Museum Times: Changing histories in South Africa deur Leslie Witz: ’n lesersindruk

  • 0

Museum Times: Changing Histories in South Africa deur Leslie Witz. Beskikbaar by Berghahn Publications.

Titel: Museum Times: Changing histories in South Africa
Skrywer: Leslie Witz
ISBN: 9781800735385
e-ISBN: 9781-800735392
Uitgewer: Berghahn publications

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Suid-Afrikaanse museums trek swaar en slaag na wat berig word, nie veel daarin om toerisme aan te wakker nie. Dit is nie juis verbasend nie, gegewe die reuse-finansiële moeras waarin die Suid-Afrikaanse verbruikers hulleself deesdae bevind. Vervoerkostes dwing al meer en meer mense om eerder tuis te bly. Banke sukkel om geld wat op lenings geskuld word, terug te kry. Boonop is museums toenemend die teiken van misdadigers, veral in ’n land waar die politieke sisteem faal en nie daarin slaag om landsburgers se lewens en eiendom te beskerm nie. En tog is die liefde vir museums nie iets wat sommer net sal verdwyn nie. Die behoefte aan ’n konneksie met die verlede, ’n ruimte waar stories bewaar word in die vorm van artefakte, is ’n verskynsel wat nie waarlik in rand en sent gemeet kan word nie.

.....
Die behoefte aan ’n konneksie met die verlede, ’n ruimte waar stories bewaar word in die vorm van artefakte, is ’n verskynsel wat nie waarlik in rand en sent gemeet kan word nie.
.....

Die uitdaging van museums strek selfs verder as al hierdie aspekte tot ver terug in die verre verlede by die konseptualisering van museums. ’n Goeie tersaaklike eksperiment sal wees om vir drie verskillende arbitrêre persone na ’n definisie van die begrip “museum” te vra uit die vuis uit. Die kans is amper gewaarborg dat die resultaat nogal aansienlik gaan verskil van een mens tot die volgende. Juis hierin lê die wonder van die museum. Die museum vervul verskillende funksies en beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Leslie Witz is ’n professor in geskiedenis met ’n lang bemoeienis met Suid-Afrikaanse museums. Sy nuutste boek oor die onderwerp is geen volledige studie van Suid-Afrikaanse museums nie. Die boek maak veral staat op die outeur se spesifieke ervaringsveld waar hy opgetree het as konsultant en navorser. In die proses is daar wel oorhoofse tendense wat uitkristalliseer en wat ’n soort blik in die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse museums skets, veral sedert Suid-Afrika se 1994-oorgang.

.....
Die museum word aan ontwrigting gekenmerk. Voorwerpe word uit hulle oorspronklike omgewings geneem en uitgestal in ruimtes bedoel as vermaak en ontspanning, maar ook met die doel om iets van die gemeenskaplike historiese institusionele bewussyn te probeer bewaar en vrae te beantwoord soos: Waar kom ons vandaan en hoe was die lewe vir die mense voor ons? Hoe het ons voorgangers geleef en oorleef?
.....

Die boek verskaf ’n gepaste historiese oorsig van hoe Suid-Afrikaanse museums ontwikkel het in hoofstuk een. Die verskynsel van museums is in die verlede veral oorheers deur die natuurwetenskappe. Dit is veral gesien as die uitvloeisel van die jag op eksotiese spesies en in die proses het die museum dikwels ’n ongelukkige assosiasie met verowering, kolonialisme en geweld verkry. Stelselmatig het sosiale en kulturele geskiedenis egter al meer en meer ’n regmatige plek begin inneem in museums, maar ook nie sonder erge geboortepyne en onregte nie. Deur middel van museumuitstallings is gemeenskappe dikwels gestereotipeer en verdelende identiteite kunsmatig lewend gehou. Menslike liggame is ook as voorwerpe uitgestal, wat ’n onreg en tragiese aspek van museums se geskiedenis is. Die museum word met ander woorde aan ontwrigting gekenmerk. Voorwerpe word uit hulle oorspronklike omgewings geneem en uitgestal in ruimtes bedoel as vermaak en ontspanning, maar ook met die doel om iets van die gemeenskaplike historiese institusionele bewussyn te probeer bewaar en vrae te beantwoord soos: Waar kom ons vandaan en hoe was die lewe vir die mense voor ons? Hoe het ons voorgangers geleef en oorleef?

.....
Museumbestuur behels eintlik ’n reuse-ingeboude eksistensiële teenstrydigheid in die sin dat die museum op die oog af bestaan om historiese voorwerpe te bewaar, om iets van die verlede voort te laat leef.
.....

Die klem wat die skrywer egter deurgaans in die boek probeer tuisbring, is dat museums veel meer behels as uitstallings. Museumbestuur behels eintlik ’n reuse-ingeboude eksistensiële teenstrydigheid in die sin dat die museum op die oog af bestaan om historiese voorwerpe te bewaar, om iets van die verlede voort te laat leef. Tog is museums juis plekke wat sentraal staan in die hervorming van die presiese maniere waarop mense oor die verlede dink. Anders gestel, museums bewaar die verlede, maar ontwrig ook gedurig mense se persepsies van die verlede. Museumwetenskaplikes speel ’n belangrike rol in die produksie van geskiedenis en dan veral nuwe maniere van dink oor die geskiedenis. Daarby is museums nie so staties soos wat ’n mens graag aan hulle dink nie. Museums, hoewel hulle dikwels finansieel sukkel, word ook gekenmerk aan lewendige interaksie met die publiek, onder meer deur lesings, boekbekendstellings en talle ander aktiwiteite waarmee museums op kreatiewe maniere relevant gehou en aanloklik gemaak word.

.....
Tog is museums juis plekke wat sentraal staan in die hervorming van die presiese maniere waarop mense oor die verlede dink. Anders gestel, museums bewaar die verlede, maar ontwrig ook gedurig mense se persepsies van die verlede.
.....

Die boek behels, benewens hoofstuk een, ’n verdere vyf hoofstukke. Al die museums wat in die boek bespreek word, moes dramatiese veranderinge ondergaan om aan te pas by die veranderende politieke klimaat. Daar is egter ook gevalle van museums wat eers ná die einde van apartheid ontstaan het. Die trekarbeidmuseum by Lwandle in die Wes-Kaap is ’n voorbeeld van so ’n museum. Lwandle naby aan die Strand en Gordonsbaai is die ideale plek vir ’n museum gewy aan die tragiese geskiedenis van trekarbeid in Suid-Afrika, aangesien baie inwoners daar gevestig is deur die sisteem van trekarbeid. Die museum is egter begin met talle uitdagings wat dit in die gesig gestaar het, onder meer ’n gebrek aan uitstalmateriaal. Witz ondersoek in sy bespreking onder meer die komplekse verhouding tussen nasionale en regionale identiteite en historiese narratiewe. Die museum, wat in die jaar 2000 geopen is, se ontwikkeling is verder gekompliseer toe die Suid-Afrikaanse Padagentskap in 2014 ’n interdik bekom het om plakkers in die gebied te verwyder. Die gebeure het landswyd opslae gemaak en amptenare van die museum genoop om iets van die omstredenheid te dokumenteer.

Die fassinerende en omstrede Dias Museum in Mosselbaai val onder die soeklig in hoofstuk drie. Die outeur beskryf die Dias Museum as onder meer “apartheid se laaste museum” en ’n museum van “gebeurtelose geskiedenis”. Die ontwikkeling van die Dias Museum word terugherlei na die 1970’s toe die stadsraad die herdenking van Bartolomeu Dias se besoek aan die Mosselbaai-area in 1488 begin konseptualiseer het. Die herdenking was aanvanklik bestem om te gebeur met Dias as “ontdekker” as oorhoofse tema, maar die politieke winde was besig om te sterk te woed gedurende die 1980’s en die sentiment het verander na ’n fees van multikulturele diversiteit. Die Nasionale Party-regering se rol in die organisering van die fees is opsetlik onderspeel. Groot getalle mense het egter die feesvieringe geboikot en geen swart toneelspelers wat die inheemse inwoners moes verteenwoordig, kon gevind word nie. Die bekende Afrikaanse sanger Manuel Escorcio het in ’n nabootsing van die gebeure die rol van Dias vertolk. Swart inwoners is tydens nabootsinge van Dias se aankoms deur wit mense voorgestel, wie se gesigte met skoenpolitoer swart gekleur is. Daar was boonop geen primêre argivale bronne wat iets van Dias se besoek kon skets nie. ’n Dagboek wat baie jare later geskryf is op ’n ander reis deur ene Álvaro Velho, het die meeste inligting oor die gebeure bevat. Die museum wat later geopen het, het geen behoorlike beelde of veel biografiese inligting van Dias bevat nie en artefakte wat tydens die fees versamel is, was van die belangrikste uitstallings, benewens die karaveel wat met ’n enjin aangedryf is al die pad van Portugal en uiteindelik die sentrale vertoonstuk in die museum sou word. Argeoloë van die Universiteit Stellenbosch het tevergeefs probeer om enige voorwerpe van Dias se besoek op te grawe.

Die laaste drie hoofstukke van die boek fokus onder meer op sommige Oos-Kaapse museums, die Robbeneiland Museum, sowel as die Y350-uitstalling, laasgenoemde wat ontwikkel is met die doel om kritiek te lewer op die herdenking van die 1652-vestiging van ’n halfwegstasie in die Kaap deur amptenare van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Die datum van 6 April is steeds klokslag elke jaar ’n dag waarop Suid-Afrikaners lekker op sosiale media koppe stamp oor hoe daar presies gedink moet word oor Jan van Riebeeck. Die hoofstuk oor die Robbeneiland Museum staan veral in verband met die ontwikkeling van programme in nagraadse studies in museumkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Robbeneiland het ’n besondere ryk geskiedenis en dit het talle komplikasies tot gevolg soos wat kompeterende groepe sekere aspekte van die verlede wil beklemtoon en ander aspekte wil onderspeel. Dit het weer verdere implikasies vir hoe toerismeveldtogte ontwikkel word en belig die openbare stryd vir die hart en siel van die verlede. Die finale woord oor Robbeneiland se verlede is nog lank nie gesprook nie.

Dit is opmerklik dat die boek Museum Times geen verwysings bevat na die #RhodesMustFall-verskynsel nie wat veral sedert 2015 so ’n prominente rol begin speel het in erfenisbewaring. Die rede hiervoor skyn te wees dat daar reeds heelwat bestaande navorsing oor die saak bestaan. Die boek maak egter duidelik geen aanspraak op enige volledigheid nie. Die onderwerp ter sprake is eenvoudig te omvangryk om in een volume naastenby volledig bespreek te kan word, en dit wat wel geskryf is, dek belangrike aspekte van die onderwerp van Suid-Afrikaanse museums wat grotendeels sover afgeskeep is in die verlede. Daar is waarskynlik nog baie ruimte vir verdere navorsing, want museums is ’n kosbare bate wat ’n belangrike rol in die gemeenskap kan speel, maar wat dikwels aan die agterste speen suip en nie genoeg aandag in die media en openbare diskoerse geniet nie. Hoewel ’n akademiese boek, is Museum Times heel toeganklik vir enige “gewone” leser.

Bronne
  1. Nyide, N. 2023. SA Museums are dull and financially draining. https://mg.co.za/thoughtleader/opinion/2023-05-22-sa-museums-are-dull-and-financially-draining/?utm_source=substack&utm_medium=email. (19 Junie 2023 geraadpleeg).
  2. Buthelezi, L. 2023. Capitec slumps as it hikes impairments by 80 %, tightens lending criteria. https://www.news24.com/fin24/companies/capitec-slumps-as-it-hikes-impairments-by-80-tightens-lending-criteria-20230418. (19 Junie 2023 geraadpleeg).
  3. Sinxo, Z. 2023. Western Cape museums faces a barrage of criminal acts. https://www.iol.co.za/weekend-argus/news/western-cape-museums-faces-a-barrage-of-criminal-acts-3033a7a8-d2af-4985-84d3-aef6cefec174?utm_source=substack&utm_medium=email (20 April 2023 geraadpleeg).

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top