Lesersindruk: Op soek na Jacobus Verster deur François Verster

  • 5

Op soek na Jacobus Verster
François Verster
ISBN: 9781928499152

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Meer toepaslik kon die titel sekerlik nie wees nie – ek is persoonlik lá-ánk al op soek na die “volle” Jacobus Verster!

Ek is ook ’n Verster en het die onderhoud rondom die boek op LitNet aan die einde van verlede jaar raakgelees.

Dit was met belangstelling dat ek kennis geneem het van die navorsing rondom die Verster-familie en ek het ná die lees van die onderhoud ook graag hierdie boek gelees.

Vanweë my eie familienavorsing was ek ietwat van 'n voorbereide leser, maar dan net ten opsigte van sommige materiaal in die boek. My oorheersende indruk is die boek se omvangrykheid, en daarvoor het ek groot waardering! Genotvol is die vloeiende informele skryftrant en egte deurleefdheid by byna elke deeltjie van hierdie groot legkaart.

“Onsigbaar” (maw lae-profiel) soos wat Jacobus se lewe ook al vanuit die outeur se omvattende ondersoeke skyn te wees (vanweë in spesifieke opsigte die totale afwesigheid van geskikte bronmateriaal), is daarteenoor egter so interessant en prikkelend en leersaam die wye spektrum van materiaal waarin die leser sig in hierdie werk kan verlekker. Die outeur se vertroudheid met Kaapstad se agtergrond – mos sy grootwordwêreld – is 'n pluspunt wat dikwels positief deurslaan (bv ble 88–92). 

Lesers kan maar self 'n keer die Tygerberg-natuurreservaat deeglik gaan besoek, met vóóraf die kennis van hierdie boek plus jou rustigste vooropgesteld-ontvanklikste gemoedstemming. Dáár in die natuur word iets outentieks aangevoel van wat François beskrywe oor Jacobus se eertydse leefomgewing in “de Tijgerbergen”. Sigbare verstedeliking rondom jou ten spyt – waarvan jy jouself dóélgerig tydelik onttrek ter wille van 'n stille geestesoog-gekiedeniservaring alhier.

Vir my is die skeepsjoernaal baie insiggewend; ek is dankbaar dat daaraan deurentyd so 'n prioriteit verleen is. Mens wil hoop dat nie-Verster-lesers dit eweneens interessant sal vind. Én dan ... heerlik om saam met die outeur te kan reis/stap én dink by die beredeneringe in sy belangrike voorlaaste hoofstuk, “In konteks: die Kaap, Europa en Batavia”.

Sommige afdelings sal ek uit familiebelang herlees en in die gedagtes koester, maar hierdie boek is werklik eenvoudig nie begrens tot Verster-gerigte lesers nie. Gaan kuier tog gerus vir ou-Kaapse geskiedenisgevoel in die Tygerberg-natuurreservaat!

Én dan sommer ook by die voelbare rustigheid binne die la-a-ang skraal parkstrook binne die Oude Westhof-woonbuurt, neffens Rieslingstraat. Daar waar die behoue ou bouvallige buitegeboue is, dalk die héél oorspronklike opstal – vóór Jacobus Verster se eienaarstyd – en geleë langs die Victoriaans-verboude ou hoofwoning. Genoemde twee lokaliteite help vorm dié héél beste begrip by mens wat ons in die geestesoog kan hoop om te verkry van die Verster-stamvader se ná-seevaart lewenswêreld wat François in die veel groter konteks vir ons geskilder het.

Naskrif: Ek mág nie nalaat nie, en móét aan diegene wat my dalk wil hoor, dankie sê – van Verster tot Verster – dat dit wat “al lank op my gewete rus”, nie hoef te gewag het “om ná my aftrede 'iets' daarmee te doen" nie. Vir pragtige perspektief rakende Jacobus, ons lae-profiel-vasbyter-Verster; vir Kerneels Verster en sy (lae-profiel-?) voorsate (RIP) vir die behoue skeepsjoernaal; vir Paul Bosman se Verster-ouma (RIP) (en sovéél goeie gene van Paul self).

Lees ook:

Op soek na Jacobus Verster: ’n onderhoud met François Verster

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Francois Verster

    Ek (die bovermelde outeur) het so pas op hierdie lesersindruk afgekom. Baie dankie aan Pierre, ek waardeer sy woorde. Boeke soos hierdie word geskryf as 'n persoonlike reis/ervaring en bydrae tot die sogenaamde kleingeskiedenisse, waarvan genealogie eintlik een van die groter afdelings is, nooit met die doel om eens jou insette te verhaal nie; ek het nie eens boek gehou van verkope nie, want ek weet ek sal so ver in die rooi wees ... nietemin, dit is veral die waardering van lesers - soos hierdie een - wat dit die moeite werd maak.

  • Avatar
    Helena Verster du Plessis

    Ek is ook 'n Verster. My vader was Jacobus Remerius Verster, gebore 26 Junie 1921. Ek wil ontsettend graag die boek bekom.

  • Avatar
    Pierre Verster

    2020.04.17
    Helena, as die inligting wat ek hieronder verstrek 'n advertensie uitmaak (d.i. ten goede van die outeur Francois Philippus Verster) en nie só geplaas kan word nie, maak dan kontak by my adres [email protected], sodat ek vir jou die nodige inligting kan stuur.
    So-wie-so sal dit my voorreg wees om kontak te kan maak met 'n Verster soos jy wat ge-Du Plessis is, siende my eie voorsate tot by Francois Philippus du Plessis, oorlede 6 November 1822. Beide jou vader en my vader is vernoem na die derde kind Jacobus Remmerus (1769 - 1846) van die stamvader Jacobus, die boek se fokus. Die outeur is nasaat van die sewende kind van die stamvader.
    http://www.groep7.co.za

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top