan alles oor geloofwaardigheid, en dit verg oortuiging, wat ondergrawe word deur beledigende taalgebruik. Dit is beter om spaarsamig met byvoeglike naamwoorde om te gaan, retoriek te systap en die feite soos bewysstukke in ’n hof voor die regter en die jurie se neuse te hou.

Slaag jy nie daarin om jou lesers van jou bona fides te oortuig nie, sal hulle self met byvoeglike naamwoorde soos "onbevoeg", "subjektief", "opruier", "windgat" en "narsis" vorendag kom en sal vernederende woorde soos "minderwaardigheidskompleks", "Afrikaner-bashing" en "neorassis" jou vel brand soos te veel swembadsuur. In hierdie stukkende land wat glo "onder te veel geskiedenis steier", soos ’n kommentator dit onlangs uitgedruk het, is dit moeilik om neutraal te staan, om nie in die spervuur van links en regs afgemaai te word nie, en daarom moet jy jou koes ken. Ja, jy gaan minder aandag trek en selfs minder geld maak, maar om ewewigtig op te tree het sy eie beloning: respek en vertroue by diegene wat saak maak.

Soos genoem, gaan ek nie die teks omdolwe nie, maar my wat dit betref, beperk tot die volgende uitlatings – ’n kort samevatting van my indrukke wat hopelik as ewewigtig aanvaar sal word.

Aan die positiewe kant sal ek dit waag om te sê dat dit goed is dat die outeur die belangstelling in die vroeë geskiedenis van ons saamwees hier ontbrand het met sy vurige aanvalle – ironies, nie sedert sy hoofteenstander Sleigh, se Eilande in 2002 het enige boek hierdie belangstelling so daadwerklik laat opvlam nie, al lyk dit tot dusver (Januarie 2021) asof die boek mense moontlik nog meer as tevore in kampe verdeel as wat met die onlangse film Krotoa (2017) gebeur het – en kommentators is sover ook in twee kampe verdeel: niehistorici ten gunste van die boek, en historici téén die boek, of altans teen die inslag en metodologie van die boek. Hopelik word die struggle-slagordes nie óók al weer opgestel nie.

Krotoa: uit ’n historiese oogpunt

Ek stem ook saam met etlike van die outeur se opvattinge, soos dat daar geen homogene Khoisan-groep was nie, maar wel San (sommige van hulle verkies wel self die woord "Boesmans") en Koina, Khoi-Khoin en Khoe, en dat niemand "suiwer" van ras is nie. Dog hoekom is wittes ’n "alien race"? Nietemin, daar word beweer (sien hieroor History Online) dat die Afrikaner bv meer "bruin" bloed as Engelse gene het. Daarmee het ek geen probleem nie, want soos hy ook noem, kom ons mos almal oorspronklik uit Afrika en kan jy ook nie van ’n Eerste Nasie (vergelyk die Amerikaners se "First People") praat nie. Almal het eens geëmigreer, en almal (ons "moderne" mense) het derduisende jare gelede gebiede betrek waar die ander hominiede waarskynlik verdryf of uitgewis is. Wie is enige van ons dus om hoogheilig oor "genocide" te praat? Of Van Riebeeck as ewige muishond uit te maak as die Khoina dit ook voorheen gedoen het? Die outeur maak dit duidelik dat die binneland nie oop en leeg was toe Europeërs dit beset het nie, maar wat van bewyse dat dit die geval was toe die San en Khoina duisende jare gelede hier aangekom het?

Aan die negatiewe kant van The Lie moet ek noem dat enige opgeleide navorser dadelik na agter blaai, en na ’n boek wat as ’n geskiedeniswerk bestempel word, se bronnelys kyk. Waarom? Want dit vertel jou of die skrywer wel bona fide-navorsing gedoen het, en omdat jy as navorser self al baie van die belangrikste bronne ken, sal jy weet hoe deeglik sodanige navorsing was. Hier lyk dit asof die outeur se motief en die lesersmark wat hy teiken, belangriker was as om op ’n waterdigte eindproduk te fokus. Hy skryf nie vir historici nie, het hy beken, hy praat dus met die voorheen benadeeldes en draai sy rug op objektiwiteit deur teen beide die gevestigde historiografie en "witheid" uit te vaar, all guns blazing. Uiteraard sal daar dan teruggeskiet word, ten minste uit selfverdediging. Deur aan die vorige hoofkarakters nou mindere rolle toe te ken, is vir my aanvaarbaar, maar dit moet oortuigend geskied, nie uit ’n oogpunt van wit teen swart/bruin nie, maar uit ’n wetenskaplike navorsingstandpunt.

Tot my verbasing en teleurstelling het ek (behalwe dié van Hermann Giliomee en Hans Heese) nie die name van talle Afrikaanse historici – dié wat al dekades lank aan die voorpunt van navorsingswerk insake die VOC-tydperk is – onder sy eindnote opgemerk nie. En dáár sou Dan Sleigh se naam die belangrikste wees. Con de Wet, Leon Hattingh, JC Visagie, Helena Scheffler en andere se name ontbreek ook, om net ’n paar te noem. Daarsonder kan ’n mens nie so ’n boek as verteenwoordigend ag nie, eerder as ’n sweeping statement wat sekere perspektiewe by die agterdeur uitvee. Geen Afrikaanse bron word gelys nie, dus is daar dan baie klippe wat nooit opgelig is nie – en al kruip daar ’n skerpioen uit, en lê daar nie ’n edelsteen nie, moet jy die kans waag. Ter wille van regverdigheid.

Die outeur word beskryf as "infuential blogger and history activist", en sy boek as bydrae tot ons historiografie word beskryf as "drawing on scholarly work and his own experience of searching for identity". Dit is nogal veelseggend, want vars insigte behoort verwelkom te word, solank dit sonder subjektiewe agendas is. Ek veronderstel egter dat ’n historikus en ’n aktivis nie voëls van eenderse vere is nie, en ek wonder of hulle werklik langs dieselfde vuur kan sit sonder dat een se stertvere aan die brand slaan ... dit maak my nogal mismoedig.

Ek onthou hoe opgewonde ek was toe ’n vriend my in 1990 ’n eksemplaar van Indaba my children deur VC Mutwa geleen het. Ek het begin lees oor die voorgeskiedenis waarvan ek in geen Europese geskiedenisboek iets kon kry nie. Wonderlik, wonderlik, het ek gedink. En skielik ry ’n toordokter op ’n hiëna se rug oor die bladsy, en oor al my verwagtinge. Ek het besef dat die outeur geen onderskeid tussen feite en mites maak nie, en daarmee saam het ek geen rede gesien om verder te lees nie. Geskiedenis is geskiedenis, die res is mites, spekulasie, vermaak en selfs infame leuens.

Vir my is dit absoluut noodsaaklik dat stellings wat as feite aangebied word, onderskryf word. Ek sal nooit beweer dat my navorsing foutloos is nie, maar my bronne sou as bewyse in ’n hofsaak kon dien. Elkeen is duidelik aangedui en elkeen kan deur kritici gaan lees word en met ander vergelyk word ("bronnekritiek" in vakkundige terme). So is ek geleer, en ek is tevrede daarmee, want feite is dikwels vreemder as fiksie – jy hoef regtig nie aan te dik (of te verswyg) om dit beter te laat lyk nie, veral nie om die pruttende heksepot van kulturele onvergenoegdhede te roer nie. Bowenal laat die skrywer dit dan aan die lesers oor om ’n boek soos The Lie met ’n oop gemoed – jou voorveronderstellings en vooroordele by die deur gelaat – te besluit wat hulle wil glo en wat nie.

Helaas, dit is my ervaring dat mense sal glo wat hulle wil glo. Soos ’n skrywer sy feite kan kies om binne ’n gekose raamwerk te pas (joernaliste noem dit "framing"), so kan lesers ook. Hierdie proses is so oud soos die berge en het al baie plaasgevind. Daar word byvoorbeeld vertel dat ’n koning aan ’n monnik opdrag gegee het om die geskiedenis van hulle land neer te skryf. Die monnik het jare lank geswoeg en uiteindelik die formidabele stuk werk aan die koning voorgelê. Die koning het dit vlugtig bekyk, aan die monnik teruggegee en gesê: "Skryf dit oor totdat dit reg is."

Van die vorige bedeling is gesê dat dit Eurosentriese geskiedskrywing meegebring het. My vraag is: "As opposed to what?", en ek wil die gesegde "History is written by the victor" ter herinnering bring, asook "Geskiedenis behels die herhaling van menslike foute." Wie gaan ooit so onbetrokke, so onberispelik, so bomenslik wees as om ’n perfekte weergawe van die verlede op skrif te stel? En waar gaan jy soek as daar nie geskrewe residu is nie? Nie in ’n argief waar ’n historikus hoort nie, maar dalk in grotte en grafte wat nie ons vakgebied is nie. ’n Multidissiplinêre ingesteldheid is allermins verkeerd – ek self is baie in argeologie en paleontologie geïnteresseerd, maar is lugtig om op dun ys te dans.

Aan mnr Mellet self gee ek die laaste woord: "My only caution is that, as soon as someone presents their version as being the absolute truth rather than a perspective, healthy distrust should set in."

Francois Verster (voorsitter), derde van links, en die res van die Wes-Kaapse Adviserende Argiefkomitee by die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, in die middel.

Lees ook:

Lesersindruk: Op soek na Jacobus Verster deur François Verster

Op soek na Jacobus Verster: ’n onderhoud met François Verster

The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel

  • 2

Kommentaar

  • Ideologie verg geselekteerde feite, verdraaide feite en fiksie. Nie gesag nie. En dit moet oor en oor herhaal word totdat dit vir die waarheid aanvaar word.

  • Theodorus du Plessis

    Verdoemende slotwoord, maar ek vrees Mellet het 'n kleintjie dood aan Afrikaanse tekste... En my indruk is dat hy nie vreeslik bedag is op sy eie weersprekinge nie. Dankie Francois, vir 'n sobere perspektief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top