...
Dit is belangrik dat die koring en die kaf geskei word, maar nog belangriker dat die volgende geslag navorsers vandag reeds gekweek word. Elke nuwe generasie sal die geleentheid hê om met nuwe, verbeterde tegnologie en insigte te kan werk om sodoende meer ván, maar ook bý, die Khoisan te kan leer.
...
Titel: First people: The lost history of the Khoisan
Skrywer: Andrew Smith
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776191598
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Kulturele identiteite is besonder abstrakte konstruksies, in so ’n mate dat ’n mens gereeld hierdie konsepte wil bevraagteken, en met reg. Wat is ’n Boer? Wat is ’n Afrikaner? Wat is ’n Zoeloe? Wat is ’n Suid-Afrikaner? En wat doen ons met die k-woord? Daardie vreeslik sensitiewe en omstrede benaming kleurling, wat die Suid-Afrikaanse regering in 2023 nog steeds inspan in die toepassing van die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) en wat so ’n prominente deel van ons geskiedenis en nasionale karakter is.[i] Historici, argeoloë, antropoloë en ander navorsers het in die verlede geweldige skade aangerig met die maniere waarop daar oor mense gedink en geskryf is. Toe amateurargeoloë uit Europa in die 19de eeu vir die eerste keer die klipmonumente van Zimbabwe aanskou, het hulle aangeneem dit moes deur beskawings ver van Afrika gebou gewees het. Vir hulle was dit onmoontlik dat sulke monumente deur die mense van Afrika self gebou is.[ii] En so het historici voortgegaan om die verlede te gebruik en te misbruik. Die mite dat Suid-Afrika leeg en onbewoon was, is versprei deur bekende historici, onder meer George McCall Theal (1837–1919), maar leef vandag nog voort in die kuberruim op menige Facebook-gebruiker se muur. Alles met die oog daarop om die verlede te misbruik vir die regverdiging van historiese onregte, en nie om die verlede beter te verstaan om sodoende insig in die hede te verkry nie. Toenemend vind ’n mens egter dat menigeen van regoor die politieke spektrum dit eens is dat ’n versameling van groepe mense, kollektief bekend as die Khoisan, as die eerste inwoners van Suid-Afrika beskou moet word. Maar ook die Khoisan-konstruksie is geensins organies nie. Dit is eers in die 20ste eeu as sambreelterm vir die Khoi en San ontwikkel. Dié twee groepe word tipies gestereotipeer as onderskeidelik die Khoi as veeboere teenoor die San as jagters en versamelaars. Maar ook dit is nie ’n 100% akkurate beskrywing nie. Daar word tereg gevra: Is die manier waarop ’n mens aan die lewe bly outomaties ’n beskrywing van jou identiteit?[iii] Die benaming Boer beskryf ’n historiese identiteit en het onder meer ontstaan uit die benaming Anglo-Boereoorlog, en selfs uit ander tale se verpolitiseerde beskrywinge van die Afrikaanse taal (byvoorbeeld die woord Seburu). Dit was ook so dat die Boere amper deur die bank eens landbouers was. In die 20ste eeu het die prentjie egter heeltemal verander, want die Boere en hulle nakomelinge het grootliks verstedelik en ander beroepe as die landbou gevolg.
As jy oor die Khoisan praat en skryf, bevind jy jou dus op gevaarlike terrein. Volgens Smith word die Khoisan se nakomelinge vandag algemeen as “kleurlinge” beskou. Die tradisionele lewenswyses van hierdie gemeenskappe is met tyd en tegnologiese ontwikkelinge afgetakel en deur kolonialisme verdring. Selfs na die onafhanklikheidswording van Afrika is die San in Botswana deur die postkoloniale regering onder druk geplaas om hulle tradisionele manier van lewe te laat vaar. As gevolg van onder meer rotskuns aanvaar die meeste mense egter vandag dat die Khoisan Suider-Afrika se eerste inwoners was, maar pogings deur lede van die Khoisan om as die “eerste nasie” erken te word, vind nie veel simpatie by die regering nie. Die Suid-Afrikaanse regering se reaksie is die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap (3 van 2019), wat in 2023 voor die Grondwethof gedaag is deur ontevrede partye.
Die oorhoofse uitdaging wat by die wetenskaplike studie van die Khoisan voorkom is en bly steeds die feit dat die beperkte historiese bronne wat beskikbaar is, deur kolonialiste geskryf is. Dit is veral mense soos sendelinge en ontdekkingsreisigers, asook koloniale amptenare, wie se observasies hoogs aanvegbaar is omdat hulle motiewe verdag is en dit slegs die kolonialistiese heersers se perspektief bied. Die geskrewe rekord is nie die alfa en die omega nie, maar historiese navorsing maak hoofsaaklik staat op wat geskryf word. Selfs mondelingse geskiedenis word tipies getranskribeer vir navorsingsdoeleindes. Weens beperkte en omstrede geskrewe bronne beroep navorsers hulleself derhalwe ook tot alternatiewe bronne, soos die argeologie, linguistiek en genetika, om die bevindinge daarin met die geskrewe rekords te vergelyk. Dit is hier waar die studie van die verlede nogal besonder uitdagend en kompleks raak. Die argeologie is in eie reg reeds ’n veld met ’n velerlei verskillende soorte kenners en spesialiste. Daar is navorsers wat fokus op klipwerktuie, kenners van rotskuns, kenners van potte, ens. Vir sommige velde in die argeologie bestaan daar nie eens formele opleidingskole in Suid-Afrika nie, soos die marine-argeologie. Die vraag wat onwillekeurig by ’n mens opkom, is: Is dit moontlik vir ’n universiteit om ’n historikus vandag nog in drie jaar in so ’n mate te kan oplei dat hulle relatief goed voorbereid is op die uitdagings wat hulle in die gesig sal staar? Die deursneehistorikus is geen kenner van die argeologie nie, nog minder genetika, en tog word die oergeskiedenis dikwels as “history” verpak, soos ook in die geval van dié boek. Die kopseer om geskiedenis en argeologie te integreer, duur voort.
Benewens die behoefte om die geskiedskrywing en die argeologie beter te integreer, lê die uitdaging ook veral daarin om die geskiedenis aanloklik te maak vir sowel skoliere en studente as vir die “gewone” mens op straat; die mens wat miskien nie ’n formele universiteitsagtergrond het nie, maar wat toegang tot die bevindinge van die wetenskap wil verkry. In daardie opsig slaag Smith besonder goed, want die boek kry dit reg om ’n verstommende, en ja, selfs oorweldigende, hoeveelheid navorsing in sowat 220 bladsye saam te vat in ’n genuanseerde en tog verbruikersvriendelike formaat. Ek moet egter hier opmerk (en dit is bloot maar ’n persoonlike observasie) dat die teks (seker onafwendbaar) plek-plek verval in beskrywinge van die Khoisan se lewenswyses. Dit lees in sulke gevalle nie soos tipiese geskiedskrywing, daardie soort van geskiedskrywing gelaai met historiese gebeure en die verbande wat onderling en met die hede getrek word nie, maar herinner eerder aan ’n antropologiese dokumentêr, miskien een op National Geographic. Die antropologie is miskien self al die slagoffer van stereotipering en kommersialisering, en daar is miskien wel ook ruimtes vir antropologie om met geskiedenis geïntegreer te word waar nodig. Maar dit is wanneer Smith ’n uiteensetting gee van die verskillende soorte argeoloë se navorsingsuitsette waar hy werklik op dreef kom en jou as leser meesleur (natuurlik praat ek hier van my eie ervaring, maar hopelik deel andere ook daarin by die lees van die boek).
Van besondere belang is die feit dat die skrywer, in die heel laaste hoofstuk, vergelykings trek tussen die Khoisan en die moderne mensdom. Dit bied perspektief op die vraag van die rasionaal agter die studie van die Khoisan se geskiedenis. Moderne mense kan veel baat by ’n studie van die Khoisan. Die boek is dan verder toegerus met ’n bylaag oor medisinale plante wat deur die Khoisan aangewend is. Hierdie bylaag is ’n naslaangids, en veronderstel ook ’n mate van kennis van die plante. As jy soos ek is, dan lui slegs hier en daar een van die name van die plante ’n klokkie. Aan die een kant voel jy maar ’n bietjie dom, maar aan die ander kant is daar die wonderlike wete dat jy maar eintlik min van die wêreld weet, en nooit hoef te vrees dat daar ’n dag sal aanbreek wat daar niks meer oor is om te kan leer nie.
Vir onderwysers wat ’n goeie bron soek oor die onderwerp, sal ek sê daar is waarskynlik nie nog so ’n fantastiese bron elders te vind nie; een wat die nuutste akademiese navorsing in een volume saambring, en dit in toeganklike, onakademiese taal. Smith is duidelik, benewens sy eie uitgebreide navorsing, ’n argeoloog wat besonder ingelig is en wat ’n uitgebreide perspektief op elke terrein van die argeologie het. ’n Mens hoop dat ’n boek soos dié veel wyer gelees sal word as deur slegs historici, geskiedenisonderwysers en studente van die geskiedenis. Die boek is juis so geskryf dit toeganklik is vir “gewone” lesers. Dit is nie aldag dat akademiese navorsing op so ’n toeganklike wyse aangebied word nie. Die onderwerp raak immers almal; indien nie direk nie, dan indirek. Dit is belangrik dat die koring en die kaf geskei word, maar nog belangriker dat die volgende geslag navorsers vandag reeds gekweek word. Elke nuwe generasie sal die geleentheid hê om met nuwe, verbeterde tegnologie en insigte te kan werk om sodoende meer ván, maar ook bý, die Khoisan te kan leer.
Eindnotas:
[i] Daar is selfs geskiedenisboeke oor die onderwerp van die “kleurling”-identiteit in Suid-Afrika geskryf, soos Richard van der Ross se In our own skins: A political history of the Coloured people, Jonathan Ball, 2015.
[ii] Main, M en Huffman, T. Palaces of stone: Uncovering ancient southern African kingdoms, Struik, 2021, p 64.
[iii] Mellet, PT. The lie of 1652: A decolonised history of land, Tafelberg, 2020, pp 35–94.