Sypaadjie: ’n onderhoud met Alma Rossouw

  • 0

Alma Rossouw se novelle Sypaadjie is op die rak. Jonathan Amid  het met haar gesels. 

Alma, baie geluk met Sypaadjie. Hierdie novelle het beslis tonge los – daar was ook onlangs die gesprek op LitNet rondom die uitbeelding en verbeelding van karakters in die hedendaagse, plaaslike konteks. Dit was egter gou duidelik dat meeste kommentators wat op die skrywe van Bettina, Johan en Izak  reageer het, dit gedoen het sonder om Sypaadjie eers te lees. Jy het verskeie bekendstellings in die Kaap gehou en die "skrywersbaadjie" moet seker al ʼn bietjie gemakliker aan jou sit. Voor ons dieper delf, vertel my bietjie meer van jouself vóór Sypaadjie. Wat is jou belangstellings? Wat is jou professionele agtergrond? En wat het tot die besluit gelei om uiteindelik 'n skrywer te word?

Dankie, Jonathan. Ek is die jongste van drie kinders en het grootgeword met kleigrond tussen my tone. In 2007 matrikuleer ek by Hoërskool Gimnasium Paarl en gaan studeer BDram aan die Universiteit Stellenbosch waar ek vir ’n paar jaar as ’n vryskut in die film- en teaterindustrie gewerk het. Ek hang toe my gaffer tape op om ’n korporatiewe loopbaan in Johannesburg na te volg. Sedertdien het ek weer Johannesburg se goue strate vir kleigrond verruil. Ek het tans my eie digitale bemarking maatskappy wat my aan die lewe en aan die gang hou. Maar ek is op my gelukkigste wanneer woorde net vloei en ’n storie vorm aanneem. Dit was van jongs af my grootste droom om ’n boek te skryf en te publiseer, nie noodwendig om ’n skrywer te word nie. Ek probeer steeds agterkom wat dit behels om ’n skrywer te wees, maar ek wil stories vertel. As ’n klein dogtertjie het ek altyd stories uitgedink wanneer ek nie kon slaap nie. Ek het stories uitgedink oor Brakanjan en Juliet wat saam met hul kinders, Flippie en Fleur, in Parys woon.

Sypaadjie word op jou Facebook-blad opgesom as ʼn "romanse, vol millenniër-kinkels". Met so 'n beskrywing kom talle vrae dadelik by my op. Die eerste vraag het te doen met die genre-keuse: Hoekom 'n romanse? En tweedens, sonder om te veel te verklap, wat is hierdie "millenniër-kinkels"? Beskou jy jouself as ʼn millenniër?

Ek is mal oor die liefde. Enige liefde. Sypaadjie bevat elemente van 'n liefdesverhaal, daar is soveel ander fasette van die verhaal. Die boek gaan jou laat ontspan, maar dit gaan jou ook uitdaag om anders oor dinge en mense te dink. Ek vermoed dit is waar die bemarking van "millenniër-kinkels" inkom, ’n generasie wat net wil liefhê en in vrede wil leef gaan jou bietjie uitdaag om dieselfde te doen. Ek wonder of millenniërs ooit weet wat ’n millenniër werklik is. Is ek tussen 1981 en 1996 gebore, ja. Is ek verslaaf aan tegnologie en my selfoon? Ja, maar dit maak ook deel uit van my werk. Ek wil glo dat ek neig  na die meer open-minded-do-gooders millenniër. Ek dink ook ek is bietjie meer hardwerkend as wat Generasie X die millenniër beskryf.

Die romanse-genre floreer wêreldwyd en ook in Suid-Afrika. Wat lesers dikwels by bly is  die oortuigende uitbeelding van die reis van die vroulike hoofkarakter, soos sy verskeie struikelblokke oorkom. Jou hoofkarakter is Leah, wat beskryf word op die flapteks as "jonk, suksesvol en hardkoppig". Soos mens lees kom jy egter agter dat daar veel meer agter Leah skuil. Daar is ’n tragedie wat haar lewenspad en menswees diep raak.

Vir elke heldin is daar ’n tragedie. Leah se grootste tragedie is dat sy die dinge wat haar laat struikel nie reguit in die oë kyk nie.

Leah ervaar intense innerlike konflik soos sy ʼn balans probeer vind  tussen professionele sukses – sy is niks minder as die rykste vrou in SA nie! – en haar persoonlike lewe, waar sy vir die wêreld probeer wegkruip om haarself te beskerm. Vertel bietjie hoe Hannah, meer as net ʼn gewese vriendin, tydens haar universiteitsdae op Stellenbosch vir Leah dwing om van die sypaadjie af te spring?

Rykste vrou! Sien, dit is waar daardie hoopvolle romantiese elemente insyfer. Net deur bietjie liefde vir iemand te gee, kan jy enige koue hart warm maak. Hannah en Leah was al op universiteit verlief op mekaar en ná jare apart het Hannah vir Leah deur liefde gelei om weer in die pad te dans.

Wat is die vernaamste aantrekking tussen Leah en Hannah, en hoe sou jy elkeen vir die leser beskryf? Was dit ooit ʼn oorweging om ʼn romanse te verbeel tussen twee vroue wat nie van dieselfde ras is nie? Wie van Leah en Hannah het jou die meeste as karakters verbaas terwyl hulle vorm aangeneem het?

Is dit vreemd as ek sê ek het nie veel van ’n keuse wanneer ek skryf nie? Karakters daag net by my op en dan vra hulle sonder ophou dat ek hul storie vertel. Ek kleur net bietjie hier en daar in, maar verder skryf ek maar agter die karakter aan. Leah het haar een aand gemaklik gemaak op my "chairdrobe" en my beveel om haar storie te vertel. Daar was net drie goed wat ek van haar geweet het: sy is baie suksesvol, sy is gay, en sy staan op haar eie eiland waar sy niemand naby haar toelaat nie. Sy staan dus op die sypaadjie van die lewe – daarvandaan die titel. Tussen Hannah en Leah het laasgenoemde my die meeste uitgedaag omdat sy verskriklik bot is. Dit was Hannah en Ean wat Leah se karakter vir my ontbloot het en stadig maar seker het ek ontdek dat daar baie meer aan Leah as haar hardkoppigheid is. Hannah is weer die vrye gees. Sy is 'n oop boek wat met haar loopbaan worstel. 

Ean is ’n steunpilaar vir Leah, maar ook ʼn regte dark horse. Vertel bietjie meer asseblief.

Ek vermoed Ean sou die gay vriend in ’n hetroseksuele romanse wees. In Sypaadjie is Ean die tipiese tall, dark and handsome held, maar niemand raak op hom verlief nie.

Naamgewing is baie belangrik wat karakters se identiteit betref. Jy het besluit op ʼn groep karakters wie se name verskeie assosiasies het. Ek dink hier veral aan Leah en Hannah, wat Bybelse name is.  Hoekom hierdie keuse?

Karakters se name is vir my verskriklik belangrik en dit verg soms ure om die regte naam vir ’n karakter te kies. Ek glo daar is krag in ’n naam. Leah beteken in sekere tale uitgeput en moeg; in ander tale beteken dit lig van die son. Die twee beskrywings beeld Leah se groei vir my mooi uit. Iets van Hannah se weerloosheid het my herinner aan Hannah van die Bybel.

Liefdesverhale word, nes misdaadverhale, dikwels as konserwatief afgemaak, veral weens die tendens van gelukkige eindes wat meestal die status quo bevestig en handhaaf. Vir die leser wat Sypaadjie in die naaste boekwinkel optel en voel dis net nog ʼn romanse met ʼn effense aanpassing van die resep: Waar daag jou teks met opset norme en waardes uit? Hoe reageer lesers tot dusver op die teks? Was daar enige temas wat jy doelbewus wou aanspreek, of het die temas vorm aangeneem soos die sentrale verhouding en konflik tussen Leah en Hannah op papier ontwikkel het?

Die boek daag lesers uit om buite die boks en norme oor ’n hele paar temas te dink. Veral oor hoe mens grootgemaak is met grense wat deur jou ouers gestel is. Om te dink dat homoseksualiteit en Christenskap in een sin gebruik is! Tot dusver reageer mense redelik goed op die temas. Ek het al een ou oom gekry wat gesê het dat dit ’n heel nuwe manier is om na homoseksualiteit en Christendom te kyk. Is dit nie hoekom ons skryf nie? Om ’n spieël vas te hou sodat lesers kan sien waar die land was, waar ons nou is en waarheen ons graag wil beweeg. Die hoof tema was #LiefdeBreekGrense en dat ware liefde, agape liefde, niemand sal weg wys van enige soort liefde nie. Soos die verhouding tussen Leah en Hannah gegroei het, het die ander temas opgeduik.

Familie is baie belangrik in boek. Dit is egter ook ʼn vername bron van konflik. Vertel bietjie oor die kontraste tussen Leah en Hannah se families en hul verskillende liefdestale?

Terwyl Leah se familie effens skynheilig was en altyd ’n goeie voorkoms voorgehou het, is Hannah se familie plat op die aarde - wat jy sien is wat jy kry die ou gesegte wat jy sien is wat jy kry. Albei families het hul liefde ongetwyfeld gewys, maar elkeen op hul eie manier. Leah se familie wys hul liefde deur dade, maar kinders sien nie altyd dade as liefde nie. Hannah se familie wys liefde met drukkies, soene en ure se gesels.

Vertel my bietjie van jou proses? Waar het Sypaadjie ontstaan, en hoe het dit ontwikkel? Hoe keer jy dat karakters met die stem van Alma Rossouw praat, eerder as hul eie?

Karakters kom gewoonlik na my deur films of TV-reekse. Voor ek sien het hulle hulself in my lewe tuisgemaak en dan treiter hulle my totek hul stories vertel. Leah het  in 2014 by my opgedaag sonder ommy te vra hoe ek oor sekere goed voel. Sy het net geëis dat ek haar storie vertel. Die oomblik toe ek ingestem het om die storie te skryf kon ek nie ophou nie. Ek het vir twee weke aaneen geskryf tot die storie klaar was. Ek was te nuuskierig oor waarheen Leah en Hannah my wou vat. Die manuskrip het toe maar op Dropbox stof opgegaar. Ek skryf nou en dan oor iets en dan los ek dit weer vir ’n paar maande. Met hierdie manuskrip het ek letterlik vir twee weke in ’n ander karakter geklim. Van my baie goeie vriende sal dalk ’n Alma-grappie raak lees maar ek geniet dit nogals om in ’n ander jas te klim.

So gepraat van outentieke karakters: dink jy ons het iewers langs die pad die wil en die vermoë om behoorlik na mekaar te luister, verloor?

As ek nou vir Leah kan aanhaal: "Die probleem is nie wankommunikasie nie, die probleem is die wil om te verstaan". Ek dink mense reageer uit hul eie perspektief, veral in in ’n wêreld waar dit so maklik is om kommentaar  op ’n sosiale blad te lewer in plaas daarvan om na iemand te luister. Ons vergeet vinnig waar ons vandaan kom en juis daarom sien ons nie hoeveel ons gegroei het nie. Dit sal vir my die lekkerste dag wees as ek saam met elke liewe leser kan gaan koffie drink om te hoor hoe die boek vir elkeen lewendig geraak het. Almal projekteer hul eie lewe op ’n kunswerk en deur elke kommentaar of mening ontbloot mense bietjie van hulself aan my. Sodoende leer leer ek hul stories ken. So kan ek enige iemand kry om hul eie storie te vertel of hul menswees te ontbloot. Ek sien dit as navorsing vir nuwe karakters.

Musiek speel toenemend ʼn groter rol in fiksie wat deur plaaslike skrywers geskryf word. Ek dink hier veral aan Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper. Watter speellys het Sypaadjie help vorm, en watter rol speel musiek as kode om die milieu, karakters en temas van Sypaadjie te ontsluit? In watter mate deel Leah jou smaak in musiek?

Musiek speel ’n baie groot rol in my skryfproses. Ek dink daar is altyd ’n klankbaan wat in die agtergrond speel,  hoofsaaklik as gevolg van my teater- en film-agtergrond. Soos wat ek skryf kan ek klaar die liedjie in die agtergrond hoor speel of ek sal ’n liedjie hoor en die hele musiekvideo verbeel. My speellys waarna ek geluister het is op Youtube beskikbaar: https://www.youtube.com/playlist?list=PLGZjFvt0BIeRx4zoOGrF2NWujN8fTGV_p

Interessant genoeg word daar anders as in Annie Klopper se teks ʼn vertelling aangebied wat hoofsaaklik self-ironisering en tong in die kies waarnemings vermy. Jy lei jou lesers deur die "eerlike" afwisselende perspektiewe van Leah en Hannah, met minder afstand as wat lesers dalk sal verwag. Hulle uitkyk op die lewe verskil redelik drasties van mekaar. Hoe het elkeen jou eie siening oor die liefde uitgedaag? Sypaadjie word ook deels aan die liefde self opgedra. Wil jy bietjie vertel oor hoe jy die vier tipes liefde – Storge, Eros, Philia en Agape – gestalte kon gee in jou teks?

Oe nee. Hierdie antwoord is vir ’n lang gesprek in ’n koffiewinkel. Oor die liefde kan ek ure gesels. Vir nou sal ek ’n millenniër antwoord gee: #LiefdeBreekGrense

Jy het onlangs by jou boekbekendstelling in Wellington gesê jy is ʼn "sucker vir die liefde". Vertel meer? Het jy ware liefde gevind, en indien wel, hoe en waar?

Ek het nog altyd gehou van die liefde, die soeke na liefde en die aanvaarding van liefde, sowel as die krag van liefde. Om te dink wat liefde mense al laat aanvang het! Ek het al gedink ek het ware liefde gevind, dit verloor en wéér gedink ek het ware liefde gevind. Ek't dit egter allermins weer verloor. So nou soek ek nie meer nie; dit moet my maar vind.

Jy spreek die kwessie van die aanlyn-lewe en handelsmerke pertinent aan. Deesdae word enigeen in die publieke oog aangeraai om hul handelsmerk te ontwikkl en uit te brei. Hoe bly ʼn mens outentiek en getrou aan wie jy is in ʼn verbruikerskultuur waar ons toenemend ons tyd aanlyn en voor die rekenaarskerm deurbring?

Jy praat hier met iemand wat op 30 WhatsApp-groepe is, van werk tot kerk, vriende tot familie. Weens my werk verstaan ek die belang van ’n aanlyn-teenwoordigheid en handelsmerke, maar ek glo ook as jy nie vir iets staan nie gaan jy vir enige iets val en 'n mens kan maklik in iets ongesond verval. Iets wat vir my werk is tyd alleen by die see of in die bos, ver van vriende of familie wat my wil verlei met kos of wyn want ek het nogal erge FOMO. Dit is hoe ek net weer Alma raak.

Aalmal sal nie van Sypaadjie hou nie, om verskeie redes. Hoe hanteer jy kritiek?

Ek het van die begin af geweet dat almal nie van die boek sal hou nie, so ek het ’n hele paar jaar gehad om vrede daarmee te maak. Tog het ek besluit om die boek in te stuur omdat ek glo dat die storie wel vir ’n paar mense iets kan beteken. Ek wil baie graag leer en ek wil defnitief nie stagneer as skrywer nie. So met dit ingedagte: kritiek kan my kan help om ’n beter skrywer te word. Ek sal dus enige kritiek in my notaboekie neerskryf vir my volgende roman. Ek glo ook as jy nie leef vir die vreugde van ander mense nie, kan die kritiek van mense jou nie doodmaak nie. Mens leer seker om net mense se opinies te scan en liewer die kritiek van mense wat al baie sukses in die bedryf behaal het, op te soek. 

Sypaadjie is die tweede teks wat deur Wenkbrou Uitgewers uitgegee is ná Reney Warrington se Smit Motors. Dit sal baie lesers opval dat die lesbiese verhouding in albei tekste sentraal staan, hoewel Smit Motors hoofsaaklik op maatskaplike kwessies fokus. Sypaadjie is egter in wese ʼn liefdesverhaal en dit is die dinamika tussen Leah en Hannah wat die vertelling laat voortstu. Dis opvallend dat albei karakters se Christenskap en verhoudings met die kerk ʼn baie belangrike deel is van hul menswees en hul opvattings oor seksualiteit. Dink jy dat dit in 2019 nog te moeilik vir gay mense is om uit die kas te klim en gemaklik te voel met hul seksualiteit sonder om gedurig met vooroordeel gekonfronteer te word?

In ’n tyd waar almal so maklik hul menings agter ’n skerm rondgooi, sal daar altyd iemand wees wat vooroordelend optree. Maar tegnologie maak ook nuwe wêrelde vir ons oop. As tant Susanna van Koekenaap nie van jou hou nie, is daar ’n hele kerk op die buurdorp wat jou met ope arms sal ontvang. Ware liefde beoordeel en veroordeel nie.

Is Sypaadjie enigsins outobiografies? Wat is die uitdagings vir ʼn betreklik jong, vroulike, wit skrywer in Suid-Afrika? Het jy gevoel dis tyd dat daar vir jonger lesers ʼn verhaal geskep word wat prontuit praat oor vroulike seksualiteit?

Nee wat, my lewe is hopeloos te vervelig om oor te skryf. Ek dink as skrywer rus daar ’n groot verantwoordelikheid op jou skouers. Jy moet eg, eerlik en sensitief wees. Ek dink dit is baie moeilik in ’n land soos Suid-Afrika omdat die spieël wat jy vir jou lesers ophou nie altyd mooi skoon is nie. En hoe skryf jy oor iets wat nog nie foos geskryf is nie? Om nie eers te praat oor die kulturele appropriasie debat nie. Ek wou ’n lekkerlees liefdesverhaal oor vroulike seksualiteit skryf. Dit is seker waar daai hoopvolle romtantiese elemente deurgesyfer het.

Geestesgesondheid en die verwerking van trauma is ook 'n belangrike komponent in jou boek. Kan jy daarop uitbrei asseblief?

Ek glo geestesgesondheid en die verwerking van trauma is baie belangrik om voorentoe te kan beweeg in die lewe. Leah het vir lank gestagneer omdat sy verkies het om alles te onderdruk in plaas daarvan om dinge te verwerk. Deur die liefde het Hannah egter uiteindelik vir Leah geforseer om al haar spoke te konfronteer.  

Sypaadjie gaan in wese ook oor identiteit en hoe ons vreemdelinge, kennisse en veral ons geliefdes etiketteer. Wat was die moeilikste deel met die skryf van 'n boek soos Sypaadjie? Hoe dink jy skryf 'n mens oor karakters wat ten spyte van hul foute en hebbelikhede tog simpatie by die leser ontlok? Dink jy fiksie kan in die tyd van fopnuus en enorme polarisasie in die samelewing  ʼn bydrae lewer om lesers meer oopkop en minder bevooroordeeld te maak?

Ek hoop regtig hierdie boek maak lesers bietjie meer oopkop want mense hou oor die algemeen ongelukkig daarvan om mense te etiketteer en om dinge in boksies te plaas. Op skool was dit in ons koppe geprent om buite die boks te dink en dit is juis wat die millenniërs nou doen.

Lees jy self graag liefdesverhale? Watter skrywers laat jou met ander oë na die wêreld kyk? Wie inspireer jou?

Op die oomblik lees ek enigiets, maar skrywers soos Marita van der Vyver, Sophia Kapp en Wilna Adriaanse het my liefde vir skryf sterker gemaak.

Voel jy dat ʼn verhaal oor lesbiese liefde, maar eintlik ook oor aanvaarding en medemenslikheid  in 2019 nog die wenkbroue behoort te lig?

Ek kan nie dink dat enige iets nog die wenkbroue laat lig in vandag se tyd waar die wêreldwye web voor ons ooplê nie, maar Koekenaap wag nog vir 'n dail-up connection so gee hulle dalk nog so 10 jaar. Grappie! Aanvaarding en medemenslikheid sal altyd ’n tema wees, want dit is iets waarna elkeen van ons voortdurend op soek is. As jy nie lewe om ander mense gelukkig te hou nie kan kritiek jou nie skade aandoen nie. Ek dink wel daar is nie genoeg lekkerlees liefdesverhale in Afrikaans tussen karakters soos Leah en Hannah, Merwin en Delphine, Nkululeko en Karabo, sowel as Leah en Delphine, Hannah en Karabo, Merwin en Nkululeko nie.

Beplan jy om binnekort ʼn tweede manuskrip aan te pak of voor te lê? Hoekom het jy spesifiek op Wenkbrou as uitgewer besluit?

Wenkbrou het in ’n mate vir my gekies. Ek het my manuskrip vir Lapa gestuur. Johan Jack Smith het op 'n dag vir my ’n Facebook-boodskap gestuur en gesê dat Lapa die boek onder hul nuwe druknaam, Wenkbrou, wil uitgee. Ek het net gesê: baie dankie! Ek is besig om 'n wegbreek van twee weke langs die see te beplan, so ons sal moet sien of daar miskien 'n tweede manuskrip van sal kom. Daar is 'n karakter wat al 'n paar maande by my spook. 

Baie dankie dat jy die tyd geneem het om hierdie magdom vrae te beantwoord om LitNet se lesers ʼn kykie agter die skerms te gee. Alle voorspoed met Sypaadjie se pad vorentoe!

 

Woorde wat die wenkbrou laat lig, om al die verkeerde redes

Na aanleiding van Bettina Wyngaard se skrywe oor Sypaadjie

Sypaadjie-gesprek: Bettina Wyngaard lewer repliek op Wenkbrou se repliek

Sypaadjie-gesprek: die dubbeltjies in die pad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top