The lie of 1652: A decolonized history of land
Patric Mellet
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089704
Daar is verskeie mense wat nou al op hierdie omstrede boek kommentaar gelewer het, onder meer gerekende historici soos Dan Sleigh, Leopold Scholtz[1] (wat erken het dat hy nooit die boek gelees het nie) en Albert Blake.[2] Weinig van die kommentaar wat in Afrikaans gepubliseer is, was positief. Blake beskryf die titel as “sensasioneel”. Sy artikel is veral ook geskryf as kritiese reaksie op die artikel van oudregter Johann Kriegler.[3] Kriegler beskryf die boek as “feitelik en ideologies verdag”, maar moedig mense tog aan om dit te lees, omdat dit lig werp op die identiteitsproblematiek in Suid-Afrika. Een van die nog verskeie reaksies op die boek, en een van dié waarmee ek my miskien die meeste vereenselwig, is die een van Frederik Rudolph van Dyk,[4] wat werklik daarin slaag om ’n genuanseerde blik van die boek te verskaf.
Die boek lees moeilik. Dit is miskien my grootste beswaar teen die meeste geskiedenisboeke. Ons sukkel reeds om mense, en veral jongmense, te laat lees. En geskiedenis? Wel, geskiedenis skiet homself nog verder in die voet, onder meer ook met emosioneel gelaaide reaksies en onvoorbereide resensente. Met Die seuns van Bird Island (Tafelberg 2018) nog vars in die geheue, en meer onlangs ook die Jacques Pauw-insident, kan enige leser van niefiksie met reg vandag so ’n bietjie verward voel. Dan vergeet ons ook nie waar ons vandaan kom nie. Hoe die ontdekkings van die argeologie vir dekades in Suid-Afrika vermy is deur die Christelik-Nasionaal-gesinde regering, onder meer Mapungubwe en die menslike ontwikkeling deur evolusie.
Dan het ons nog nie eens begin delf in die metodiek van die geskiedskrywing nie, die filosofiese vraag eenstemmig beantwoord van hoekom ons die verlede bestudeer nie. Alhoewel diskoers sekerlik altyd verwelkom moet word, is hier soveel uiteenlopende stemme dat mens kan aanneem dat hulle mekaar nooit sal vind nie. En by dit alles is geskiedskrywing ook nie meer wat dit was nie. Dit word jaar na jaar meer kompleks. Die historikus is nie, tradisioneel, noodwendig ’n kenner van die argeologie nie, maar dit word al meer en meer ’n vereiste. Daarby word daar nou nog ook die genealogie sowel as genetika ingespan, wat die geskiedskrywing meer wetenskaplik en genuanseerd maak.
Is die titel van hierdie boek werklik sensasioneel? Ek sou nie so dink nie. Soos wat ek nasionalisme verstaan, is daar altyd ’n vorm van mite by betrokke. Ons ken almal daai geslag mense wat nog praat of gepraat het van 1652 as “die volksplanting”. Dit is hoe hulle op skool geïndoktrineer was. Dit is nie meer vandag ongewoon om darem so ’n bietjie meer genuanseerd oor 1652 te dink nie. Geen ernstige historikus beskou 1652 meer as die “begin van die beskawing” in Suid-Afrika nie, want waaraan meet ons ons en andere se “beskaafdheid”? Dit is teen die feitelike stellings in Mellet se boek dat die meeste kritici te velde trek, en hoewel die boek ruim voorsien is van eindnotas, is daar enkele kritieke paragrawe wat geen verwysings bevat nie. Die feit dat die boek geen bibliografie bevat nie, is nie geldige kritiek nie, aangesien bibliografieë dikwels deesdae uitgelaat word in historiese werke, met die verstaan dat dieselfde besonderhede wat in die bibliografie sou verskyn, wel in die notas sal verskyn. Wat ek veel meer sou wou gesien het, is ’n indeks, want soms wil jy net gaan kyk wat is daar oor een bepaalde saak of persoon geskryf.
Om die verlede sinvol te verpak, en om redelike breë konsensus te verkry oor hoekom ons die verlede bestudeer, is die twee grootste uitdagings van die historikus. Sonder om die filosofie deeglik deur te trap, skaar ek my in hoofsaak by die uitgangspunt dat dit die taak is van die historikus om die verlede te verduidelik en te verklaar. Die geskiedenis word nie bestudeer om patriotisme te bevorder of om enige ander ideologiese redes nie. Dat daar altyd meer en meer genuanseerd oor die verlede gedink moet word, daarvoor kan die boek as ’n wekroep dien. Ek hou van die genuanseerde manier waarop daar na karakters soos Krotoa en Autshumao gekyk word, maar wonder self oor sommige van die feitelike stellings.
Een van die uiters interessante argumente wat in die boek na vore kom, is dat die mens in dieselfde tydvak op verskillende geografiese gebiede ontwikkel het, en nie in een spesifieke gebied nie. Hierdie is nie insigte wat die tradisionele geskiedskrywers, wie se werk grootliks op argivale bronne berus, hulself tipies mee bemoei nie.
Dat Mellet se boek nie “tradisionele” geskiedskrywing is nie, word veral ook bevestig deur die laaste hoofstuk. Onder die opskrif “Conclusion” word daar uiteindelik selfs ’n besinning verskaf oor Suid-Afrika na 1994, wat aansluit by die argumente oor “identiteitsproblematiek”, en wat jou à la Johann Kriegler meer terugbring by laasgenoemde as by 1652. ’n Mens sou eerder verwag dat hierdie hoofstuk ’n sterk samevattende argument teen “koloniale geskiedenis” sou gebied het, maar dit verval uiteindelik helaas in ’n kort oorsig oor Suid-Afrika sedert 1994, iets wat tog nie werklik deeglik gedoen kan word in vyf of ses bladsye nie.
[1] L Scholtz, Watse bloeiende beskawing voor 1652? https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/watse-bloeiende-beskawing-voor-1652, 02.12.2020, afgelaai op 28.02.2021.
[2] A Blake, Politieke agenda polariseer. https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/politieke-agenda-polariseer-20201122#loggedin, 22.11.2020, afgelaai op 28.02.2021.
[3] J Kriegler, Léés dié radikale blik op SA verlede. <https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/lees-die-radikale-blik-op-sa-verlede-20201113, 15.11.2021, afgelaai op 28.02.2021.
[4] FR van Dyk: The lie of 1652: Retories regstellend, feitelik bedenklik? https://www.litnet.co.za/the-lie-of-1652-retories-regstellend-feitelik-bedenklik, 08.02.2021, afgelaai op 28.02.2021.
Lees ook:
The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel
The Lie of 1652 gemeet aan ewewigtigheid, regverdigheid en objektiwiteit