Sypaadjie-gesprek: die dubbeltjies in die pad

  • 0

Die skrywe hieronder spruit voort uit die volgende rubriek wat op LitNet verskyn het:

Woorde wat die wenkbrou laat lig, om al die verkeerde redes

Hierop het die volgende repliek gevolg: 

Na aanleiding van Bettina Wyngaard se skrywe oor Sypaadjie

Bettina Wyngaard het ook repliek op die repliek gelewer:

Sypaadjie-gesprek: Bettina Wyngaard lewer repliek op Wenkbrou se repliek

Gustaf Claassens, ’n LitNet-leser gee sy mening:

’n Goeie voorbeeld van vryheid van spraak, waarvan almal ’n voorstander behoort te wees. Hier word ’n skrywer as rassisties beskryf omdat Bettina as leser van haar boek die teks as kwetsend ervaar. Geen fout daarmee nie, en vir seker ’n mening wat deur meniges gedeel (sal) word. Dis juis belangrik dat menings soos dié uitgespreek word, want dit slyp sieninge en die debat leer mense om in en raak te sien hoe iets ervaar en beleef word. Solank ons nie alles as “haatspraak” wil omskryf en sensuur toepas nie, is die saak reg. Laat mense toe om te skryf en te sê hoe hulle oor dinge voel. Solank uitsprake net nie die oproep tot fisiesk leed is nie, is die saak reg. Mense van alle kante wat hulle skuldig maak aan uitsprake en optredes wat nie as die “norm” gesien word nie, sal geëkskommunikeer word wanneer die grense van basiese ordentlikheid oortree word. Die verloop van sulke gevalle sal ’n natuurlike proses volg waar ongelukkighede en slegte ervarings mekaar hopelik sal uitbalanseer en aanleiding gee tot meer begrip en redelikheid, en kan iets hiervan in die toekoms beleef word.

Die teenoorgestelde is natuurlik net so belangrik. Dis waar die huidige geslag (jong) blankes / wit mense (oor die oueres wil mens nie eers praat nie) voel dat hulle gestraf word vir die sondes van voorgeslagte en dat alles wat fout gaan, ook aan hulle toegeskryf word. Hulle is keelvol vir BEE, kwotas, regstellende aksie en ander maatreëls. En dan, wanneer hulle hulle daarteen uitspreek, word hulle gou en heel gerieflik as rassisties beskryf. Hulle witheid het die kapstok vir alle probleme geword en dit lyk of dit sal voortduur tot in die derde en vierde geslagte ... en dalk nog steeds daarna. Wat het geword van die idee dat foute van die verlede nie herhaal moet word nie en dat almal "gelyk" sal wees in ’n nuwe vry en regverdige Suid-Afrika?

Dinge in die land is nie hoe dit moet of behoort te wees nie, en menings soos dié van Bettina is belangrik, want ander/almal moet weet hoe woorde gevoelens affekteer. Lesers wat saamstem, sal so sê. Ander weer sal voel dat Bettina dit kan (selfs moet) sê, máár dat dit ook sal help as hulle ’n mate van balans ervaar wanneer menings uitgespreek word oor sake waar rasseverhoudinge ter sprake is. Die ervaring van eensydigheid skep ’n magtelose gevoel (selfs woede) wat basies die ekwivalent is van hoe Bettina dinge vanuit haar perspektief sien en ervaar. Daar's nog baie dubbeltjies in die pad en dit sal help om versigtig tussen hulle te trap, vir ons almal.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top