Op soek na Jacobus Verster: ’n onderhoud met François Verster

  • 0

Op soek na Jacobus Verster
François Verster
ISBN: 9781928499152

François Verster vertel vir Naomi Meyer en Remona Voges van sy boek Op Soek na Jacobus Verster.

François, baie geluk met jou boek! Dit maak vir my sin dat jy belangstel in waar jy vandaan kom, gebaseer op jou werksagtergrond. Vertel asseblief heel eerste hiervan.

Eerste bladsy van die joernaal

Dankie! Soos vertel in die boek, het ek in die staatsargief in Kaapstad gewerk en op die skeepsjoernaal van Jacobus Verster, die plaaslike stamvader van die Versters, afgekom. Ek is nie ’n genealoog nie (en het dus van kenners se hulp gebruik gemaak wat geslagsregisters, ensovoort, betref) maar het wel genoeg kennis van die VOC-tydperk (1652-1795) en kon dit bywerk om die boek meer lyf te gee. Die fokus is op Jacobus se joernaal, met relevante inligting oor die VOC, die Kaap, Batavia en Europa in Jacobus se tyd om konteks te verskaf. Daarvoor het ek wyd gaan soek, ook in Nederland. Die bronnelys is akademies en volledig bygewerk, hoewel ek die teks toeganklik gehou het, as ’n persoonlike vertelling. Ek voel dit is meer geskik vir die mark waarna ek mik, dus nie spesifiek vir akademici per se bedoel nie. Met ’n D Phil in Kultuurgeskiedenis en twee
M-tesisse (Geskiedenis en Joernalistiek) agter die blad, het ek genoeg van dáárdie register (skryfwyse) gehad – ek wil eerder die belangstelling van die publiek stimuleer. Die narratief is ook so aangebied dat diegene wat self so ’n boek wil aandurf, hierdie voorbeeld (werkwyse) redelik maklik kan navolg.

Wat was die prikkel vir die boekdie dag wat jy besluit het jy gaan na jou stamvader soek?

Die dag toe ek die skeepsjoernaal ontdek het, was die begin, maar ek het tussenin ’n paar ander boeke gepubliseer, nagraadse studies afgehandel, van werk verander en so aan – so die projek is op die agtergrond geskuif totdat ’n uitgewer my genader het om die boek te skryf. Ironies het daardie plan deur die mat geval – ek en die uitgewer kon nie oor die invalshoek en formaat saamstem nie – maar dit het my gemotiveer om die projek, wat toe al jare sloer, af te handel. Die titel verwys na die feit dat ’n mens ’n spoor kan vat, maar nooit werklik deur die versperrings van tyd en ruimte kan dring om die mense van lank gelede te ken nie. Ek kon heelwat inligting bymekaarmaak, maar steeds weet ek nie wie hy as mens werklik was of eens hoe hy gelyk het nie. Wat dit betref, bly alles maar spekulasie. Vandag, met die hulp van foto’s, kan ons maklik visuele rekords opbou, maar destyds het net die rykes skilderye laat maak, wat ook nie noodwendig lewensgetrou is nie. Oor byna elke feit wat ek kon opspoor, is daar nog vrae wat onbeantwoord bly. Uiteindelik het ek ’n beeld van sy tyd en omgewing opgebou, met hom iewers daarbinne gesetel.

Wat van jou stammoeder en al die ander stamvaders en die voorouers wat nie jou van het nie?

Magdalena Theron, stammoeder van al die Afrikaanse Versters – van haar weet ek selfs minder, en dan ook van Jacobus se eerste vrou, Helena du Toit, ook ’n Hugenoot-nasaat. Omdat hulle nie geskrewe bronne nagelaat het nie – die twee vroue was waarskynlik swak geletterd (weens die gebrek aan skoling plaaslik – Jacobus egter, is in Nederland geskool). Navorsing oor al die ander familielyne kan ’n leeftyd neem en hoewel ek natuurlik ook in hulle belangstel, is daar baie goed gekwalifiseerde mense wat dit kan onderneem. Ek het ook nie veel verder as Jacobus se ouers gaan soek nie (ek het daarvoor van ’n genealoog in Amsterdam se hulp gebruik gemaak), want die fokus is op hom, sy joernaal en sy vestiging hier. ’n Mens kan ellelange lyste name en datums versamel en ’n massiewe boek saamstel, wat in elk geval binne twee, drie geslagte weer heelwat bywerking sal verg.

’n Kompasroos wat Jacobus waarskynlik geteken en voor in sy joernaal gehou het.

 Vertel ons ’n bietjie meer oor jou navorsingsproses. Waar begin ’n mens met navorsing wat so ver as 300 jaar terug dateer?

As opgeleide argivaris was dit uiteraad vir my makliker om so iets aan te durf – ek het die agtergrondskennis en boonop toegang tot bronne gehad, geweet waar om bykomende bronne te gaan soek (die ervaring van nagraadse studie help ook) en wie om te vra as ek vashaak – maar byna almal begin navors by sekondêre bronne (boek soos deur Dan Sleigh of Karel Schoeman geskryf), sodat jy weet wat reeds nagevors is. Dan beweeg jy aan na primêre bronne, soos in argiefbewaarplekke te vinde. Indien jy familienavorsing doen, begin jy by jou grootouers, by hulle sterfkennisse (“death notices”) in die argiewe van die provinsie waar hulle oorlede is. Die Kaape Argiefbewaarplek huisves 45 km argiewe, wat sowat 15 000 ou kaarte insluit, en natuurlik die oudste dokumente wat in die land geskep is. Die publiek mag nie in die brandkamers ingaan nie, maar die personeel van die Argief sal jou leiding gee in die leeskamer, waar jy jou navorsing doen.

Hoe baie bruikbare bronne was daar werklik oor Jacobus Verster beskikbaar? Was dit ’n uitdaging om toegang tot navorsingsmateriaal te bekom?

Daar is natuurlik die skeepsjoernaal, sy boedelinventaris, amptelike dokumente waarin sy familie vermeld word, hier en in Nederland – testamente, monsterrolle, grondaktes, ensovoorts. Ek het ook bronne in die Nederlandse biblioteek van SASNEV in Pinelands en die biblioteek van die Skeepvaartmuseum in Amsterdam gebruik. Vir my was dit minder van ’n uitdaging omdat ek al baie jare met dié tipe bronne werk. Vir oningewydes is dit belangrik dat jy eers agtergrondleeswerk doen en dan die relevante argiefbewaarplek(ke) besoek. Wees egter verseker, dit is nie een of twee dae se werk nie, dit kan jare neem – dit hang af hoe diep jy wil delf.

Die navorsing oor Jacobus Verster is ten nouste aan Nederlandse geskiedenis verbind. Jy het jouself ook in 2017 in Nederland bevind. Vertel ons ’n bietjie oor jou reis en jou bevindinge. Wat was vir jou ’n hoogtepunt?

Ek het eintlik na Amsterdam gegaan om die argief van Zuid-Afrika Huis te besoek, om hulle van raad te bedien indien nodig, en om hulle databank vir verbruikersvriendelikheid te evalueer. Omdat my werkgewer belange in die instansie het, was dit ’n werksverwante sending. Uiteraard het ek vooraf my “huiswerk” gedoen, en nadat ek my verpligtinge nagekom het, van die geleentheid gebruik gemaak om een middag na die nabygeleë Skeepvaartmuseum te gaan en vinnig 'S-Hertogenbosch (deesdae meer bekend as Den Bosch), waar Jacobus vandaan kom, te besoek. Dié hele ekskursie het slegs enkele ure (per trein en trem) geneem, aangesien ek vooraf inligting van ’n plaaslike historikus gekry het oor wat waar geleë is. Vandag met die internet en ander elektroniese hulpmiddelle is navorsing tog makliker. Die hoogtepunt was om op Den Bosch se dorpsplein te staan en a sense of place, wat oor eeue heen strek, te ervaar. Dit was ook besonders om in Jacobus se plaasopstal (Oude Westhof) te kon rondloop.

Oude Westhof, Jacobus se opstal soos wat dit vandag lyk (dit word tans as sjefskool gebruik).

Hoekom dink jy is dit, in ’n moderne konteks, so belangrik om te weet en te verstaan waar ’n mens vandaan kom?

Ek weet nie of dit nou belangriker is as tevore nie, maar ek dink wel baie Suid-Afrikaners dink nou meer oor hulle plek in die land. Skrywers (soos Dana Snyman) raak gedurig in hul skrywes aan hierdie kwessie en herinner lesers daaraan, terwyl historiese romans steeds gewild is – dink aan Eilande en 
1795 (Sleigh), Buys (Anker), Pieternella van die Kaap (Matthee) en so aan, almal pryswennners. Ek dink Eilande se ongekende impak het juis daarmee te doen – veral talle Afrikaners voel die nodigheid om te begryp hoe ons hier gekom het en of ons bestaansreg het. Verder migreer ons wat duisende jare gelede hiervandaan na Europa getrek het, en toe weer hier kom woon het, nou weer na ander geografiese en kulturele gebiede. Ons geskiedenis is dus deel van die globale migrasiegeskiedenis van homo sapiens. Om dit te verstaan, is ’n beter perspektief van die groter prentjie nodig.

Hoekom het jy hierdie boek self uitgegee (en nie ’n uitgewer geraadpleeg nie)?

Soos genoem, het ’n uitgewer my gevra om ’n boek – eintlik oor die skeepsjoernaal – te skryf, maar ek het besef dat daar te min stof is om ’n genuanseerde en interessante boek oor die joernaal alleen te skryf. Daar is baie herhaling in die joernaal en later is dit minder getrou bygehou en daar is min oor die Kaap geskryf, hoewel tog interessant – in daardie gedeelte kon ek uitvind dat Jacobus famile was van William van Rheede, hoofkarakter in Dan Sleigh se roman 1795! As vertrekpunt was die joernaal beslis baie nuttig. Ek het daarna nog twee uitgewers genader, maar ons kon ook nie tot ’n vergelyk kom nie. Ek het in elke geval vooraf, uit ervaring, geweet dat hierdie soort boek nie vir uitgewers besonder aantreklik lyk nie; hulle beskou dit as "familienavorsing" en nie gemik op die breë mark nie. Uiteraard sou ek verkies het dat ’n bewese uitgewer, met kundiges en hulpmiddele tot hulle beskikking, eerder die bemarking kon doen, maar ek het besluit ek doen dit vir die liefde van die saak, beslis nie om ’n noemenswaardige wins te maak nie. Die baie positiewe terugvoering wat ek kry, maak dit reeds vir my die moeite en onkoste werd.

Hoe het die skryf van hierdie boek verskil van die skryf van jou vorige, onlangs verskene boeke?

Omega, oor en uit (Tafelberg) was tot ’n mate ooreenstemmend persoonlik, maar dit het gedeeltelik oor ’n meer resente verlede gegaan, naamlik die Grensoorlog. Die ander deel, die tweede verhaallyn, as't ware, het ook oor argiewe gegaan, maar oorsigtelik – oor ’n argivaris wat bekommerd is oor die veiligheid van argiewe in ’n land waar strydende perspektiewe oor ’n ironies gedeelde verlede heers. Beide die Grensoorlog-vertelling én die beskrywing van die argivaris se belewenis van sy werksomgewing, het gehandel oor die gevaar dat gedeeltes van ons verlede verlore kan gaan, en dit is uiteindelik ’n wesenlike gevaar. Die tweede boek, Die Groot Drie (Penguin) handel hoofsaaklik oor drie van ons beste spotprenttekenaars, D.C. Boonzaier, TO Honiball en Fred Mouton, maar ook oor die geskiedenistydperke waarin elkeen van hulle leef of geleef het. Die boek is ook – hopelik – toeganklik geskryf, dog in ’n meer formele trant. Waar OmegaGroot Drie en Jacobus ooreenstem, is dat tydgees ’n belangrike rol speel, naamlik dat die leser moet besef dat hy of sy deur die bril van sy of haar eie tyd na gebeure en mense van ’n ander tyd kyk en oordele vel. Dan Sleigh sê mense bly maar mense, wat waar is, en Karel Schoeman het geskryf dat die verlede ’n ander land is. Wie van hulle is reg? Albei – mense en hulle behoeftes verander min oor tyd – dog, lewensuitkyk, prioriteite en selfs kulture verander wel gedurig – dikwels siklies; weergawes van dieselfde tema. Elkeen van die drie boeke het sy eie uitdagings gestel, nes ander wat ek vroeër* geskryf het, maar ek geniet nuwe uitdagings en elke genre het mos sy eiesoortige lekkerte. Wetenskapfiksie was vir my ook lekker, want deur na die verlede te kyk, kan oor die toekoms gespekuleer word.

Met watter skryfwerk is jy op die oomblik besig?

Ek het so drie jaar gelede met ’n (tweede, maar dié slag nie vir die jeugmark nie) historiese roman begin, maar besef ek moet nog baie meer navorsing doen om hom tot sy reg te kan laat kom. Hy is vir eers in ’n laai, maar (Deo volente) sal ek weer by hom uitkom. Intussen skryf ek aan ’n roman wat sterk op eie ervaring gebaseer is – maar niks met geskiedenis of argiewe of oorlog te doen het nie! Ek werk vroegoggende daaraan en hoop die manuskrip kan in 2020 na ’n uitgewer gaan.

* Op my Wiki-blad kan gesien word watter boeke ek voor Omega en Groot Drie geskryf het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top