Suid-Afrikaanse kunstenaars wend hul tot aanlyn konserte te midde van sosiale inperking

  • 0

Suid-Afrikaners het skaars begin gewoond raak aan die idee van die 21-dae-inperking te midde van die stryd teen COVID-19, toe word dit verleng. Dit is geen geheim dat die staat van inperking ’n geweldig negatiewe uitwerking op die ekonomie en verskeie sektore het nie, veral ook kunstenaars en die kunstebedryf. Kunstenaars sit met hul hande in die hare omdat hulle as gevolg van die inperkingsregulasies nie konserte mag hou nie.

Die naweek van 14–15 Maart het alles verander en die COVID-19-krisis het werklik tot Suid-Afrikaners begin spreek, en ook tot die kunstewêreld, vertel Erns Grundling, joernalis en skrywer.

Grundling is ook die gewilde komediant Schalk Bezuidenhout se vervaardiger en bestuurder, en vertel hy en Bezuidenhout moes bontstaan te midde vertonings wat gekanselleer word. “Die KKNK was afgestel en ná president Cyril Ramaphosa se toespraak en die opdrag om sosiale distansiëring te handhaaf, moes ek en Schalk verskeie vertonings kanselleer.”

Soos die gesegde egter lui, “’n boer maak ’n plan”, en dis wat talle kunstenaars nou doen deur hul tot die internet te wend en tegnologie in te span om aanlyn konserte op die been te bring.

Erns Grundling (Foto: Cliffordene Norton)

“Ons het gou besef ons sal met nuwe planne moet vorendag kom om ’n inkomste te verdien,” vertel Grundling. “Magriet Groenewald, ’n sosialemediakenner en opvoeder wat saam met ons werk, het voorgestel ons kyk na aanlyn konserte. Sy en die konsultant Gerhard Barnard het ons gehelp om vinnig ’n aanlyn konsert op die been te bring, wat ons in ’n webinaaromgewing aanbied.

“Ons eerste live online show was Schalk sing sleg, wat ons nog voor die lockdown kon doen, met slegs Schalk en die musikant Wesley van der Westhuizen in sy sitkamer in Linden,” vertel Grundling.

“Ons het besluit om ’n deel van daardie vertoning se inkomste te skenk aan die venues by wie ons moes kanselleer het om hulle personeel te help wat in hierdie dae nie kan werk nie.”

Grundling meen aanlyn konserte bied ’n goeie oplossing vir kunstenaars wat nou sonder ’n inkomste sit en dat daar ’n behoefte onder Suid-Afrikaners vir sulke tipes vertonings is.

“Mense het veral tydens die lockdown ’n behoefte om te lag en te ‘connect’, selfs al is dit oor ’n afstand of voor ’n skerm. Schalk se aanhangers geniet hierdie live online konserte geweldig – dit is meer ‘real’ en ‘live’ as om iets op die televisie te kyk, en dit help vir Schalk ook om steeds ’n inkomste te verdien.”

Grundling sê egter daar is verskeie uitdagings verbonde aan dié tipe vertonings, omdat stand-up komedie juis staatmaak op ’n gehoor vir reaksie.

“Schalk was baie skepties daaroor om vir ’n uur grappe te vertel voor sy laptop sonder om enige ander mense te sien of hoor lag. Dit klink mos net awkward!”

Bezuidenhout vertel die beste manier om hierdie “vreemde” gevoel te verduidelik, is om dit te vergelyk met sy eerste optredes destyds.

Schalk Bezuidenhout

“Ek dink om voor geen mense stand-up te doen nie was eintlik soos om voor mense stand-up te doen vir die eerste keer. Met my eerste stand-up optrede was dit vreemd om voor mense te staan en grappe te vertel, omdat dit iets nuut vir my was. Dit was iets waaraan ek gewoond moes raak, en die tweede keer wat ek dit gedoen het, was dit makliker, en die derde keer selfs nog makliker.

“Met die live online shows is dit presies dieselfde – nou is ek so gewoond daaraan om voor mense op te tree, so dit is juis nou vreemd om sonder ’n gehoor op te tree, en dit voel weer soos daai eerste gig destyds toe alles nuut en vreemd was. Die eerste keer is maar bietjie weird, maar met die tweede show het dinge makliker gegaan, en van hier af kan dit net nog beter.”

Luna Paige

Nog ’n kunstenaar wat aanlyn vertonings hou, die sangeres Luna Paige, beklemtoon die vreemdheid daarvan om nie jou gehoor te kan sien nie. “Dit is vreemd om nie jou gehoor te sien nie, daarom dat die ‘likes’ help. Dit gee ’n indikasie dat daar iemand aan die ander kant is wat luister en die musiek geniet. Die virtuele ‘oe’ en ‘ah’ en die handeklap aan die einde van die liedjie.”

Vir Paige is konserte soos hierdie ’n manier om die kunste te laat voortstreef te midde die krisis waarin die wêreld hom tans bevind.

“Dis ’n manier om aan te hou speel, te oefen en om konneksie te maak met die buitewêreld. Dit is ’n manier om ook vir mense ’n halfuur of uur van lekkerte te gee. Mens staan ook natuurlik die kans om nuwe aanhangers te werf wat per ongeluk op die stream afkom,” verduidelik sy.

Luna Paige

Ook sy sê egter daar is uitdagings verbonde aan hierdie tipe vertonings.

“Ek dink die meeste van ons se uitdaging is dat ons nie ingerig is vir dié tipe aanlyn shows nie. Ons het nie noodwendig goeie kameras of klanktoerusting om goeie-gehalte streams te doen nie. Ons internet is ook maar wispelturig, wat veroorsaak dat daar soms glitches in die streaming is.

“Diegene met studio’s by hulle huise is in die bevoorregte posisie om beter klankkwaliteit te verseker. Ek vind wel dat die publiek redelik vergewensgesind is. Gelukkig is tegnologie soos selfone en so meer gevorderd en kan mens darem ’n poging aanwend.”

Op die vraag of sy dink dat dit dalk die rigting mag wees waarin die kunste in die toekoms gaan beweeg, en of aanlyn konserte slegs ’n tydelike oplossing tydens die inperkingsperiode is, antwoord Luna dat dit beslis ’n roete vir die toekoms kan wees.

“Juis omdat dit die kunstenaar in die posisie sit om konserte teen lae koste aan te bied. In baie gevalle wanneer mens live speel, moet mens teaterhuur, klank- en beligtingskostes betaal en ook ’n gedeelte van die kaartjieprys afstaan aan die maatskappye wat die kaartjies verkoop. Dit gebeur dikwels dat die kunstenaar met redelik min of selfs ’n minus huis toe gaan, veral wanneer daar min kaartjies verkoop is,” verduidelik sy.

“Aanlyn konserte kan ’n goeie aanvullende vorm van inkomste wees. Dit is ook ’n manier om buite mens se eie landsgrense gehore te werf.

Erns Grundling en Schalk Bezuidenhout (Foto: Alet Pretorius)

Grundling meen ook een van die positiewe aspekte van dié tipe vertonings is dat Suid-Afrikaners in die buiteland ook nou die geleentheid het om Suid-Afrikaanse kunstenaars tuis te sien optree.

“Dit is nog te vroeg om te sê of hierdie die nuwe ‘norm’ gaan raak. Kyk, dit bly nog steeds die lekkerste om ’n show in ’n volgepakte teater te doen – niks kom naby daardie atmosfeer nie – maar met hierdie geweldige krisis en die moontlikhede van meer gereelde inperkings en sosiale distansiëring voorsien ons beslis ’n oplewing in hierdie aanlyn manier van vertonings aanbied.”

• Schalk Bezuidenhout het nog een aanlyn vertoning wat voorlê, volg hom op Facebook om meer uit te vind. Luna Paige het ook ’n Facebook-blad waarop sy inligting oor haar konserte deel.  

Lees ook

Die kunste in die tyd van COVID-19: Riku Lätti se ope brief aan 2020

Die kunste in die tyd van COVID-19: Mercy Kannemeyer

Die kunste in die tyd van COVID-19: Antoinette Louw

Die kunste in die tyd van COVID-19: Herschelle Benjamin

Die kunste in die tyd van COVID-19: Willem Mulder

Die aanlynkonsertfenomeen: Musikante verruil die verhoog vir hul sitkamer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top