Titel: Vertellings uit die vergetelheid, die opkoms en val van Bophuthatswana
Skrywer: Danie Schoeman
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256386
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Suid-Afrika se tuislandsisteem word tipies beskou as ’n uitbreiding van die land se apartheidsisteem. Die tuislande is ook nie juis aldag ’n geliefde onderwerp van studie deur geskiedkundiges nie: “The most that one could say about Bophuthatswana was that it was the least unsuccessful of the independent homelands.”[1] Historici onderskei gewoonlik tussen sogenaamde klein apartheid en groot apartheid (laasgenoemde staan ook soms bekend as Verwoerdiaanse apartheid). Soos met so baie begrippe, is apartheid eintlik ook ’n bietjie van ’n wollerige konsep, en ontstaan daar dikwels misverstande tussen mense oor wat presies daarmee bedoel word. Dieselfde gebeur dan ook ten opsigte van die Israel-Palestina-konflik, waar die begrip apartheid ook vrylik ingespan word om iets van die gebeure daar bloot te lê.
Reeds op die buiteblad van Danie Schoeman se boek oor Bophuthatswana blyk dit dat hierdie geen polities korrekte boek is nie. Schoeman skryf sy perspektief op Bophuthatswana gedagtig aan Suid-Afrika se politiek van 2024, en is duidelik besig met ’n herevaluasie van Bophuthatswana. Dit is dan ook presies wat met geskiedskrywing behoort te gebeur. Geskiedenis moet juis die verhale van die verlede herbesoek en dit herverpak op ’n manier wat dit relevant maak vir mense van vandag. Op dié manier word gebeure van historiese belang ook onderskei van gebeure wat weinig tot geen historiese belang het nie.
Dit skyn egter dat Schoeman nie heeltemal dieselfde opvattings het as so baie ander mense wat oor die geskiedenis van Suid-Afrika skryf nie. Trouens, daar is ’n hele aantal vrae wat ontstaan by die lees van hierdie boek. Dis miskien gepas om met ’n aantal positiewe opmerkings te begin. Hierdie boek gee nie voor om iets te wees wat dit nie is nie, ten minste nie bewustelik nie. Soos die titel aandui, gaan dit hier oor “vertellinge” uit daardie jare. Spoedig word twee dinge duidelik. Die skrywer was (1) intiem betrokke by die administrasie van Bophuthatswana, maar (2) ook net vir sowat die helfte van die duur van Bophuthatswana se 17 jaar lange bestaan daar werksaam as regeringsamptenaar. Die boek kombineer persoonlike herinneringe met lang besprekinge van die besonderhede van Bophuthatswana se ekonomie. Gegewe die skrywer se bemoeienis met ekonomiese sake, is dit geen verrassing nie, maar ongelukkig lees die teks by tye ’n bietjie soos ’n ensiklopedie. En so gepraat van ensiklopedie, daar is ook heelwat verwysinge na die aanlyn ensiklopedie Wikipedia. Alhoewel Wikipedia ’n nuttige bron is vir basiese oriëntasie ten opsigte van haas enige onderwerp, is dit nie die ideaal vir ernstige navorsing nie, veral gegewe die feit dat die inhoud van Wikipedia gedurig aangepas word en deur enige persoon verander kan word, dikwels selfs vir humoristiese doeleindes. Die feit dat die skrywer wel die moeite gedoen het om die boek van bronverwysings te voorsien, is egter lofwaardig, en verskaf ’n mate van gesag aan die inhoud. Verskeie van Schoeman se bronne is ook goeie, gesaghebbende bronne, waaronder talle verslae.
Een van die groot oorhoofse argumente wat Schoeman skynbaar in hierdie boek aanvoer, is dat Suid-Afrika se tuislande, en in die besonder Bophuthatswana, ’n belangrike rol gespeel het in die ondermyning van apartheid. Dit is egter ’n argument wat talle as uiters aanvegbaar sal ervaar. Wat duidelik uit die boek skyn, is dat Schoeman se verstaan van die begrip apartheid hoofsaaklik beperk is tot wat dikwels beskryf word as die reeds genoemde klein apartheid. Hierdie soort apartheid behels diskriminasie op grond van ras en al die beperkinge wat daarmee saamgaan, soos die ontneming van politieke regte, verbod op seksuele omgang tussen rasse, werksreservering ens. Dit wil voorkom asof Schoeman die ontwikkeling van die tuislandsisteem nie uit eie reg as deel van die apartheidsisteem beskou nie, maar dit eerder wil definieer as “afsonderlike ontwikkeling”. Hierdie interpretasie strook met dié van Hendrik Verwoerd (1901–1966).[2] Deur middel van “afsonderlike ontwikkeling” het Verwoed die beleid van apartheid probeer “hervorm”, maar min mense het daarop ingekoop, en die tuislande is nooit internasionaal erken nie.[3] Die gevolg is dat elke keer wanneer Schoeman die woord apartheid gebruik, sy gebruik daarvan skynbaar glad nie die tuislandsisteem self insluit nie. En dit skep verwarring. Dit is ongetwyfeld die geval dat die tuislandstelsel, en in die besonder Bophuthatswana as ’n deel daarvan, bepaalde uitdagings aan die beleid van “klein apartheid” gestel het. Dit het veral gebeur weens Bophuthatswana se ligging, nie te ver van Suid-Afrika se ekonomiese hartland, die PWV-gebied, nie. Weens die afskaffing van klein apartheid binne die grense van Bophuthatswana het Suid-Afrikaners na Bophuthatswana gestroom, waar hulle verhoudinge met mense van ander rasse nie enige wet oortree het nie. Dit het gereeld gebeur tot groot verleentheid van Suid-Afrika, wat moes toekyk hoe hulle eie inwoners gesmag het na die vryhede van die lewe sonder klein apartheid. Daarby het die owerhede van Bophuthatswana die staat se belastings so gunstig aangepas dat menige besigheid vanuit Suid-Afrika daarheen gelok was. Dit was die jare van BopTV en die begin van Sun City. Dobbelary was taboe in Suid-Afrika, en nog iets waarmee Bophuthatswana, waar dit nie verbode was nie, vele mense gelok het.
Schoeman se boek is geensins heeltemal onkrities nie. Ook daarvoor moet ’n mens waardering toon. ’n Interessante aspek is veral sy vertellinge rondom die ontwikkeling van Unibo, Bophuthatswana se universiteit, wat vandag deel vorm van die Noordwes- Universiteit. Volgens Schoeman het Bophuthatswana se enigste president, Lucas Mangope (1923–2018) aanvanklik gepoog om ’n waaksame ogie oor die nuwe universiteit te hou, en het hy selfs al die lede van die studenteraad in die beginjare op die naam geken. Dit was egter nie lank nie of Mangope het in ongewildheid verval onder groot getalle studente, wat die regering van Bophuthatswana as ’n lakei van Suid-Afrika se apartheidsregering beskou het. Soos wat die jare aangestap het, het Mangope meer en meer wantrouig geword, en die staat se wetgewing het dit ook begin weerspieël. Demokratiese beginsels is by die venster uit ten einde die behoud van die regerende party te verseker. Schoeman probeer niks van hierdie ontwikkelinge wegsteek nie. Wat ook opnuut duidelik in hierdie boek na vore tree, en wat in elk geval vandag as algemene kennis beskou kan word, is dat die hele tuislandsisteem eintlik maar een groot ekonomiese ramp was. Weens die rol van mynbou en toerisme was Bophuthatswana trouens een van die meer “suksesvolle” tuislande, spesifiek in ekonomiese terme. Wat die landbou betref, het die sisteem van kommunale grondbesit egter herhaaldelik met die kapitalistiese benadering gebots, wat kommersiële landbou in die wiele gery het (die botsende filosofiese benaderinge tot landbou duur steeds voort).
Gedurende Suid-Afrika se jare van apartheid het die regering groot hoeveelhede hulpbronne daaraan spandeer om propaganda te produseer met die doel om die beeld van die tuislandsisteem se probeer poets. Schoeman se boek herinner ongelukkig plek-plek aan daardie soort publikasies. In die voorwoord argumenteer hy byvoorbeeld dat apartheid “hoop gebied het dat Suid-Afrika sy heil kon vind in ’n konstellasie van state soos die federale VSA” (bl 10). Elders merk hy egter wel op dat dit “vroeg reeds duidelik [was] dat volkome onafhanklikheid [van die tuislande] nie volhoubaar was nie” (25), en noem ook dat “Bophuthatswana [...] in sonde ontvang en gebore [is]” (9).
Schoeman se boek is gevolglik ’n boek wat my ietwat ambivalent gelaat het. Daar is so baie wat gedoen kon gewees het om die boek beter af te rond. Hoofstuk een, wat die agtergrond van Bophuthatswana se ontwikkeling skets, sou kon gebaat het by die insette van ’n professionele historikus. Waar die boek soms goeie kritiese nuanse openbaar ten opsigte van die gebeure, is daar in ander gevalle ’n ongelukkige verromantisering van die verlede wat afbreuk aan die boek doen. Die boek bevat nie foto’s nie, maar verskeie kaarte en tabelle. Sommige van hierdie tabelle is so klein gedruk dat dit moeilik is om te lees (soos op bladsy 142). Mens kry ook die gevoel dat die boek taaltegnies beter versorg kon gewees het, en die invloed van Engels skemer dalk deur in skryfwyses soos “klank stelsels” (132) en “sweeftuig kompetisie” (193), wat vas geskryf moes gewees het. Let ook veral op bladsy 263, waar Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters as die “Ekonomiese Vryheidsfront” beskryf word. Pogings om Mangope as vreedsame teenpool en alternatief tot die ANC te skets, oortuig nie uitermatig nie, ten spyte van die feit dat daar vandag goeie argumente bestaan vir desentralisasie, in teenstelling met die ANC se soort beleide van die afgelope 30 jaar. Apartheid as staatsmodel is tot so ’n mate gediskrediteer dat dit nie moontlik is om ten gunste van politieke desentralisasie te argumenteer deur Suid-Afrika se tuislandsisteem as tersaaklike voorbeeld in te span nie. Hierdie boek skep ongelukkig die indruk dat veral die uitgewer meer kon gedoen het om die boek beter te versorg.
Nota’s
[1] D Welsch, The rise and fall of apartheid, 2009, Jeppestown, Jonathan Ball, bl 512.
[2] S Dubow, Apartheid, 1948–1994, 2014, Oxford, Oxford University Press, bl 105.
[3] In dié verband, sien ook bv FA van Jaarsveld, Die evolusie van apartheid, 1979, Kaapstad, Tafelberg, ble 1–23.